Home Gesonde Leer Pinkster Die Gees van die Waarheid

Die Gees van die Waarheid

Datum: 2024-05-19
|
Reeks: Pinkster

“Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Trooster stuur om ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Johannes 14:16,17

Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig.”

Johannes 16:13

1.1 Ken jy die Heilige Gees?

Kan jy vyf dinge opnoem wat jy van die Heilige Gees weet?

Wanneer ek iemand ken, goed ken, is dit maklik om oor daardie persoon te praat en vyf of tien en selfs meer dinge oor daardie persoon te sê, sonder om lank daaroor te dink.

Die vraag is: Ken jy die Heilige Gees en ken jy Hom goed?

  • Hy is God.
  • Hy is een met die Vader en die Seun.
  • Hy is ‘n lewende Persoon.
  • Hy is die derde Persoon in God Drie-enig.
  • Hy werk altyd saam met die Vader en die Seun. Christus se kerk het hierdie waarheid reeds lank terug in die kerktaal van destyds, Latyn so gesê:

Opera                Trinitatis               ad extra       indivisa sunt

Die werk    van die Drie-eenheid       na buite         is onverdeeld

  • Die Heilige Gees het verskillende Name: Heilige Gees, Gees van God, Gees van Christus, Gees, Gees van die waarheid, Trooster, Eersteling.
  • Hy was in die begin by die skepping.
  • Hy is almagtig, want Hy is God.
  • Hy leef in my.

1.2 Waarom is dit belangrik?

  • Net die mens wat God ken, is gered en het die ewige lewe. Ken is om ‘n lewende verhouding met God te hê. Ek het nodig om ‘n lewende verhouding met die Heilige Gees te hê. Dit gebeur net indien ek Hom ken.
  • Die Heilige Gees is by my en in my. Wanneer ek Hom ken, leef ek in geestelike geloofsgemeenskap met Hom. Ek ignoreer Hom nie. Dit is sonde.
  • Ek leef ook deur Hom. Ek leef nie op my eie nie. Ek laat my deur die Heilige Gees beheers en nie deur my eie sondige wil nie. Net so ‘n lewe deur die Gees, is ware lewe.

1.3 Wanneer het die Heilige Gees gekom?

Die Heilige Gees het op Pinkster gekom. Pinkster is die Afrikaans van die Grieks vir vyftig. Pinkster het begin op die vyftigste dag na Paasfees.

Pinkster was in die Ou Testament die fees van die weke, die fees van die Eerstelinge of die Oesfees. Al hierdie name wys op dieselfde fees.

Die Heilige Gees het gekom vyftig dae nadat Jesus Christus gekruisig is vir ons sonde, in die taal van die Ou Testament: As paaslam geslag is.

1.4 Wat beteken dit vir my?

Die Oesfees was die fees wat gewys het op die voltooing van die oes. Sewe weke of dan vyftig dae na Paasfees is die Oesfees gevier. Die eerste gerf van die oes is geoffer om daarmee te bely dat die volle oes aan God behoort.

Christus het tydens Paasfees gesterf. Dat die Heilige Gees op Pinkster gekom het, beteken dat die volle oes van Christus se verlossingswerk gereed was. Die tyd het aangebreek vir die evangelie van Christus se kruisiging en opstanding om na in die wêreld uit te gaan, sodat almal wat aan God behoort (sy oes van mense), kon glo en gered word (ingesamel word).

Ek wat in Jesus Christus wat vir my gekruisig is en opgestaan het, glo, is deel van hierdie oes van gelowiges.

1.5 Het jy die Heilige Gees in jou?

Jesus het sy Vader gevra om die Heilige Gees te stuur. Die Heilige Gees het gekom. Ons kan sê die Heilige Gees gaan van die Vader en die Seun uit.

Die Gees is op Pinkster in die kerk van Christus uitgestort, dit is in die gelowiges uitgestort.

1.6 Hoe weet ek dat ek die Heilige Gees het?

Geloof in Jesus Christus as my enigste Verlosser en Here (Eienaar) is die eerste belangrike teken of bewys dat ek die Heilige Gees het – “Niemand kan sê:’Jesus is die Here’ nie, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor.12:3).

Wanneer ek glo en getuig dat ek ‘n kind van God is, gebeur dit net omdat ek die Gees in my het wat saam met my getuig (Rom.8:16).

Wanneer ek my lewe deur die Gees van God laat beheers en nie deur my sondige natuur nie, dit is, wanneer ek lewe volgens God se wil en nie my wil nie, het ek die Heilige Gees in my (Gal.5:16,17).

1.7 Wat het die Heilige Gees al vir jou gedoen?

  • Die Heilige Gees laat my wedergebore word. Gebore is die begin van die nuwe lewe van ‘n mens. Wedergebore is die begin van nuwe geestelike lewe in ‘n mens. Die Heilige Gees begin nuwe lewe in my met die evangelie van Jesus Christus. Ek is nie meer geestelik dood nie. Ek het nuwe lewe in my. Ek wedergebore. Ek leef geestelik.
  • Die Gees bring my deur wedergeboorte onder Christus wat gesterf en opgestaan het, se heerskappy. Ek is nie meer in die ryk van die duisternis nie. Ek is in die koninkryk van God.
  • Die Heilige Gees plant of wek geloof in my wedergebore hart. Deur die Gees glo ek in Jesus Christus wat vir my gekruisig is en opgestaan het. Deur my geloof in Christus, glo ek ook dat ek ‘n kind en erfgenaam van God my Vader is.
  • Die Heilige Gees maak my elke dag nuut (2 Kor.4:16), sodat ek ‘n nuwe lewe van heiligmaking (1 Pet.1:15,16) kan leef.

1.8 Is jy vervul met die Heilige Gees?

Om wedergebore te word, kan ek niks aan doen nie. Net die Heilige Gees kan my wedergebore laat word. Om met die Gees vervul te word, is anders – “…laat die Gees julle vervul” (Ef.5:19). Om met die Gees vervul te word is om deur die Heilige Gees beskikbaar te wees om deur die Gees te lewe.

Vervul deur die Gees is:

  • Om deur God se Woord die openbaring te ontvang wie God is. Dit is om op die diep manier deurentyd met die Bybel besig te wees en God te leer ken.
  • Om deur die Gees ‘n diep kennis en insig van God te hê – Wie Hy is, wat Hy doen, wat Hy wil. dit is ook om te groei in die kennis en insig van God om so te groei in my verhouding met Hom.
  • Om deur die Gees innerlik versterk te kan leef in ‘n sondige en gebroke wêreld.
  • Om deur die Gees die vrug van die Gees in my lewe te kan dra dat dit na buite wys.
  • Om deur die Gees beheers te word, sodat die Heilige Gees volle seggenskap in my lewe het en my in alles die weg wys wat om te dink, wat om te sê en wat om te doen..
  • Om deur die Gees toegerus te wees vir my dienswerk in die koninkryk van God en in Christus se gemeente.
  • Om deur die Gees oral en in alles deur die Gees gelei te word. Dit is leiding deur God se Woord en leiding deur gebed.
  • Om deur die Heilige Gees met blydskap en dankbaarheid te leef oor die genade en liefde wat God deur Christus aan ons bewys het.
  • Om deur die Gees met vrymoedigheid en oortuiging met woorde en dade vir Christus te leef.

1.9 Wys jou lewe die vrug van die Gees?

Die Heilige Gees het op Pinkster gekom. Hy is by en in elke gelowige wat aan Christus behoort. Die Heilige Gees leef in elke gelowige. Hy leef en Hy werk in my.

Die Heilige Gees beheers my lewe deur God se Woord, die Bybel. Die Heilige Gees werk deur God se Woord ‘n nuwe manier van lewe in my. Ek leef nie meer volgens my sondige natuur nie. Ek wandel, dit is ek leef deur die Heilige Gees onder sy heerskappy en leiding.

Die gevolg hiervan is dat ek die vrug van die Gees in my lewe dra.

Die vrug van die Gees staan direk teenoor die praktyke van die sondige natuur: “Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: Onsedelikheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie” (Gal.5:19-21).

Die vrug van die Gees kry ons in Gal.5:22 – “Die vrug van die Gees, daarteenoor is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks.

JNel Geskryf vir Pinkstersondag 19 Mei 2024