Inhoudsopgawe:
Die Gereformeerde kerk Akasia is ‘n Gereformeerde kerk. Miskien het jy nog nooit van so ‘n kerk gehoor nie. Dalk het jy al van die naam Dopperkerk gehoor. Dié naam is eintlik ‘n bynaam wat uit die verlede kom. Ons los die naam daar en gebruik in hierdie boekie die naam Gereformeerde kerk.
Wat is ‘n Gereformeerde kerk?
Is alle kerke nie maar dieselfde nie?
‘n Gereformeerde kerk is ‘n kerk van mense met Gereformeerde geloof.
Is alle geloof dan nie dieselfde nie?
Nee, alle kerke is nie dieselfde nie en alle geloof is nie eners nie.
Oor Gereformeerde geloof kan ‘n mens baie sê. Om te verstaan wat Gereformeerde geloof is, is ‘n goeie begin die volgende vyf dinge. Hierdie vyf geestelike dinge, ons kan ook sê geestelike waarhede verduidelik wat Gereformeerde geloof is:
Genade alleen – Om van sonde verlos te word, elke mens is sondig en in baie groot moeilikheid by God, is net deur God se genade. Niemand kan iets doen om verlos te word nie. Dit is net genade. Genade is God se goedheid vir ons sonder dat ons enigiets kan doen om sy goedheid te verdien.
Geloof alleen – Ons glo wat in die Bybel staan, dat ‘n sondige mens gered word net deur geloof in Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het. Nie alle mense word van sonde en oordeel gered nie, net die mens wat in Jesus glo.
Christus alleen – Net Jesus Christus is die enigste Verlosser wat ‘n mens by God uitbring en my verhouding met God regmaak. Niemand van ons kan onsself verlos nie. Ons word verlos deur “Christus alleen”. Hy verlos ons van al ons sonde deur vir ons aan die kruis te sterf en vir ons op die derde dag uit die dood op te staan.
Die Bybel alleen – Die Bybel is God se Woord. God praat met ons deur sy Woord. Die Bybel kom van die Heilige Gees af en is nie mense se gedagtes en woorde nie. Deur die Bybel ken ons God, wie Hy is, wat Hy vir ons doen en wat Hy van ons vra. Al hierdie kry ons in die Bybel alleen. Die Bybel is daarom baie belangrik vir elke Gereformeerde gelowige.
Aan God alleen al die eer – God is vir elke Gereformeerde gelowige die belangrikste Persoon wat daar is. Ek gee aan Hom al die eer wanneer ek wys dat Hy vir my die heel belangrikste in my lewe is. Ek wys God is vir my die belangrikste wanneer ek altyd vra wat Hy wil en doen wat Hy wil. Ek leef so naby God en vir Hom, omdat ek Hom liefhet.
Maar…glo alle kerke nie ook maar hierdie dinge nie? Nee. Daar is in ons land kerke wat glo dat Jesus Christus ons Verlosser is, maar nie Hy alleen nie. Jy moet ook nog die wette van die Ou Testament nakom. Ons kan sê hierdie kerke glo ek word gered deur Christus en die wet. Iemand met ‘n Gereformeerde geloof glo: “Christus alleen”.
Die Gereformeerde kerk Akasia, ons gemeente, is gelowiges vir wie hierdie vyf dinge baie belangrik is. Elkeen van ons glo hierdie waarhede met ons hele hart. Dit is vir ons ook belangrik om ons geloof in ons lewe te wys.
Die Bybel, God se Woord, is vir ons baie belangrik. Ons kom daarom elke Sondag as gemeente bymekaar om God se Woord te hoor. Ons gemeente het elke week ‘n afspraak met God. Die afspraak is 9:00 elke Sondagoggend. Ons ontmoet God in die erediens en ons doen dit saam as gemeente.
‘n Erediens elke Sondagoggend is vir ons baie belangrik, want God het Sondag as sy dag afgesonder. Ons kan sê Hy het Sondag as ‘n spesiale dag eenkant gesit. Op die spesiale dag wil God dat ons die gewone dinge van die week sal los en met Hom besig sal wees. Hy wil vir ons spesiale dinge sê op die dag. Hy wil ons van sy genade en sy liefde vertel. Hy wil ook vir ons sê hoe om naby Hom en vir Hom te leef. Hy wil hierdie dinge op ‘n spesiale manier vir almal wat in Hom glo, sê. Die spesiale manier is wanneer gelowiges saam is. Al hierdie dinge is die rede waarom ons elke Sondag ‘n erediens het.
Ons glo dat God in sy Woord vir ons sê om gereeld in die erediens te wees:”Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom” (Hebreërs 10:25).
Enigiemand wat graag die Here wil ontmoet en sy Woord wil hoor, is baie welkom om saam met ons op ‘n Sondag in die erediens te wees.
In elke erediens is die Bybel oop. Ons dominee lees elke Sondag uit die Bybel. Ons wat Bybels saam gebring het of die Bybel op ons selfone het, lees saam. Hy preek uit die Bybel. Elke preek vertel ons van Jesus wat ons uit genade en liefde verlos het en hoe ons vir God dankie kan sê. Ons kry elke preek met epos, elke preek word opgeneem en op whatsapp opgelaai en kom op ons gemeente se webwerf. Op hierdie manier kan ons weer die preek lees of daarna luister. Ander mense wat nie in ons gemeente is nie, kan ook die preke hoor en lees.
Elke erediens bestaan uit belangrike dele, daarom is elke erediens baie keer omtrent dieselfde. Ons lees, luister, bely, bid, sing en gee dankoffers tydens elke erediens. Al hierdie dinge wat ons in ‘n erediens doen, kry ons in die Bybel.
Ons gemeente kom graag erediens toe. Ons is in die erediens voor God in sy teenwoordigheid. Ons as gelowiges is ook saam met mekaar. Dit is vir ons belangrik, want ons geloof in Jesus Christus en ons liefde vir Hom bind ons aan mekaar.
Een van die maniere om vir God dankie te sê vir sy genade en sy liefde is om gereeld in ‘n erediens te wees. Om op ‘n Sondagoggend in die erediens te wees, is nie ‘n swaar plig nie. Ons kom, omdat ons God liefhet.
Ons geloof word sterker en dieper deur God se Woord. Saam met die Here se Woord, het ons gemeente elke drie maande Nagmaal. Met Nagmaal dink ons daaraan dat Jesus Christus vir ons aan die kruis gesterf het. Ons kan sê Hy het sy liggaam en sy bloed, dit is sy lewe vir ons gegee. Ons eet brood en drink wyn met Nagmaal, want Jesus het die eerste Nagmaal so vir ons gegee. Die brood wys na sy liggaam wat gebreek is en die wyn na sy bloed wat gevloei het vir ons. Die Heilige Gees help en lei ons met Nagmaal om Jesus se dood aan die kruis beter te verstaan en nog vaster en dieper te glo. Op hierdie manier maak die Heilige Gees ons geloof sterker.
Elke gelowige wat in ons gemeente is en elke gelowige wat ‘n getuienis het van sy of haar geloof, is welkom om saam met ons Nagmaal te vier.
Saam met Nagmaal het Jesus Christus vir ons ook die Doop gegee. Ons doop babas en ons doop volwasse gelowiges. Volwassenes wat in Jesus Christus glo en nog nie die teken van die genadeverbond ontvang het nie, word gedoop. Gelowige ouers wat vir die Here lief is, deel van ons gemeente is en saam met ons vir die Here leef, is welkom om hulle baba te doop. Ons praat van “die doop word bedien” aan hulle baba. Voor die tyd praat die dominee met ouers wat hulle baba wil laat doop om seker te maak hulle verhouding met die Here is reg en hulle verstaan die diep betekenis wat die doop het.
Ons noem die Nagmaal en die Doop sakramente. Mens herken die Engelse woord “sacred” wat heilig beteken. Die Nagmaal en die Doop is heilig, want Jesus Christus, God se Seun, gee dit vir sy kerk en Nagmaal en Doop wys na Jesus se dood aan die kruis.
Die Bybel is vir ons gemeente regtig baie belangrik, daarom maak ons ook tyd om gedurende die week bymekaar te kom. Party van ons kom bymekaar op sekere Dinsdagoggende en sekere Sondagaande. Ons noem dit Bybelstudie. Ons dominee berei vir ons ‘n deel uit die Bybel voor. Ons vra vrae en praat met mekaar oor wat ons gehoor en gelees het. Sekere Donderdae kom party van ons ook saam om die Bybel en daardeur die Here beter te leer ken.
Elke oggend van die week, behalwe Sondae, kry ons ‘n boodskap uit die Here se Woord op whatsapp. Die boodskap beteken vir ons baie. Ons stuur die boodskap self ook na vriende en familie, selfs dié wat in die buiteland is. Op hierdie manier hou ons nie die Here se Woord net vir onsself nie, maar deel sy Woord met ander.
Behalwe die eredienste en die ander tye rondom die Bybel, doen ons gemeente nog ander dinge saam. Ons drink saam tee en koffie na elke erediens. Ons eet ook saam. Die ouer gelowiges eet elke maand eenkeer saam. Ons het deur die jaar funksies waar ons saam werk, saam eet en saam kuier.
In ons gemeente het ons ouderlinge. Ons kry dit in die Bybel dat daar ouderlinge in ‘n gemeente moet wees. Hier is een vers in die Bybel oor ouderlinge:”Ek het jou op Kreta agtergelaat met die bedoeling dat jy die dinge wat nog gereël moes word, in orde moet bring en dat jy in elke dorp ouderlinge moet aanstel soos ek dit aan jou opgedra het” (Titus 1:5).
Die Here gee ouderlinge aan sy gemeente. Ons kan ‘n ouderling ook ‘n herder noem. Die ouderling help ons met ons geloof in die Here en help ons om naby die Here te leef en om nie van Hom af weg te dwaal nie.
Ons deel ons gemeente in wyke. ‘n Wyk is die gelowiges in ‘n sekere gebied. ‘n Ouderling kry ‘n wyk om na te kyk en te help.
Ons kry dit in die Bybel dat daar ook diakens in die gemeente moet wees. Die diakens se belangrikste werk is om die gemeente te help om mekaar lief te hê. Hulle sorg ook dat mense wat swaarkry gehelp word.
Ons gemeente het ‘n leraar of dominee. Die Here stuur die dominee na ‘n gemeente om sy Woord vir ons te verduidelik en ons te leer hoe om die Here se Woord uit te leef.
Die vroue in ons gemeente werk ook in die gemeente as ‘n georganiseerde groep. Ons noem hulle die susters. Hulle doen verskillende werk op verskillende maniere in die gemeente.
Al die georganiseerde groepe kom gereeld in vergaderings bymekaar om oor alles wat nodig is, te praat en te besluit.
Mens hoef nie ‘n sekere posisie in die gemeente te hê om iets in die gemeente te doen nie. Ons glo vas, want die Here sê so in sy Woord, dat elke gelowige ‘n genadegawe ontvang het. Hierdie waarheid staan in Romeine 12:6:”Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het.”
‘n Genadegawe is ‘n vermoë wat ‘n gelowige van die Here gekry het om vir iemand anders iets te kan beteken. Die Here gee vir elke gelowige ‘n plek en ‘n werk in sy gemeente. Elke gelowige het kans om in die gemeente iets goed vir iemand anders te doen om op so ‘n manier ook vir die Here vir sy liefde en sy genade dankie te sê.
Daar is verskillende maniere:
Kinders wat reeds in die gemeente is, kry onderrig. Ons noem dit katkisasie. ‘n Beter naam is Verbondsonderrig. Dit beteken ouers wat ‘n verhouding met God het en in sy genadeverbond leef, se kinders kry onderrig. Wanneer so ‘n kind se geloof so gegroei het, dat hy of sy self verantwoordelikheid vir sy of haar verhouding met die Here kan neem, word so ‘n kind ‘n volwasse lidmaat. Ons noem dit ‘n belydende lidmaat, omdat die kind sy of haar geloof voor die Here en in die gemeente bely het.
Bring ‘n attestaat, dit is ‘n getuienis van geloof, indien reeds lidmaat van ‘n ander Gereformeerde gemeente.
Kom met getuienis van geloof van ‘n ander gemeente wat ‘n band met ons het. So iemand word opgeneem, nadat ons met mekaar oor God, geloof en lewe in ons gemeente gepraat het en die persoon gewys het dat hy of sy saam met ons in die gemeente wil leef.
Maak kontak met iemand in die gemeente, indien van ‘n kerk met wie ons nie ‘n band het nie of indien sonder ‘n kerk of indien iemand nog nie ‘n lidmaat van ‘n gemeente was nie. Kontakbesonderhede is aan die einde van die boekie. Ons praat oor God, geloof en lewe in ons gemeente. Nadat ons so iemand as gelowige goed leer ken het en die persoon gewys het hy of sy as gelowige saam met die gemeente wil leef, word hy of sy opgeneem in ons gemeente. Die noodsaaklikheid om te wys dat iemand as gelowige saam met ons leef, kry ons in Jakobus:”Wat help dit my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?” (Jakobus 2:14) en “So gaan dit ook met die geloof:As dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood” (Jakobus 2:17).
Ons gemeente is soos die liggaam van Jesus Christus. Jesus Christus is ons Hoof en daar is baie lede en elkeen het ‘n plek. Ons kry hierdie beeld in 1 Korintiërs 12:12-31. Elke gelowige is in ons gemeente, omdat God elkeen na ons gemeente toe gebring het, soos Hy dit wou hê (1 Korintiërs 12:18). Enigiemand wat saam met ons vir God lief is en naby Hom wil leef, is baie welkom. Dit is dié wat reeds in die gemeente is se geestelike werk om ‘n nuwe gelowige tuis te laat voel.
Die belangrikste is Sondag se eredienste. Iemand wys dat hy of sy as gelowige saam met die gemeente wil leef deur gereeld in die erediens te wees. Hierdie is regtig baie belangrik. Die erediens is daar om saam met ander gelowiges vir God dankie te sê vir sy liefde en sy genade.
Deur na die erediens saam met die ander koffie of tee te drink, wys dat so iemand saam met ander in die gemeente wil leef. Sondae na die erediens is ‘n goeie tyd om met ander kennis te maak.
Dan is daar ander kere wanneer ons gemeente saam kom en iets saam doen. Deur daarby in te skakel, word ‘n mens gou deel van die gemeente.
Ons gemeente het ‘n blaadjie wat elke Sondag uitkom. Elkeen kry die blaadjie gewoonlik op ‘n Vrydag per epos. Daarin is allerhande inligting oor wat alles gebeur. Ons gee ook ‘n kalender uit met elke jaar se program en kontakpersone en nommers.
Die ouderling of die dominee is beskikbaar vir vrae of enigiets wat onseker of onduidelik is. Vra gerus.
Elke erediens is min of meer dieselfde. Partykeer sit almal. Meeste van die tyd staan ons almal wanneer ons sing. Wanneer ons bid, staan die mans en die vroue sit. Die beste manier is om te kyk wat gebeur en dit saam te doen. Dit is regtig nie verkeerd wanneer iemand wat vreemd is, sit terwyl ander staan nie. Dit is regtig ook nie nodig om skaam of verleë te voel wanneer iemand nuut is en nie presies weet wat om te doen nie. Deur gereeld in die erediens te wees, skakel ‘n mens vinnig in.
Die belangrikste van ons gemeente is dat Jesus Christus vir al ons sondes aan die kruis gesterf het. Met sy dood aan die kruis het Hy al my sonde weggeneem. Omdat Jesus al my sonde weggeneem het, is daar plek vir my in sy gemeente.
Dit beteken dat niemand te sondig is om in ons gemeente te wees nie. Ons almal het juis nodig om gereeld in eredienste te hoor dat Jesus ons van al ons sonde verlos het, omdat Hy ons liefgehad het.
Ons gemeente vier of gebruik Nagmaal elke drie maande. Elke volwasse gelowige in ons gemeente, ons praat van elke belydende lidmaat, is welkom om saam Nagmaal te gebruik. Elke gelowige in ‘n ander gemeente met wie ons ‘n band het, wat ‘n geloofsgetuienis het, is welkom om saam Nagmaal te gebruik. Hierdie geloofsgetuienis kan ‘n brief, ‘n whatsapp, epos of telefoonoproep wees.
Ons sit aan by tafels wat voor in die kerk staan. Ons eet brood wat in klein stukkies gesny is. Die brood is ‘n teken wat na Jesus se liggaam aan die kruis wys. Ons drink wyn. Die wyn is die teken wat na Jesus se bloed aan die kruis wys.
Ons gemeente is nie ‘n vereniging of klub wat ledegeld vra nie. Om deel van ons gemeente te wees, is daarom gratis.
Die Here leer ons wel in sy Woord dat Hy van ons dankoffers verwag. Hiermee sê ons vir Hom dankie vir alles wat Hy vir ons gee. Twee dele in die Bybel hieroor is:
Maleagi 3:10:”Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here, die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”
Kolossense 4:18:”….Julle gawe is voor God ‘n lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.”
5.1 Dominee Johan Nel – neljohan5704@gmail.com
5.2 Ouderling Floors Pelser – Floors@pelser.co.za
5.3 Ouderling Simon Lessing – magdalessing@gmail.com
5.4 Ons gemeente se webadres – gerefkerkakasia.org.za
5.5 Adres van kerk – Renéstraat 19, Winternest, Akasia
5.6 Tyd van erediens – Sondagoggend 9:00
Jy is welkom om enigeen van ons te kontak!