Alle lewe behoort aan God. Hy is die almagtige Skepper van al wat leef. Hy bepaal wat mense op aarde met die lewe wat Hy geskep het, mag doen. Hy baken die grense oor lewe in sy Tien Gebooie af. Die een grens kry ons in God se sesde gebod.
God is die Skepper van almal. Die Here se grens in sy sesde gebod geld vir elke mens.
Die sesde gebod is nie moeilik om te verstaan nie. God verbied die doodmaak van ‘n ander mens. In baie dele van die Bybel verduidelik God hierdie gebod aan ons. Dit is veral die Here Jesus Christus, wat toe Hy op aarde was, hierdie gebod nog duideliker gemaak het in sy Bergrede wat ons in Matteus 5 – 7 kry.
Matt.5:21,22 – gedagtes en woorde teen iemand is reeds doodmaak.
Matt.5:43,44 – Die Here verwag liefde vir vyande en gebede vir vervolgers.
Matt.7:1-5 – Veroordeling van ‘n ander mag nie.
Alle gereformeerde gelowiges wêreldwyd glo en verstaan en bely die grense in God se sesde gebod en die verdieping van die gebod wat Christus gegee het, so:
Vraag en antwoord 105: Wat eis God in die sesde gebod? “Ek mag nie self en ook nie deur iemand anders my naaste onteer, haat, beledig of doodmaak nie. Ek mag dit nie met my gedagtes, woorde, of gebare doen nie en nog minder met die daad. Ek moet alle wraaksug laat vaar. Ek mag ook myself nie kwaad aandoen of moedswillig in gevaar begewe nie. Daarom dra die owerheid die swaard om doodslag te weer.”
Vraag en antwoord 106: “Praat hierdie gebod net van doodmaak? Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan soos afguns, haat, woede en wraaklus verafsku. Dit alles is vir Hom heimlike moord.”
Vraag en antwoord 107: “Het ons die gebod gehoorsaam as ons maar net nie ons naaste doodmaak, soos hierbo gesê nie? Nee,terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons sons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet teenoor Hom geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees, alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom en selfs aan ons vyande goed doen.”
Wanneer dit by Jesus Christus kom, wie Hy is en wat Hy wil, is net een van twee moontlik.
Die hele mensdom skei hier in twee groepe. Daar is nie neutrale grond nie. Iemand het ‘n verhouding met Jesus Christus deur ware opregte geloof of daar is geen verhouding met Christus nie. ‘n Mens behoort of aan Christus of leef in die mag van Satan – geen neutrale lewe nie.
Die sluipmoord die afgelope week van die jong man in die VSA, Charlie Kirk, het mense oor die wêreld aangegryp. Mense ook in ons land, ons families en selfs gemeentes is hierdeur geraak. Dit is waarskynlik by almal bekend dat hy op ‘n afstand vanaf ‘n gebou se dak geskiet is. By hierdie naam in die VSA noem ek nog drie name in Suid-Afrika: Charl Kinnear (Ondersoek na georganiseerde misdaad in die Kaap), Babita Deokaran (Afgekom op finansiële bedrog in Gauteng departement van gesondheid) en Bouwer van Niekerk (Groot insolvensiesaak van onder andere ‘n beweerde piramideskema). Hierdie drie mense is elkeen op ‘n kort afstand doodgeskiet.
Hierdie vier persone het elkeen op ‘n eie terrein uit sterk oortuigings opgetree teen wat hulle geglo het verkeerd was. Hulle het gedoen wat hulle oortuig was, die regte ding was. Hulle het ‘n bedreiging geword vir ander. Die oplossing van die ander was om die vier mense dood te maak.
Die vraag oor wie die moordenaar van elkeen van hierdie vier mense was, het ‘n dieper en wyer antwoord as om elke keer net een mens se naam of selfs meer mense se name te noem.
Ons as Christene sal moet antwoord:
Hierdie gebeure is ‘n oproep vir ons as Christene in die woorde van Ef.6:10-13:
10 – “Verder nog dit: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.”
11 – “Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.”
12 – “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.”
13 – “Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle die stryd tot die einde toe gevoer het, nog op julle pos kan bly staan.”