VEROOTMOEDIGING

Datum: 2023-08-06
|
Reeks: Verootmoediging
  1. INLEIDING

“‘n Dag van verootmoediging” is iets wat ons in die Gereformeerde kerke in Suid-Afrika almal ken. In die verlede het ons dikwels sulke dae gehad. Verder terug in die verlede, in die 1900’s het ons dae van verootmoediging gehad veral wanneer dit baie droog in groot dele van die land was.

In die nabye verlede het omstandighede in ons land ons ‘n dag van verootmoediging laat hou. Die omstandighede in ons land is hierdie keer weer die rede vir so ‘n dag. Al die Gereformeerde kerke het die volgende brief oor die dag van verootmoediging ontvang:

“Klassis Potchefstroom het op sy vergadering van 30 Mei 2023, op grond van ’n versoek van Gereformeerde Kerk Hartbeespoort, besluit om ’n dag van verootmoediging en voorbidding op Sondag 18 Junie 2023 kragtens Artikel 66 van die Kerkorde vir die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika uit te roep.

Motivering
1) Die energiekrisis en die uitkringende sosiale en ekonomiese gevolge vir lidmate en al die inwoners van ons land.
2) Die verval van infrastruktuur wat tot groot ellende lei.
3) Die hoë vlakke van misdaad en werkloosheid in die land.

Kerke word opgeroep om
1) die Here te erken en te eer as die Heerser van hemel en aarde,
2) ons voor die Here te verootmoedig en te soek na die Here se hand in die omstandighede,
3) om voorbidding te doen vir die owerheid om in verantwoordelikheid en wysheid op te tree,
4) om die Here te smeek om stabiliteit, vrede en regverdigheid in ons land, en
5) om te bid vir volharding van gelowiges in die kerk.”

Elke gemeente is opgeroep om ons te verootmoedig. Ons gemeente is opgeroep. Dit beteken elke gelowige is opgeroep.

Klassis Potchefstroom het 18 Junie as die dag van verootmoediging bepaal. Aangesien die Sondag op ‘n langnaweek was en dat baie in die land daardie Sondag as Vadersdag gevier het, het ons kerkraad besluit om liewer ‘n ander datum te gebruik. Die dag van verootmoediging is vir ons, Sondag 13 Augustus, as die Here wil.

2. VEROOTMOEDIGING

Hoe verootmoedig ek my?

a. Die brief

Die brief wat ons gekry het, wys reeds wat gedoen behoort te word:

1) – Elkeen van ons het met nuwe erns nodig om met dieper ontsag die Here as die Heerser van die hemel en die aarde te erken.

2) – Ons almal saam behoort geestelik hard te werk om die Here se hand in die omstandighede in ons land te soek. Dit beteken dat ons diep sal nadink daaroor dat God ook deur die gebeure in ons land met ons praat.

3) – Ons het nodig om in gebed na God toe te gaan dat Hy sal gee dat die regering van die dag met verantwoordelikheid teenoor Hom en die res van die land en met wysheid sal optree.

4) – Ons gebede het nodig om smeekgebede te wees vir stabiliteit, vrede en geregtigheid in ons land.

5) – Ons moet vir mekaar bid en die Here vra om ons deur sy Heilige Gees te lei en te help om in ons geloof te volhard, sodat ons nie moedeloos of opstandig word en begin twyfel of ons geloof in God enige betekenis het nie.

b. In die praktyk

Die woorde in die brief wys reeds dat verootmoediging meer as een erediens op een Sondag is. Dit is goed en reg en noodsaaklik om in ‘n erediens in die allerhoogste en allerheiligste God se teenwoordigheid te kom en ons as gemeente te verootmoedig.

Na die erediens is dit steeds lewensbelangrik om ons te verdiep in ‘n lewe van verootmoediging voor God elke dag. Wat baie belangrik met verootmoediging is, is dat ek met my eie lewe voor God begin. Verootmoediging begin by my, in my hart en in my gedagtes.

Om my voortdurend voor God te verootmoedig, kan ek die volgende op ‘n nuwe en dieper manier doen:

1) Ek doen selfondersoek na wat in my hart en gedagtes oor my verhouding met God leef. Ek dink goed en diep oor my lewe voor God. Ek soek na gedagtes of gewoontes of woorde of dade wat voor God verkeerd mag wees. Ek toets my aan die Here se Woord. Ek kan Matteus 5 tot 7 lees en uitvind hoe die Here wil hê dat ek elke dag as Christen sal leef. Ek kan verder Heidelbergse Kategismus Sondag 34 tot 44 in diepte lees oor wat God alles in sy Tien Gebooie verbied en ook gebied.

2) Ek regverdig myself nie voor God dat ek darem nie so sondig is soos ander meense nie. Ek besef dat juis ek ver tekort skiet in my verhouding met Hom en wat Hy, as my God van my vra.

3) Ek verdiep my gebedslewe. Ek maak doelbewus tyd om God te smeek vir genade en geduld en vergifnis. Ek bely bewustelik dat ek sondige gedagtes dink, woorde sê wat voor Hom sondig is en dade doen wat verkeerd is. Ek erken en bely verder dat daar baie is wat God van my vra, wat ek nie doen nie. Dan bely ek dat daar sonde is waarvan ek nie eers bewus is nie. Ek het sulke sonde, omdat ek God nie goed genoeg ken nie en sy Woord ook nie goed genoeg ken nie.

4) In my gebede smeek ek God om my te help om my te bekeer, sodat ek nader aan Hom kan leef en meer vir Hom kan leef.

5) In my hart neem ek my voor, besluit ek, om nog meer met sondige gedagtes en woorde en dade te breek, op ‘n nuwe en dieper manier na God se wil vir my lewe te soek en met groter oorgawe sy wil te doen.

6) In hierdie gedagtes een gebede waarmee ek voor God kom, maak ek nie op myself staat nie. Ek besef voor God dat ek sy genade en liefde nie verdien nie. Ek besef en ek glo dat ek alleen so na God toe kan kom, omdat Jesus Christus vir my gesterf en opgestaan het.

7) Wanneer ek my voor God verootmoedig, het ek die Heilige Gees nodig. Ek het die Gees nodig om my te help om my gereed te maak om met ‘n opregte hart voor God in die erediens te wees. Ek het die Heilige Gees verder nodig om my te leer en te lei om ‘n lewe van verootmoediging voor God te leef.

3. ‘n SLOTWOORD

Ons land, ons kerkverband, ons gemeente, elkeen van ons het verootmoediging nodig. Die spesiale dag in ons gemeente is, as die Here wil, Sondag 13 Augustus. Laat elkeen van ons hierdie baie belangrike dag en tyd met die gesindheid van Jak.4:8 benader: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”

J Nel
6/08/2023