Tema: Op die vraag na jou enigste troos is die enigste antwoord: Jesus Christus
Inleiding:
Wat is die belangrikste in jou lewe? Anders gestel: Wat het die grootste invloed op jou lewe? Dit is ‘n vraag waaroor mens goed moet nadink. Eintlik is dit maar net die eerste vraag van die Kategismus in ander woorde gesê. Hoe sal jy as Gereformeerde gelowige hierdie vraag beantwoord? Daar is op hierdie vraag in werklikheid net een antwoord en dit is Jesus Christus. Ons kyk vanaand net na die eerste vraag van Sondag 1 en ons kyk daarna in die Lig van Johannes 6.
Tema: Jesus Christus is tot in ewigheid jou enigste Verloosser
Die Here praat met jou persoonlik
Die eerste vraag in die Heidelbergse Kategismus is ‘n persoonlike vraag: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” In die Kategismus is die heel eerste vraag ook nie die einde van die persoonlike geloofsvrae nie. Hierdie persoonlike vrae kry mens regdeur hierdie belydenisskrif: “Waaruit ken jy jou ellende?” (Sondag 2), “Waarom word jy ‘n Christen genoem?” (Sondag 12), “Wat glo jy van die Heilige Gees?” (Sondag 20), “Hoe is jy regverdig voor God?” (Sondag 23).
Waar kom die opstellers van die Kategismus aan hierdie idee om die belydenissskrif so persoonlik op te stel? Hulle het dit in die Bybel gesien. Die Bybel is God se Woord. Hy is die lewende persoonlike God wat met jou persoonlik in sy Woord praat. Dink maar aan die Wet: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie” (Eks.20:3). Ons sien dat Christus ook met die mense om Hom persoonlik gepraat het: “Ek sê vir julle, as julle nie my liggaam eet en my bloed drink nie…” (Joh.6:53) en die vraag aan sy dissipels nadat al die mense wat Hy vroeër met die vyf brode en die twee visse gevoed het, weggegaan het, “wil julle nie ook weggaan nie?” (Joh.6:67).
Jy antwoord persoonlik
‘n Belydenis is die kerk se antwoord op die Here se Woord. In die Heidelbergse Kategismus antwoord die gelowige Gereformeerde op wat God in sy Woord vir jou sê.
Die geloofsbelydenis is jou persoonlike belydenis, saam met al die Gereformeerde gelowiges oor die hele wêreld en deur die hele geskiedenis van die kerk. Maar dit is in die eerste plek ‘n persoonlike vraag aan elke gelowige: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Jy moet die antwoord gee. Jou antwoord is jou geloofsbelydenis.
2. “Enigste” – daar is net een
Jesus Christus is die enigste Verlosser
Enigste beteken daar is net een. Daar is niks en niemand anders wat regtig die troos kan gee wat mens nodig het nie. Daar is net ‘n enigste troos.
Hierdie waarheid word ook duidelik in Petrus se antwoord: “ Here na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat die ewige lewe gee” (Joh.6:68).
Jesus Christus alleen is die lewe. Hy alleen het die lewe. Hy alleen gee die lewe. Hy is die enigste Verlosser van sondaars wat daar ooit was en ooit sal wees. Daar is net ‘n enigste troos in lewe en in sterwe.
Die Jode met wie Jesus daardie dag gepraat het, het anders gedink. Hulle het gedink die feit dat Moses vir hulle die manna, die brood uit die hemel gegee het, het beteken dat hulle verlos is. Hulle het m.a.w. aan hulle vroeëre geskiedenis vasgehou om hulle te red. Daarom het hulle weggegaan toe Jesus vir hulle gesê het dat net Hy hulle kan verlos.
Ons moet ook weet, ek word nie gered deur my belydenisaflegging nie, ook nie omdat ek nagmaal gebruik nie, ook nie omdat ek in my eie oë reg lewe nie. Daar is net een troos, die enigste, Jesus Christus.
3. “Troos” – die goed in jou lewe
Elke mens het troos nodig
Wat word bedoel met die woord “troos”. Een van die opstellers van die Kategismus beskryf troos so: Troos is die goed wat jy in jou lewe het, wat die kwaad in jou lewe oorweldig en verdryf.
Elke mens het troos nodig, omdat elke mens kwaad in jou lewe het. Die kwaad in elke mens se lewe is sonde.
Jesus Christus is jou Troos
Die enigste Goed in jou lewe wat die kwaad van die sonde in jou lewe verdryf, is Jesus Christus.
Hy doen dit deur sy kruisiging en opstanding. Deur sy dood aan die kruis het Hy die straf op jou sonde gedra en so die mag wat sonde oor jou gehad het, gebreek. Deur sy opstanding het Hy die mag van die dood oor jou gebreek.
4. “In lewe en in sterwe” – nou en vir ewig
Christus is jou Verlosser terwyl jy lewe
Jesus Christus het na die wêreld gekom om nou en vir altyd in jou lewe te wees. Hy is jou enigste troos nou terwyl jy lewe.
Ook wanneer jy sterf
Jy het troos wanneer jy sterf. Jesus Christus is die Goed in jou lewe, Hy is jou troos selfs wanneer jy sterf, want die oomblik met jou dood word jy na Hom geneem.
In ewigheid
Jy het troos ook na jou dood. Jesus Christus is jou troos ook na jou dood, want na jou lewe op aarde is jy by Hom om ewig by Hom te wees. God se genade is so groot, want jy het troos wat in ewigheid nie ophou nie.
Die eerste vraag van die Heidelbergse Kategismus is reeds ‘n geloofsbelydenis. Dit is jou geloofsbelydenis. Hierdie belydenis is ‘n geloofsbelydenis dat jy ‘n enigste troos het in lewe en in sterwe en hierdie troos is Jesus Christus. Hierdie geloof is die kern van elke Gereformeerde se lewe. Daarom word daar Sondae uit die Kategismus gepreek en word die Kategismus in die katkisasie met verbondskinders behandel.