Home Preke REDES WAT BEWYS DIE HERE KOM BESLIS WEER!

REDES WAT BEWYS DIE HERE KOM BESLIS WEER!

Datum: 2021-06-06
|
Kernverse: 2 PETRUS 1:16-21

Lees:  2 PETRUS 1:16-21

TEMA: REDES WAT BEWYS DIE HERE KOM BESLIS WEER!

1. Praat Petrus van die wederkoms?
2. Ware prediking berus nie op storietjies nie, maar op oog- en oorgetuienis!
3. Die Woord self sê dat Jesus weer gaan kom. Hou vas aan die Woord!
PS 146:1,6; PS 146:8; PS 119:39, 48; SB 43 (15-7):4,5; SB 57 (18-6):1,4,5; SB 78 (13-3).

Geliefdes,
1. Net soos in Petrus se tyd is daar vandag ook mense wat ons in die geloof wil verwar. Hulle wil hê ons moet twyfel oor die betroubaarheid van die Bybel. Sodra dit gebeur, verander ‘n mens mos maklik aan wat die Bybel sê. Die Bybel sê so, maar dit kan tog nie wees nie, daarom tree ons anders op as wat die Bybel self sê. So redeneer baie gelowiges vandag.
Ook wil hulle hê ons moet twyfel oor die feit dat Jesus werklik weer gaan terugkom. Indien jy daaroor gaan begin twyfel, sal jou toewyding aan die Here ook afneem.
Petrus skryf sy tweede brief omdat hy besorg is oor die welsyn van die gelowiges nadat dwaalleraars onder hulle begin optree het. Hy begin sy brief deur te wys op die omvang van die verlossing waaraan gelowiges deel gekry het in Christus. Daarmee spoor hy ons aan om soos verloste mense te leef. Hy plaas hierdie aansporing op twee fondamente: Op grond van die betroubaarheid van die Evangelie en op grond van die sekerheid van die wederkoms van die Here moet ons soos verlostes leef!
Een van die hoofredes waarom hy sy tweede brief geskryf het, was dat daar dwaalleraars, wat ʼn losbandige lewe gelei het, tussen die gelowiges ingekom het. Die dwaalleraars het veral beweer dat Jesus nie die Christus is nie en hulle het ook gespot met die idee dat Hy weer gaan terugkom met sy wederkoms. Daarom skryf Petrus uitvoerig in sy brief oor die wederkoms van ons Here en hou hy verskillende bewyse voor om die gelowiges te verseker dat die wederkoms wel sal plaasvind en om so hulle geloof te versterk. Ook moedig hy ons aan om gereed te maak vir die koms van die Here.
Geliefdes, in die eerste deel van ons teks, 2 Petrus 1:16-18, lê Petrus klem daarop dat die waarheid van die Evangelie bevestig word deur die ooggetuienis van die apostels. In die tweede deel, in 1:19-21, lê hy klem daarop dat die waarheid van die Evangelie bevestig word deur die Ou Testamentiese profete.
Petrus beklemtoon aan die begin van 1:16-18 dat hulle, die apostels, hulle nie verlaat het op vindingryke fabels toe hulle die krag en die koms (παρουσία) van die Here Jesus Christus verkondig het nie. Hulle was immers ooggetuies van sy majesteit.
Dit is interessant dat Petrus die prediking van die apostels, alles wat die apostels gepreek het, opsom as die bekendmaking van die kragtige koms van die Here.
Die 2020-Vertaling vertaal dit as dat die apostels die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus bekendgemaak het. Die 1983-Vertaling praat van die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms.
Die 1953-Vertaling praat van die krag en koms van onse Here Jesus Christus.
Die vraag is dus: Waaroor het Petrus hier geskryf? Skryf hy oor die eerste koms van ons Here na die aarde, sy geboorte as mens? Of skryf hy oor die Jesus se teenwoordigheid op aarde terwyl Hy op aarde as ʼn mens geleef het? Of skryf Petrus oor die wederkoms van ons Here, wanneer Hy in krag weer gaan kom en teenwoordig gaan wees by sy volgelinge?
Die Griekse woord wat Petrus hier gebruik is παρουσία wat koms, of teenwoordigheid of wederkoms kan beteken. Logieserwys sou ons kon verwag dat Petrus hier verwys na Jesus se eerste koms na die aarde, sy geboorte as mens. ʼn Groot deel van die apostels se verkondiging het tog gegaan oor Jesus se geboorte as mens.
Maar Petrus skryf hier oor die kragtige wederkoms van die Here. Hoe weet ons dit? Daar is ʼn paar redes:
• Wanneer die woord παρουσία in verband met Jesus Christus in die Nuwe Testament gebruik word, word dit altyd in verband met sy wederkoms gebruik en nooit in verband met sy geboorte as mens nie
• Petrus gebruik die woord παρουσία net drie keer in sy briewe. Wanneer Petrus die woord παρουσία gebruik in 2 Petrus 3:4 en12, dan verwys dit beslis na Jesus se wederkoms. Dit sou dus vreemd wees as hy op die enigste ander plek wanneer hy die woord gebruik, hier in ons teks, ʼn ander betekenis daaraan sou heg.
• Petrus skryf juis sy brief om dwalings wat sê dat die wederkoms nie sal plaasvind nie, te weerlê. Daarom kan verwag word dat die wederkoms ook hier ter sprake is wanneer Petrus na die inhoud van die apostoliese verkondiging verwys.
Ons kan dit dus vertaal: toe ons die kragtige wederkoms van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het.
Ware en suiwer prediking sluit dus beslis die verkondiging in dat die Here Jesus Christus weer in krag gaan kom. Sonder die verkondiging van die wederkoms is die Evangelie van Jesus Christus nie volledig nie. Nie net Jesus se menswording en die verlossing wat Hy vir ons bewerk het, moet verkondig word nie, maar ook dat Hy weer gaan kom! Dit is wat die apostels gepreek het en dit is wat elke verkondiger van die Woord vandag nog moet preek!

2. Maar hoe kan ons weet dat die verkondiging van die kragtige wederkoms die waarheid is? Wel, Petrus begin juis ons teks deur te sê waar die idee van die wederkoms nie vandaan kom nie: Ons het ons immers nie op vindingryke fabels verlaat toe ons die kragtige wederkoms van ons Here Jesus Christus aan julle bekend gemaak het nie. Die wederkoms is nie ʼn storie wat iemand uitgedink het nie! Nee, beslis nie!
Maar waar kom die idee van die wederkoms dan vandaan? En watter bewyse het ons dat die wederkoms beslis sal plaasvind?
Petrus noem ʼn paar belangrike dinge: Die eerste wat hy noem in vers 16 is: Ons was ooggetuies van sy ontsagwekkende grootsheid. In vers :17 en 18 verwys Petrus na ʼn besondere geleentheid waar die majesteit van die Here, sy ontsagwekkende grootsheid, duidelik geblyk het en waarvan hy een van die ooggetuies was, naamlik die verheerliking op die berg. Ons lees op drie plekke daarvan in die Evangelies (Matteus 17:1-13; Markus 9:2-8; Lukas 9:28-36).
In Markus 9:2–9 lees ons: Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op ’n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Toe het sy voorkoms voor hulle oë verander, 3 en sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. 4 Elia en Moses het toe aan hulle verskyn en met Jesus gestaan en praat. 5 Toe sê Petrus vir Jesus: “Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” 6 Hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander. 7 Daar het toe ’n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar ’n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” 8 En meteens, toe hulle weer kyk, sien hulle niemand meer nie, net Jesus alleen by hulle.9 Terwyl hulle van die berg afkom, het Jesus hulle opdrag gegee om wat hulle gesien het, vir niemand te vertel voordat die Seun van die mens uit die dood opgestaan het nie.
Geliefdes, ons praat gewoonlik van hierdie gebeurtenis as die verheerliking op die berg. En wat daar gebeur het, is juis waarna Petrus verwys in ons teks. Kom ons lig net ʼn paar belangrike punte uit:
Die eerste is: Jesus het vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle op ’n hoë berg gebring waar hulle heeltemal alleen was. Petrus was dus by toe dit gebeur het. Hy is getuie daarvan, want hy was self teenwoordig.
Wat het hy met sy eie oë gesien? Hy het gesien hoe Jesus se voorkoms voor hulle oë verander, en hoe sy klere het blink geword, spierwit soos niemand op aarde dit kan maak nie. Daarom kan Petrus in ons teks sê: Ons was ooggetuies van sy ontsagwekkende grootsheid.
Met ander woorde: Ons het gesien hoe Jesus van God die Vader eer en heerlikheid ontvang het! Dit was so oorweldigend dat Markus 9 sê dat Petrus begin praat het, maar hy het nie geweet wat hy sê nie, so verskrik was hy saam met die ander.
Maar Petrus sê nie net in ons teks dat hy ʼn ooggetuie was nie. Nee, hy was ook ʼn oorgetuie. Markus 9 sê: 7 Daar het toe ’n wolk gekom wat sy skaduwee oor hulle laat val het; en uit die wolk het daar ’n stem gekom: “Dit is my geliefde Seun. Luister na Hom.” Petrus het die Vader self hoor praat!
Daarom sê hy in ons teks, in vers 17 en 18: Nadat Hy van die Vader eer en heerlikheid ontvang het, toe die Luisterryke Majesteit die stem tot Hom laat kom het wat sê: “Hy is my Seun, my geliefde Seun, in wie Ek my verbly,” het ook ons daardie stem gehoor wat uit die hemel kom, terwyl ons saam met Hom op die heilige berg was.
Wat Petrus dus eintlik sê, is: Ek kan julle verseker daarvan dat die kragtige wederkoms van ons Here Jesus beslis sal plaasvind, want ek het die eer en die heerlikheid gesien en gehoor wat die Vader aan Jesus gegee het op die berg van verheerliking. Daar het ek al ʼn voorsmakie gekry van die kragtige wederkoms van ons Here in eer en in heerlikheid. Op grond van wat ek saam met Jakobus en Johannes gesien en gehoor het, kan ek julle verseker: Ons Here kom weer in krag en eer en in heerlikheid!
Die verheerliking op die berg, waar die Here Jesus eer en heerlikheid van die Vader ontvang het, was die waarborg vir die toekomstige wederkoms van Christus in eer en in heerlikheid. Petrus verlaat hom nie net op dit wat hy met sy eie oë gesien het nie, maar ook op dit wat hy gehoor het tydens die verheerliking op die berg. Hy verlaat hom ook op die gesproke woord van die Vader.

3. Maar dit is nie al nie! Die werklikheid van die kragtige wederkoms word verder gewaarborg en bevestig deur die profetiese woord, die Skrifgeworde woord, die Ou Testament, sê Petrus. Hy skryf in ons teks, in 19: En daarom beskik ons oor die profetiese woord, wat nog vaster staan. Of soos die Nuwe Vertaling sê: En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig.
Na die aanskouing van Christus se heerlikheid en die hoor van God se stem op die berg van verheerliking, staan die waarheid van die Skrif, wat die profesie oor die wederkoms insluit, soveel vaster vir Petrus. Dit wat hy gesien en gehoor het, die heerlikheid van Jesus Christus en die stem van die Vader uit die hemel, het net gemaak dat hy nog vaster glo aan die waarheid van die Bybel.
Petrus sê dus eintlik vir ons: Dit wat ons aan julle verkondig oor die wederkoms, staan op twee fondamente: Op die heerlikheid wat die Vader self aan Jesus gegee het op die berg van verheerliking en op die Bybel. Iemand wat dus sê dat die wederkoms net ʼn storie is en dat dit nooit sal plaasvind nie, tas dus Jesus se heerlikheid aan en hy tas die waarheid van die Bybel aan.
Ons het vandag nie net die Ou Testament nie, maar ook die Nuwe Testament wat baie duidelik verkondig dat ons Here Jesus weer gaan kom! Daarom moedig Petrus ons aan in ons teks, in vers 19 om op die profetiese woord te fokus, die woord wat soos ʼn lamp is wat in ʼn donker plek skyn: Julle doen die regte ding as julle daarop, op die Bybel, fokus soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, skryf hy. Die lesers word dus aangemoedig om op die Skrif te fokus tot met die wederkoms, veral in die lig van dwaalleer in verband met die wederkoms wat die rondte gedoen het.
Die Woord is soos ʼn lamp in ʼn donker plek. Fokus op die lig van die Woord in hierdie donker wêreld. Lees dit, glo dit, oordink dit. Wees daar as dit verkondig word! Verkondig dit self aan ander. Net die Woord kan die duisternis van die sonde uit ons lewens en uit die wêreld verdryf!
Ons moet op die Woord fokus en, skryf Petrus in vers 19, ons moet dit doen totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in ons harte! Die dag is hier ʼn verwysing na die wederkoms: Dit is die spesiaal aangewysde eskatologiese dag van Jesus Christus se wederkoms om te kom oordeel. Die Ou Testamentiese profete, weet ons, het al van die dag, ook genoem die dag van die Here, gepraat.
Hier is egter ʼn dubbele verwysing na die wederkoms in vers 19, aangesien nie net die dag na die wederkoms verwys nie, maar ook die beeld van die môreson wat opkom in die lesers se harte. Die môrester sê die dag is hier! En wanneer die dag aangebreek het, wanneer Jesus Christus weer gekom het met sy wederkoms, dan het ons nie meer die Ou of die Nuwe Testament nodig nie, want dan sal ons self die heerlikheid van die Here
sien en sal ons self die stem van die Vader hoor! Maar tot dan moet ons vashou aan die lig van die Woord en daarop en daarop alleen fokus!
Petrus skryf in vers 20 en 21 dat ons die Bybel reg moet hanteer. Ons moet besef dat dit God se Woord is en ons moet dit reg verstaan en reg verkondig. Ons moet ons weerhou daarvan om ʼn eie uitleg aan die Bybel te gee (:20) en ons moet daaraan bly vashou daaraan dat die Skrif deur die Heilige Gees geïnspireer is (:21).
Om ‘n eie uitleg aan die Skrif te gee is om dinge daar in te lees wat nie daar staan nie, om op menslike oorwegings dinge by te voeg of weg te laat. Daarom moet ons altyd heel eerste die oorspronklike bedoeling van die betrokke Bybelskrywer probeer bepaal. Daarom moet ons ook Skrif met Skrif vergelyk. Die Bybel is immers sy eie beste verklaarder.
Petrus beklemtoon ook die noue verbinding wat bestaan tussen die waarheid van die Woord van God en die aanbreek van die wederkoms. Die wederkoms sal uiteindelik die waarheid van die Woord net nog verder bevestig.
Die dwaalleraars spot en sê Jesus is nie die Here nie. Petrus sê: Ek het die heerlikheid van Jesus gesien wat bewys dat Hy die Here is. Ek het die stem van die Vader gehoor wat sê dat Hy die Here is.
Die dwaalleraars spot en sê die wederkoms gaan nie plaasvind nie. Petrus sê: Jesus kom beslis weer! Die Ou Testament sê so, en ons, die apostels, die verkondigers en skrywers van die Nuwe Testament sê ook so, want ons het sy heerlikheid gesien, sê Petrus!
Daarom kan ons dit vandag nog glo en uitsien na daardie dag wanneer ons nie meer die Bybel nodig gaan hê nie, want die Een van wie die Bybel getuig, Jesus Christus, sal by ons wees en ons by Hom!
Geliefdes, die doel waarom God dit aan ons bekend maak dat Jesus weer gaan kom, is om aan gelowiges die sekerheid te gee dat dit beslis sal plaasvind. Die sekerheid dat die wederkoms sal plaasvind, word bevestig deur die getuienis van die apostels, van dit wat hulle gesien en gehoor het, en ook deur die res van die Skrif.

Kom ons vat saam:
Die sekerheid van die wederkoms word verkondig, sodat gelowiges voorbereid kan wees en toegerus kan wees om dwaalleer, veral die dwaalleer dat die wederkoms nie sal plaasvind nie, te weerstaan en te weerlê.
Die wyse van wederkoms word verkondig, sodat gelowiges kan weet dat dit met krag sal plaasvind en dat die eer en heerlikheid van Jesus Christus duidelik sal blyk.
Die wederkoms word verkondig, sodat gelowiges op die Skrif sal fokus en om hulle aan te moedig om daarmee te volhard tot met die wederkoms, sonder om op hulle eie uitleg te vertrou en deur te bly vashou aan die inspirasie van die Skrif deur die Heilige Gees.

Die wederkoms, wat beslis sal aanbreek, word verkondig as die gebeurtenis wat die waarheid van die Woord onteenseglik sal bevestig, sodat gelowiges vandag die Woord onwrikbaar sal glo.
Nou glo ons dat die Bybel waar is. Wanneer Jesus weer kom, sal ons sien dat die Bybel waar is!
Amen.