Lees: Genesis 22 (53-vertaling)
Inleiding:
Die Here praat met ons. Dit is genade. Hy praat met ons in ‘n hoofstuk soos Genesis 22. Hy vertel vir ons dat Hy die God is by wie daar altyd lewe is. Dit is genade om te hoor wat ons Verbondsgod vir ons sê.
Tema: By die Here ons Verbondsgod is daar altyd lewe
Die Here is alwetend en volmaak in wat Hy doen in sy genadeverbond
Genesis 22 begin met ‘n opdrag van die Here aan Abraham: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat ek jou sal aanwys” (Gen.22:2).
Van Abraham se kant af gesien, was hierdie ‘n verskriklike opdrag. Daar was geen twyfel oor wat Abraham moes doen nie. Die manier waarop die Here vir Abraham gesê het om Isak te gaan offer, het dit vir Abraham baie duidelik gemaak wat die Here van hom verwag het en dat daar nie plek vir redeneer met God was nie.
Die opdrag was ook ‘n baie vreemde opdrag wat van Abraham se kant gesien, glad nie sin gemaak het nie. Isak was dan die kind wat die Here belowe het, sodat daar baie nasies uit Abraham sou voortkom.
Wat moet ek met ‘n hoofstuk in die Bybel soos hierdie maak?
Waneer die Bybel oop is by Genesis 22 is dit baie belangrik dat elkeen wat lees of luister ‘n hele klomp baie belangrike dinge sal besef.
Die eerste: God het hierdie hoofstuk in hierdie eerste boek doelbewus deel van sy Woord gemaak. Die Here wou hierdie geskiedenis van die begin af in sy Woord gehad het, vir ons om te lees. Daarom kan ons vanoggend in ons erediens na Genesis 22 luister.
Die lewende God praat met elkeen van ons in Genesis 22. Wanneer die Here praat, kan mens nie net die deel lees en dink dit gaan oor Abraham wat Isak moes offer en dat die Here op die ou einde ‘n bokram voorsien het wat Abraham toe in die plek van Isak geoffer het nie. Die Here praat in hierdie geskiedenis oor Homself. Daarom noem ons die geskiedenis in die Bybel, OPENBARINGSGESKIEDENIS!!! God maak openbaar Homself, of in ander woorde gesê, Hy maak Homself in hierdie geskiedenis bekend.
Wanneer ek met Genesis 22 besig is, sal ek vrae aan myself moet vra en antwoorde op die vrae moet kry. Daar is ‘n hele klomp vrae wat ek moet vra en waarop ek antwoorde moet kry. Vanoggend kyk ons net na twee:
Wat sê God van Homself?
Wat verwag Hy van my?
Dit is nodig dat ons hierdie baie belangrike dinge sal weet. Waarom? Sonder om dieper te lees en te luister, sal ons net by Abraham bly en die Here nie leer ken nie. Wie die Here nie ken nie, het nie die ewige lewe nie. Wie die Bybel ken, het die kennis wat verlossing kan gee deur geloof in Jesus Christus. Dit is daarom regtig noodsaaklik om God in Genesis 22 te leer ken en nie net vir Abraham nie.
Met hierdie agter die rug, kan ons nou na die hoofstuk self kyk.
Die kernvers vir die preek is die volgende woorde: “So het hulle twee dan saamgeloop” (Gen.1:8b). Die woord “So” is nou belangrik. Abraham en Isak was in die genadeverbond. Hulle het onder die opdrag van ons Verbondsgod so saamgeloop.
Vir Abraham was die opdrag baie vreemd en baie erg. Isak het nie geweet wat die volle opdrag van die Here was nie. Maar die Here het alles geweet. Hy het voorheen vir Abraham as mens ook die vreemdste dinge gesê. Hy het vir Abraham gesê om heeltemal weg te trek uit sy bekende omgewing en van al sy familie af. Hy het ook gesê dat Abraham en Sara ‘n groot verbondsnageslag sou hê, al het hulle geen kinders gehad nie. Die Here het verder gesê Abraham en Sara sou op ‘n baie hoë ouderdom toe hulle menslik gesproke glad nie meer kinders kon hê, ‘n eie seun hê. Die geskiedenis gaan baie verder. Die Here het Isak laat bly lewe. Vir Hom is Jakob gebore. Jakob het twaalf seuns gehad. Uit hulle het die twaalf stamme van die verbondsvolk ontstaan. Die verbondsvolk het gegroei tot duisende. Uit Juda is die Verlosser gebore. Die Verlosser het apostels gestuur om nie net aan die Jode nie, maar tot aan die uithoeke van die aarde God se Woord van genade uit te dra. Vandag kan ons sê dat die nageslag van Abraham is soos die sand van die see en die strre in die hemel, te veel om te kan tel. Uiteindelik sal die nageslag van Abraham, ‘n ontelbare skare gelowiges ewig by God in die hemel wees.
Wat leer ons van God in hierdie geskiedenis?
Die Here is alwetend en volmaak in wat Hy doen in sy genadeverbond.
‘n Laaste saak onder die eerste kerngedagte: Die Here vertel ons nie hierdie geskiedenis vanuit Abraham se oogpunt en hoe hy gevoel het nie. Die Here vertel ons hierdie geskiedenis van sy kant af.
Leer ons nie hieruit ‘n baie belangrike ding nie? Wanneer ons swaarkry, of dit ‘n gevaarlike virus is waardeur ons baie ingeperk word, of dit siekte is of enige terugslag wat ons baie swaar laat kry, is ons geneig om wat gebeur net van ons kant af te sien en net die swaar raak te sien. Ons vra ook dikwels: Here waarom gebeur hierdie vreeslike swaar met my?
Die Here leer ons in Genesis 22 om wanneer ons swaakry eintlik eerste te vra en uit te vind wat die alwetende en volmaakte Here se plan met my swaarkry in die genadeverbond is.
Hy vra van my allesoorheersende geloof
Ons kyk met hierdie kerngedagte na die vraag: Wat verwag die Here van my wanneer Hy met my in Genesis 22 praat?
Voor ons by die vraag self kom, eers die volgende: Onthou ek is in die genadeverbond. ‘n Ander woord vir verbond is testament. Ek luister daarom as kind en erfgenaam in die genadeverbond na wat God vir my sê. Dat ek in die Here se genadeverbond is, is wonderlike genade in my lewe.
Die Here het sy genadeverbond met Abraham en sy nageslag gesluit. Abraham het by God geloof gekry en deur sy geloof het hy in die genadeverbond geleef.
Die vraag is nou: Hoe kom ek in die genadeverbond?
Jesus Christus bring my in die genadeverbond. Hy neem my sonde op Hom. Hy sterf vir my aan die kruis op Golgota. Hy betaal deur sy dood al my sondeskuld, verlos my van die mag wat sonde oor my gehad het en bring my weer by God. Hy staan vir my op uit die dood en gee aan my nuwe lewe, die ewige lewe. Deur sy kruisiging en opstanding het Christus elkeen wat in Hom glo, syne gemaak. Ek het die Heilige Gees in my. Die Gees gee aan my geloof in Christus en deur my geloof behoort ek aan Hom. Omdat ek aan Jesus Christus behoort, is ek deel van die nageslag van Abraham (Gal.3:29) en in die genadeverbond.
Wat verwag die Here van my in die genadeverbond?
Ons begin by wat Hy van Abraham verwag het. Dit is op die oog af ‘n moeilike vraag. Die vraag is net moeilik wanneer ek die antwoord net in Genesis 22 soek.
Die Bybel is ‘n Biblioteek van 66 boeke en twee testamente, maar is die een Woord van God. Al die boeke vorm ‘n hegte eenheid. Daar is ‘n belangrike reël, wat ons een van die goue reëls vir die lees en verstaan van die Bybel kan noem. Wanneer een deel vir jou onduidelik is, soek ‘n ander deel in die Bybel wat jou hierdie deel duidelik maak. Vir die openbaringsgeskiedenis waarin die Here van Abraham vertel, kan mens na Romeine 4 of Hebreërs 11 toe gaan.
Vir die offer van Isak, is Hebreërs 11 die deel wat ons help.
‘n Mens lees in Gen.22 dat Abraham niks vir die Here gevra of gesê het nie. Hy het alles gereed gemaak en na Moria vertrek soos die Here hom beveel het.
Abraham was nie ‘n volmaakte mens nie. Sy sonde word in Genesis vertel. Hy het in sy lewe baie groot foute gemaak. Wat het dan gemaak, dat hy die Here sonder enige teëstribbeling gehoorsaam het?
Ons kry die antwoord in Hebr.11:17-19 – :” Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is:” Uit Isak sal jou nageslag gebore word” het gereed gestaan om sy enigste Seun te offer. Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel terug ontvang het”.
Die Here het van Abraham in die genadeverbond verwag om te glo dat God die mag gehad het om Isak uit die dood te laat opstaan. Ons kan sê die Here het van Abraham geloof verwag wat bo sy verskriklike omstandighede uitgestyg het. Abraham het hierdie geloof gehad, is die getuienis in Hebr.11.
Wanneer Abraham en Isak saam geloof het na Moria toe, het Abraham met opstandingsgeloof in sy hart geloop.
Wat verwag die Here van my in Genesis 22?
Die Here verwag dat ek ‘n opstandingsgeloof sal hê. Dit is ‘n vaste geloof dat Hy vir my lewe uit die sondedood waarin ek was, gegee het. Hy het vir my lewe gegee deur sy Seun wat vir my gesterf en opgestaan het. Met die geloof wat die Heilige Gees vir my gee, staan ek elke dag op en leef ek as nuwe mens in die genadeverbond naby God en vir Hom. Ek leef in die genadeverbond met liefde vir God. Omdat ek Hom liefhet, gehoorsaam ek Hom.
Die Here verwag verder ‘n vaste geloof oor die opstanding van my ligggaam wanneer Jesus Christus weer kom. Hy verwag dat ek met opstandingsgeloof oor my eie dood sal dink, sodat ek nie in vrees sal leef nie, maar met die geloof in my hart dat die lewe vir my Christus is en die dood ‘n wins, soos Paulus gelowig bely het.
Hy gee aan elke ware gelowige in die genadeverbond ewige lewe
Die Here verwag van my opstandingsgeloof in die genadeverbond, omdat Hy die God is wat opstanding en lewe gee.
Hy het vir Abraham en Sara ‘n kind gegee waar lewe nie meer moontlik was nie, omdat hulle lank reeds verby die ouderdom was waar hulle kinders in die wêreld kon bring.
Soos Abraham en Isak saamgeloop het Moria toe, het Abraham in werklikheid reeds vir Isak as offer aan die Here afgestaan. Die Here het vir Isak aan hom teruggegee, as’t ware uit die dood uit.
Ons wat in die Nuwe Testamentiese tyd leef, na Jesus Christus se koms na die aarde toe, weet en glo dat God deur Jesus Christus ewige lewe uit die dood gee.
Jesus Christus self het gesterf en Hy het weer opgestaan en na die hemel opgevaar.
Ek self was dood in die sonde en onder die mag van die duiwel. Deur my geloof in Christus wat vir my gesterf en opgestaan het, het ek nou nuwe lewe, die ewige lewe.
Die Heilige Gees wat in my leef, lei my om as verloste gelowige in die ewige genadeverbond nuut te lewe.
Ek het die vaste geloofsekerheid dat ek nadat die Here my lewe op aarde beëindig het, ek by Hom ewig in die hemel sal leef.
Met die eerste oogopslag lyk Genesis 22 na ‘n hoofstuk met ‘n vreemde geskiedenis. Wanneer ek dieper kyk, laat die Heilige Gees my raaksien dat die hoofstuk oor ons Verbondsgod gaan by wie daar altyd lewe is.