Home Preke Christus die Seun -Jes.9:5,6 en Lk.1:31,32

Christus die Seun -Jes.9:5,6 en Lk.1:31,32

Datum: 2018-12-09

Die Here het Jesaja gestuur om vir Juda te vertel dat ‘n kind, ‘n Seun gebore sal word (Jes.9:6). Die engel Gabriël het vir Maria vertel dat sy ‘n seun in die wêreld sou bring (Lk.1:31).

Ons weet dat hierdie Seun Christus is. Ons herdenk gedurende Desember sy geboorte.  Vanoggend kyk ons dieper na die openbaring in Jesaja 9 en Lukas 1 oor Christus, die Seun. As die Here wil en ons leef, kyk ons volgende Sondag na Christus die Lam en die Sondag daarna na Christus die Leeu.

Vanoggend dan: Christus die Seun.

Tema: Christus die Seun

  1. Christus die Seun van die mens

Gebore uit die maagd Maria – ‘n wonder!

Maria sou ‘n seun in die wêreld bring. So, het die engel Gabariël die boodskap uit die hemel gebring. Maria was ‘n jongvrou, ‘n mens. Haar seun sou dus ook ‘n mens wees. Maria was verbaas oor die engel se boodskap. Sy kon in werklikheid nog nie geboorte gee nie, want sy was nie getroud nie en het op daardie stadium nie ‘n man gehad nie. Sy was wel aan ‘n jongman met die naam Josef, verloof, maar anders as wat deesdae amper alledaags geword het, het Maria en Josef die Here nog gehoorsaam en nie saamgeslaap voor hulle troue nie. Dit verduidelik Maria se verbasing oor die engel se woorde.

Gabriël het hierdie wonder aan haar  verduidelik. Luister na sy woorde: “Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal lewe in jou wek” (Lk.1:35).

 

Maria, ‘n jong ongetroude meisie, sou sonder ‘n man, geboorte aan ‘n seun gee. God, almagtig, vir Wie niks onmoontlik is nie, sou hierdie swangerskap en geboorte moontlik maak. Maria se seun sed geboorte, is dus ‘n almagtige wonder van God!

Hy het ware mens geword.

Dat Jesus uit Maria, ‘n maagd, gebore is, het beteken dat Hy ware mens geword het. Hierdie Bybelse waarheid is baie belangrik. Jesus, Maria se seun, en in ‘n sekere sin Josef se seun ook, was met sy geboorte ‘n mens net soos ons. Ons ken sy ouers. Ons ken sy voorouers. Ons weet waar Hy gebore is en waar Hy groot geword het. Dit is alles dinge wat jy gewoonlik van iemand wat jy goed ken, weet.

Tydens Kerstyd, is dit baie, baie belangrik, dat ons elke jaar sal besef dat ons Jesus se menswording herdenk. Dat Hy mens geword het, moet ‘n baie belangrike en spesiale plek in ons geloof hê.

Hoekom  is dit so belangrik dat Jesus ware mens geword het?

Hy kon en Hy het in ons plek gesterf.

Jesus moes ware mens word, om in ons plek te kon sterf.

Dit was die mens Adam en die mens Eva wat gesondig het in die paradys. Die mens wat gesondig  het, is die mens wat die straf op sonde moes dra en moes sterf. Die engele of die plante of die diere kon nie die straf namens die sondige mens dra nie. Net ‘n mens kon die straf op sonde dra en sterf.

Jesus was so ‘n mens. Hy was die enigste mens wat in ons plek kon sterf. Hy het geen sonde gehad waarvoor Hy moes sterf nie, daarom kon Hy ons sonde op Hom neem en ons ons plek aan die kruis sterf. Hy het dit ook gedoen.

Onthou, om elke Kerstyd diep oor Jesus se menswording na te dink en seker te maak dat jy verstaan waarom dit so belangrik is dat Hy ‘n ware mens geword het. Glo met jou hele hart in Jesus Christus wat vir jou mens geword het.

  1. Christus die Seun van God

Ontvang van die Heilige Gees

Jesus was Maria se seun en net in ‘n sekere sin Josef se seun ook, omdat Josef en Maria later getrou het en die ouers van hulle kinders was. In werklikheid was Hy nie regtig Josef se seun nie. Hy was God se Seun! Maria het hierdie seun in haar binneste van die Heilige Gees ontvang. Die Heilige Gees, self almagtige God, se krag het oor Maria gekom. Soos God in die begin lewe uit niks geskep het, het Hy op ‘n almagtige manier uit niks lewe in Maria geskep.

Hy is van ewigheid tot ewigheid ware God

Jesus Christus is dus in werklikheid God se Seun. Hy is God se ware en enigste Seun. Dat Jesus God se Seun is, beteken dat Hyself God is. Hy is van ewigheid tot ewigheid ware en ewige God.

Hierdie openbaring is ook geweldig belangrik. Elke Kerstyd moet elkeen van ons wat Kersfees vier, besef en diep hieroor nadink dat Jesus Christus ook God is.

Waarom is dit so belangrik dat Christus behalwe vir die feit dat Hy ‘n ware mens is, ook ware God is?

Hy kon en Hy het die sonde en die dood oorwin

Dit is belangrik dat Christus self ook ware God is, want daarom kon Hy en het Hy die sonde en die dood oorwin.

Daar was nie ‘n mens nie, nie ‘n enkele een wat eers naastenby God se ontevredenheid met sonde, sy verskriklike toorn oor sonde en sy straf op sonde sou kon dra nie.

Net Een kon hierdie straf dra.

Christus!….Omdat Hy ware God was!

Hy kon en Hy het die swaarste en bitterste lyding verduur.

Hy het die verskriklikste dood aan die kruis gesterf.

Deur sy dood het Hy ons van sonde verlos.

Omdat Hy God was, kon die dood en die graf Hom nie gevangehou nie.

Christus, die Seun van God het op die derde dag uit die dood opgestaan.

Elke Kerstyd is dit baie belangrik dat elkeen van ons diep daaroor sal nadink en deur die Heilige Gees ons geloof vaster en dieper sal maak in Christus, God se Seun, wat vir ons gebore is, vir ons gesterf het en vir ons uit die dood opgestaan het.

Waarom is dit so belangrik dat Christus God se Seun is wat vir ons gesterf en opgestaan het?

Hy gee vir elkeen wat in Hom glo ware lewe

Dat Christus uit die dood opgestaan het en dat sy graf leeg was, is die duidelike getuienis dat Hy die dood oorwin het en nou lewe.

Christus is lewe. Hy het lewe, ewige lewe. Hy gee lewe.

Jesus Christus gee lewe. Net Hy gee lewe.

Maar….hier is die onstellende werklikheid. Nie elke mens kry lewe by Christus nie. Hy gee lewe vir elkeen wat in Hom glo (Joh.3:16).

 

Daar is waarskynlik miljarde mense wat op 25 Desember 2018 Kersfees sal vier. Die ontstellende is, dat hierdie mense, waarskynlik selfs miljarde, wat, al vier hulle Kersfees,  nie deur die Heilige Gees opreg in Jesus Christus glo nie, verlore is en in die hel onder God se ewige oordeel gaan beland.

Herdenk Christus se geboortedag.

Vier elke jaar Kersfees.

Kom op Kersdag saam met jou gesin en familie.

Maar onthou: Die dag gaan oor die Kind…die Seun…die Seun van die mens….die Seun van God. Daarom is dit belangrik en nodig om op Kersdag in die erediens te wees, waar daar oor Christus gepreek word.

  1. Is Christus die Lig in jou lewe?

Die donker van die sondige wêreld

 

“Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor die wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn” het Jesaja se woorde weerklink (Jes.9:1).

Toe Jesaja hierdie profesie vir Juda gebring het, het die ballingskap na Babel reeds gedreig. Juda se toekoms het donker gelyk. Maar ook hulle hede van destyds was donker, omdat hulle so baie sonde gedoen het. Gaan kyk maar na Jesaja 1 om te sien hoe sondig Juda was.

Sonde maak dit donker in die wêreld. Sonde maak dit ook donker in elkeen van ons se lewe. Elkeen van ons oortree God se gebooie elke dag. Lees maar weer die Tien Gebooie in Eksodus 20 en Deuteronomium 5. Lees ook Matteus 5 tot 7 en luister hoe Christus die Tien Gebooie verduidelik. Kyk weer na Sondag 34 tot 44 van die Kategismsus oor die verklaring van God se Wet. Hierdie dele in die Bybel en in die Kategismus sal jou wys hoe sondig jy is en hoe donker dit in ‘n mens se lewe sonder Christus is.

Elkeen van ons wat Kersfees vier, moet elke jaar weer besef hoe donker ons lewe sonder Christus is. Die Heilige Gees help ‘n mens hiermee.

Genadiglik kan ons elke jaar met Kersfees deur die Gees ook weer lig sien, die Lig!

Wat is die werklike lig in jou lewe?

Suid-Afrika is besig om Christus te los.

Baie Gereformeerde lidmate van vroeër het al en is steeds besig om Christus se kerk te los en daarom ook vir Hom.

Hoekom?

Daar is ‘n ander lig wat in die hierdie land skyn. Geld en besittings skyn vir baie soos ‘n helder lig. Hierdie lig van aardse besittingse skyn so helder, dat baie mense wat nooit deel van ‘n gemeente was nie en baie wat lidmate van gemeentes was, net hierdie lig raaksien. Hierdie mense vier ook Kersfees, ja, maar dit gaan net oor die dinge van hierdie wêreld – vakansietyd en geld en aardse goed.

En jy….nou dat dit Kerstyd is hier aan die einde van die jaar, wat is die werklike lig in jou lewe? Wat laat jou goed voel? Wat maak jou opgewonde?

Is Christus die lig in jou lewe?

Of….is ‘n salaris, of inkomste, of ‘n belegging dit wat jou goed en gerus laat voel en jou opgewonde maak?

Net Christus kan die ware Lig in jou lewe wees!

Onthou een ding: Al die probleme met die ekonomie in Suid-Afrika, hoe erg dit ookal is, te min geld om gerus te kan lewe, is nie die groot probleem in jou lewe nie! Sonde is! Jou sonde maak dat jy die ewige dood verdien! Dit moet elkeen van ons altyd onthou.

Maar daar is iets anders ook om te onthou, eintlik IEMAND anders om hierdie Kerstyd te onthou: Christus!

Hy is die SEUN VAN DIE MENS!

Hy is die SEUN VAN GOD!

Onthou Hom!

Glo in Hom!

Ken Hom!

Wees lief vir Hom!

Leef vir Hom!

HY IS DIE WARE EN EWIGE LIG IN JOU LEWE!