Ons betree Kerstyd 2017. Die kerk wat naby God leef en die wêreld wat ver van Hom af leef vier albei Kersfees. Die groot verskil is die plek wat Christus in jou lewe het. Kom ons kyk dieper na Genesis 2 en 3 en ons pas dit wat God vir ons sê toe op ons lewens en hoe ons Kersfees in 2017 behoort te vier.
Tema: Christus het gekom om die lewe wat ons gehad het….maar verloor het, terug te
gee.
Nadat God alles geskep het, het Hy vir Adam ‘n deel gegee waar hy kon bly. Die eerste mens se blyplek was nie ‘n gewone blyplek soos ‘n huis nie. Die Here het tuin geplant. Die tuin van Eden was, soos alles wat God geskep het, ook baie goed.
Daar was verskillende bome in die tuin. Die bome moes ’n baie mooi gesig gevorm het. Die verskillende bome het ‘n verskeidenheid vrugte gedra wat baie lekker was om van te eet. Adam en Eva kon van die lekker vrugte eet soveel as hulle wou. In hierdie baie mooi tuin het ‘n rivier ontspring. Die rivier het die tuin van water voorsien.
Ons kan verder van die tuin sê dat daar allerhande diere en voëls was. Daar was diere wat naby Adam gebly het. Die diere word in Gen.2:20 “vee” genoem. Daar was ook diere wat verder van Adam af in die veld gebly het. Hulle word die “die wilde diere” genoem (Gen.2:20).
Maar die wild en die voëls was heeltemal anders as hoe ons dit vandag ken. Die Here het die vee, ons kan praat van skape en beeste en die diere in die veld en die voëls aan Adam onderwerp (Ps.8:8,9). Hy moes vir die Here na al die diere en al die voëls kyk. Die diere en die voëls was nie bang vir Adam nie. Die Here het hulle na Adam toe gebring en hy het vir hulle name gegee. Die diere het mekaar nie aangeval en verskeur nie. Die diere en Adam het ook nie vir mekaar enige bedreiging ingehou nie.
Die beste, die wonderlikste in die tuin van Eden was Adam en later sy vrou, Eva, se lewe by God. Hiervan weet ons die volgende:
Adam en Eva is na die beeld van God geskep. Hulle was God se direkte verteenwoordigers op die aarde. Hulle het Hom baie goed geken. Hulle het Hom met hulle hele hart liefgehad. Hulle het die aarde vir God bewerk en opgepas. Hulle het die oor alles regeer presies soos God dit wou gehad het. Hulle het baie met Hom gepraat en alles wat Hy op die aarde gedoen wou hê, vir Hom gedoen. En….Hulle sou in die beste, mooiste en innigste verhouding ewig naby God leef.
Hierdie wonderlike ewige lewe binne die tuin van Eden ken ons glad nie. Want….dit was lewe voor die sondeval, lewe soos God die aarde en alles en almal op die aarde baie goed geskep het.
Die geskiedenis in Gen.3 eindig met die eerste twee mense buite die tuin van Eden. God het self vir Adam en Eva uitgedryf. Hy het ook gerubs en ‘n vlammende swaard oos van die tuin gesit om die ingang te bewaak, sodat daardie twee mense nooit weer in die tuin sou kon kom nie.
Die geskiedenis en dit is openbaringsgeskiedenis wat van God af kom, deur die Heilige Gees aan die skrywers van die Bybel gegee om neer te skryf, vertel wat gebeur het.
Die duiwel in die gedaante van ‘n slang het Eva verlei om haar verhouding met God te vergeet, aan Hom ongehoorsaam te wees en teen Hom te sondig. Adam het saam met haar gesondig.
Hulle sonde, toe hulle van die boom geëet het, waarvan die Here hulle verbied het om te eet, het alles verander.
Omdat Adam en Eva gesondig het, het God hulle uit die tuin weg van Hom af gedryf die ewige dood in. Buite die tuin van Eden is die lewe heeltemal anders as in die tuin. Vandag is daar steeds baie voorbeelde van hoe die lewe buite die tuin van Eden lyk.
Maar….
Die Here het op daardie verskriklike dag in sy genade twee beloftes gegee. Dit is twee baie belangrike beloftes, eerstens omdat God die beloftes gegee het en tweedens, omdat hulle vir ‘n mens uitkoms uit die grootste ellende inhou.
Die eerste belofte is ‘n belofte aan die slang. Die belofte hou vir die slang, die duiwel oordeel, maar vir sondige en verlore mens verlossing in: “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorself en jy sal hom in die hakskeen byt” (Gen.3:15).
Die tweede belofte kry ons toe die Here Adam gelei het om sy vrou Eva te noem, “sy is die moeder van al die mense” (Gen.3:20). In die Hebreeus staan daar “sy is die moeder van alles wat lewe.”
Hierdie twee beloftes het vir die eerste twee mense verlossing beteken uit die ellende wat hulle oor hullself gebring het.
Wat die eerste belofte betref: Die sondeval en ellende wat gevolg het, het gekom, omdat die mense vriende met die duiwel geword het. Vriendskap met die duiwel het vyandskap met God beteken. God stel vyandskap tussen die mens en die duiwel. Hy beëindig hierdie vriendskap wat vir die mens die ewige dood beteken het. Die vyandskap tussen die mens en die duiwel sou ‘n hoogtepunt bereik wanneer daar uit die vrou se nageslag iemand sou kom wat die duiwel sou oorwin en vermorsel. Hierdie een uit die vrou se nageslag sou vir die mens ‘n verlosser wees. Deur Hom sou die mens wat deur sonde ver van God af was, weer by God uitkom.
Die tweede belofte dat die vrou ‘n moeder sou wees van “alles wat lewe” (Gen.3:20), het bevestig dat daar ‘n nageslag sou wees. Uit haar nageslag sou die Verlosser gebore word. Hy sou aan mense wat dood was onder die duiwel se mag, weer lewe gee.
Dis die begin van kerstyd. Ons herdenk Christus se geboorte. Onthou net: Kersdag is nie Jesus se werklike geboortedag nie. Christus se kerk herdenk wel sy geboorte daardie dag.
Wat presies herdenk ons met Kersfees?
Vir die wêreldmens is Kersdag net ‘n vakansiedag om te geniet. Die wêreldmens bly ver van God af, bly buite die sy koninkryk en wanneer die Verlosser weer kom as Regter, sal die wêreldmens steeds buite wees…buite die nuwe Jerusalem…ewig in die buitenste duisternis.
Wie Kersfees so vier, beleef ‘n ware Christusfees. Wanneer jy tydens Kerstyd aan God se genade in Christus dink, besef jy deur die Heilige Gees al te duidelik dat jy die wondergenade van Christus se koms na die wêreld eintlik nie net een dag van die jaar nie, maar elke dag van die jaar en elke dag van jou lewe behoort te herdenk.