ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.118:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19
Antwoord op die Wet: Ps.32:3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.3-4:1,5
Lees: Kolossense 2
Kernvers: Kol.2:2-4,17,19b
Tema: Christus, net Hy, is ons Alles!
Sang: Ps.118:1,2; Ps.71:9; Ps.32:3; Skb.3-4:1,5; Skb.1-3:1,2,3; Skb.2-4:1,3
Inleiding:
Kolossense is ‘n hele brief aan Christus se kerk dat Hy die ewige VOLMAAKTE Verlosser is en dat Hy wat vir ons gesterf en opgestaan het, vir ewig GENOEG is. As antwoord op hierdie brief, verwag God die Vader dat sy Seun, Christus vir ons ALLES sal wees.
Tema: Christus, net Hy, is ons Alles!
Dit was wonderlik dat daar ‘n Gemeente van Christus in Kolosse was. Kolosse was ‘n stad met baie heidene en hulle afgode en baie Jode met hulle wette wat hulle gedink het hulle sal red. Epafras het die Evangelie van Jesus Christus in Kolosse gebring. Heidene en Jode wat gehoor het, het geglo en tot bekering gekom. ‘n Gemeente van Christus het begin.
Maar…met verloop van tyd het van hierdie gelowiges in Christus anders begin dink en praat. Hulle het geglo dat Christus die Verlosser is. Maar…Hy was nie meer genoeg nie. Daar moes nog ander dinge ook by kom, om van sonde verlos te word. Hierdie lidmate het hulle goed voorberei en met sterk redenasies die gemeente begin weglei van hulle geloof dat Christus, net Hy alleen, ons enigste Verlosser is.
Die Heilige Gees het Paulus hierdie brief laat skryf aan ‘n gemeente waar daar mense was wat hulleself Christen genoem het, maar wat terselfdertyd gesê het dat ons nie alles in Christus het nie.
Hierdie ongelukkige situasie bestaan vandag steeds dat Christene wat glo dat Christus ons Verlosser is, dat Hy aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan het, maar…ook glo dat daar nog godsdienstige dinge by moet kom. Die redenasies en argumente hieroor is baie en dikwels so sterk dat gelowiges in gemeente begin twyfel en selfs mislei word.
Paulus gehoor wat in Kolosse besig was om te gebeur. Hy het vir hulle deur die Heilige Gees hierdie brief oor Christus geskryf.
Die eerste wat hy geskryf het, is: CHRISTUS IS ‘n GEHEIM!
Hierdie is ‘n baie belangrike waarheid –
Wanneer ons die geheim ontdek kom ons by “verborge skatte van wysheid en kennis uit” (Kol.2:3). Oor die verborge skatte van wysheid en kennis is daar soveel om te sê. Vir vanoggend kyk ons na die volgende:
Joh.1:18 – “Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.” Ons kan God net regtig ken, deur Jesus Christus wat sy Vader aan ons bekend maak. Daarom is dit so nodig om Christus goed te ken, met ons hart te ken – wie Hy is, wat Hy doen, wat Hy wil.
Ha.4:13 – “Hy bring die verlossing en niemand anders nie. Daar is geen ander Naam op die aarde aan mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie.”
Daar is NET EEN VERLOSSER!
Ons word verlos OP NET EEN MANIER!
Die een manier is: Deur JESUS CHRISTUS SE DOOD en OPSTANDING!
Joh.6:47 – “Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.” Ware lewe wat regtig iets beteken, is die EWIGE LEWE deur GELOOF IN CHRISTUS. Dit is die lewe wat nie tot ‘n end kom nie. Dit is lewe wat betekenis het, lewe wat ‘n doel op aarde het.
Rom.8:1 – “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.” ALLE MENSE, almal van ons het God se straf en oordeel verdien, omdat ons so sondig is. Maar God het sy eie Seun, Jesus Christus in ons plek gestraf en geoordeel. Die Heilige Gees gee vir ons geloof in Christus as ons ENIGSTE VERLOSSER. Ons geloof maak ons geestelik een met Christus. Vir elkeen wat een met Christus is, dit is wat in Christus is, beteken, is daar geen veroordeling meer nie. God het elkeen wat in Christus glo, REEDS VOLMAAK VRYGEPREEK!
Daar is nog baie meer verse in die Bybel, maar hierdie is genoeg dat ons die geheim goed kan ken: Wie in Christus glo, wie Hom met ‘n gelowige hart ken, ken al die skatte en seëninge van die hemelse lewe met God – Christus is Volmaak! Hy is Genoeg! Hy is Alles!
2. Die Werklikheid is Christus (vs 17).
Daar was Christene in Kolosse wat die evangelie van Jesus Christus gehoor en geglo het. Maar…toe kom die redenasies en die argumente van ander gelowiges in die gemeente dat Christene in Kolosse meer moet doen.
Vs 16 – Gelowiges in Kolosse moes hulleself rein hou voor God deur net sekere dinge te eet en te drink en ander glad nie. Hulle geloof was: Christus plus ons weerhou ons van sekere kos en drank, verlos ons van sonde en Christus verlos ons plus ons onderhou godsdienstige feeste, soos die nuwemaansfees en die sabbat. Die argument was: Deur in Christus te glo en hierdie feeste te vier, word ons verlos.
Vs 18 – Gelowiges in Kolosse moes ook engele aanbid en die visioene wat mense in die gemeente gesien het, geglo het en daarvolgens geleef het.
Dit was nie heidene buite die gemeente wat hierdie dinge geglo en vertel en ander so geleer het nie. Mense binne die gemeente het geglo dat Christus ons Verlosser is, maar nie net Hy nie. Al hierdie dinge moes nog bykom, soos Christus plus engele vereer, Christus plus ‘n sogenaamde nederige lewe waar sekere kos en drank nie gebruik mag word nie en Christus plus godsdienstige feeste.
Die mense in die gemeente se argumente was so sterk in hulle woorde en oortuiging dat hulle van die ander gelowiges begin oorhaal het om hierdie dinge ook te begin doen.
Is daar vandag steeds Christene met hierdie argumente en redenasies? Ja, daar is.
In die laaste jaar of wat wil lidmate weet waarom ons nie in die tyd voor Paasfees ook die sogenaamde “Lent” soos ander kerke vier nie. Daar is ook nog ander godsdienstige feeste wat vir baie gelowiges baie belangrik en selfs noodsaaklik geword het, wat Christene wat die feeste nie het nie, laat wonder of ons dit nie ook moet doen nie.
So het Paulus oor al hierdie dinge geskryf: Al die sermonies en godsdienstige feeste van die Ou Testament was net die vooraf skaduwee van die beloofde Verlosser wat sou kom. Die werklikheid is Christus wat gekom het (Kol.2:16,17).
CHRISTUS is die WERKLIKE VERLOSSER!
Met sy kruisiging en opstanding het die seremonies en feeste tot ‘n einde gekom. Christus het self ‘n einde daaraan gemaak. Die Kolossense mag nie aan die seremonies en feeste van die verlede vasgehou het nie. Christus is genoeg. Hy is hulle alles!
Ons in 2025 mag ons nie deur ander se nuwe godsdienstige seremonies en feeste laat mislei nie. Ons mag ook nie uit ons eie nuwe godsdienstige seremonies en feeste wil uitdink nie. As ons dit doen:
Is CHRISTUS dan nog GENOEG?
Is net Hy ons ALLES?
Paulus het deur die Gees verder ook geskryf: Al die ander ekstra godsdienstige dinge kom van mense wat die gemeente mislei, wat te veel van hulleself dink en NIE AAN CHRISTUS VASHOU NIE. Dit was die Heilige Gees wat Paulus so laat skryf het.
Daarom: Ons moenie ons deur godsdienstige argumente en redenasies, al klink dit hoe goed en al lyk dit hoe reg, laat mislei nie. Christus plus enigiets, al lyk dit hoed goed en reg, is misleiding en vals.
Die grootste werklikheid in Christene se lewe is die “Weg en die waarheid en die lewe” en dit is CHRISTUS, net Hy!
3. Die Bron van groei is Christus (vs 19).
Wie hierdie bykomstige geestelike verpligtinge uitdink en voorskryf, hou nie vas aan Christus, die Hoof van sy kerk nie. Inteendeel! Wie al hierdie bykomstige voorskrifte en feeste as noodsaaklik ag, hou eintlik aan gebooie en geestelike voorskrifte van mense vas.
Die groot probleem met hierdie menslike gebooie en voorskrifte is:
Dit lyk of mense wat dit doen meer geestelike insig en wysheid het en beter gelowiges is wat verder op die geestelike pad gevorder het. Hierdie ekstra godsdienstige gebooie en feeste klink en lyk so goed. Dit is waarom Christene mislei word.
Die werklike waarheid kry ons in die Bybel. Met Christus se kruisiging en opstanding het die seremonies en feeste van die Ou Testament tot ‘n einde gekom. Christene wat deur die Heilige Gees in Christus glo, en een met Hom is, het wettiese godsdienstige reëls afgesterf (Kol.2:20).
Al die bykomstige godsdienstige feeste en opdragte kom van sondige mense af en dit help Christene glad nie om geestelik te groei nie. Trouens, hierdie bykomstige godsdienstige dinge laat sonde nie minder word en ophou nie, maar maak sonde meer. Dit maak die eie-ek en wat mense wil, belangriker as wat God in sy Woord sê en selfs belangriker as Christus en wat Hy vir ons gedoen het. Dit maak gelowiges wat die bykomstige dinge onderhou hoogmoedmoedig om dan op ander gelowiges wat al die godsdiensige dinge nie onderhou nie, neer te sien. Hierdie Christus plus-geloof is vals geloof.
Wat baie erg is, is dat so ‘n vals geloof met allerhande bykomstige godsdienstige dinge ‘n gelowige nie laat groei nie, maar eerder agteruitgaan. Is dit nie wat in ons land met soveel kerke en soveel Christene gebeur nie? Geestelike agteruitgang eerder as geestelike groei, omdat Christus nie meer alles vir Christene en vir gemeentes is nie, tenspyte van baie wat godsdienstig gebeur. Ons self moet ook baie ernstige waak teen hierdie geestelike agteruitgang.
Daarom is dit so belangrik om deur die Heilige Gees opreg en vas te glo: CHRISTUS, NET HY, IS ONS ALLES!
In alles wat ons as gemeente doen, moet Christus ons alles wees. Dit sal nie sommer vanselfsprekend wees, omdat ons ‘n gemeente van Christus is nie. Kolosse was ook ‘n gemeente van Christus en hulle geestelike lewe het op ‘n dwaalweg begin beweeg.
Elkeen van ons sal ons deur die Heilige Gees en deur die Bybel moet laat lei en beheers.
Wanneer ons deur die Gees in Christus, wat ons ALLES is, glo, sal as gelowiges en as gemeente geestelik groei. Ons sal nie soos kinders wees wat mislei word en dan soos golwe heen en weer en op en af kom en gaan in ons geloof nie.
Omdat Christus ons ALLES is, sal ons ons in ons verhouding met Hom groei. Ons sal in ons liefde vir Hom, in ons gehoorsaamheid aan Hom en ons dankbaarheid teenoor Hom groei.
Ons sal diep en volledige insig in Christus kry om uiteindelik te kom by die werklike eenheid in ons geloof en ons kennis van Jesus die Seun van God, ons Verlosser. Dan sal ons geestelike volwassenheid bereik.
Ons kerklike jaar bestaan uit ‘n erediens elke Sondag, met vier Sondae in die jaar nagmaal. Ons het ook Goeie Vrydag, Opstandingsondag, Hemelvaartdag, Pinkstersondag en Kersdag.
Elke Sondag se erediens is ‘n moet. Die Here sê so. Maar…’n erediens het alleen betekenis, indien Christus ons ALLES is. So, ook nagmaal.
Die godsdienstige feesdae is goed en reg, solank Christus, en net Hy, regtig ons ALLES is.
ANTWOORD
Sing: Skb.1-3:1,2,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.2-4:1,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; Die Here sal sy aangesig oor julle laat skyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen