Home Preke Christus verwag dat gelowiges in sy kerk sy tug aan mekaar sal bedien -Mt.18:15 en 1 Tim.5:20

Christus verwag dat gelowiges in sy kerk sy tug aan mekaar sal bedien -Mt.18:15 en 1 Tim.5:20

Datum: 2018-05-27

Elke gelowige wil tog graag deel van die ware kerk en nie deel van die vals kerk wees nie. Hoe weet mens jy is deel van die ware kerk van Christus. Daar is drie dinge wat duidelik wys of ‘n kerk waar of vals is. Vanoggend leer ons meer oor een van die dinge wat noodsaaklik is om ‘n ware kerk te wees, naamlik die tug wat Christus vir sy kerk gegee het.

Tema: Christus verwag dat gelowiges in sy kerk sy tug aan mekaar sal bedien

  1. Christus se kerk is die ware kerk

Christus het sy kerk losgekoop. Die prys wat Hy vir sy kerk betaal het, is oneindig veel meer werd as die suiwerste goud of die duurste silwer.  Die prys wat Jesus Christus vir sy kerk betaal het, was sy kosbare bloed (1 Pet.1:19). Christus het sy bloed en sy liggaam aan die kruis geoffer vir sy kerk. Sy kerk is nou nie meer gevangenes in die mag van die duiwel nie. Nee, Christus se kerk is nou die nuwe mensdom wat verlos en vrygespreek is en die ewige lewe het.

Christus se offer aan die kruis was eg en waar. Sy kerk wat Hy losgekoop het, is die egte en ware nuwe mensdom, die ware kerk van Jesus Christus. Vir sy kerk om ware kerk te bly, het Christus drie baie belangrike gawes gegee. Elke gawe is terselfdertyd ook ‘n opdrag.

Die eerste gawe is die evangelie dat Jesus die Christus, die Verlosser van sondaars is met die opdrag om getuies vir Hom in die wêreld te wees. Vir die kerk om ware kerk te wees, moet die kerk Christus verkondig soos Hy Homself in God se Woord openbaar.

Die tweede gawe is die sakrament wat gelowiges se geloof versterk. Vir die kerk om ware kerk te wees, is nodig om die sakramente, en daar is twee van hulle, die doop en die nagmaal, te bedien soos Christus dit vir sy kerk gegee het.

Die derde gawe wat Christus vir sy kerk gegee het, is die gawe om op mekaar ag te gee. Ons kan ook sê om mekaar tereg te wys of dan om die tug van Christus te bedien. Hieroor gaan die preek vanoggend.

Christus se kerk is die ware kerk. Hierdie drie gawes wat ook opdragte is, bepaal of ‘n kerk regtig die ware kerk van Jesus Christus is en ware kerk bly.

  1. In hierdie gebroke bedeling sondig lidmate van Christus se kerk

Christus se kerk is die verloste nuwe mensdom. Hy het sy kerk losgekoop van die heerskappy en mag van die duiwel en die sonde. Die sondeskuld is volmaak betaal. Daar is nou geen oordeel meer nie vir elkeen wat in Jesus Christus glo nie (Rom.8:1). Maar die stryd teen die duiwel en die sonde is nog nie verby nie. Die kerk op aarde is tot Christus se wederkoms die kerk wat teen die duiwel en die sonde moet stry.

Ongelukkig stry die kerk nie hard en opreg genoeg nie. Lidmate sondig steeds. Die Here het sy Wet gegee, die Tien Gebooie, sodat sy kerk kan weet hoe om Hom te dank vir sy genade. Die kerk in die Nuwe Testament weet God se genade is sy genade in Jesus Christus, sy Seun wat Hy gegee om ons te verlos.

Ons het Eksodus 20 en Deuteronomium 5 en Sondag 34 tot 44 waaruit ons kan leer hoe om God te dank vir sy verlossing.

Die kerk ken Eksodus 20 en Deuteronomium nie goed genoeg nie, ook nie Sondag 34 tot 44 wat ‘n verklaring van die Tien Gebooie is nie. Die gelowiges is ook nie gehoorsaam aan die Here se Wet nie.

Voorbeelde van ongehoorsaamheid:

Gelowige lidmate het naas God ook nog ander gode. Seker die grootste afgod is die eie-ek in elke mens. My wil en my behoeftes en my gewoontes en my manier van doen, kom in werklikheid heel eerste in my lewe. Ek hoor die Here se Wet elke Sondag. Ek lees die Wet tuis. Ek hoor uit die Here se Woord, ek doen verkeerd, maar ek bekeer my nie. Dit is sonde teen die eerste gebod.

Daar is lidmate wat selfs tydens die erediens met selfone besig is en dan nie om die Bybel op die selfoon te lees nie, want wanneer jy die Bybel op die selfoon lees, hoef jy nie te tik nie, en dit is wat gebeur, ook hier, tydens eredienste. ‘n Selfoon is ook reeds ‘n afgod wat belangriker is as die Here se Woord. Dit is ook sonde teen die eerste gebod.

  1. Christus gee daarom opdrag aan sy kerk om sy tug te bedien

Jesus Christus is self God. Hy is heilig. Hy verdra sonde nie. Hy wil nie dat sy kerk wat vir Hom baie kosbaar is, deur sonde verlei word om ‘n vals kerk te word nie.

Sodat sy kerk ware kerk kan bly, het Christus die gawe van tug aan sy kerk gegee. Christelike tug is een van die sleutels van die hemelryk waarvan Christus gepraat het die dag saam met sy dissipels in die omgewing van Sesarea-Filippi (Mt.16:19).

Hoe wil Christus hê dat sy kerk sy tug moet bedien?

Ons leer op ten minste twee plekke in die Bybel hoe die kerk Christus se tug moet bedien.

Die eerste deel is Mt.18:15-19. Een manier om Christus se tug te bedien is om wanneer ‘n medegelowige sondig, daardie medelidmaat tereg te wys waar julle alleen is. Hier het die kerk ‘n direkte opdrag van Christus: “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle alleen is” (Mt.18:15). Christus verwag van gelowiges in sy kerk om mekaar tereg te wys. Die kerk sukkel baie met hierdie opdrag. Waarom? Gelowiges doen mee aan sonde. Eerder as om iemand tereg te wys oor die eie ek, praat lidmate eerder saam oor wat elkeen wil en wat elkeen se behoefte is of bly stil al hoor ‘n mens jou medegelowige is eintlik nou met sonde besig. In plaas daarvan om mekaar tereg te wys soos Christus verwag, sondig een lidmaat saam met ‘n ander.

Nou staan daar in Mt.18:15 “As jou broer teen jou verkeerd optree”. Hierdie woorde beteken nie die verkeerde optrede moet net teen jou persoonlik wees nie. Indien iemand jou Here se heilige Naam misbruik, raak dit jou ook. Jou medegelowige sondig dus ook so teen jou.

Die tweede deel waar Christus ons leer om sy tug te bedien is 1 Tim.5:20 “Die wat verkeerde dinge doen, moet jy openlik bestraf sodat die ander ook afgeskrik kan word”. Paulus het in hierdie deel van sy eerste brief aan Timoteus van optrede teen die ouderlinge gepraat. Die beginsel bly dieselfde vir elke lidmaat. Christus verwag dat ek onder sommige omstandighede my medegelowige wat sondig, openlik tereg te wys waar ander kan sien en hoor, sodat hulle afgeskrik kan word en nie die sonde ook doen nie.

Hierdie twee opdragte van Christus is nie onduidelik of moeilik verstaanbaar nie. Vir die kerk om ware kerk van Christus te bly, is nodig om Christus se tug aan mekaar te bedien, soos Hy ons in Mt.18 en 1 Tim.5 leer.

  1. Deur die tug word verhoudings in Christus se kerk weer herstel

Wat gebeur wanneer gelowiges nie Christus se tug aan mekaar bedien nie?

  • Sonde duur voort in Christus se kerk.
  • Die geestelike lewe in Christus se kerk word afgebreek.
  • Die kerk word vriende met die duiwel, God se grootste teëstander.
  • Die kerk dwaal verder en verder weg van Christus en betree die pad van die ewige dood.

Aan die anderkant gebeur daar baie mooi en regte dinge in Christus se kerk wanneer gelowiges sy tug aan mekaar bedien.

Wat presies gebeur wanneer die kerk Christus se tug bedien?

  • Die verhouding met Christus word herstel. ‘n Gelowige wat sondig, dwaal weg van Christus en wys dat ‘n verhouding met die duiwel belangriker is as ‘n verhouding met ons Verlosser. Wanneer gelowiges Christus se tug aan mekaar bedien, word die sondige verhouding met die duiwel aangespreek en help gelowiges mekaar om die sondige verhouding te breek. Wanneer gelowiges tug onder mekaar bedien, word die verhouding tussen die gelowige wat gesondig het en Christus weer herstel

  • Sonde bring spanning tussen gelowiges en kan daartoe lei dat die geloofsband tussen medegelowiges gebreek word. Wanneer medegelowiges aan mekaar Christus se tug bedien, kry die gelowige wat gesondig het berou en vra vergifnis. Die verhouding tussen medegelowiges word dan herstel.

Ons het verlede Sondag nagmaal gebruik, eintlik gevier. Nou het ons die geleentheid om dankbaar te wees vir die genade van verlossing deur Jesus Christus. Die manier hoe ons hier in Akasia ons dankbaarheid kan bewys, is om Christus se tug aan mekaar te begin bedien. Deur Christus se tug aan mekaar te bedien, sal ons sy ware kerk kan bly.

As dit by die bedien van tug kom, is hier by ons groot verandering, werklike diep bekering, nodig. Verander dan deur die Heilige Gees. Bekeer jou deur die Heilige Gees. Begin om die tug aan mekaar te bedien. Getuig op hierdie manier, dat ons ‘n ware kerk van Christus is.