ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Sb.1-2/60:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Sb.12-3/72:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 36
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Lees: Johannes 15:9-17
Kernvers: Joh.15:13
Tema: Daar is geen groter liefde as wat Jesus vir ons het nie
Sang: Sb.1-2/60:1,2,3; Sb.12-3/72:1,2; Ps.86:6; Ps.145:9,10 – voorbereiding van tafel; Ps.105:1,2,3,4 – aan tafel; Ps.84:3,6
Inleiding:
‘n Mens kan nie nagmaal gebruik sonder om die Here se Woord te hoor nie. ‘n Preek uit God se Woord maak elke nagmaal anders, laat elkeen anders oor elke nagmaal dink. Vanoggend se preek vir nagmaal gaan oor Jesus Christus se liefde vir ons. Hierdie nagmaal op 20 Februarie 2022 kan ons sê, is veral dan ‘n liefdesnagmaal.
Tema: Daar is geen groter liefde as wat Jesus vir ons het nie
Selfopofferende liefde
Wanneer ons die Bybel by Johannes 15 oopmaak, kry ons Jesus laataand besig om sy dissipels baie belangrike en kosbare waarhede te leer. In die gesprek met sy dissipels het Jesus in werklikheid sy kerk al hierdie kosbare waarhede vertel en geleer. Dit was ‘n paar uur voor Hy deur Judas Iskariot in Getsémané verraai en gevange geneem is.
Dit is so belangrik om te besef en te glo dat Jesus se woorde daardie aand nie net vir sy elf dissipels was nie. Judas Iskariot het teen daardie tyd reeds na die Joodse leiers gegaan om hulle te help om Jesus te vang. Die dissipels was die begin van die Nuwe Testamentiese kerk. Die Here Jesus het daarom daardie aand eintlik met sy kerk gepraat. Sy woorde is vir elkeen van ons ook bedoel.
Een deel van sy gesprek het oor liefde gegaan. Die woord liefde kom in hierdie verse nege keer voor. Waarom? Omdat liefde vir Jesus Christus baie belangrik was daardie aand en steeds is! As liefde vir die Here Jesus baie belangrik is, dan kan dit nie anders nie, as dat liefde vir elkeen van ons ook baie belangrik moet wees.
Liefde is nie ‘n woord wat mens sommerso mag gebruik nie. Liefde in die Bybel het ‘n baie bepaalde en spesiale betekenis. Die liefde waarvan Jesus ons vertel en leer het ‘n baie spesiale betekenis. Ons kan soveel oor die Here Jesus se liefde sê. Vir vanoggend se preek wys ek op drie spesiale betekenisse van sy liefde vir ons.
Die eerste wat ons by ons Verlosser oor liefde kan leer, en ook moet leer is dat sy liefde vir ons SELFOPOFFERENDE LIEFDE is.
Luister weer goed na wat Jesus gesê het: ”Niemand het groter liefde as dit nie: Dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Joh.15:13).
Jesus het van Homself gepraat. Hy het van die hemel af aarde toe gekom en mens geword om sy lewe vir ons te gee.
Wie doen dit?
Wie offer sy lewe op vir ander wat dit glad nie verdien nie?
Niemand doen dit nie!
Maar….daar is Iemand wat so liefgehad het, dat Hy sy lewe vir ander gegee het! Hy het my so liefgehad dat Hy sy lewe vir my gegee het, ek wat vanoggend hier is!
Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser, het ons so liefgehad dat Hy sy hemelse lewe opgeoffer het en aarde toe gekom het. Hy het ons so liefgehad dat Hy sy lewe op aarde opgeoffer het aan die kruis en daardie verskriklike dood gesterf het!
Hier is ons vanoggend. Hier is die brood en die wyn. Die brood wat vandag met nagmaal gebreek word en wyn wat vloei, vertel elkeen van ons, leer ons van Jesus Christus se SELFOPOFFERENDE LIEFDE!
Elkeen van ons wat vanoggend nagmaal gebruik, sê hiermee vir God en vir ons almal wat hier saam is: Ek aanvaar Jesus se SELFOPOFFERENDE LIEFDE vir my.
MAAR….ek mag nie net nagmaal gebruik en Jesus Christus se wonderlike selfopofferende liefde met ‘n dankbare hart aanvaar en dan gebeur niks verder nie!
Die Heilige Gees maak met die stukkie brood wat ek eet en die slukkie wyn wat ek drink liefde in my wakker. Na vanoggend se nagmaal behoort selfopofferende liefde in my hart te brand as ek met opregte geloof nagmaal gebruik het. Ek moet met hierdie liefde in my hart in die gemeente optree. Jesus Christus verwag dit. Luister na sy woorde: “Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!” (Joh.15:17).
Al is ek ek skaam en teruggetrokke moet ek uit liefde vir nuwe lidmate na hulle toe gaan hier by die erediens waar ek reeds naby hulle is en hulle ontmoet en tuis laat voel.
Al is ek hoe besig en al stel die werk en vriende en familie hoeveel vereistes ookal, het ek nodig om tyd en energie op te offer en voluit vir Jesus Christus in die gemeente te leef en te doen wat Hy van my vra.
In alles wat ek in die gemeente doen, moet ek aan ander doen, wat ek aan myself gedoen wil hê. Dit beteken ek dat ander so lief moet hê dat ek my verstand opoffer en dink hoe kan ek goed aan iemand anders doen.
In hierdie besige tyd waarin ons leef, met Covid-19 nog nie verby nie, het elkeen van ons nodig om op te pas dat ek nie in alles wat ek moet doen, die Here opoffer in plaas van myself nie. Indien mense en dinge gedurig eers aandag kry, is ek eintlik besig om juis dit te doen: Ek offer die Here op. Hy moet maar wag tot ek tyd kan maak. Soms maak ek nie tyd vir die Here nie. Dit mag geen Christengelowige doen nie!
Hoe ek van hierdie nagmaal af my bereid sal wees om op te offer, sal vir God wys en vir ander in ons gemeente of ek opreg by vanoggend se nagmaal was.
Plaasvervangende liefde
Jesus het geleer dat daar nie groter liefde is, as dat iemand sy lewe vir sy vriende aflê nie. Die woorde “vir sy vriende” is hier belangrik.
Jesus Christus se liefde vir ons is PLAASVERVANGENDE LIEFDE!
Wie aanvaar volle verantwoordelikheid vir iemand anders se slegte en verkeerde lewe?
Wie is bereid om die straf en oordeel vir ‘n ander se sonde en skuld te verduur?
Daar is niemand wat hierdie dinge sal doen nie!
Wel…daar is Iemand!
Hy is die Seun van die Allerhoogste, Jesus Christus, ons Verlosser!
Die Seun van God het die Seun van die mens geword.
Hierdie woorde vertel vir ons van die wonder van ons Verlosser. Hy was ware God en ware mens tegelyk. Hy is steed God en mens.
Die Naam Seun van die mens het ‘n baie bepaalde en spesiale betekenis. Hierdie Naam van Jesus beteken:
Hy het ‘n ware mens geword.
Hy het ons mense se sonde op Hom geneem.
Hy het in ons plek voor sy Vader die Heilige God gestaan.
Hy het die lyding in ons plek verduur.
Hy het die straf op sonde in ons plek gedra en aan die kruis gesterf.
Op grond van Jesus se PLAASVERVANGENDE LIEFDE vir my, het die Heilige God my al my sonde vergewe. Hy het my vrygespreek van alle oordeel. Ek is nou volmaak verlos, omdat Jesus Christus my Plaasvervanger was en in my plek gesterf het.
Wanneer ek hierdie woorde vanoggend te hoor en die brood en wyn gebruik, behoort my hart warm van geloof en liefde en dankbaarheid te brand! My gemoed behoort vol te skiet van dankbaarheid dat ek ‘n Christen is. Van al die gelowe wat daar is, het net ons Christelike geloof ‘n Verlosser wat met PLAASVERVANGENDE LIEFDE in ons plek die straf op en oordeel oor sonde gedra het!
Elkeen van ons behoort vanoggend van hierdie kerkgebou af weg te ry met hart vol dankbaarheid vir Jesus Christus se PLAASVERVANGENDE LIEFDE vir my. Indien ek met opregte geloof Nagmaal gebruik het, sal my dankbaarheid en hoe ek groei in my dank aan God in my lewe wys.
Ewigdurende liefde
Jesus se liefde vir ons, hoe lank duur sy liefde vir ons?
Voor iemand te vinnig wil antwoord, kom ons dink eers goed hieroor en soek die antwoord in die Bybel. Eintlik is God die Enigste Een wat ons sal help om die vraag te antwoord.
In Ef.1:4,5 vertel en leer die Heilige Gees ons deur Paulus dat God ons Vader nog voor die skepping van die wêreld bestem het dat Jesus Christus uit liefde sy lewe vir ons sou gee, sodat ons kinders van God kan wees.
In Rom.8:38,39 vertel en leer die Heilige Gees ons dat niks in die toekoms ons sal kan skei van God se liefde in Christus Jesus ons Here nie.
Uit hierdie twee dele in die Nuwe Testament, wat ons ook saam met ander dele kan lees, kry ons die wonderlike waarheid dat Jesus Christus ons van ewigheid tot ewigheid liefhet. Elke Christengelowige het hierdie sekerheid: Jesus Christus se liefde vir my is EWIGDURENDE LIEFDE!
Daar was nie een oomblik in my lewe dat Jesus Christus my nie liefgehad het nie. Reeds voor my geboorte het Hy my al liefgehad. Daar sal ook nie een oomblik in die toekoms wees dat ek sonder die Here Jesus se liefde sal wees nie. Hy sal my tot in ewigheid liefhê. Hy sal my na my lewe op aarde met liefde in die hemel by Hom ontvang.
Met nagmaal kan ek met geloofsekerheid dink aan die saamwees in die hemel na Jesus se wederkoms. Die saamwees word dikwels in die Bybel beskryf as ‘n feesmaaltyd of ‘n bruilofsmaatyd. Hierdie woorde in God se Woord vertel en leer ons: Ons saamwees met Jesus Christus sal ‘n saamwees in ewige liefde wees.
Wanneer ek vanoggend nagmaal gebruik, kan ek met die Heilige Gees in my, seker wees dat die brood en wyn na Jesus Christus se liefde vir my wys. Hy het my liefgehad toe sy liggaam aan die kruis gebreek is en sy bloed gevloei het. Trouens Hy het my al voor die skepping liefgehad. Hy het my vanoggend lief. Hy sal my môre en in ewigheid liefhê.
Ek gebruik dan vanoggend nagmaal met die sekerheid van Jesus Christus se EWIGDURENDE LIEFDE vir my. Ek kyk ook na hierdie jaar wat voorlê, as die Here wil, met vertroue en sekerheid van my Verlosser se liefde vir my. Ek leef ook nie net vir hierdie lewe nie, maar ek leef met die verwagting dat die Here Jesus met sy wederkoms my in liefde by Hom sal opneem.
Vanoggend se nagmaal is dan ‘n liefdesnagmaal. Kom saam met ander. Eet die brood en drink die wyn met ‘n gelowige hart en kry weer sekerheid by die Heilige Gees van Jesus Christus se liefde vir elkeen wat aan Hom behoort!
Nagmaalformulier
Sang ter voorbereiding: Ps.145:9,10
Sang aan tafel: Ps.105:1,2,3,4
Voltooiing van die Nagmaalformulier
ANTWOORD
Sang: Ps.84:3,6
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!
Amen