Home Preke Daar is ‘n God in die hemel wat alles en almal en die toekoms volledig beheer

Daar is ‘n God in die hemel wat alles en almal en die toekoms volledig beheer

Datum: 2021-01-24
|
Kernverse: Daniël 2

Lees: Daniël 2

  1. Daar is ‘n God in die hemel

Daniël het op ‘n dag voor koning Nebukadnesar van Babel gestaan. Vooraf het dramatiese dinge gebeur.

  • Nebukadnesar het ‘n droom gehad wat hom so ontstel het dat hy die hele nag verder nie kon slaap nie.

  • Hy het geëis dat al sy raadgewers sy droom en die uitleg vir hom moes vertel. So wou hy sekermaak van die uitleg van die droom.

  • Niemand onder die koning se raadgewers kon die koning sy doorm en die uitleg daarvan vertel nie.

  • Die koning het uit woede opdrag gegee dat al sy raadgewers wreed om die lewe gebring moes word. Hy het selfs ‘n wet daaroor gemaak.

  • Daniël het hiervan gehoor, na die koning gegaan en uitstel gevra om die volle uitleg van sy droom en die betekenis daarvan aan die koning te gee.

  • Daardie nag het Daniël en saam met hom, sy drie gelowige vriende, Gananja, Misael en Asarja God om ge nade gesmeek om die geheim van die droom bekend te maak, sodat hulle nie saam met die ander raadgewers om die lewe gebring word nie.

  • Dieselfde nag het God in ‘n gesig die geheim van Nebukadnesar se droom aan Daniël bekend gemaak.

  • Daniël het God geprys vir sy genade.

Die volgende dag het Daniël voor Nebukadnesar gestaan.  Hy het reguit met die koning gepraat.  Daniël het die koning daarop gewys dat al sy raadgewers op wie hy so staatmaak nie in staat was om sy droom en die uitleg te vertel nie.

Daniël se volgende woorde was aangrypende woorde: “Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime kan openbaar en wat aan u, koning Nebukadnesar, wil bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur” (Dan.2:28).

Nebukadnesar was ‘n baie sterk koning met ‘n goed georganiseerde regering en sterk militêre mag wat van hom die oorheersende wêreldleier van sy tyd gemaak het. Daardie dag moes hy uit die mond van ‘n jongman uit Juda hoor: “Daar is ‘n God in die hemel.”

Hierdie woorde: Daar is ‘n God in die hemel, is woorde wat elkeen van ons ook moet hoor.

Die nuutste koronavirus veroorsaak ‘n baie ernstige en vreemde siekte met die virus wat kan verander om nog aansteekliker te word. Die virus en sy siekte het reeds die hele wêreld verander. Baie mense het reeds gesterf. Ons word streng ingeperk.

Te midde van al die ontwrigting en onsekerheid, het elkeen van ons nodig om vas te glo en seker te wees: Daar is ‘n God in die hemel.

Die media het ons die laaste tyd omtrent oorstroom met nuus oor die VSA en die leierskapstryd, met China en sy betrokkenheid al dan nie by die ontstaan van die virus wat Covid-19 veroorsaak en nuus oor ons land met al die woelinge in die regerende party en die onsekerheid oor die beskikbaarheid van ‘n teenmiddel. Te midde van al hierdie nuus oor daaglikse gebeure, is daar een waarheid waaroor die media nie berig nie en wat ons nie uit die oog moet verloor nie: Daar is ‘n God in die hemel.

Dit is so belangrik om sonder twyfel te glo en vas en seker te weet: Daar is ‘n God in die hemel.

Waarom is dit so belangrik?

  • Die God in die hemel is die Skepper en Eienaar van alles en almal.

  • Hy beheer die lewe van alle mense.

  • Net Hy gee ware ewige lewe. Hy gee lewe deur sy Seun.

  • Hy bepaal die toekoms.

  • Hy gaan sy Seun stuur om alles tot ‘n einde te bring.

  • Elke mens se hele lewe word bepaal deur jou verhouding met God in die hemel

  1. Die mense is hier onder op die aarde

 Daar is ‘n God in die hemel. Hier onder op die aarde is ons mense. Ons sien in Daniël 2 hoe mense wat sonder God leef, koersloos is nie weet waarheen nie. Aan die anderkant sien ons gelowiges wat onder die moeilikste omstandighede met vertroue in God leef.

  • Die mense sonder God

In Daniël 2 ontmoet ons die wêreldleier, koning Nebukadnesar van Babel.  Hy was ‘n baie sterk leier met ‘n goed georganiseerde regering. Hy was ‘n verantwoordelike koning wat hom omring het met raadgewers. Dan het hy ook ernstig gedink oor wat die toekoms inhou.

Sy gedagtes oor die toekoms het vir hom nie sekerheid gegee nie. Inteendeel! Een nag het Nebukadnesar ‘n baie vreemde droom gehad. Dit was nie ‘n gewone droom of selfs nagmerrie nie. Die droom het hom hewig onstel. Hy kon vir die res van die nag nie slaap nie. Die volgende dag het hy sy ontsteltenis op sy raadgewers uitgehaal.

Ons leer Nebukadnesar ook ken as ‘n intelligente koning wat in sy binneste geweet het dat sy raadgewers nie werklik betroubaar was nie. Dit het tot sy onsekerheid bygedra.

Nebukadnesar wys ook dat hy ‘n heidense koning is wat God nie ken nie en sy mag misbruik in ongekende wreedheid. Omdat sy raadgewers nie sy droom en die droom se uitleg vir hom kon vertel nie, het hy ‘n wet gemaak dat al sy raadgewers wreed om die lewe gebring moes word.

Uit die getuienis wat van hedendaagse wêreldleiers kom, sien ons min van ‘n verhouding met God. Baie word gesê oor die baie ernstige vraagstukke in die wêreld. Min of niks word gesê oor die God in die hemel en ons afhanklikheid van hom nie.

Ons ontmoet ook die heidense raadgewers van koning Nebukadnesar. Hulle was in ‘n groef van afgodery. Daarby was hulle ook nie regtig raadgewers wat goeie raad aan die koning gegee het nie. Hulle bron van raad was die duiwel en sy ryk, daarom het hulle toordery, waarsêery en ander sodanige nuttelose dinge gebruik om advies vir die koning te kan gee.

Wanneer die koning hulle eerlikheid wil toets en van hulle sy droom en die uitleg van sy droom vra, misluk hulle jammerlik.

Hoeveel wêreldregerings se foute en mislukkings en sonde het nie dalk te doen met die raadgewers wat God nie ken nie en van nuttelose bronne gebruik maak om advies te kan gee?

  • Die mens met geloof in God

In Daniël 2 ontmoet ons weer vir Daniël en sy drie gelowige vriende: Gananja, Misael en Asarja.  Hoe anders het hulle nie opgetree nie!

Selfs onder die moeilikste omstandighede het Daniël geweet na Wie om te gaan. Hy het geweet, nie omdat hy uit sy eie soveel insig gehad het nie. Hy het God geken, ‘n verhouding met Hom gehad en deur die Heilige Gees geleef, daarom het hy geweet wat om te doen.

Wat het Daniël gedoen?  Hy het sy vertroue in God uitgeleef ook voor heidene.  Hy was seker van God.  In baie moeilike lewensgevaarlike omstandighede, het Daniël na God toe gegaan.  Hy het sy drie vriende aangesê om God te smeek.

Nadat die Here hulle gebede geantwoord het, het Daniël Hom geprys.

Lewenskrisisse laat mense wat God nie ken nie, verward en onseker wat om te doen. Aan die anderkant, laat lewenskrisisse die mens wat ‘n lewende geloofsverhouding met God het, nie verward rond skarrel nie.

Wanneer jy God ken, Wie Hy is, wat Hy doen en wat Hy verwag, weet jy wat om te doen. Hy maak jou rustig. Hy gee jou vertroue. Hy lei jou. Hy laat jou bid vir uitkoms. God doen al hierdie dinge deur sy Heilige Gees in jou.

  1. God se koninkryk vernietig uiteindelik alle wêreldregerings

Daniël kon Nebukadnesar se droom en die uitleg vir hom vertel, want God het die droom en sy uitleg aan Daniël bekend gemaak.

Nebukadnesar se droom was nie ‘n gewone droom nie. In een droom het God vir hom wêreldregerings oor ses eeue heen laat sien en hom ook ‘n blik op die ewige toekoms gegee.

God in die hemel laat wêreldregerings kom en gaan. Nebukadnesar het gedink hy het die wêreld aan sy voete en hy gaan baie lank regeer. So het Alexander die Grote gedink, so het Nero van Rome gedink. Al daardie regerings het gekom en gegaan.

Elkeen van ons kan uit Daniël 2 by God leer dat wêreldregerings en -leiers kom en gaan. God self beëindig ‘n regering se bewind. Hy beëindig ‘n leier se regeertyd. In ons eie land het soveel regerings en leiers al gekom en gegaan.

Een regering word nooit beëindig nie. God vestig die koninkryk van die hemel in die hemel en op die aarde. Hy regeer in sy koninkryk. Wie in ongeloof sonder Hom, dit is buite sy koninkryk leef, sal vernietig word. Van die Babiloniese, Griekse en Romeinse regerinsg het niks oorgebly nie. Ons moet van hedendaagse regerings dit ook maar weet: Die regering sonder God, sal vernietig word. Uiteindelik sal elke aardse regering tot ‘n einde kom, wanneer die hemel en die aarde van vandag tot niet gaan en die nuwe hemel en nuwe aarde kom.

Uiteindelik sal net die koninkryk van God bly bestaan.

  1. Die mens wat aan God behoort, sal bly lewe

Wanneer God al die ander wêreldregerings vernietig, sal net sy koninkryk, die koninkryk van die hemel bly bestaan.

Wat word van al die mense, wanneer God se koninkryk al die wêreldregerings vernieitg?

Die mens wat aan God behoort, sal bly lewe. Elke ander mens sal ewig verlore gaan. Hierdie is nie ‘n waarheid vir eendag nie. Dit is ‘n waarheid vir vandag, ‘n waarheid wat nou besef moet word.

Die lewensvraag waaroor elke mens sekerheid moet kry, is: Behoort ek aan God?

Niemand behoort vanself aan God nie. Almal het gesondig en is ver van God af, het Paulus aan die gelowiges in die gemeente in Rome geskryf.

Daar is net een manier om aan God te behoort en ewig te kan lewe.

Jesus Christus, is daardie Manier. Hy is die enigste Persoon wat my by God bring. Niemand kom na God die Vader toe nie, behalwe deur Jesus Christus.

Jesus Christus bring ons by die Vader deur sy kruisiging en opstanding. Hy sterf met ons sonde op Hom aan die kruis. Daardeur neem Hy al ons sonde wat ons so ver van God verwyder het, weg. Hy staan vir ons op uit die dood. Deur sy opstanding gee Hy aan ons die nuwe lewe, dit is die ewige lewe met God. Jesus Christus maak my wat in Hom glo, syne deur sy kruisiging en opstanding. Ek behoort aan Jesus Christus, my Verlosser. Deur Hom behoort ek aan God die Vader en het ek sekerheid oor my ewige lewe.

Daar is ‘n God in die hemel. Uiteindelik vernietig Hy alle wêreldregerings. Hy laat die hemel en aarde in vlamme vergaan. Ek sal bly lewe, want die God in die hemel, is deur Jesus Christus wat vir my gesterf en opgestaan het, my God en my hemelse Vader.

Amen

Gebed

Klankbaan

Luister na die preek.