Home Preke Die allerhoogste God beskik en beheer die wêreldgeskiedenis deur die gekruisigde Jesus Christus

Die allerhoogste God beskik en beheer die wêreldgeskiedenis deur die gekruisigde Jesus Christus

Datum: 2022-02-06
|
Kernverse: Op.4:1,2; 5:1; 5

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid een vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.122:1,2

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Sb.12-372:1,2

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.130:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.33:5,6,7

Lees: Openbaring 4 en 5

Kernverse: Op.4:1,2; 5:1; 5

Tema: Die allerhoogste God beskik en beheer die wêreldgeskiedenis deur die gekruisigde Jesus Christus

Sang: Ps.122:1,2; Sb.12-3/72:1,2; Ps.130:1,2; Ps.33:5,6,7; Ps.47:1,4; Sb.5-3/8:1,2

Inleiding:

Die wêreldgeskiedenis soos dit werklik gebeur, is waaroor God met ons in Openbaring praat. Hierdie laaste boek van die Bybel, is die boek om mee besig te wees in ‘n tyd soos hierdie.

Tema: Die allerhoogste God beskik en beheer die wêreldgeskiedenis deur die gekruisigde Jesus Christus

  1. God laat sy gelowiges die wêreldgeskiedenis sien

Jesus Christus gee vir sy kerk soveel genade en soveel vrede en dit alles omdat Hy sy kerk liefhet. Luister weer na die Here Jesus se woorde aan Johannes: “Kom op hierheen, en Ek sal jou wys wat hierna moet gebeur” (Op.4:1).

Kom ons maak seker ons weet waar ons nou in Openbaring is. In Op.2 en 3 het die Here Jesus met sy kerk op aarde gepraat. Sy kerk is in die wêreld. Die wêreld is een van die kerk se groot vyande en wil die kerk weglei van God en sy Woord af. Jesus Christus het sy kerk gewys op wat goed en reg is en wat verkeerd is. Oor die goeie dinge het die Here Jesus sy kerk moed ingepraat om daarmee aan te hou. Oor die verkeerde dinge het Hy sy kerk ernstig aangespreek om tot bekering te kom, want die kerk mag nie soos die wêreld leef nie.

Nadat Jesus Christus met sy kerk oor sy kerk self gepraat het, kom ons in Op.4 en 5 by die deel van die boek waar Hy met sy kerk oor die wêreld praat.

“Kom op hierheen” het Jesus gesê. Hierdie woorde is ‘n uitnodiging van God se Seun, Jesus Christus, aan Johannes om na die wêreldgeskiedenis vanuit die hemel te kyk. Die Here Jesus gaan vir Johannes die geskiedenis wys, maar…..nie soos ons die geskiedenis op die aarde sien gebeur nie! Inteendeel! Jesus Christus gaan Johannes die geskiedenis vanuit die hemel sien gebeur. Johannes gaan sien hoe God die geskiedenis regtig laat gebeur!

Wat meer is: Johannes gaan wat Jesus Christus vir hom wys, neerskryf, sodat die kerk, die gelowiges, ons kan sien en weet wat en hoe en waarom God alles laat gebeur!

Hier kom ons by een van die redes uit waarom dit so belangrik is om aan Jesus Christus se kerk te behoort, maar nie net my naam op die gemeente se lidmaatregister nie. Nee, ‘n lewende lid van die kerk van Christus wat met my hart en siel gereeld in die erediens is en deel het aan die gemeente waar God my geplaas het.

Die moedeloosheid, die aggressie, die opstandigheid in ons land oor die toestand van ons land en wêreld, het baie daarmee te doen dat heeltemal te veel mense nie die Bybel lees of in ‘n erediens is om te sien en te hoor wat Jesus Christus ons van die wêreldgeskiedenis vertel en leer nie.

Johannes het nie met sy liggaam na die hemel opgegaan nie. Die Heilige Gees het hom na die hemel meegevoer, sodat hy kon sien en hoor wat Jesus Christus hom wou laat sien en hoor.

  1. Hy, die Allerhoogste beskik en beheer alles

Wat het Johannes gesien?

Kom ons luister weer: “Ek het gesien daar staan ‘n troon in die hemel en op die troon sit daar Iemand” (Op.4:2).

Die HEEL EERSTE wat Jesus Christus vir Johannes gewys het en wat die Heilige Gees hom laat sien het, is ‘n TROON. Die betekenis hiervan is: Die troon oorheers. In die res van die boek sal ons sien hoe die troon die hemel en die wêreldgeskiedenis oorheers.

Omdat ons nie ‘n koning het nie, ken ons nie eintlik ‘n troon en die betekenis daarvan nie. Daarom moet ons nie net lees van die troon en met min of meer ‘n idee van ‘n troon met die res van die hoofstuk aangaan nie. Jesus Christus wys ons die troon en Hy wil hê ons moet verstaan en veral glo.

Op die troon het Johannes Iemand sien sit. Wie sit op die troon? Johannes vertel ons nie in hoofstuk 4 nie. Hy sien Iemand op die troon. Hy beskryf die Persoon nie, want hy kan in werklikheid nie. Ons mag nie ‘n eie afleiding maak en nog minder raai nie. Wanneer ek iets lees wat vir my in ‘n hoofstuk nie duidelik genoeg is nie, soek ek in die res van die hoofstuk of die Bybel tot ek die antwoord kry.

Verder in Op.4 en in die volgende hoofstuk kry ons die antwoord. Verder in die hoofstuk getuig die ouderlinge om die troon dat die Persoon op die troon alles geskep het. Die heel eerste vers in die Bybel vertel en leer dat God alles geskep het (Gen.1:1). In die volgende hoofstuk  sien ons die Een wat op die troon sit het ‘n boekrol, dit is die wêreldgeskiedenis in sy hand (Op.5:1). Die Een op die troon het die boekrol vir die Lam, dit is die gekruisigde Jesus, gegee (Op.5:7). Wie sit op die troon wat die wêreldgeskiedenis aan die gekruisigde Jesus gee? Dit kan net God die Vader wees, die Allerhoogste van hemel en aarde. Psalm 99 bevestig dat die allerhoogste God die Een op die troon is: “Die Here is Koning…” ( Ps.99:1).

Nou kom ons by die betekenis van hierdie gesig wat Johannes deur die Heilige Gees gesien het.

Die troon beteken twee dinge –

  • God is Koning. Hy regeer. Hy beskik en beheer alles en almal. Hy beskik en beheer die wêreldgeskiedenis. Die ganse wêreld mag dink dit is die leiers van elke land en hierdie leiers wat saam vergader en besluite neem wat die wêreld regeer. Wel, wie dink die politieke, ekonomiese of militêre leiers is die eintlike mense wat die gang van die wêreldgeskiedenis bepaal, is heeltemal verkeerd. Daar is ‘n God in die hemel. Hy sit op die troon. Hy regeer. Hy beskerm almal wat onder sy regering is. Hy veg teen almal wat Hom teenstaan en sal uiteindelik almal teen Hom oorwin.

  • Hy is die Regter. Hy bepaal wat reg en verkeerd is. Hy oordeel oor reg en verkeerd. Op die dag waarvan net Hy weet, sal Hy sy Seun stuur om die ganse mensdom en die hele wêreld te oordeel. Sy Seun sal op daardie dag die toekoms van alles en almal vir ewig bepaal.

Jesus Christus het vir Johannes gewys en Johannes het neergeskryf dat ons kan lees en hoor: God, die Allerhoogste regeer die wêreldgeskiedenis. Hy beskik en beheer alles en almal.

Al die ander dele van hierdie verskyning soos die reënboog, die vier-en-twintig ouderlinge en die sewe Geeste, die gladde see en die vier lewende wesens en al die ander het vir ons net een boodskap. Ps.99:1 se beryming vertel ons hierdie boodskap in duidelike taal: “God die Heer regeer, beef o volke, eer, eer die God wat troon waar die gérubs woon…”

Vir meer duidelikheid, die betekenis van die volgende:

Die vier-en-twintig ouderlinge is die verteenwoordigers van die volle kerk van Jesus Christus oor die hele aarde en deur al die eeue. Christus se hele kerk sal uiteindelik by God in die hemel wees as oorwinnaars en regeerders wat deur Jesus Christus die sonde en die dood oorwin het.

Die vier lewende wesens wys op alles wat lewe in die skepping wat uiteindelik aan God al die eer sal gee. Van die begin was die doel van die skepping om aan God die eer te gee. Aan die einde sal die skepping juis dit doen.

  1. Hy regeer alles en almal altyd deur Jesus Christus

Die Heilige Gees het Johannes laat sien dat God ‘n boekrol in sy regterhand gehad het. Die boekrol was aan die voor- en die agterkant vol geskryf.

Hier het ons beeldetaal wat so bekend in Openbaring is.

Die boekrol – God het die boekrol in sy hand. Die boekrol behoort aan Hom. Hy is die Skrywer. Die boekrol is heeltemal vol geskryf aan die voor- en die agterkant. Hierdie boekrol is die hele wêreldgeskiedenis van begin tot einde.

Goed verseël met sewe seëls – Die wêreldgeskiedenis is nie bekend vir almal nie, maar is ‘n geheim wat verseël is, wat toegesluit is by God. Net Hy ken die wêreldgeskiedenis. Hy besluit en bepaal in sy ewige raad wat gebeur. Sy ewige raad is sy ewige wil of ook sy ewige besluit. Hy beskik en Hy beheer alles en almal.

Die boek moet oopgemaak word, maar niemand was in staat nie – Die wêreldgeskiedenis moet gebeur volgens God se besluit. Die geskiedenis is nie bloot ‘n evolusionistiese proses van een jaar na die ander, van een dekade na die ander van een eeu na die ander nie. Die geskiedenis gebeur ook nie volgens mense se besluite nie. Die wêreldgeskiedenis gebeur volgens God se ewige raad, sy ewige besluit.

Nou beweeg ons eers weg van die verskyning en die beelde. Johannes het reageer op wat hy gesien het. Indien die boek toebly, gebeur die wêreldgeskiedenis nie. God voer dan nie sy ewige raadsbesluit uit nie. Die mensdom is nie in staat om die wêreldgeskiedenis te laat gebeur nie. Johannes het dit besef en baie gehuil. Sy trane was trane van moedeloosheid en trane omdat hy die nietigheid en sondigheid van die mensdom deeglik besef het.

Een van die ouderlinge het Johannes getroos en sy oë oopgemaak vir wat hy nog nie gesien het nie: Die Lam van God – Die Lam is die gekruisigde Jesus. Een van die verteenwoordigers van Christus se kerk troos Johannes en wys Jesus Christus vir Hom daar naby sy Vader se troon. Jesus Christus is:

  • Die Leeu uit Juda – Hy is die Verlosserkoning wat die sonde en die dood en die duiwel oorwin het.

  • Hy is die Afstammeling van Dawid – Hy is die ware Verlosser wat God beloof het.

  • Hy is die Lam – Hy is die gekruisigde Jesus.

Die sewe horings van die Lam beteken Hy is volmaak almagtig om alles en almal te kan regeer. Hy het sy almag gewys in sy kruisiging en sy opstanding. Die sewe oë wys op sy alwetendheid en dat Hy alles sien. Sewe wys op volheid, alle mag wat Hy ontvang het in die hemel en op aarde (Mt. 28:18). Die sewe Geeste wys op die Heilige Gees. Jesus Christus is die almagtige en alomteenwoordige Verlosserkoning wat deur die Heilige Gees oral is om almal wat aan Hom behoort te lei om as gelowiges in die koninkryk van die hemel te leef.

Johannes het gesien hoe Jesus Christus die boek uit sy Vader se hand neem. Die betekenis hiervan is: God die Vader regeer deur Jesus Christus, sy Seun. Hy beskik en beheer alles en almal deur sy Seun wat gesterf en opgestaan het en die sonde, die duiwel en die dood oorwin het en almal wat aan Hom behoort, volmaak verlos het.

Hier is die geheim wat die ganse wêreld nie ken nie en ook nie wil ken nie: Jesus Christus is die Middelpunt van die wêreldgeskiedenis. God die Vader regeer alles en almal deur sy Seun, Jesus Christus.

‘n Ouderling, ‘n verteenwoordiger van die kerk het Johannes hiermee getroos. Vir ons beteken dit dat ons, die gelowiges wat aan Jesus Christus behoort, dit is tog wie die kerk is, mekaar moet troos en moed inpraat in ‘n sondige en stukkende land en wêreld.

Covid het ons seergemaak. Gesondheidsomstandighede maak ons dikwels moedeloos. Die hoë lewenskoste laat ons swaarkry. Ons is in dieselfde gemeente om mekaar te troos en moed in te praat. Die bekende vers Fil.4:13Ek is tot alles in staat deur Hom wat my die krag gee”, is juis ‘n vers vir wanneer gelowiges ekonomies swaar kry. Ps.50:15“Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer”, is juis ‘n vers vir elke moeilike omstandigheid. Hier is ons geestelike werk in 2022: Om mekaar moed in te praat.

  1. Die lewende wesens in die hemel aanbid God en sy Seun

In Op.4:10,11 kry ons die ouderlinge, die kerk wat God aanbid as die enige ware God van hemel en aarde.

In Op.5:8,11 kry ons die ouderlinge, dit is die kerk, die hele skepping, die engele wat voor Jesus Christus, die gekruisigde buig, Hom aanbid en ‘n lied tot sy eer sing.

Wat beteken hierdie aanbidding?

Hierdie land waarin ons bly, ken God nie, ken ook nie vir die Here Jesus Christus nie. Die meerderheid in die land glo ook nie in die ware God ons Vader en die ware Jesus Christus, ons Verlosser nie. Dit is die mense op aarde se sonde.

Die wat aan God behoort in die hemel, weet van beter. Al die hemelwesens, dit is almal wat uiteindelik in die nuwe hemel en op die nuwe aarde sal wees, sal God en die Here Jesus aanbid en eer.

Johannes het deur die Heilige Gees gesien en geskryf vir ons om te lees, te hoor en te glo. As gelowiges met die Heilige Gees in ons, is ons geestelike werk om vir God ons Vader en Jesus Christus ons Verlosser die grootste ontsag en eer en die diepste liefde te hê. Ons ontsag en eer en liefde moet in elkeen van ons se gebedslewe wys.

Hierby is dit nodig om die volgende te sê: Om ons Vader en ons Verlosser te kan aanbid, het ons nodig om ons Vader en ons Verlosser regtig te ken. Ons leef in ‘n land waar baie gelowiges nie groei in kennis van die Drie-enige God nie. Om God ons Vader en Jesus ons Verlosser te ken, is die ewige lewe. Sonder hierdie kennis het ‘n mens nie die ewige lewe nie.

Ken daarom vir God ons Vader as ons Skepper, wat ons met alles versorg.

Ken Jesus Christus as ons Verlosser wat vir ons gesterf en opgestaan het.

Ken die Heilige Gees as ons Trooster wat in ons bly en ons lei om as gelowiges te leef.

  1. My geloof gee sekerheid van my ewige saligheid

God se bedoeling met Openbaring is dat sy kerk, dit is elke gelowige hierdie brief wat ook ‘n profesie is, sal lees en met ‘n gelowige hart sal aanvaar. Elkeen wat lees en hoor en glo wat God sê, sal salig wees, dit is die ewige lewe hê.

Die Here se Woord, die Bybel werk soos ‘n sleutel. Vir wie nie lees en hoor nie en nie glo nie, bly die hemelryk toegesluit. So iemand bly buite die hemel en gaan verlore. Vir wie glo, sluit die Woord die koninkryk van die hemel oop. Elke gelowige sal ewig salig wees in die hemel.

Johannes het die genade gehad dat hy ‘n deur in die hemel gesien het, wat oopgemaak is. Jesus Christus het Hom uitgenooi hemel toe. Deur die Heilige Gees het hy geestelik in die hemel alles gesien en gehoor wat die Here Jesus hom wou wys.

Ons het die genade om te lees en te hoor wat Jesus Christus vir ons, sy kerk wil sê. In Op.4 en 5 is Jesus Christus se boodskap:

Die allerhoogste God beskik en beheer die wêreldgeskiedenis deur Jesus Christus, ons gekruisigde Verlosser

Elkeen van ons het daarom nodig om terwyl ons met Openbaring besig is, te bid dat die Heilige Gees my sal help om te glo wat ek sien en hoor. Wanneer ek met die Heilige Gees in my, glo in God wat die wêreldgeskiedenis deur sy Seun beskik en beheer, kan ek seker wees van my saligheid.

ANTWOORD

Sang: Ps.47:1,4

Gebed

Sang: Sb.5-3/8:1,2

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.