Lees: Daniël 10
Inleiding:
Die laaste deel van die boek Daniël is moeilik om te verstaan. Ons gaan as die Here wil, deel vir deel daarna kyk, om agter te kom en te verstaan wat die Here vir ons wil sê. Vanoggend is ons by Daniël 10 met die hooftema: Die Allerhoogste God gee sekerheid oor die toekoms, omdat Hy ons liefhet.
Tema: Die Allerhoogste God gee sekerheid oor die toekoms, omdat Hy ons liefhet
Die Here is die Allerhoogste
Wanneer ‘n mens die boek Daniël lees, kom ‘n mens agter dat jy die geskiedenis van wêreldregerings en hoe hierdie heidense wêreldheersers die verbondsvolk raak, lees.
In hoofstuk 2 het die Here in Nebukadnesar se droom die opeenvolging van wêreldregerings bekendgemaak.
In hfst 5 het die Here in die hand teen die muur bekendgemaak dat Hy ‘n einde aan Belsasar se regeertyd maak.
In Daniël 7 kry ons die visoen van die vier diere wat uit die see opkom en in hfst.8 die visioen van die skaapram en die bokram.
In die tweede deel van Daniël 9 het die engel Gabriël die geskiedenis van Juda en Jerusalem vir Daniël vertel.
In hfst.10 en 11 kry Daniël weer ‘n visioen van ‘n man met linneklere aan wat hom ‘n deel van die wêreldgeskiedenis vertel.
Dit is belangrik dat elke mens wat Daniël lees, sal raaksien en besef dat hierdie boek nie oor Daniël of Nebukadnesar of Juda of watter mens ookal gaan nie. Die boek gaan ook nie oor wat met die Babiloniese of die Mede en Persiese wêreldregerings gebeur het nie.
Wat ons hier het, is openbaringsgeskiedenis. Die Allerhoogste God maak Homself in die boek Daniël bekend –
Hy is die Allerhoogste God wat Nebukadnesar laat droom, sodat die koning die nag nie geslaap het nie. Hy is die God in die hemel in Daniël se woorde (Dan.2:28) wat én die droom én die droom se uitleg vir Daniël gegee het.
Hy is die Allerhoogste wat ‘n hand teen ‘n muur laat skryf tydens ‘n losbandige en oormatige fees van die heidense koning Belsasar en daardie nag sterf die wêreldregeerder (Dan.5:30).
Die Allerhoogste God het die boek Daniël laat skryf en die boek in sy Woord die Bybel, laat opneem, sodat ons Hom as die Allerhoogste kan ken.
Hierdie boek is veral in ons tyd so nodig. Een van die slegste kenmerke van ons tyd is die oorgrote meerderheid mense se onkunde oor God, Wie Hy is en wat Hy doen en daarmee saam die gebrek aan eerbied, aan ontsag vir Hom as die Allerhoogste God.
Dit is baie belangrik dat ons as Christengelowiges heeltemal anders as die wêreld sal dink en praat oor God. By ons moet daar altyd die diepste eerbied en grootste ontsag wees vir die Allerhoogste God.
Kyk wat het met Daniël gebeur, nadat ‘n engel van die Allerhoogste hom van die toekoms vertel het –
Daniël het drie weke getreur.
Die openbaring van God het Daniël se lewe van elke dag heeltemal omgekeer. Vir drie weke het hy sy mond nie aan vleis of wyn gesit en geen reukolie gebruik nie.
Daniël het doodsbang geword en bewusteloos vooroor op die grond geval.
Sy kragte het ingegee en hy kon skaars asemhaal.
Vandag se mens het ‘n baie swak idee van Wie die Allerhoogste God is. Met ons, Christengelowiges, moet dit heeltemal anders wees.
Hy beheer die toekoms volledig
Tot nou toe het dit in Daniël vir ons baie duidelik geword dat die Allerhoogste God die toekoms volledig beheer.
Die Allerhoogste God is die Skepper van hemel en aarde (Gen.1:1). So glo ons en so bely ons (HK, Sondag 9). Hy onderhou en regeer die ganse skepping (HK, Sondag 9 en 10).
Die openbarings wat Daniël mee te doen gekry het tydens die ballingskap en die verskillende openbarings wat hy self gekry het, het almal net een kernboodskap gehad: Die Allerhoogste God beheer die toekoms van die ganse skepping volledig.
Die mensdom het die idee, veral met die verbasende ontwikkelinge op soveel terreine, dat mense, wêreldleiers en wêreldregerings, die gang van die geskiedenis bepaal. Vir 2020 en daarna vir 2021 was alles haarfyn beplan, het die mensdom gedink. Die Olimpiese Spele in Japan was gereël. Die datums en plekke van vergaderings oor die wêreldekonomie was vasgestel. Ons eie kerke se Sinode se datum was bekend. Alles was onder beheer, so het die mensdom gedink.
In werklikheid was niks onder beheer nie. ‘n Vreemde en onbekende virus het die hele mensdom se beplanning omver gegooi. Die virus en die siekte wat hy veroorsaak het gewys dat ‘n mens nie die beheer het nie.
Die Allerhoogste God beheer die toekoms volledig. Die openbaring wat Daniël ontvang het en wat so moeilik was om te verstaan, was ‘n openbaring van God dat Hy die toekoms volledig beheer.
Hierdie is ‘n baie belangrike waarheid wat die Here ons leer. Deur die Heilige Gees moet elkeen van ons wat hierdie waarheid lees en hoor, dit vas en seker glo.
Hy gee sekerheid oor die toekoms
Die engel van die Here het vir Daniël vertel van die “Boek van die Waarheid” (Dan.10:21). Hierdie uitdrukking wys op die Allerhoogste God se ewige raadsplan. Die woorde is in werklikheid ‘n beeld om wat die Here se ewige besluite in sy ewige raadsplan is makliker verstaanbaar vir Daniël en vir ons te maak. Daar is nie ‘n werklike boek soos ons ‘n boek ken nie. Ons het boeke nodig, omdat ons nie alles kan onthou nie. God het nie ‘n boek nodig nie. Hy is volmaak. Hy weet alles. Hy onthou alles.
Die “Boek van die Waarheid” gaan oor die toekoms. Hoe die toekoms lyk sal in hoofstuk 11 en 12 duidelik word. Vir Daniël het alles in die toekoms gelê. In ons tyd, het daardie toekoms al gebeur. Die geskiedenis lê in ons verlede. Ons het weer ‘n ander toekoms. Van die gebeure in Daniël se toekoms en ons toekoms verskil. Daar is ook ooreenkomste soos die vervolging van die verbondsvolk, die hoogmoed van wêreldleiers en die min ontsag vir die Allerhoogste God.
In die “Boek van die Waarheid”, dit is God se ewige raadsplan, is alles vas en seker. Alles wat elke dag gebeur in hierdie lewe, het God in ewigheid reeds geweeet dat dit gaan gebeur. Ons weet uit Daniël en uit Matteus en 2 Timoteus 3, waar God vir ons die toekoms openbaar, dat daar swaar tye sal kom.
Niemand van ons moet dink dit sal beter in ons land en in die wêreld gaan nie. Polities, ekonomies, sosiaal, militêr en veral geestelik is daar agteruitgang. Hierdie agteruitgang het alles te doen met die sondige mens se manier van dink en leef. In die laaste boek van die Bybel kan ons lees en hoor hoe die Here hieroor met ons praat: Die eindtyd is naby. Die wat kwaad doen, sal nog meer kwaad doen. Die wat vuil is, sal nog vuiler word (Op.22:10,11).
Die verbondsvolk, dit is Jesus Christus se kerk in die Nuwe Testament, sal baie swaar kry onder hierdie agteruitgang van die wêreld. Wanneer hierdie swaarkry oor ons kom, moet ons weet dat dit is waarvan God met ons gepraat het. Die Here gee vir ons sekerheid ook oor hierdie agteruitgang en swaarkry wat in ons toekoms lê.
Die Here wys ons ook die anderkant van die toekoms. Die kerk van Christus, die gelowiges is altyd, ongeag wat gebeur, veilig in die Allerhoogste God se beskerming en sorg. Hierdie sekerheid kry ons veral in Dan.12:13.
Ons hoef nie moedeloos of opstandig of onseker te leef nie. Die Allerhoogste God wat alles weet en alles beheer, wat die toekoms volledig beheer, Hy gee sekerheid oor ons ewige toekoms.
Hy het ons lief
Die engel het vir Daniël gesê dat God hom liefhet, daarom het God sy engel na hom wat Daniël is, gestuur om hom te vertel en in te lig oor die toekoms.
God het ons ook lief. Hoe kan ons van sy liefde seker wees? Daar is twee maniere.
Die eerste – God het uit liefde sy Seun vir ons gegee. Ons weet dat Jesus na die aarde toe gekom het. Jesus het uit liefde sy lewe vir ons gegee. Ons weet dat Jesus Christus vir ons aan die kruis gesterf het en vir ons uit die dood opgestaan het.
Die tweede – Daniël het sekerheid oor die toekoms by God gekry, omdat God hom liefgehad het. Ons het die Bybel. Ons kan Daniël lees. Ons kan ook sekerheid oor die toekoms by God kry. Hy gee vir ons hierdie sekerheid deur sy Woord. Die Heilige Gees in ons laat ons in God glo en met geloof na die toekoms kyk. Dit is net moontlik, omdat God ons liefhet.
Wat gaan van hierdie land word met die misdaad van geweld en korrupsie wat regtig baie erg is? Die Allerhoogste God beheer die toekoms van ons land.
Wat gaan van Covid-19 word? Die Allerhoogste God weet hoe Covid-19 verder gaan verloop. Hy is volmaak in beheer.
Wat lê vir ons twee gemeentes voor? Die Allerhoogste God weet. Hy beheer die pad vorentoe.
God is die Allerhoogste. Hy weet alles. Hy beheer alles. Hy bepaal en beskik alles. Hy is ons sekerheid vir die toekoms. Hy gee deur sy Woord en Gees vir ons sekerheid oor die toekoms. Hy gee hierdie sekerheid, omdat Hy ons liefhet.
Gebed