Lees: Daniël 5
Inleiding:
“Getel, getel, geweeg, verdeel” is vir die mens sonder Jesus Christus angswekkende woorde. Vir die mens wat in Jesus Christus, ons Verlosser glo, is hierdie baie gerusstellende woorde. Ons luister vanoggend na wat God vir ons in Daniël 5 hieroor sê.
Tema: Die allerhoogste God se oordeel bepaal ‘n mens se lewe in die toekoms
Die allerhoogste God kyk uit die hemel na ons
Dit was die jaar 539 v.C. Nebukadnesar was lankal oorlede. Belsasar was die vyfde koning na Nebukadnesar. In die Ooste het ‘n nuwe wêreldregering al hoe sterker begin word. Dit was die Persiese regering onder koning Kores. Hierdie regering het gedurende die tyd waarvan ons in Daniël 5 lees, reeds ander lande en regerings oorwin, asook ‘n deel van Babel. In werklikheid het ‘n noodtoestand in Babel geheers, want ‘n deel van die stad was reeds in die hande van Kores van Persië.
Hierdie was nie maar die verloop van die geskiedenis onder heidense volke nie. Inteendeel! Dit wat die allerhoogste God aan Nebukadnesar in sy droom oor die beeld bekend gemaak het, was besig om waar te word. Die tyd van die kop van goud was verby. Die tyd van die bors en arms van silwer het aangebreek.
Ons kan sê alles het onder die oog van die allerhoogste God gebeur.
In hierdie noodtoestand het koning Belsasar besluit om ‘n groot ete aan te bied vir sy duisend hoofamptenare. Toe koning Belsasar en sy amptenare heeltemal te veel wyn gedrink het, het hy die goue en silwer bekers wat Nebukadnesar uit die tempel in Jeruslaem gestroop het, laat haal. Die koning, sy hoofamptenare, sy vrouens en byvroue het uit die bekers gedrink en hulle eie gode geprys en geëer.
Niks hiervan het by God verby gegaan nie. Hy sien en weet alles. Hy het gesien hoe Belsasar sy hart gesluit gehou het vir Hom. Belsasar het geweet van al die magtige wonders wat God gedoen het. Dit is hom vertel en alles is opgeskryf in boeke in die koning se paleis. Hy het gesien hoe Belsasar en sy hoofamptenare hulle te buite gaan aan drank. Hy het gesien hoe die koning onder die invloed die bekers van die Here se tempel misbruik om aan afgode die eer te gee.
Geen regering en geen leier in die wêreld se sonde sal ongesiens by God verby gaan nie. Dit geld nie net vir leiers en regerings nie. Elke enkele mens moet weet en besef. Alles gebeur onder God se oog. Hy sien en weet alles. Hy ken elke sondige regeringsbesluit. Hy ken elke sondige gedagte en woord en daad.
Hy oordeel ons volgens sy maatstaf
Wanneer die allerhoogste God sien wat in die wêreld gebeur, sien wat regerings en hulle leiers doen, sien wat elke mens dink en sê en doen, laat Hy alles nie net so nie.
Hy is die enigste ware en heilige God. Hy oordeel elke mens volgens sy maatstaf. Hy het Nebukadnesar geoordeel. Hy het Belsasar geoordeel. Hy oordeel steeds elke regering en elke leier. Hy oordeel elke enkele mens.
God gebruik sy maatstaf om ons te oordeel. Sy maatstaf is sy waarheid en sy heiligheid.
Sy waarheid beteken –
Hy is die enige ware God. Daar is absoluut geen ander God nie behalwe die enige, ware, Drie-Enige God van hemel en aarde.
Hy verbied afgodery. Die ware God se verbod op enige afgodery is so sterk dat Hy die eerste gebod van sy Wet oor hierdie verbod gegee het.
Hy wil alleen aanbid en gedien word. Die enige ware God verwag dat Hy alleen aanbid en gedien sal word. Niemand in die ganse wêreld het enige rede om God nie te aanbid nie. Hy het elke mens so geskep en sy skepping so gemaak, dat elke mens kan sien daar is ‘n God in die hemel wat almagtig is.
Sy heiligheid beteken –
Hy verdra sonde nie. God se ewige vyand en teenstander, die Duiwel, is die oorsprong van sonde. Sonde is om die doel wat God vir my lewe het, nie te ken en nie uit te leef nie. My doel op aarde is om God se beeld uit te dra. Sonde neem my weg van God af en laat my die duiwel se beeld vertoon. Daarom verdra die heilige God geen sonde nie, selfs nie vir ‘n breukdeel van ‘n oomblik nie.
Hy verwag gehoorsaamheid aan Hom. God het sy wil bekendgemaak. Sy wil is in sy Woord. Hy verwag gehoorsaamheid aan sy wil. Die Bybel is al in meer as 3 300 tale vertaal, vir die grootste meerderheid van die aarde se mense om God se wil te ken.
Die allerhoogste heilige God oordeel elke wêreldregering en wêreldleier, elke enkele mens volgens sy maatstaf, dit is sy waarheid en sy heiligheid. Regerings en leiers mag dink die kiesers wat vir hulle gestem het gee die mandaat vir wat om te doen. Uiteindelik is dit heeltemal anders. God se maatstaf is die werklike maatstaf waarvolgens regerings en leiers, waarvolgens elke mens moet leef en optree, want daarvolgens oordeel Hy.
Hy gee uitspraak oor ons wat ons toekoms bepaal
God is die Regter van elke mens. Hy was die Regter van koning Belsasar van Babel. Terwyl Belsasar en sy gaste onder die invloed van drank die goue en silwer bekers van God se tempel misbruik het om op hulle heidense fees uit te drink en hulle afgode te vereer, het God uitspraak gegee.
God het weer ‘n wonder gedoen. ‘n Mensehand het skielik verskyn en op een van die mure geskryf. Belsasar het die hand gesien. Hy het bleek geword van die skrik. Hy het van angs gebewe en was lam van die skrik.
Soos Nebukadnesar het Belsasar ook sy raadgewers laat kom om die woorde wat geskrywe is, uit te lê. Hy het sy raadgewers koninklike klere en bevordering beloof, indien enigiemand die skrif kon uitlê. Niemand van die raadgewers kon nie. Die koning het nog banger geword en die raadgewers het verslae gestaan.
Die koninging het toe die saal binnegekom. Sy het die koning en al die gaste herinner aan die tyd van Nebukadnesar toe Daniël, die koning se drome uitgelê het. Daniël is na die koning toe gebring met die belofte van geskenke en ‘n beloning. Daniël het nie in die geskenke en beloning belanggestel nie en die woorde uitgelê.
Daniël het begin deur Belsasar te wys op alles wat met Nebukadnesar gebeur het. Belsasar het die gebeure goed geken, maar hom nie voor God verootmoedig nie. Daniël het Belsasar verder daarop gewys dat hy verwaand teenoor die Here opgetree het en sy afgode geëer en nie die enige ware God nie.
God het daarom die hand gestuur om te skryf, het Daniël verder vir almal daar gesê. Die woorde is in Aramees geskryf. In Aramees klink dit so: “Menee, menee, tekeel, ufarsin”. In Afrikaans vertaal is die woorde: Getel, getel, geweeg, verdeel”.
Hierna het Daniël die betekenis van die geheime woorde verduidelik:
Getel – God het die jare van Belsasar se koningskap getel en ‘n einde daaraan gemaak.
Geweeg – die koning is geweeg en te lig bevind. Dit is volgens God se maatstaf.
Verdeel – die koninkryk is verdeel tussen die Mede en die Perse.
Daardie nag is koning Belsasar vermoor.
Wat leer die Here ons hier?
Sy oordeel en sy uitspraak oor ons, bepaal ons lewe en ons toekoms – die lewe en toekoms van elke regering, die lewe en toekoms van elke leier van ‘n regering, die lewe en toekoms van elke mens, my lewe en my toekoms.
Nou bly die vraag oor: Sal God my nie ook te lig bevind, wanneer Hy my weeg en my volgens sy maatstaf oordeel nie?
Wanneer Hy my oordeel net soos ek is, sal ek te lig bevind ord, ja. Maar….Wanneer God my nou weeg, my oordeel, dan oordeel Hy my nie soos ek uit my eie is nie. Waarom nie? Jesus Christus het in my plek voor God, die Vader gestaan. Hy het my sonde op Hom geneem. Hy het aan die kruis gesterf en my straf en oordeel gedra. Deur sy dood het Hy my van al my sonde verlos en al my sondeskuld betaal. Hy het vir my uit die dood opgestaan, sodat ek die nuwe lewe, dit is die ewige lewe kan hê. Deur Jesus Christus is ek nou kind en erfgenaam in God se ewige genadeverbond.
Wanneer God na my kyk om my te weeg en my te oordeel, sien Hy sy Seun raak wat vir my gesterf en opgestaan het. Op grond van Jesus Christus word ek nie te lig bevind nie. Ek is kosbaar vir God, en sy kind en erfgenaam. Hy sal my na my lewe op aarde in die hemel opneem om ewig by Hom en sy Seun, my Verlosser te wees. Hierdie wondergenade is vir my en elke ander mens wat met ‘n opregte hart in Jesus Christus glo.
Van hierdie ewige salige toekoms, is ek seker, want die Heilige Gees in my, gee my hierdie sekerheid.
Gebed