ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.48:4,5
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.25:3,5
Gebed
VERKONIDIGING
Sang: Ps.92:3,4
Lees: Openbaring 20
Kernvers: Op.20:1,2
Tema: Die almagtige God bind die Satan vir 1000 jaar voor die finale oordeel
Sang: Ps.48:4,5; Ps.71:9; Ps.25:3,5; Ps.92:3,4; Ps.68:1,2; Ps.105:3,4,5
Inleiding:
In Openbaring 20 is ons by die waarheid wat ons elke Sondag in ons geloofsbelydenis bely: Ek glo in Jesus Christus wat weer sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. Hierdie is ‘n waarheid in die Bybel wat elke Christengelwoige nodig het om met my hele hart te glo en daarvolgens te lewe.
Tema: Die almagtige God bind die Satan vir 1000 jaar voor die finale oordeel
Die almagtige God bind die Satan
Johannes het ‘n engel uit die hemel sien kom. Die engel staan in diens van God. God die Vader is in die hemel. Die gekruisigde Jesus wat opgestaan het, is aan sy Vader se regterhand. God regeer alles en almal deur sy Seun. Die almagtige God beheer van die wêreldgeskiedenis. Hy beskik en beheer ook die eindoordeel.
Die engel het die sleutel van die onderaardse diepte in sy hand gehad. Hierdie beeld beteken God beheer die onderaardse diepte. “Onderaardse diepte” is die naam vir die woonplek van die duiwel. Dit is hulle verpligte woonplek, hulle voorlopige plek van straf tot die finale oordeel. Onderaardse diepte kry ons reeds in Op.9:1.
Die duiwel beweeg tussen die onderaardse diepte en die aarde. Maar dit is nie willekeurige beweging nie. Die bose kan alleen op die aarde wees deur God se toelating.
Die engel het ook ‘n groot ketting in sy hand gehad. ‘n Ketting word gebruik om iemand vas te bind. Die Satan is ‘n baie sterk en gedugte vyand wat net met ‘n groot ketting gebind kan word. Hier leer die Here ons om nie ligtelik oor die duiwel te dink en te praat nie. Hy is ‘n geweldige vyand. In die Kategismus bely ons hom as een van ons doodsvyande.
Johannes het gesien dat die engel die draak gryp en bind vir duisend jaar. Die draak is die slang, die duiwel wat die Satan is. Hierdie name beskryf die boosheid van die duiwel.
Die bind van die Satan het ons reeds in Op.12 gekry. In daardie hoofstuk het ons gesien dat die duiwel op die aarde neergewerp is. Hy kon die kerk van Christus nie oorweldig nie. Hy is nie toegelaat om die kerk so seer te maak nie. Hier in Op.20 het Johannes die gesig gesien dat die Satan gebind is dat hy nie die nasies kon gebruik om die kerk te vervolg soos hy graag wou nie.
Dit is nodig om meer oor die bind van die Satan vir duisend jaar te sê. Wie bind die Satan? Wanneer word hy gebind?
Die eerste vraag: Wie bind Satan?
Die antwoord kry ons in die Ou en die Nuwe Testament.
Gen.3:15 – Een uit die nageslag van die vrou.
Lk.1:30-33 – Die Een is Jesus Christus, die Seun van die allerhoogste God wat uit Maria gebore is.
1 Joh.3:8b – Die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.
God bind die Satan dus deur sy Seun wat aan die kruis gesterf het en uit die dood opgestaan het.
Die tweede vraag: Wanneer word die duiwel vir duisend jaar gebind?
Daar is Christelike kerke en ander gelowe wat hierdie duisend jaar sien as ‘n letterlike duisend jaar. Hierdie tyd staan bekend as “die duisendjarige vrederyk”. Die tyd breek volgens die gelowe aan met die wederkoms van Christus wat hierdie mense sien as die eerste wederkoms. Dan is daar duisend jaar vrede met Satan gebind. Israel word ook weer herstel tot die verbondsvolk van ouds. Aan die einde van dié tyd word Satan ontbind om nasies te verlei. Daarna kom Christus weer om finaal te oordeel. Die mense wat Op.20 so verstaan, noem ons “Chiliaste”. Ek noem hierdie, want in ons land is daar baie mense, ook Christene wat so glo.
Die regte verstaan van Op.20 is dat die duisend jaar nie ‘n werklike tydperk is nie, maar simbolies van ‘n lang tyd, die volle tyd. Dit is ‘n tyd met ‘n begin en ‘n einde. Die duisend jaar is in werklikheid die tydperk van Jesus se geboorte tot met sy wederkoms.
Dit is nodig dat ons as Christengelowiges sal weet dat Jesus Christus wat na die wêreld gekom het, wat gekruisig is en opgestaan het en na die hemel opgevaar het, die Satan gebind het dat hy nie kon doen wat hy wou nie. Hy wou Christus se kerk vernietig, maar hy was gebind en kon nie.
Trouens, in die tyd na Jesus se kruisiging en opstanding het die evangelie van verlossing tot aan die uithoeke van die aarde versprei. Dit het gebeur omdat God die Satan verhoed het om die uitdra en verspreidig van die evangelie van Jesus Christus te keer.
In hierdie tyd verlei die Satan baie
Ons kan die verloop van die duiwel se lewe op aarde in vier groot gebeure sien.
Op.12:9 – Hy is uit die hemel op die aarde neergewerp. Dit het gebeur met Jesus se kruisiging, opstanding en hemelvaart.
Op.12:14; 20:2 – Die duiwel is gebind. Hierdie wys op Jesus Christus se koms na die aarde en veral na die uitbreiding van die evangelie en die groei van Christus se kerk met die koms van die Heilige Gees.
Op.20:7-9 – Die duiwel word losgelaat om die nasies te verlei en Christus se kerk baie swaar te laat kry. Dit wys op die verdrukking en vervolging van die kerk net voor Jesus Christus se wederkoms.
Op.20:10 – Die oordeel oor die duiwel waar hy in die poel van vuur, die hel gegooi word.
In hierdie duisend jaar word die duiwel vir ‘n klein rukkie losgelaat. Hierdie waarheid het ons ook al vroeër raakgeloop in Op.16:13,14 en Op.19:19.
Aan die einde van die wêreldgeskiedenis sal die duiwel dit steeds regkry om wêreldleiers en -regerings te verlei om teen Jesus Christus te wees.
Saam met die leiers van die wêreld was daar baie mense wat verwonderd was oor die duiwel se agente, die antichristelike magte en die vals profeet dat hulle hierdie bose magte in groot getalle gevolg het. Die duiwel sal ook slaag om die nasies wat tussen die vier uithoeke van die aarde is, hulle is die Gog en die Magog te verlei.
Die nasies is soos die bewoners van die aarde waarvan ons in Op.8:13 lees, die mense uit al die nasies van die wêreld wat nie in Jesus Christus geglo het nie. Hierdie nasies word in Op.20:7 met die name die Gog en Magog genoem. Oor die Gog en Magog is dit nie nodig om te raai wie dit is nie, ons mag dit ook nie doen nie. In die Afrikaanse Bybel is dit reeds duidelik dat dit die nasies in die vier uithoeke van die aarde is. Wat ons uit die Ou Testament wel kan sê, is dat dit nasies uit die geslag van Jafet was (Gen.10:2). Die belangrike is, dat hierdie nasies nie Christene was nie, maar heidene en ander ongelowiges.
Die duiwel het dit reggekry en sal dit in die toekoms steeds regkry om nasies oor die wêreld bymekaar te laat kom om teen Jesus Christus op te staan.
Die Here leer ons hier aan die einde van Openbaring leer, dat die duiwel so listig en verleidelik en magtig is, dat hy ‘n menigte mense oor die hele oppervlakte van die aarde, so baie soos die sand van die see verlei om hom te volg te leef soos hy wil.
Maar, in Op.20:4-6 beskryf Johannes ‘n deel van die hemelse gesig wat vertel dat daar gelowiges was wat in Jesus geglo het en aan God se Woord vasgehou het. Hulle is hieroor doodgemaak. Hulle is met hulle dood opgeneem in die hemel om saam met Jesus Christus te regeer.
Ek noem twee dinge uit hierdie verse –
Die eerste – Die verse gee die sekerheid dat elke Christengelowige na ek gesterf het na Christus toe gaan. Hierdie opneem by Christus is die “eerste opstanding” waarvan Johannes hier geskryf het.
Die tweede – Ons leer ook by die Here dat alhoewel Satan baie verlei, daar Christengelowiges is wat in Jesus Christus bly glo, selfs al dreig lewensgevaar.
God se laaste oordeel oor die duiwel en almal by hom is die hel
Die vyandigheid van die duiwel en sy volgelinge teen Jesus Christus en sy kerk is verskriklik. Tydens die verdrukking net voor Jesus weer kom, die ongelowige nasies oor die hele aarde “die laer van die gelowiges en die geliefde stad” wil vernietig (Vs 9). Die laer en die geliefde stad is name vir Christus se kerk.
Ons moet weet dat die aanvalle teen die kerk vanoor die hele aarde sal kom en dat dit hewig en selfs verskriklik sal wees.
Maar…dan kom daar vuur van die hemel af om die vyandige nasies te verteer. Hierdie is die oordeel van die heilige God. Esegiël het reeds oor God se vuur van oordeel oor die Gog en Magog geprofeteer (Eseg.38:22; 39:6). Hierdie woorde in Op.20:9 is die vervulling van Esegiël se profesie.
God se vuur van oordeel sal skielik op die duiwel en al die ongelowige nasies oor die hele aarde verteer. Soos ‘n dief in die nag sal God se oordeel skielik en onverwags uitbreek. Die einde van die duiwel en almal wat nie in Christus geglo het nie, sal die poel van vuur en swael, dit is die hel wees.
Hier is ons by ‘n werklikheid. Almal wat nie in Jesus Christus glo nie en saam met hulle die duiwel wat hulle verlei het om nie te glo nie, se lewe sal in die hel eindig. Die antichristelike wêreldmagte en die vals kerk sal ook daar wees wanneer God deur Christus sy finale oordeel voltrek.
Die Heilige God sal hierdie oordeel voltrek deur Jesus Christus. Hierdie waarheid bely ons elke Sondag. Jesus Christus kom weer om te oordeel. Alle mense, die wat met Jesus se wederkoms nog sal leef en dié wat reeds gesterf het, sal voor Hom staan. Ons weet dat die Here Jesus die mense in twee groepe sal deel, een groep aan sy linkerkant en die aan sy regterhand (Mt.25:33).
Die boeke sal oopgemaak word met die dade van elke mens in. Die boeke is die beeld van God wat alles weet. Hy weet van elke enkele sonde en Hy onthou alles wat elke mens ooit gedink of gesê of gedoen het, volmaak.
Die nasies se dade sal van ongeloof en goddeloosheid getuig. Omdat ware geloof in Jesus Christus heeltemal ontbreek het, sal die ongelowiges net met hulle vuil en verskriklike sonde voor Jesus Christus, die hemelse Regter staan. Die oordeel oor al die ongelwoige naseis sal die vuurpoel, die tweede dood, die ewige dood wees.
Wie aan God behoort, sal die ewige lewe erf
Die groep mense aan Jesus Christus se regterhand se sonde sal ook in die boeke opgeteken wees. God ken ook elkeen wat aan Hom behoort se sondige gedagtes, woord en dade. Alles is oop en bloot voor Hom. Die gelowiges wat aan God behoort het se sonde is net so vuil en verskriklik.
Daar is een grooot verskil tussen die mense wat voor die Here Jesus staan net met sonde en dié wat voor Hom staan met sonde en geloof in Hom as ons enigste Verlosser. Die beeld hiervan wat Johannes gesien het, was die ander boek wat oopgemaak is, dit is die boek van die lewe. Hierdie boek van die lewe is beeld van die sondige mense wat in Jesus geglo het met ‘n ware geloof. God het reeds voor die skepping besluit dat elkeen van hierdie mense aan Hom behoort. Jesus Christus het vir hierdie mense gesterf en opgestaan. Die Heilige Gees het aan elkeen ‘n wedergebore hart en ware geloof gegee.
Elke Christengelowige sal ook voor, Jesus Christus, die hemelse Regter staan.
Ek sal voor Hom staan as ‘n sondaar, maar dan ‘n sondaar vir wie Hy sy lewe aan die kruis gegee het en vir wie Hy uit die dood opgestaan het.
Ek sal as ‘n verloste nuwe mens voor die Here Jesus staan.
Christus sal vir my die volgende woorde sê: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit…” (Mt.25:34).
Ek sal die ewige lewe by Jesus Christus ons Verlosser as my hemelse erfdeel ontvang.
Jesus Christus kom weer. Hy kom weer om te oordeel.
Maak baie groot erns met hierdie waarheid.
Glo in die Here Jesus en jy sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe by Jesus in die hemel as erfenis ontvang.
ANTWOORD
Sang: Ps.68:1,2
Gebed
Sang: Ps.105:3,4,5
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen