ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.103:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.107:1
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.19:4,7
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.94:1,2,12
Lees: Openbaring 18:1-19:4
Kernverse: Op.19:1,2
Tema: Die antichristelike wêreld finaal veroordeel…die ware kerk volmaak verlos
Sang: Ps. 103:1,2; Ps.107:1; Ps.19:4,7; Ps.94:1,2,12; Ps.50:2,8,11; Sb.18-7/45:1,11,12
Inleiding:
Ons kom in Openbaring nou baie naby aan die laaste wat God in sy Woord vir sy kerk wou sê. Die woorde in die Bybel word al meer intens. In Op.18:1-19:4 is ons juis by so ‘n intense deel.
Tema: Die antichristelike wêreld finaal veroordeel….die ware kerk volmaak verlos
Babilon is die antichristelike magte en die vals kerk wat saamwerk
‘n Vraag is nodig: Wie is Babilon?
Ons gaan kyk eers in die res van die Bybel. Heel eerste kan ons weet dat Babilon en Babel dieselfde is. Van Babel lees ons reeds in Genesis –
Gen.10:6-9 – Nimrod was een van Gam se agterkleinseuns. Gewoonlik weet ons dat Nimrod ‘n jagter was. Wat ook genoem word, is dat hy die eerste man was wat mag oor gebiede en stede gehad het. Sy mag het by Babel begin en na baie ander gebiede en stede uitgebrei.
Gen.11:1-9 – Dan kry ons die mense van Babel wat teen die Here se wil in, op een plek wou bly, en vir hulle op aarde ‘n groot naam wou maak. Die toring wat hulle wou bou, sou wys dat Babel hulle plek was waar hulle sou bly en hulleself ontwikkel.
Ps.137 – In hierdie psalm kry ons die woorde van Juda die tyd dat hulle slawe in Babel was, met die laaste deel van die psalm ‘n gebed dat die Here Babel sal verwoes vir wat Nebukadnesar en sy leër Juda aangedoen het.
Daniël 1-3 – In die eerste hoofstukke van hierdie profesie kry ons die Juda in ballingskap in Babel met Nebukadnesar wat met sy mag van die verbondsvolk heidense Babiloniërs wou maak, sodat Juda nie meer as verbondsvolk sou bestaan nie.
Dit is uit hierdie dele in die Bybel duidelik dat Babel teen God was.
Oor wie Babilon hier in Op.18 is, verskil verklaarders van mekaar. Babel word verklaar as ‘n sondige wêreldmag of as die kerk wat ontrou geword het aan Christus. Die beste verklaring is nie of die wêreld of die kerk nie, maar én die sondige wêreld én die ontrou kerk, die vals kerk.
In Op.17 kry ons die onsedelike vrou op die rug van die dier. Daardie beeld is die vals kerk in diens van die antichris. In Op.18 waar Babilon geval het, in duie gestort het, met die wêreldleiers en -regerings en die wêreldekonomie op land en see wat tot ‘n einde gekom het met Babilon se val, het ons nodig om Babilon te sien as die vals kerk én die antichristelike magte wat in die geskiedenis saamgewerk het. Wanneer ons van Babel, of Babilon hier lees, moet ons dink aan wêreldse politieke mag, ekonomiese mag, militêre mag en godsdienstige mag wat sondig en aan God ontrou geleef het.
Die antichristelike magte en die vals kerk het in die geskiedenis verskriklik gesondig
Ons kry die sonde van die antichristelike wêreld in vs 2 en 3.
Babilon was die blyplek van die duiwels, alle bose geeste, alle onrein roofvoëls en afskuwelike diere. Die duiwel en almal by hom is God se groot vyande. Met die oortreding van elke gebod van God het die sondige wêreld die blyplek van die duiwels geword. Die vals kerk wat die wêreld aangemoedig het met die vals evangelie dat elke mens die reg het om te leef soos elkeen wil, was saam met die sondige wêreld ‘n tuiste vir die duiwels.
Al die nasies van die dwelmdrank van haar onsedelikheid laat drink en die konings het onsedelik met haar gelewe. Die nasies van die wêreld het hulle deur die vals kerk laat verlei. Hierdie sondige ontrou vals kerk bestaan oral in die wêreld en ook in Suid-Afrika. Ons sien die vals kerk ook wanneer die kerk ‘n vennoot van die regering van ‘n land word en die staat in alles ondersteun. Daar is in byvoorbeeld Rusland en China ‘n kerk, ja, maar die kerk sê vir die regering wat die regering wil hoor. Hierdie vennootskap tussen die sondige wêreld en die vals kerk, is teen alles wat God wil.
Sakemanne van die aarde het ryk geword uit haar grenslose weelde. Die vals kerk het die Bybel misbruik en vir die sakemanne die evangelie van geld gepreek. Een voorbeeld van hierdie manier van preek is 29:11 – “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: Voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” Hierdie woorde beteken dat die Here se plan vir Juda was dat hulle weer uit Babel na Jerusalem sou terugkeer om sy verbondsvolk in die beloofde land te wees. Die Here het gedagtes oor Juda gekoester en dit was “gedagtes van vrede en nie van onheil nie” soos dit in die Hebreeus staan. Hierdie beloftes het oor Juda se lewe in die genadeverbond en in die beloofde land gegaan en nie oor geld en rykdom nie! Die vals kerk die sakemanne laat dink en glo dat hulle geld en rykdom kan najaag in die lewe, omdat dit in die Bybel staan.
Die vals kerk en die wêreldekonome en sakemanne het gedoen presies wat Jesus Christus uitdruklik gesê het om nie te doen nie (Mt.6:19-24) en aardse rykdom en weelde hulle lewe gemaak.
Vs 5 – Die sondige wêreld en die vals kerk se sondes het tot aan die hemel opgehoop en God het haar ongeregtighede onthou. Hierdie lewe was verskriklik sondig en sleg voor die Here.
God waarsku elke gelowige teen die wêreldgees en vals kerk
Vs 4 – Johannes het ‘n ander stem uit die hemel gehoor sê – “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie deel kry aan haar sondes en die plae wat oor haar kom, julle ook tref nie.”
Die opdrag van die Here “gaan uit” is in die meervoud. Dit beteken dat alle Christengelowiges in Jesus Christus se ware kerk, nie deel moet wees van die vals kerk en nie soos die wêreld moet leef nie.
Die Here waarsku sy ware kerk hier, sodat opregte Christene nie deel sal hê aan die sondes van die vals kerk en die sondige wêreld en aan die plae wat oor die antichristelike wêreld sal kom nie.
Die opdrag aan elke Christen beteken: Ek kan nie wag en kyk wat ander doen nie en dan dieselfde doen nie. Elke gelowige moet deur die Heilige Gees, volgens God se Woord seker maak ek is nie in die vals kerk nie en ek is nie deel van die wêreldgees nie, maar in die ware kerk van Christus.
Hierdie opdrag staan in die Grieks so geskryf dat ek as Christen regtig moet uitgaan. Ek mag nie net by gedagtes of woorde bly nie. Ek moet regtig sorg dat ek nie deel van die vals kerk en die sondige wêreld is nie.
Dit is baie belangrik dat ek God se Woord ken en myself en my gemeente aan die Bybel meet. Ek het ook nodig om gereld en ernstig vir Christus se ware kerk te bid.
Aan die einde stort die antichristelike wêreld in duie onder God se oordeel
Vs 8 – God sal die vals kerk vernietigend oordeel. Al die plae sal haar op een dag skielik tref – Pes, droefheid en hongersnood en vuur wat verbrand. Vuur is niks anders as God se ewige oordeel in die hel nie. Hierdie oordeel, die hel is ‘n werklikheid. Verskeie leraars in kerke in Suid-Afrika wat deurgaan as Christelike kerke wil nie meer van die hel weet nie. Om van die hel praat, pas nie meer in ons moderne tyd nie. Die sondige wêreld stem natuurlik saam en verwerp die idee van God se oordeel heeltemal.
Vs 9,10 – Die wêreldleiers en wêreldregerings sal huil wanneer hulle die vals kerk en hulle goddelose wêreld onder God se oordeel inen stort. Die wêreldleiers en regerings het hulle deur die vals kerk laat verlei. Hulle het nie na die wil van die Here in sy Woord gevra nie, maar gehoor wat die vals kerk sê en dan gedoen wat die vals kerk gesê het.
Wanneer die vals kerk geoordeel word, sal die wêreldleiers en regerings in vrees lewe vir die heilige God se oordeel. Hulle sal huil oor die ondergang en vernietiging van die vals kerk en hulle eie wêreld wat eintlik niks beteken het nie. Dit sal te laat wees vir trane.
Vs 11-17 – Die sakemanne het gehuil en gekerm oor die antichristelike wêreld se ondergang. Die vals kerk wat geld en rykdom gepreek het as die Here se wil vir mense en sy seën in die lewe, sal onder God se oordeel in duie stort. Van al die rykdom en weelde wat die sakemanne nagejaag het, sal niks oorbly nie. Onder God se oordeel word die hele aarde en alle geld en rykdom heeltemal vernietig, sodat net skok en vrees en pyn en trane oorbly.
Vs 18,19 – Ook die skeepskapteins en almal wat van die see lewe, het ver weg gestaan en geskreeu, gehuil en gekerm oor die vals kerk en die goddelose wêreld se ondergang. Seevaart het ook deelgeneem aan die wêreld se gejaag na geld en rykdom en ‘n baie belangrike plek in die wêreldekonomie ingeneem. Wanneer die vals kerk en al die geldbronne in duie stort oor God se oordeel, sal die mense wat uit seevaart aardse rykdom nagejaag het, se lewe ook in duie stort.
Vs 21-24 – Die oordeel oor Babilon sal met geweld wees. Die oordeel sal finaal wees. Die oordeel sal permanent, dit is ewig wees. Die beelde in hierdie verse vertel en leer ons hierdie ewige vernietigende oordeel van God oor die vals kerk en die sondige wêreld wat vir soveel eeue en eeue nie die ware Christus nie, maar die antichris gedien het in ‘n sondige en goddelose lewe.
Uit die val van Babilon kom vir ons ‘n baie duidelike en baie sterk boodskap –
Enigiemand, elke enkele mens, elke organisasie en instansie wat nie openlik vir Christus leef nie, is teen Hom en deel van die antichristelike magte op aarde. Daar is nêrens ‘n neutrale plek nie – of vir Christus of vir die antichris.
Die antichristelike magte wat soos ‘n wêreldstad so gevestig en sterk en oorheersend gelyk het – die wêreldregerings, die wêreldekonomie, die militêre magte en kernwapenarsenale, die vals kerk wat die aardse Jesus so oortuigend gepreek het, sal alles in duie stort.
Dit sal beslis gebeur. Luister na wat die engel geroep het: “Geval, geval het die grote Babilon” (Op.18:2). Die oordeel van God lê nog in die toekoms vir ons op aarde. Deur die Heilige Gees sien Johannes vanuit die hemel dat die oordeel klaar gebeur het.
Vir die ware kerk is daar die troos en vreugde van oorwinning en ewige saligheid
Terwyl die ganse mensdom huil en kerm van skok oor die ineenstorting van die sondige wêreld en die vals kerk, is daar vreugde in die hemel onder die gelowiges, apostels en profete. Hierdie gelowiges sien Johannes as ‘n menigte in die hemel.
Die grootste deel van Op.18 bevat die verskriklike finale oordeel van God oor die goddelose wêreld en vals kerk, wat saam die antichristelike magte, Babilon uitmaak.
Maar….die boek Openbaring is veral bedoel om die ware kerk van Christus, die gelowiges wat glo in Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het as ons enigste Verlosser, te troos en te bemoedig. Hierdie troos kry ons in Op.19:1-4.
Die kerk, ons elkeen wat deur die Heilige Gees opreg in Jesus Christus glo, se troos en bemoediging is Christus –
Christus Jesus het sy lewe vir ons aan die kruis gegee en vir ons uit die dood opgestaan. Daardeur het Hy ons losgekoop uit die mag van die duiwel, die sonde een die dood. Hy kon dit doen, want Hy hierdie bose magte oorwin. Christus se oorwinning was en is ‘n volmaakte en ewige oorwinning.
Die Heilige Gees maak elke Christengelowige deur geloof so een met Christus dat ons in sy ewige oorwinning deel en tydens ons lewe op aarde reeds seker is van ons ewige saligheid.
Met Christus se wederkoms, sal ek wat van die Heilige Gees my geloof in Christus gekry het, deel van die menigte in die hemel wees wat uitroep: Prys die Here! Prys die Here!
ANTWOORD
Sang: Ps.50:2,8,11
Gebed
Sang: Sb.18-7/45:1,11,12
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!
Amen