Die brief van Paulus aan die Efesiërs is ‘n brief aan die kerk van Christus oor die kerk van Christus. Die eerste drie hoofstukke gaan oor die beginsels van Christus se kerk:
Die laaste drie hoofstukke gaan oor hoe die kerk moet lewe. Ons kan sê die tweede deel van die brief gaan oor die kerk in praktyk:
Ons kry eers ‘n oorsig oor die hele deel, voor ons in, as die Here wil, in ‘n reeks preke meer leer van die wapenrusting wat God gee. Vanoggend se preek gaan daarom oor die geestelike lewe van Christus se kerk.
Tema: Die belangrike waarheid wat God ons oor ons geestelike lewe leer
Die deel oor die geestelike lewe van die kerk, of soos die deel by baie gelowiges bekend is, die wapenrusting van God, bestaan eerstens uit twee groot opdragte van God:
Opdrag 1 – Ef.6:10 – “Word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte” (53 vert) of dan “Soek julle krag in die Here en in sy groot mag” (83 vert).
Opdrag 2 – Ef.6:11a,13a – “Trek die volle wapenrusting aan wat God gee.”
Die eerste opdrag is om geestelik kragtig, dit is sterk te word. Die krag is in die Here, in Jesus Christus. Sonder Hom kan gelowiges niks doen nie (Joh.15:5). Die evangelie van Christus is ook “die krag van God tot redding van elkeen wat glo” (Rom.1:16).
Hierdie opdrag is dus in werklikheid: “Kom by Christus uit” of dan “glo met jou hele hart in Hom”.
Christus is die KRAG in jou lewe!
Hy het mens geword vir jou. Hy het jou sonde op Hom geneem. Hy het met jou sonde op Hom in jou plek aan die kruis op Golgota gesterf. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy dood aan die kruis en sy opstanding het Christus die duiwel, die sonde en die dood oorwin en vir ons die nuwe lewe, die ewige lewe verwerf. Hy het alle mag in die hemel en op die aarde ontvang (Mt.28:18). Christus is die Hoof van die heelal en Hy is die Hoof van sy kerk. Hy is jou krag.
Die eerste opdrag is dus: Kom by Christus uit of glo in Hom met alles wat jy het!
Die tweede opdrag kom uit die militere lewe. Die Here beveel dat ons die wapen moet opneem. God gee sekere wapenrusting. Elke Christengelowige moet hierdie wapenrusting deel van jou lewe maak en gebruik.
Wanneer ons by die wapenrusting kom, sal dit duidelik word dat elke deel van die wapenrusting met Christus te doen het.
Ons kan eintlik sê dat Christus ook ons WAPENRUSTING is.
God gee twee baie sterk opdragte in hierdie deel van die Efesiërbrief. Wat is die rede vir hierdie opdragte?
Mens dink gewoonlik aan Christus in terme van vrede en liefde. In hierdie deel van die brief gaan dit oor krag en wapens.
Die rede vir hierdie twee opdragte is:
Christengelowiges is in ‘n hewige geestelike stryd teen bomenslike vyande gewikkel!
“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie” skryf Paulus aan die gemeente in Efese (Ef.6:12).
Die woord vir stryd beteken ‘n geveg tot die dood toe.Elke Christengelowige is dus in ‘n stryd om lewe en dood gewikkel. In hierdie lewe op hierdie aarde bestaan daar vir ‘n Christen nie iets soos ‘n rustige lewe as gelowige lidmaat van ‘n gemeente nie. Inteendeel! Elke Christengelowige is in ‘n hewige geveg, ‘n geveg om lewe en dood gewikkel.
Hierdie geveg is nie teen mense nie.. Hoe dikwels veg ons nie teen mense in die kerk nie. Die mens is nie jou teenstander nie. O nee, ons teenstanders, ons vyande is baie meer gedug as hoeveel mense ookal. Die vyande teen wie ons in hierdie geweldige geveg gewikkel is, is: “…elke mag en gesag, elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, elke bose gees in die lug” (Ef.6:12).
Geen Christengelowige kan beweer jy is nie ‘n vegter nie. Jou vyande gaan jou nie toelaat om rustig jou gang te gaan nie. Indien jy in Christus glo, is jy die teiken van die sondige en bose magte en geeste wat die Here in Ef.6:12 noem.
Vir hierdie geestelike geveg gee God wapenriusting. Hy is alwetend. Hy weet volmaak wat hierdie stryd behels en watter wapenrusting nodig is. Hy gee die wapenrusting. Die volle wapenrusting bestaan uit 6 wapens:
Hierdie wapenrusting is geestelike wapenrusting. Elke ware gelowige het hierdie volle wapenrusting nodig in die geveg teen die duiwel en al sy bose magte. God gee die beste wapenrusting wat volmaak reg is vir hierdie geveg.
Vir hierdie geestelike geveg is ‘n baie bepaalde ingesteldheid noodsaaklik. Sonder hierdie ingesteldheid kan jy nie aan die geestelike geveg deelneem nie. Daarom moet elkeen, moet jy seker maak dat jy hierdie gesindheid het.
Is jy reeds deel van hierdie geestelike geveg of skram jy nog altyd weg van hierdie stryd of het jy nog nooit verstaan waaroor die wapenrusting wat God gee, gaan nie?
Die Here het ons vanoggend in Ef.6:10-20 baie belangrike waarhede oor ons geestelike lewe geleer. Die volgende aantal Sondae gaan ons dieper op die wapenrusting in.
Luister na wat God oor ons geestelike geveg bekend maak.
Maak wat jy by God hoor, jou eie.
As jy nog nie regtig het nie, tree dan toe tot hierdie geestelike geveg.
Indien jy reeds met alles wat jy het, in hierdie geveg is, wees nog meer vasberade en veg met nog groter oorgawe.
Gebruik die wapnrusting wat God gee.
Die mens wat die wapenrusting wat God gee, gebruik, is die mens wat Christus in jou lewe het. Wie Christus in jou lewe het, is reeds verseker van die oorwinning oor die bose. Hierdie oorwinning loop vir elke Christengelowige uit op ‘n lewe in hemelse heerlikheid.
Trek daarom die volle wapenrusting aan wat God gee!