Die boek Daniël bevat die dele van die geskiedenis tydens Daniël se lewe op aarde en ook openbaringe in drome en gesigte oor die toekoms wat die Here aan hom bekend gemaak het.
Daniël het die boek self geskryf. Dit is nie altyd so dat die profeet sy boek self geskryf het nie. Jeremia het byvoorbeeld ‘n skrywer, Barug gehad (Jer.36:2). In die boek Daniël is dit anders. Hy het die boek self geskryf. Hoekom sê ‘n mens so? Daar is verskeie redes waarom Daniël as die skrywer van die boek aanvaar word. Hier is twee:
Dan is dit belangrik om te besef dat Daniël in werklikheid nie ‘n profeet was nie. Hy het die geawe gehad om die Here se wil bekend te maak, veral in die toekoms. Self is hy nie geroep om ‘n profeet te wees nie. In die Hebreeuse Bybel is Daniël se plek ook nie tussen die profete nie, maar by die geskrifte.
Verder het Daniël ook nie vir Juda, die verbondsvolk die Here se Woord vertel en geleer nie. Daniël se werk was in die paleis van ‘n heidense koning waar hy as ‘n baie goeie staatkundige gewerk het. Daar kon hy teenoor heidene getuig dat die Here die enigste ware God is.
Die ballingskap het die verbondsvolk vir altyd verander. Israel, die verbondsvolk het soveel genade van ons Verbondsgod ontvang. Hy het hulle baie keer uit onmoontlike omstandighede verlos – Uit Egipte, by die Rooisee, teen heidense volke in oorloë. Die verbondsvolk het dikwels in ontrou teen die Here gesondig. Gevolglik het die twaalf stamme van Israel in twee geskeur. Die tien stamme in die noorde van die land, sou Israel wees en Juda en Benjamin sou na die skuering as Juda bekend staan. Israel is in die geskiedenis weggevoer en het ophou bestaan. Juda, uit wie die Verlosser gebore sou word, het nog bestaan.
Met die ballingskap het ook Juda se bestaan as verbondsvolk tot ‘n einde gekom om nie weer die verbondsvolk te word, soos in die verlede nie.
Daniël het met die ballingskap in die paleis van koning Nebukadnesar beland. Hy en sy drie vriende het die koning met onderskeiding gedien.
Die Here het aan koning Nebukadnesar en koning Beltsassar openbaringe gegee in drome en gesigte wat hulle nie verstaan het nie. Die Here het Daniël gebruik om aan die konings sy wil in die geskiedenis bekend te maak. Deur sy optrede het Daniël ‘n baie vername pos in die paleis gekry wat hy onder Nebukadnesar, Belsassar en Darius beklee het. Daar in die heidense paleise het Daniël die Here se Woord uitgedra deur sy woorde en sy lewe.
Daniël is in twee tale geskryf. Hfst.1:1-2:4a en 8:1-12:13 is in Hebreeus geskryf. Hfst.2:4b – 7:28 is in Aramees.
Navorsers het nog nie by ‘n klinkklare antwoord uitgekom waarom Daniël in twee tale geskryf het nie.
Daniël bevat geskiedenis en profesie. Die geskiedenis is soos die gebeure werklik plaasgevind het. Die profesie is in ‘n bepaalde styl geskryf. In die teologie noem ons hierdie soort profesie: Apokaliptiese profesie. Dit gaan hoofsaaklik oor die toekoms, kom in geheimsinnige taal en is bedoel om gelowiges te bemoedig wat al lank swaarkry en moedeloos geword het. In die Bybel bevat net Daniël in die Ou Testament en Openbaring in die Nuwe Testament, Apokaliptiese profesie.
Hfst 1 – Die wegvoer na ballingskap en die vier jongmans se eerste jare in die palies
Hfst 2 – Nebukadnesar se droom en die uitleg wat Daniël gegee het
Hfst.3 – Nebukadnesar se beeld en Daniël se drie vriende se geloofsoptrede en redding
Hfst.4 – Nebukadnesar se droom en die vervulling van sy droom toe God hom verneder het tot hy sou erken dat die God van die hemel regeer.
Hfst. 5 – Belsassar se fees en God se oordeel wat ‘n einde aan sy koningskap en lewe gemaak het.
Hfst. 6 – Daniël word omring van vyandigheid wonderbaarlik uit die dood gered
Hfst. 7 – Die gesig van die vier diere en die verklaring daarvan
Hfst. 8 – Die gesig van die skaapram en die bokram en die verklaring daarvan
Hfst. 9 – Daniël se gebed en God se antwoord
Hfst. 10 – Die verskyning van die engel wat van God af gekom het
Hfst. 11 – Die openbaring van die toekoms
Hfst. 12 – Die finale opdrag aan Daniël en die sekerheid oor die ewige toekoms waarmee die boek afsluit
J Nel 20/01/2021