Lees: Genesis 17:1-9
Inleiding: Ons het vanoggend die genade om God se Woord te kan hoor en die doop van ‘n seuntjie te kan beleef. Die Doop gaan oor die genadeverbond. Vanoggend gaan die preek uit God se Woord ook oor die genadeverbond.
Tema: Die doop is die teken wat ons sekerheid gee van God se verbond van genade met ons
God het met ons ‘n verbond van genade
Vanoggend se doop het alles te doen met God se genadeverbond. Ons gaan terug in die geskiedenis na die dag toe die genadeverbond begin het.
Die Here het sy verhouding met Abraham vasgemaak. Die verhouding sal ‘n ewige verbondsverhouding wees. Ons noem hierdie verbond die Here se genadeverbond. Daar is ‘n baie goeie rede hiervoor. Genade is die Here se goedgesindheid sonder dat ek daarvoor gevra het of iets vir die Here kon gee in ruil vir sy goedgesindheid.
Die verbond het net van eenkant af, God se kant gekom. Abraham het nie gevra vir die verbond nie. Wanneer ons terugkyk op die gebeure toe Abraham in Ur gebly het, met Sarai in Egipte en met Hagar, is dit duidelik dat Abraham nie die Here se goedheid verdien het nie. Tenspyte van Abraham se sonde, het die Here ‘n verbond met Abraham gesluit, die genadeverbond.
Dit is nodig dat ons sal vra: Wat is ‘n verbond?
Ons kan sê: ‘n Verbond is ‘n ooreenkoms. Maar, ooreenkoms sê te min. Ooreenkoms is ook nie heeltemal waar nie, want die verbond is nie ‘n ooreenkoms tussen twee partye nie nie. ‘n Baie beter woord wat die verbond baie beter beskryf, is: Testament! Die woord vir verbond in die Nuwe Testament beteken juis “testament”!
Wat beteken die genadeverbond?
Die Here het vir Abraham gesê: “Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag”.
Wanneer die Here met Abraham die genadeverbond sluit, beteken dit Hy neem Abraham in sy ewige testament op. Ons kan sê: Die Here het Abraham as sy kind en erfgenaam in sy testament van die ewige lewe opgeneem. As kind en erfgenaam in God se testament, sou Abraham en sy nageslag vir ewig onder God se sorg, sy liefde en sy genade leef.
Nou ‘n baie belangrike vraag vir elkeen van ons: Is ek ook deel van die genadeverbond?
Hierdie is ‘n lewensbelangrike vraag waarop elke gelowige ‘n antwoord moet hê. God het die verbond met Abraham en sy nageslag gesluit. Abraham en sy nageslag is as kinders en erfgename deel van die genadeverbond. Indien ek deel van Abraham se nageslag is, is ek in die genadeverbond.
Die Here leer ons hierdie lewensbelangrike waarheid in Gal.3:29: “En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God”.
Jesus Christus bring jou in die genadeverbond. Jesus neem al my sonde op Hom. Hy verduur ‘n verskriklike lyding. Hy sterf die pynlikste dood aan die kruis. Deur sy dood aan die kruis, neem Jesus al my sonde voor God weg en maak Hy my syne. Hy staan op die derde dag op uit die dood. Deur sy opstanding gee Hy aan my nuwe lewe, die ewige lewe.
Ek het die Heilige Gees in my. Die Gees gee vir my geloof in Jesus Christus. Hierdie geloof maak my een met Jesus Christus. Ek is syne. Daarom is ek kind en erfgenaam in die verbond van genade, God se ewige testament!
Die doop gee sekerheid van die verbond
Vanoggend se doop is ‘n teken van die verbond van genade. In die Ou Testament was die teken die besnydenis. Dit kry ons verder in Gen.17. By die besnydenis het daar bloed gevloei. Bloed wys op lewe. Die bloed wat gevloei het, het gewys dat ‘n lewe gegee moes word, om ‘n kind en erfgenaam in die genadeverbond te kan wees. Die besnydenis was in werklikheid nog net die belofte, want die seuntjie van agt dae se eie bloed destyds kon tog nie gemaak het dat hy ‘n kind en erfgenaam van God geword het nie, want hy was self sondig.
Jesus Christus het die belofte van die besnydenis waar gemaak toe Hy sy bloed, sy lewe aan die kruis gegee het. In Kol.2:11,12 leer ons dat nadat Jesus sy lewe gegee het, was bloed nie meer nodig nie.
In die plek van die besnydenis met bloed, het Jesus die doop sonder bloed, met water vir ons in die Nuwe Testament gegee. Die doop wys dat Hy ons van al ons sonde skoonmaak.
Elkeen word gedoop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Met hierdie teken gee God die Vader die sekerheid dat Hy my as sy kind en erfgenaam aangeneem het en vir my sal sorg in goeie en swaar tye. Jesus, God se Seun gee vir my die sekerheid dat Hy my van al my sonde skoongewas het en aan my die nuwe lewe gegee het. Die Heilige Gees gee aan my die sekerheid dat Hy in my leef en my sal lei en help om as nuwe verloste gelowige in die genadeverbond te leef, tot ek saam met al die gelowiges in die hemel by God sal wees.
Ons kan sê: Die doop vanoggend gee sekerheid van die verbond van genade – sekerheid vir ouers wie hulle kind laat doop het, wanneer hy dit kan verstaan ook sekerheid aan hierdie seuntjie wat vanoggend gedoop is, sekerheid vir elkeen van ons wat aan Jesus Christus ons Verlosser behoort..
Die sekerheid in die genadeverbond, is dat die Here my God is. Ek leef oral en altyd onder sy sorg, sy liefde en sy genade.
Oral en atyd kan ek seker wees dat die Here my God is
Hierdie seuntjie wat vanoggend gedoop is, elkeen van ons leef in ‘n sondige en stukkende omgewing, ‘n sondige en stukkende land en wêreld.
Abraham moes uit sy bekende omgewing die onbekende in. Sy nuwe omgewing was onbekend, maar hy het met die sekerheid geleef dat die Here sy God is.
‘n Kind op skool in die genadeverbond wat met ‘n boelie te doen kry en bang is om skool toe te gaan, het die Here as God en leef onder sy sorg. Hy sal uitkoms gee in ‘n ouer of onderwyser na wie so ‘n bang kind kan gaan.
Jongmense wat groot en ernstige beroepskeuses moet maak, en wonder watter keuse die regte een is, het die Here as God en leef onder sy sorg. Hy sal die pad vorentoe wys.
Ons leef in ‘n vreemde tyd met ‘n gevaarlike virus. Dit is asof covid-19 al nader aan ons beweeg. Wanneer ek bang en onseker voel oor die virus, wanneer ek self of iemand naby aan my siek geword het, en ek nie weet wat gaan gebeur nie, is die Here my God. Ek leef onder sy sorg.
Daar is ook ander baie gevaarlike omstandighede: Kanker, ernstige hartprobleme, die misdadiger met sy geweld, en nog meer. Onder elke moeilike omstandigheid, is die Here my God en leef ek onder sy sorg.
Dan, my sonde. Elkeen van ons het sonde in wat ons dink en sê en doen. Ons het sonde in alles wat ons nie doen nie, terwyl die Here dit van ons verwag. In die genadeverbond sal sonde nie my lewe oorheers en my van God wegtrek nie. Omdat Jesus vir my gesterf het, is daar altyd vergifnis by God. Die Heilige Gees in my, gee my die krag om met sonde te breek en daarmee op te hou.
‘n Slotwoord: Ek weet, want die Here sê self so dat Hy my God is en die band met Hom is so sterk, dat niks en niemand my ooit van Hom sal kan wegruk nie.
Leef dan in die genadeverbond deur die Heilige Gees met hierdie sekerheid onder elke omstandigheid.
Doopbediening