ONTMOETING
Votum: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.47:1,4
Geloofsbelydenis: Nicea
Sang: Ps.9:1,5,7
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.40:4
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.59:1,5,10
Lees: Openbaring 12:1-18
Kernvers: Op.12:17
Tema: Die duiwel se woede teen Jesus Christus se kerk
Sang: Ps.47:1,4; Ps.9:1,5,7; Ps.40:4; Ps.59:1,5,10; Ps.42:1,3,5; Sb.5-4/10:2,3,5,6
Inleiding
Waarna het ons tot dusver in Openbaring geluister?
God het wat gaan gebeur, bekendgemaak.
Jesus Christus het eers met sy kerk gepraat oor wat reg en verkeerd in sy kerk is.
Die sewe seëls het gewys dat God deur die gekruisigde Jesus die wêreldgeskiedenis regeer.
Die sewe trompette was die oordele van God oor die bewoners van die aarde.
Vanoggend begin ons met 12 tot 14, die deel oor die stryd tussen Christus se kerk en die bose.
Op.12 sal vir ons wys hoe nodig ons nagmaal het, wat ons, as die Here wil, volgende naweek vier.
Tema: Die duiwel se woede teen Jesus Christus se kerk
Die wonder van Jesus Christus se kerk
Jesus het vir Johannes ‘n groot teken in die hemel gewys. Die teken is groot wat beteken dat dit oorweldigend is en baie belangrik is. Johannes ‘n vrou gesien. Sy was met die son aangetrek. Die son het soos ‘n kleed om haar gehang. Die maan was onder haar voete. Op haar kop was ‘n kroon van twaalf sterre. Die vrou is ver swanger, op die punt om geboorte te gee. Die pyne wat ‘n vrou met die geboorte van ‘n kind beleef, het sy reeds gehad.
Twee vrae is hier nodig. Wat beteken die teken? Wie is die vrou?
Dat die vrou die son as kleed om haar gehad het, wys op haar hoogheid en haar belangrike herkoms. Dat die maan onder haar voete is, wys dat sy baie mag het, selfs regeermag het. Die kroon wys sy oorwin.
Hierdie teken neem ons terug tot by die eerste boek van die Bybel en wel Gen.3. God het na die sondeval ‘n belofte gemaak dat Een uit die nageslag van die vrou uiteindelik gebore sou word en die duiwel oorwin. Deur die Ou Testament herhaal die Here hierdie belofte van Hom in byvoorbeeld –
7:14 – ‘n Maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring.
23:5 – “Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat ek vir Dawid ‘n regverdige spruit sal laat opskiet...”
Hierdie drie dinge is belangrik –
Die vrou het ‘n hoë en belangrike herkoms.
Sy het die mag om te regeer.
Sy behaal die oorwinning.
Met hierdie dele van die teken bekend, kom ons by die vraag: Wie is die vrou? Die eerste waaraan ‘n mens seker dink, is Maria wat aan Jesus geboorte gee. Nie een van die drie betekenisse van die teken pas by Maria nie.
Die vrou is die kerk van die Ou Testament en die Nuwe Testament –
Die kerk kom van die Here af en het ‘n hoë en belangrike herkoms.
Die kerk se regeermag is in die boodskap wat die kerk vir die wêreld gee. Die boodskap is die Evangelie van Jesus Christus wat ‘n krag is tot redding vir elkeen wat glo (Rom.1:16).
Die oorwinning van die kerk is die ewige saligheid wat die kerk reeds het, maar wat volmaak sal word met Jesus se wederkoms.
Deur die hele Ou Testament is die Verlosser wat moes kom, verwag. In die begin van die Nuwe Testament het Johannes die Doper die verbondsvolk voorberei vir die koms van die Kind. Maria was die vrou in die verbondsvolk, die kerk, kan ons sê, in God die Vader se diens, om aan sy Seun geboorte te gee, sodat sy Seun mens kon word.
Hoe dink ek oor die kerk, oor ons gemeente? Die goed en die mooi van ons gemeente lê nie in die mooi gebou of die groot terrein nie. Ons moet anders oor ons gemeente dink.
Ook ons gemeente, elkeen van ons kom van die Here af. Ons het ‘n belangrike herkoms.
Ons gemeente het regeermag. Ons besit die Evangelie van Jesus Christus.
Ons is deur Jesus verlos om ewig salig te word.
Terwyl die wêreld sukkel, het die kerk die wonder van Jesus Christus in ons lewe met ons wat ewig aan Hom, die Seun van God behoort. Ons kan regtig praat van die wonder van Jesus Christus se kerk.
Die Verlosser van sy kerk
In Op.12:5 sien Johannes die teken van Jesus se geboorte, sy hemelvaart en hoe Hy alles vanuit die hemel regeer.
Satan kon Jesus se geboorte nie keer nie. In Palestina het Jesus Jode in Hom laat glo, onder andere ook die amptenaar in diens van die Romeinse regering, die Samaritaanse vrou en ook die ander Samaritane. Deur wat Hy gesê en gedoen het, het Jesus Christus, die Verlosser wat God gestuur het, nasies tydens sy lewe op aarde regeer.
Na sy dood en opstanding het Jesus na die hemel opgevaar. Vanuit die hemel het Hy en sy Vader die Heilige Gees gestuur. Deur die Heilige Gees wat met die Evangelie werk, het mense in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die uithoeke van die aarde in Jesus geglo, tot bekering gekom en Hom gedien en gevolg.
Die duiwel se oorlog teen Christus se kerk
Johannes het ‘n ander teken in die hemel gesien verskyn. Groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings. Op sy koppe sewe krone. Sy stert het ‘n derde van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het voor die vrou gaan staan wat op die punt was om aan ‘n kind geboorte te gee. Hy wou haar kind verslind, sodra sy hom in die wêreld bring.
Die draak is beeld van die duiwel. Die beeld beteken Satan is magtig. ‘n Derde van die engele volg hom.
Sewe koppe en tien horings is beeld van sy mag op die aarde. Sewe en tien is volheidsgetalle. Die sewe krone wys dat hy ook regeer. Jesus noem Satan die owerste van hierdie wêreld (Joh.16:11).
Die draak gaan staan voor die vrou. Dit lyk of die draak die oorhand gaan hê. Die vrou is nie die draak se eintlike teiken nie. Die draak het sy oog op die kind wat op die punt is om gebore te word.
Die Satan het in die geskiedenis bedoel om om die Verlosser wat gebore sou word aan die hakskeen te byt. Daardie woorde van die Here daar in Gen.3:15 was ‘n beeld om die vyandskap tussen Satan en die saad van die vrou te beskryf. Hier in Openbaring sien ons Satan wou die nageslag van die vrou ten alle koste verhoed om geboorte te gee, dat haar kind die verlossingswerk kon doen. Hy het alles in sy vermoë gedoen om die verlossing van sondaars te keer. Kyk na die maniere wat die Satan gebruik het. –
Herodus – Nadat die wyse manne uit die Ooste hom van die nuwe koning vertel het, het hy sy planne gereed gemaak om die nuwe koning om die lewe te bring. Toe hy agtergekom het die wyse manne nie sou terugkom om hom te vertel waar die nuwe koning hom bevind het nie, het hy al die seuntjies wat in daardie tyd gebore is, laat doodmaak.
Nadat sy heidense werktuie nie kon slaag nie, het die Satan direk tot die stryd toegetree. Jesus is deur die Heilige Gees woestyn toe gelei. Satan het Jesus daar drie keer op die listigste manier versoek. Hy het heeltemal misluk en moes uiteindelik van Jesus af weggaan (Mt.4:1-11).
Die duiwel het nie opgehou nie. Petrus wat dikwels as die leier van die dissipels opgetree het en namens hulle gepraat het, het toe Jesus hulle op ‘n keer van sy lyding, dood en opstanding vertel het, Jesus eenkant geroep en Jesus tereggewys met hierdie woorde: “Mag God dit verhoed! Dit sal beslis nie met U gebeur nie!” (Mt.16:22). Petrus se woorde was die Satan wat in hom gewerk het om Jesus se kruisiging te probeer keer.
Die Joodse leiers het ook keer op keer probeer om Jesus met allerhande gesprekke en strikvrae oor baie moeilike sake te verkleineer voor die mense, sodat hulle kon ophou om in Hom te glo.
Die heidense Romeinse regter Pontius Pilatus, het Jesus onskuldig bevind, maar Hom tog oorgee om gedood te word om ‘n einde aan die lastige situasie met Jesus te maak.
In hierdie deel van die teken wat Johannes gesien het, het ons die oorlog van die Satan teen Jesus Christus, die Verlosser en Hoof van sy kerk.
In die teken het Johannes ook die woede en die oorlog van Satan teen Jesus Christus se kerk gesien.
Op.12:6 kry ons die volgende: Die vrou het na die woestyn gevlug. Hier het ons die kerk van die Nuwe Testament, die kerk na Jesus se geboorte.
In die woestyn is dit droog en warm en swaar om te leef. Die woestyn is beeld van die sondige en vyandige aarde waarop die kerk leef. Hier op aarde hou die Satan met sy boosheid, listigheid en woede teen Christus en sy kerk nie op om die kerk aan te val nie. Die sondige wêreld doen alles moontlik om die kerk van Jesus Christus en van God weg te lei. Elke Christengelowige se eie sondige swakheid maak dat die kerk swaarkry in die stryd teen sonde hier op aarde.
Maar die kerk is nie sommer net op aarde nie. God wil sy kerk op aarde hê. Op hierdie plek en in hierdie lewe wil God Christengelowiges hê wat Hom liefhet, Hom gehoorsaam, Hom in hulle lewe soek en Hom dien. So kry God die eer en bied gelowiges weerstand teen die groot vyand van God en elke Christengelowige, Satan.
Die duisend-tweehonderd-en-sestig dae wat die vrou versorg is, is die tyd tussen Jesus se geboorte en sy wederkoms.
Die gekruisigde Jesus is sy kerk se behoud
Wanneer Satan misluk, verskerp sy aanvalle teen God en almal wat aan God behoort. Johannes sien ‘n oorlog in die hemel (Op.12:7-12). Ons wat hier op aarde is sal min van hierdie geestelike oorlog weet. Johannes sien die stryd tussen Christus en sy kerk en die Satan vanuit die hemel.
Onder aanvoering van Migael, een van die leiers van die engele het die hemelse leër van engele teen Satan en sy magte geveg en oorwin. Die aanval teen die hemel is afgeweer.
Na Jesus alles aan die kruis volbring het, was daar nie meer plek vir die Satan in die hemel nie. Hy en sy sondige engele is saam met hom op die aarde neergegooi. Nou is hy hier op aarde soos ‘n brullende leeu wat almal wat aan God behoort, wil verslind. Kyk na die name wat hy genoem word –
Draak – die een wat die kerk wil doodmaak.
Die slang van ouds – hy is listig met allerhande planne teen die kerk.
Duiwel – die Griekse naam is diabolos. Die naam beteken hy is die beskuldiger van almal wat aan God behoort.
Satan – Hy is die teenstander, die vyand van God en elkeen wat in God glo.
Johannes het toe ‘n groot stem in die hemel gehoor. Die stem is al die salige gelowiges wat erken en getuig dat God redding gebring het deur Jesus Christus. Hy het die duiwel deur sy dood en opstanding oorwin.
Daar is vreugde in die hemel, want eens en vir altyd is die duiwel uit die hemel gegooi.
Op aarde sal dit nog swaar gaan. Die duiwel is woedend omdat hy die hemelse oorlog verloor het en sy tyd min is.
In Op.12:13-16 lees ons: Nadat die Satan die hemel probeer aanval het, en heeltemal misluk het, het hy hom op die aarde en Jesus Christus se kerk toegespits.
Hy het die vrou agtervolg. Ons sien hierdie in die Nuwe Testament. Na die koms van die Heilige Gees het die duiwel sy agente gebruik –
Die apostels is in die gevangenis gegooi om hulle te dwing om op te hou oor Jesus Christus te praat en te getuig.
Stefanus word met klippe doodgegooi (Ha.7).
Paulus word fisies aangeval. In die eerste eeu na Christus word die Christene swaar vervolg.
Maar, die vrou kry twee vlerke van ‘n groot arend om na haar plek kon vlug. By haar plek, steeds in die woestyn, word die kerk versorg vir die vasgestelde tyd, dit is ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd. Hierdie woorde wys ook na Jesus se koms tot sy wederkoms.
Waar is die kerk se plek op aarde?
“En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (Mt.28:20).
“My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nie verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (Joh.10:27,28).
Die kerk se plek op aarde is by Jesus Christus, ons Verlosser, toegevou in sy liefde vir ons. By Jesus is elke Christengelowige ewig veilig teen die Satan.
Die stroom water wat die slang uitgegooi het, is die aardse lewe met sy verleidelikheid van byvoorbeeld rykdom wat mens kan wegtrek van God af, of met sy besige lewe wat al jou tyd in beslag neem, sodat daar nie tyd vir God is nie.
Die aarde wat die water insluk is dit wat God hier op aarde voorsien – sy Woord wat gelees en gehoor word, sy kerk, Sondag, ‘n erediens, preke uit sy Woord, Nagmaal. God voorsien al hierdie om ons teen die Satan te beskerm. Elkeen vanons het hierdie beskerming nodig!
Die duiwel is woedend vir die vrou en maak oorlog teen haar “ander nakomelinge”, dit is elke enkele Christengelowige. Hy maak oorlog teen elkeen. Wie aan die getuienis van Jesus Christus, dit is sy kruisiging en opstanding waardeur ons vergifnis, verlossing en vryspraak kry vashou en God se gebooie bewaar word deur Satan aangeval. Elkeen van ons moet dit besef.
Maar…. juis Jesus Christus en ‘n lewe naby God, is die kerk, ons gemeente, elke enkele gelowige se behoud. Met nagmaal gee die Heilige Gees ons hierdie sekerheid.
ANTWOORD
Sang: Ps.42:1,3,5
Gebed
Sang: Sb.5-4/10:2,3,5,6
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding veskryn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen