Die evangelie van groot beloning
Ons teks lees:
“Hierna het die woord van die Here in ‘n gesig na Abram gekom: ‘Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees‘.”
God kom altyd eerste na die mens. Dit is Hy wat kontak maak. Dit is Hy wat in ‘n gesig na Abram neerdaal.
Die “gesig” beteken dat God in iets soos ‘n visioen na Abram gekom het. Deur die gesig openbaar God Homself – maak Hy dinge bekend wat Abram nooit self kon uitdink of fantaseer nie. Wat hierna volg is wat suiwer van die Here self af kom.
Na ons daal God neer deur sy Woord en Gees. Wanneer ons aan Hom dink, is dit omdat Hy deur sy Gees eerste aan ons gedink het. Ons gebede, kerkbesoek, oopmaak van die Bybel is ons respons op die inwerking van God se Gees in ons.
Hierdie toenadering van God het ‘n heilige doel. Hy doen niks sonder ‘n baie goeie rede nie. Hier in Genesis 15 is God se doel om Abram (en saam met hom alle gelowiges) te verseker dat:
1. Abram (en ons) niks te vrees het nie.
Waarom nie? Wel, God is in beheer en Hy beskerm Abram in die vreemde. Geen vyand of demoon sal aan Abram kan raak sonder God se wil of toelating nie – soos byvoorbeeld in die geval van Job.
Daar is net een wat ons moet vrees en dit is God self. Vrees jy Hom dan verdwyn alle ander vrees.
Dit was waarom die vriende van Daniël nie die vuuroond van Nebukadnesar gevrees het nie. Waarom nie? Hulle het oneindig groter vrees vir die ewige hel gehad!
Dus: liewer ongehoorsaam aan Nebukadnesar as aan God.
2. Abram (en ons) ‘n baie groot beloning sal ontvang.
Ons ken almal die evangelie van die groot genade. Maar ken u ook die evangelie van die groot beloning? Dink maar net aan die volgende:
* Aan Abram: “Jou beloning sal baie groot wees.”
* In Matteus 19 vra die dissipels wat daar vir hulle sal wees omdat hulle alles verlaat het om Jesus te volg. Dan
antwoord Hy:
“Elkeen wat ter wille van my … sal ‘n honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe as erfenis kry.“
* “Wees bly … want vir julle is daar groot beloning in die hemel“
* ” … julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ‘n groot beloning wees …”.
* “Julle geloofsvertroue moet julle nie prysgee nie: dit hou groot beloning in”.
* Paulus skryf in 2 Tim 4: ” …ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my …”.
Laat ons sommer dadelik sê dat dit nie die teenoorsgestelde is nie, maar dieselfde evangelie. Beloning deur God kan net uit genade geskied (vgl HK antwoord 63). Ongevraagd kry Abram dus hierdie gesig waarin hy onverdiend en onverwags ryke en heerlike versekerings ontvang.
God het al in Genesis 12 by sy roeping aan Abram belowe dat ‘n groot nasie uit hom sou voortkom. Nou ‘n paar jaar later het hy nog steeds geen kind nie. Abram begin aanvaar dat Eliëser van Damaskus al sy besittings sal erf.
Dan neem die Here Abram na buite en laat hom opkyk na die sterre. As Abram aan ander volke dink, dan sien hy die magdom sterre. Maar as hy aan sy eie nageslag dink, sien hy niks – net ‘n leë donker hemelruim.
Daar buite met die skoon oop sterrehemel voor Abram lei God hom tot die korrekte verstaan van sy belofte. Jou nageslag, Abram, sal nie soos ‘n donker leë hemelruim lyk nie, maar so vol sterre wees soos wat jy nou daar sien. Want jou God dink baie groot oor jou en jou nageslag. Jou nageslag gaan nog ‘n enorme rol onder die mensdom speel. En jou naam sal op aarde verewig word. Jy, Abram gaan die vader van die gelowiges (Christendom) word. Ja, selfs die vader van die Moslems (deur Ismael). Miljoene der miljoene gaan uit jou voortkom.
Baie min van ons dink dat God iets vir ons besonders beplan het. Die verste wat die meeste van ons sal gaan is om te aanvaar dat ons wel die ewige lewe sal ontvang. Maar meer as dit en groter as dit dink ons nooit.
Wat ons ander verkeerd verstaan is dat ons (soos Abram) die vervulling dadelik wil sien. God moet vanjaar nog of ten minste in die volgende dekade my groot dinge laat ervaar. En omdat ons hier vlak naby kyk (in terme van ‘n jaar of tien jaar) kan en sal ons nooit baie-baie groot kan dink nie. Want wie van ons verwag nou werklik iets enorm in ‘n paar jaar?
Ons eintlike probleem is dat ons (soos Abram) nie verder as hierdie lewe kan dink nie. Die dood is vir ons ‘n finaliteit, die einde van ons aardse pad. As ek eers gesterf het kan niks verder bereik word nie.
In Abram se geval is 99.9 % eers bereik na sy dood. As ons praat oor beloning (oor wat bereik is) sal ons liewer baie min moet sê oor Abram se nageslag, nie waar. Uit Abram het twee takke gespruit:
* dié een was die Jode wat Jesus gekruisig en verwerp het, en
* die ander die Moslems wat oorlog teen sy bruid voer.
As ons dus oor Abram se beloning praat sal ons aan Jesus Christus allereers moet dink en daarmee saam aan Abram se rol in die hemel.
Al sou u ‘n honderd jaar oud word, is dit min teenoor die eeue wat gaan volg en ‘n miljoenste teenoor ewigheid. Dit spreek dus vanself dat jou beloning (of wat jy hier kan vermag) ‘n nietigheid is teenoor wat nog voorlê. Die Bybel gee ons ‘n kykie is ons uniekheid en in dit wat op ons wag, byvoorbeeld:
* Jy is na die beeld en gelykenis van God geskape. Daarvan sien ons nou, na die sondeval, baie min. Eers in en deur Christus sal dit weer volkome herstel word.
* Ons is geskape om te heers …
Abram kon nie iets konkreets of tasbaar dadelik uit God se hand ontvang en daarvoor dankie sê nie, want 99% van die beloftes het in die verre toekoms gelê.
Die enigste manier om dankie te sê was om te glo. Daar staan: “Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het” (’83 vertaling). In die ’53 vertaling “… En Hy het dit hom tot geregtigheid gereken.”
Die “glo” van Abram was veel dieper as wat ons dink, want die Skrif sê dat God die geloof van Abram goed of reg, korrek, en aanvaarbaar gevind het.
Geloof is in wese vertroue in God. En die vertroue is weer gebou op kennis van, asook lojaliteit, oorgawe en liefde tot God met alles wat ons het.
So kan u en ek ook alleen antwoord op die ryke beloftes en toeseggings van God. Die groot belonings, wat Hy ons wil skenk, kan ons net in geloof aanvaar.
Amen