Home Preke Die ewige Regeerder van die wêreld

Die ewige Regeerder van die wêreld

Datum: 2022-05-01
|
Kernverse: Op.11:15

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid een vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.149:1,4

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Sb.12-3:1,2

VEROOTOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 40

Antwoord op die Wet: Ps.86:6

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Sb.18-1:4,6

Lees: Openbaring 11:15-19

Kernvers: Op.11:15

Tema: Die ewige Regeerder van die wêreld

Sang: Ps.149:1,4; Sb.12-3:1,2; Ps.86:6; Sb.18-1:4,6; Sb.18-7:1,2; Sb.18-7:3,11,12

Inleiding:

Vanoggend is ons by die sewende engel wat op die sewende trompet blaas. Soos elke keer eindig die reeks gesigte wat Johannes gesien het en neergeskryf het, by Jesus Christus se wederkoms. Met die blaas van die sewende en laaste trompet is ons weer by Jesus Christus se wederkoms.

Tema: Die ewige Regeerder van die wêreld

  1. Die sekerheid en finaliteit van Jesus se wederkoms

In hierdie deel is ons by die sewende engel wat die sewende trompet blaas. Hierdie trompette het te doen met die oordele van God oor die bewoners van die aarde.

Met die blaas van die sewende trompet, sien Johannes nie dadelik die verwoesting van die aarde en sy mense soos in die eerste ses trompette wat die engele geblaas het nie! Hierdie trompet wys op die wederkoms van Jesus Christus. In Afrikaans kom mens dit nie so agter nie, maar in Grieks kan mens dadelik lees presies wat die skrywer bedoel, daarom is dit nodig om hieroor in ‘n preek te praat.

Met die manier van skryf, kan mens baie leer. Johannes het hierdie woorde geskryf  om te beklemtoon dat die engel werklik op sy trompet geblaas het.  Die engel met die sewende trompet is ‘n beeld. Die betekenis van die beeld lê nie in die engel of die trompet nie, maar in wat die blaas van die sewende trompet beteken. Met hierdie trompet word die wederkoms van Jesus Christus aangekondig. Sy wederkoms is ‘n werklikheid. Johannes beklemtoon hierdie belangrike waarheid.

Ons bely elke Sondag dat Jesus weer sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. Ons het nodig om te besef wat ons bely. Ek kan nie in die erediens bely dat Jesus Christus weer kom, maar nie in my hart daardeur geraak wees nie. Hierdie belydenis behoort vas en seker in my hart te leef.

Dat Jesus Christus weer kom, is ‘n baie duidelike en baie ernstige waarheid in die Bybel. Maar vir hierdie finale geweldige gebeurtenis wat die hemel en die aarde soos hulle nou bestaan, vir ewig gaan verander, gaan die mensdom glad nie gereed wees nie. Soveel keer wys God ons in sy Woord hierop.

Die sekerheid dat Jesus Christus weer kom, bring elkeen voor die vraag: Is ek gereed vir my Verlosser se koms?

  1. Almal sal sien en weet dat God ewig regeer

Johannes het groot stemme het in die hemel hoor sê. Ons kan sê dit is ‘n hemelse stemmekoor wat praat.

Wie is die stemme? Hierdie gesig wat Johannes gesienhet, is ‘n gesig na Jesus se wederkoms waar Hy alles tot ‘n einde gebring het en nuutgemaak het. Hierdie stemme is almal in die hemel by God.

Wat sê hulle?

Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde” – In die Grieks is dit so geskryf dat dit werklik gebeur het. Die koninkryke van die wêreld het reeds regtig die Here se eiendom geword. Hy, die almagtige God, regeer die ganse wêreld. Hy is nou reeds die Regeerder. Met Jesus se wederkoms sal dit vir almal duidelik word.

Elkeen van ons het nodig om goed na te dink oor wat ons hier lees en die woorde waarna ons luister. Wanneer Jesus gekom het, is daar geen land, regering, koning, president meer nie. God is dan die Alleenregeerder van hemel en aarde. Die koninkryke behoort aan die Here en sy Gesalfde. Die Gesalfde is sy Seun, wat Hy as Verlosser gestuur het, Jesus die gekruisigde, wat opgestaan het.

Almal wat op die aarde soveel eer vir hulleself ingepalm het, omdat hulle gedink het hulle beklee hierdie hoë posisies en almal wat soveel eer aan die hooggeplaastes in hierdie lewe  gegee het, sal met Jesus se wederkoms in ‘n diep verknorsing wees.

Waarom so? Elke regeerder van ‘n land op aarde was eintlik in diens van God, maar by verre die oorgrote meerderheid wêreldleiers het hierdie waarheid nooit besef nie. Elke onderdaan wat nie die hooggeplaaste in mense se oë so belangrik moes ag nie, maar wel het,  sal daardie dag ‘n baie groot probleem hê.

Elke leier in die wêreld sal daardie dag besef indien jy nie in jou werk die allerhoogste God bo alles en almal gedien het nie, jou lewe eintlik tevergeefs was en ‘n gejaag na wind. Elke onderdaan wat die leiers en regeerders so op trone geplaas het en vertroue in hulle gestel het, en nie in God nie, sal besef hoe tevergeefs daardie lewe en manier van dink was.

Aan die anderkant sal daar die mense wees wat God geken het as die Vader van Jesus Christus wat sy eie Seun opgeoffer het vir nietige sondaars. Hierdie mense, wat in Jesus Christus wat gerkuisig is en opgestaan het, geglo het, sal sal daardie dag baie bly en baie dankbaar wees om so in die hemel by die Here te wees.

Hulle is die gelowiges wat hulle lewe deur met gelowige harte tydens eredienste liedere oor God wat regeer gesing het:

Ps.47“Psalmsing tot Gods eer! Weet dat Hy regeer..”

Ps.99“God die Heer, regeer. Beef o volke, eer, eer die God wat troon, waar die gérubs woon.”

Ps.145“U Naam, o Heer, so hoog in heerlikheid, wil ek verhef vir ewig en altyd..”

 Hierdie Psalms en daar is meer is bekend. Ons sing hierdie woorde tydens soveel eredienste in ons leeftyd. Maak seker jy sing hierdie woorde met ‘n gelowige hart, wat nou reeds vas en seker glo, dat God deur Jesus Christus die ganse wêreld regeer. Ons gaan juis binnekort die woorde van Op.21 sing – “Lokkend staan die poorte oop” en “Daar sal in die heiligdom niemand wat die kwaad bedrywe ooit of immer binnekom”. Sing hierdie woorde deur die Heilige Gees met ‘n hart wat vas en seker glo wat jy sing.

  1. Daar is genade en lewe vir wie in God geglo het

In vs 16 tot 18 is die vier-en-twintig ouderlinge wat op hulle trone voor God gesit het aan die woord. Johannes het gesien hoe die ouderlinge voor God gekniel het met hulle gesigte na die grond toe. Hulle het God aanbid. Wat Johannes hulle hoor sê het, was hulle gebed.

Die vier-en-twintig ouderlinge het ons reeds in Op.4 teëgekom. Hulle is die verteenwoordigers van Jesus Christus se kerk. Johannes het dus in werklikheid die kerk van Christus gesien en gehoor bid.

  • Die ouderlinge se gebed was ‘n dankgebed dat God as die allerhoogste Regeerde oor alles en almal heers.

  • Die wêreldnasies wat met woede teen Christus en sy kerk, die Christengelowiges baie swaar laat kry het, kry met Jesus Christus se wederkoms met God se heilige oordeel te doen. Die kerk het gehoor en geglo dat Jesus weer sal kom en erken in die gebed dat die tyd aangebreek het.

  • Die profete wat God gedien het en vir soveel jare, vir soveel mense , soveel keer gesê het: Hoor die woord van die Here en so sê die Here sal van die Here hulle hemelse loon ontvang. Saam met die profete sal die Here ook vir al die gelowiges wat Hom gevrees het, dit is wat met die grootste ontsag na sy wil gevra het en sy wil gedoen het, ook hulle hemelse loon ontvang. Hierdie hemelse loon, is die erfdeel wat God beloof het en deur al die eeue en eeue bewaar het vir elke kind en erfgenaam in sy genadeverbond. Met Jesus se wederkoms gee sy kerk aan God al die lof en die eer vir hierdie genade om in die hemel te mag wees.

In vs 19 het Johannes God se tempel sien oopgaan. Hy kon die verbondsark sien. Hierdie gesig het ‘n baie spesiale betekenis.

So baie keer lees en hoor ons in Openbaring die taal van die Ou Testament. Dat die Here vir Johannes soveel beelde uit die Ou Testament gewys het en Johannes dit laat neerskryf het vir ons om te lees, wys hoe belangrik die Ou Testament is en tot met Jesus se wederkoms steeds sal wees.

Wat beteken hierdie beeld van die tempel en die ark?

Die verbondsark het in die allerheiligste deel van die tempel op aarde gestaan. Net die hoëpriester kon in die allerheiligste deel van die tempel ingaan om ‘n offer vir sy eie sonde en die verbondsvolk se sonde te bring. Dat die tempel oopgaan en Johannes die verbondsark in die allerheiligste deel van die tempel kan sien, wys dat die gelowiges in die teenwoordigheid van die heilige God is. Met Jesus se wederkoms sal al die gelowiges, elke enkele een wat aan Hom behoort, by God wees en God sal by sy gelowiges wees om in ewigheid heilig te wees en te leef.

Hier is dit belangrik om te besef die wonder en die heerlikheid van die hemel is nie om net ewig vry van die aardse probleme en leed wat so deel van elke mens se lewe was, te wees nie. Die wonder en die heerlikheid van die hemel is om by die allerhoogste God, ons Vader en by Jesus Christus, ons Verlosser te wees.

Die dag toe ek gedoop is in die Naam van die Heilige Gees, het die Heilige Gees my die teken gegee om aan te dink en aan vas te hou. My doop is die teken dat ek aan die einde van die tyd, saam met die gemeente van gelowiges wat aan Jesus Christus behoort, by God in die hemel sal wees.

Johannes het hierdie sekerheid gesien en deur die Heilige Gees neergeskryf. Ek kan in Op 11:19 van hierdie sekerheid lees.

  1. Die Here se ewige oordeel vir die wat ongelowig gebly het

Dwarsdeur die Bybel leer God ons dat Hy die mensdom in twee groepe van mekaar skei. Die een groep is die gelowiges wat Jesus Christus met sy dood aan die kruis en sy opstanding uit die graf verlos het. Hierdie groep het die Heilige Gees ontvang en het met ‘n ware geloof in Jesus Christus as enigste Verlosser geleef.

Van die ander groep mense lees ons ook in Op.15:11-19.

In vs 18 leer ons van hierdie mense, die bewoners van die aarde waarvan die arend in Op.8 geskree het. Die bewoners van die aarde, ook genoem die nasies, het met woede teenoor Christus en sy kerk geleef. Ons het in vorige hoofstukke reeds gesien hoeveel leed die nasies Christus se kerk aandoen in die verloop van die geskiedenis.

Die nasies het met sulke woede opgetree, omdat hulle God nie geken het nie, en gedink het hulle is in beheer van die wêreldgeskiedenis. Met hierdie gedagte dat hulle die geskiedenis beheer, het die nasies mag misbruik en Christus se kerk baie swaar laat kry en baie gelowiges selfs doodgemaak.

Aan die einde loop hierdie nasies hulle teen die allerhoogste, heilige God se ewige oordeel vas.

Ons lees aan die einde van vs 18 dat die wat die aarde vernietig, self vernietig word. Die Heilige Gees het Johannes hierdie woorde op ‘n bepaalde manier laat skryf.

Die nasies het die aarde aanhou vernietig. Daar was nie ‘n tyd dat die bewoners van die aarde met hulle sondige manier van leef nie die aarde vernietig het nie. Die nasies is in ons tyd steeds met hierdie vernietiging besig. Hoe? Kerkgeboue word aan die brand gesteek. Bybels word verbrand. Christene word vervolg en doodgemaak.

Wanneer Jesus weer kom, vernietig Hy die nasies. Hierdie woord, vernietig, is so geskryf dat elkeen wat lees, moet weet dat dit regtig gaan gebeur. Johannes het dit ook reeds gesien gebeur in die gesig wat die Here Jesus hom gewys het. Jesus Christus, die hemelse Regter aan die einde van die tyd, vernietig die nasies. Hy stuur hulle van Hom af weg die ewige verderf, die poel van vuur, die hel in om daar in ewigheid onder God se verskriklike oordeel te wees.

Met die wederkoms van Jesus Christus, kom die wêreld en sy geskiedenis tot ‘n einde.

Die einde van die wêreld is vir die gelowiges  begin van ewige hemelse heerlikheid by God ons Vader en Jesus Christus ons Verlosser.

Die einde is vir die bewoners van die aarde, die nasies wat nie aan God behoort het nie en nie in Hom belanggestel het nie, die begin van ‘n lewe onder die verskriklike en ewige oordeel van God.

Hier is die woorde in die begin van Openbaring so belangrik: “Salig is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby” (Op.1:3).

ANTWOORD

Sang: Sb.18-7:1,2

Gebed

Sang: Sb.18-7:3,11,12

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.