ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.118:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 43
Sang: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.66:1,2
Lees: Openbaring 17
Kernvers: Op.17:14
Tema: Die geestelike oorlog en die wat daarna by Jesus Christus sal wees
Sang: Ps.118:1,2; Ps.71:9; Ps. 86:6; Ps.66:1,2; Ps.66:3,4; Sb.10-2/59
Inleiding:
Soos ‘n mens Openbaring lees, word die stryd tussen lig en duisternis, tussen Christus en die antichris en sy magte al hewiger en al erger. Jesus Christus se kerk, ons gemeentes, is binne-in hierdie stryd. Daar is net Een wat kan help: Jesus Christus ons Verlosser en Here!
Tema: Die geestelike oorlog en dié wat daarna by Jesus Christus sal wees
Jesus Christus se kerk is in ‘n hewige oorlog
“Hulle sal teen die Lam oorlog voer”. So begin Op.17:14. Drie woorde is baie belangrik, elkeen van hulle. ‘n Mens kan nie net hierdie woorde lees en nie verstaan en besef en glo wat Johannes hier geskryf het nie.
Die eerste belangrike woord is “Die Lam”. Wie is die Lam? Seker elkeen van ons sal teen hierdie tyd sê dat dit Jesus Christus is. Maar wanneer ek dit klaar gesê het, is die vraag: Wat het ek nou eintlik geantwoord? Ek het nodig om te weet, en dan baie goed te weet en te glo wat Johannes hier geskryf het toe hy “die Lam” geskryf het.
Die woorde “Die Lam” kom uit die Ou Testament. Hier is ons weer by die wonderlike vaste, sterk onbreekbare eenheid tussen die Ou en die Nuwe Testament. In die Ou Testament is ‘n lam op die altaar geoffer om te wys dat die Here sonde vergewe, deur die lam wat doodgemaak is en op die altaar in die tempel geoffer is. Die lam wat doodgemaak is, was net die skadu soos so baie offers en seremonies en wette.
Johannes die Doper het vir ons vertel wie die werklike Lam was en steeds is. Luister hierna: “Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan met twee van sy volgelinge by Hom. Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê:’Daar is die Lam van God’” (Joh.1:35.36).
“Die Lam” is Jesus wat deur ‘n almagtige wonder mens geword het. Sy Vader het Hom gestuur om sondaars te verlos. Om ons te verlos het Hy ons sonde op Hom geneem. Hy het in ons plek met ons sonde op Hom aan die kruis gesterf. In die taal van die Ou Testament: Jesus Christus was die offer vir ons sonde. Hy was die volmaakte offer. Hy het eenkeer aan die kruis gesterf en ons daardeur van sonde verlos. Jesus het ons van die mag wat sonde oor ons gehad het en die skuld wat ons voor God gehad het, verlos.
Die gekruisigde Jesus is die Lam waarvan Johannes deur die Heilige Gees in Op.17:14 geskryf het. Johannes kon van die gekruisigde Jesus geskryf, want Hy het opgestaan uit die dood en opgevaar na die hemel.
“Hulle” is die tweede belangrike woord. Hulle is die tien konings waarvan ons in vs.12 lees. Johannes het die tien konings gesien in die beeld van tien horings. Die horings wys op mag en tien is ‘n volheidsgetal. Ons het hier al die magte wat teen Christus opgestaan het Ons het hierdie magte reeds in Op.13 raakgeloop. Saam met die mense in mag is ook die vals profeet. Ons kry die dier ook in Op.17:8. Die magte en gesag in die wêreld en die vals profeet is instrumente in die hand van die antichris. Dit is nodig om die antichris direk te noem. Johannes leer ons in sy brief dat daar nie net een antichris sal wees nie. Hy het in sy eerste brief so geskryf: “Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar ‘n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is” (1 Joh.2:18).
Elke persoon, elke leier, elke regering wat nie openlik in die gekruisigde Jesus glo en vir Hom leef nie, is deel van die antichris en sy bose volgelinge en staan aan sy kant teen Christus. Die antichris staan soms openlik teen Christus en sy kerk op. Dikwels steek hy homself selfs binne-in die kerk weg. Dit gebeur wanneer die boodskap van die gekruisigde Jesus of nie gepreek word nie, of afgewater word tot ‘n Jesus wat vir aardse seën en voorspoed en rykdom sorg.
Die derde woord “oorlog voer” – Die heidense Romeine regering met sy verteenwoordiger wat sy hande in onskuld gewas en die lastige Jesus oorgegee het om onskuldig gekruisig te word, was deel van die antichris se magte. Deur die geskiedenis waar die keiser homself as god laat verklaar het, het die Romeinse regering se plek in die antichris se magte net meer duideliker gemaak. Na die Romeinse ryk het ander volke en regerings gekom wat teen Christus was en almal wat in Hom geglo het, vervolg het. Hierdie vervolging was baie keer met geweld. Dit was die oorlog teen die gekruisigde Jesus en sy gelowiges.
Die oorlog lyk vandag in die moderne tyd net anders. Dit is ‘n oorlog van idees, oortuigings, woorde en ‘n manier van lewe wat teen die gekruisigde Jesus en sy kerk is. Die internet met rekenaars en selfone, radios, televisies, koerante, tydskrifte is alles baie goeie wapens wat die antichris teen die gekruisigde Jesus gebruik.
Ontrou en laster word die manier van leef
Een van die sewe engele het Johannes in sy gees weggevoer na ‘n woestyn. Johannes het daar in die woestyn ‘n vrou gesien wat op ‘n helderrooi dier sit. Kom ons kyk eers na die vrou en daarna na die dier en wat die gesig beteken. Ons kry hierdie gesig in vs 3-6.
Die vrou het pers en helderrooi klere aan gehad. Sy het juwele aangehad – goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy ‘n goue beker gehad. Die beker was vol losbandigheid en die vuilheid van haar onsedelikheid. Op haar voorkop was haar naam geskryf: Verborge naam, groot Babilon, moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op aarde. Johannes het gesien dat sy dronk is van die boed van gelowiges en die bloed van mense wat vir Jesus getuig het.
Die dier was helderrooi. Hy was oortrek met godslasterlike name. Hy het sewe koppe en tien horings gehad.
Johannes het hom verwonder oor die vrou. Die engel het hom gehelp. Hy het vir Johannes vertel wat die vrou en die dier wat hy gesien het, beteken. Die res van hierdie hoofstuk gaan oor die engel se verduideliking van die gesig van die vrou en die dier.
Die vrou –
Die vrou het helder kleure en baie juwele aangehad en op die dier gesit en sy was losbandig en onsedelik – Die vrou het openlik opgetree. Sy kon duidelik gesien word. Wie is die vrou? Kom ons luister na wat die Here deur Esegiël vir Jerusalem gesê het: “Jy is soos ‘n immorele vrou wat wat ander mans ontvang en nie haar eie man nie. Al die prostitute kry betaling, maar jy betaal jou minnaars, van oral lok jy hulle met geskenke na jou toe om met jou te hoereer” (Eseg.16:32,33). Die beeld van die sedelose vrou is die deel van die verbondsvolk wat ontrou aan die Here geword het. Dit is in werklikheid baie erg. Die verbondsvolk van die Ou Testament kan ons sê is die kerk van die Nuwe Testament. ‘n Deel van die kerk word ontrou aan die Here en is deel van die antichris se bose magte. Hier het ons die vals kerk. Die vals kerk lyk soos ‘n kerk, maar is nie Christus se kerk nie. Lees gerus NGB art.27-29 oor die ware kerk van Christus en die vals kerk.
Haar naam is Babilon, moeder van sedeloses – Babilon is die belangrikste beeld van die antichris en sy magte. Die vals kerk se naam is Babilon, want die vals kerk is ontrou aan Christus en getrou aan die antichris. Die vals kerk leef gemaklik saam met die antichris in die wêreld. Hoe? Die vals kerk sal sê dat Jesus nie uit Maria gebore kon wees nie. Die vals kerk sal sê dat Jesus nie regtig uit die dood opgestaan het nie. Die vals kerk sê hierdie dinge met die oop Bybel in die hand en op die kansel. Dit lyk na Christus se kerk, maar dit is nie.
Sy is dronk van die bloed van gelowiges wat aan Jesus Christus behoort het – Die vals kerk leef nie in ontrouheid saam met die antichris en los Christus se kerk uit nie. Allesbehalwe. Die vals kerk haat die ware kerk en maak die gelowiges van Christus se kerk dood. Soms word gelowiges met geweld doodgemaak. Ander kere met die woorde oor die radio, die televisie of deur landswette.
Sy het haar setel by die sewe koppe – Hierdie koppe of berge wys na die heidense Rome wat as wêreldregering teen Jesus Christus was, maar na alle regerings en leiers wat daarna teen Jesus Christus was en teen sy kerk opgetree het.
Sy het by water gebly – water is die mense van die wêreld. Die vals kerk kom uit mense.
Die vrou is die groot stad wat heerskappy oor die konings van die aarde uitoefen – die vals kerk vir wie die mens en status belangrik is praat dieselfde taal as die wêreld met sy leiers en regerings en gebruik die wêreld teen Christus se kerk.
Die dier – Hier is ons by die antichris en al sy magte teen Christus Jesus
Die dier was eers en is nie nou nie – Die woorde neem ons terug in die geskiedenis. Die Romeinse regering was in die verlede ‘n wêreldregering vir die antichris. Die keiser het homself as god laat verklaar en so openlik gelaster. Toe was die mag van die antichris baie duidelik in die wêreld. Daar was ook tye in die geskiedenis dat hy sy magte meer teruggetrek het.
Hy gaan uit die onderaardse diepte kom en gaan na die verderf toe – die antichris is van sy begin (die onderaardse diepte) tot einde (verderf) een groot boosheid.
Die bewoners van die aarde sal verwonderd oor die dier wees, omdat hy eers was en nou nie is nie en nog sal wees – Die antichris en al die antichriste is deur en deur sleg en sondig en verkeerd!!! En die bewoners van die aarde bewonder hom, bewonder hulle. Hy is die na-aper van Christus. Hy was en is en sal wees. Dit is soos Christus wat van ewigheid was, wat nou is en in die toekoms weer sal kom. Christus is volmaakte God. Die antichris is heeltemal onvolmaak. Hy probeer Christus nadoen, maar hy misluk heeltemal. Sy getal is 666 wat beteken hy is net daar vir die sondige mens om te bewonder. Hy wys en vertel vir die mense van die aarde alles wat hulle wil hoor. Mense sien in hom die een wat al hulle ideale, begeertes en wense in hierdie lewe op aarde waar sal laat word. Die antichris kry wat hy wil doen reg, selfs onder gelowiges. Hoeveel keer dink en praat ons nie van: “Hulle sê” of “die mense sê”? Hoeveel van ons tyd en energie gaan nie net vir ideale vir hierdie lewe nie? Die bewondering vir die antichris is baie nader aan ons as wat ons dink.
Die sewe koppe is sewe berge en ook sewe konings en by hulle ‘n agtste een – In die geskiedenis kan hierdie wys op regeerders en regerings soos die heidense Romeinse regering. Sewe is ‘n volheidsgetal wat hierdie woorde duideliker maak as alle regeerders en regerings wat nie openlik vir Christus staan en regeer volgens sy evangelie en om Hom te dien nie. Die agtste koning wat by die sewe hoort, is die antichris. Hy gee al sy boosheid om die regerings wat vir hom werk, te help. Uiteindelik sal hy ewig geoordeel word en in die ewige verderf, die hel gegooi word.
Die tien horings is tien konings. Hulle moet nog hulle koningskap kry. Hulle sal konings wees vir een uur. Hulle sal hulle mag in diens van die dier gebruik – Dit is opvallend dat konings, dit is wêreldleiers vir die antichris leef en werk. Hulle koningwees, hulle leierskap is net vir ‘n uur. Die almagtige God laat hulle regeer, ja, maar net vir ‘n kort tydjie. Dink aan die beeld wat Daniël vir Nebukadnesar moes vertel en verklaar (Dan.2).
Hierdie tien konings en die dier sal met geweld teen die sedelose vrou optree. Hulle sal haar haat, haar kaal en verlate maak, haar vleis opeet en haar met vuur verbrand – Eers het die vrou op die dier gesit. Later sal die antichristelike magte die vrou Die antichristelike magte sal aan die einde die vals kerk vernietig, omdat die vals kerk in die stryd teen Christus en sy kerk nie kon oorwin nie.
Die gekruisigde Jesus Christus oorwin aan die einde
Die magte wat teen Jesus Christus en teen sy kerk in hierdie oorlog veg, is geweldig.
MAAR…..die Lam is die HERE van die heersers en die KONING van die konings!
Jesus Christus is van ewighgeid tot ewigheid ware God.
Deur sy kruisiging het Hy die duiwel en die sonde en die dood oorwin.
Hy het hierdie oorwinning duidelik gemaak deur uit die dood op te staan.
Na sy oorwinning het Hy alle mag in die hemel en op die aarde (Mt.28:20).
Sy Vader het Hom die Hoof van die heelal en die Hoof van sy kerk gemaak (Kol.1:18).
Jesus Christus, die Seun van die lewende God is die Hemelregter wat weer kom om aan die einde al die magte teen Hom vernietigend te oordeel.
Die by Jesus Christus is gekies, geroep en getrou
In hierdie geweldige geestelike oorlog is daar net EEN OORWINNAAR!
Hy is die gekruisigde Jesus Christus!
Hy het uit die dood opgestaan!
Aan die einde is Hy alleen die Oorwinnaar. Elke enkele mens wat nie met ‘n opregte geloof aan Hom behoort het nie, sal vernietigend veroordeel word en in die hel vir ewig wees.
By Jesus Christus is die gelowiges wat aan Hom behoort het. Wie is hierdie gelowiges by Jesus Christus?
Hulle is geroep – God roep ons deur sy Woord, die Evangelie van Jesus Christus. Luister hoe verduidelik die Heilige Gees hierdie waarheid:”Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing gehoor en tot geloof gekom het….” (Ef.1:13). Ek het nodig om die evangelie te hoor, sodat ek God kan hoor roep!
Die geroepenes is gekies – “Elkeen wat die Vader my gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie” (Joh.6:37). Die Here roep elkeen wat Hy gekies het om aan Hom te behoort. Hierdie is wondergenade in elke gelowige se lewe.
Die wat geroep en gekies het bly onder alle omstandighede getrou aan Christus – Getrouheid is vir Jesus Christus baie belangrik, daarom moet getrouheid vir elke Christengelwoige ook baie belangrik te wees. Getrouheid wys daarin dat ek deur die Heilige Gees naby Christus en vir Hom leef.
Die mense wat geroep is, gekies is en getrou gebly het, is die mense wat aan die einde by Jesus Christus sal wees – net hierdie mense!
Geroep….gekies….getrou. Hierdie drie woorde is lewensbelangrik vir elke Christengelowige, vir elke gemeente. Daarom –
Kom na Christus se evangelie toe dat jy geroep kan word.
Jy kan antwoord wanneer God roep, want jy is gekies.
Leef in die krag van die Heilige Gees getrou aan Jesus Christus.
Aan die einde van alles, sal jy een van die ontelbare skare, die honderd vier en veertig duisend wat by Jesus Christus sal wees.
ANTWOORD
Sang: Ps.66:3,4
Gebed
Sang: Sb.10-2/59
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen