Home Preke Goeie Vrydag Die gekruisigde Christus oorwin alle teenstand, sodat ons kan lewe!

Die gekruisigde Christus oorwin alle teenstand, sodat ons kan lewe!

Datum: 2024-03-29
|
Reeks: Goeie Vrydag
|
Kernverse: Ps.2:12

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.66:1,2

VEROOTMOEDIGING
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.2:1,4
Lees: Psalm 2
Kernverse: Ps.2:12
Tema: Die gekruisigde Christus oorwin alle teenstand, sodat ons kan lewe!
Sang: Ps.66:1,2; Ps.2:1,4; Skb.2-2/34:1,3; Ps.68:1,2

Inleiding:

Wanneer ‘n gelowige Psalm 2 lees of na die psalm luister, is die volgende belangrik: Kyk eers na Dawid, die koning van Israel die verbondsvolk. Kyk hoe wat in Psalm 2 staan na Dawid wys. Uit Dawid se nageslag is Christus gebore. Daarom is dit baie belangrik om te verstaan en te glo wat die Heilige Gees ons in Psalm 2 oor Christus leer. Daarna is dit nodig om wat ons van Christus leer op ons vandag toe te pas. Omdat Christus die Middelpunt van Psalm 2 is, pas die psalm baie goed by die dag wat ons vandag herdenk: Christus se kruisiging op Golgota.

Tema: Die gekruisigde Christus oorwin alle teenstand, sodat ons kan lewe!

1. Daar is teenkanting teen die Verbondsgod (vs 1-3)

Psalm 2 begin met die rustelose volke, nasies wat nuttelose planne maak, konings van die aarde wat stelling inneem en heersers wat saamspan teen die Here en sy Gesalfde. Al hierdie teenstanders sê: “Kom ons breek hulle boeie stukkend, kom ons gooi hulle bande van ons af” (Ps.2:3).

Teenkanting teen Dawid. Die Here het Dawid as koning van Israel gekies. Die geskiedenis lees ons in 1 Sam.16. Dawid was gelowig en het aan die Here behoort. Hy was die koning van die verbondsvolk.

Sy lewe deur het Dawid baie teenstand gekry. Daar was teenkanting in Israel self. Saul wou Dawid, wat hom moes opvolg, doodmaak. Daar was ook ander in Israel wat teen Dawid was. Isboset en Abner was twee leierfigure in Israel toe Dawid nog net oor Juda koning was, wat teen Dawid was en selfs teen Juda en Dawid oorlog gemaak het.

In Dawid se eie huis het hy sterk teenkanting gekry. Sy eie seuns, eers Absalom en daarna Adonia het in opstand teen hulle pa gekom en baie in Israel beïinvloed om teen Dawid op te staan.

Dan was daar al die volke en nasies rondom Israel – die Filistyne was deurlopend sterk vyande van Dawid en die verbondsvolk. Daar was ook die Moabiete, Arameërs, Ammoniete en Edomiete. Al hierdie volke en nasies wou Dawid om die lewe bring en die verbondsvolk in ‘n oorlog oorwin en hulle slawe maak.

Hierdie teenkanting van baie was nie net teen die mens Dawid, die koning van ‘n land en volk nie. Dawid was die koning van die Here se verbondsvolk. Dawid het aan die Here behoort. Uit Dawid se nageslag sou die beloofde Verlosser gebore word. God het aan Dawid die belofte van ‘n ewige regeerder gegee. Ons lees in 2 Sam.7:16 dat God vir Dawid ‘n belofte gegee het: “Jou huis en jou koningskap sal vir altyd bestendig wees voor My, jou troon sal vir altyd in stand bly.”

Daarom het die Heilige Gees die psalmdigter van Psalm 2 laat skryf dat die volke en nasies, die konings en heersers  teen die Here en sy Gesalfde saamgespan het. Dit bring ons by die teenkanting teen Christus.

Teenkanting teen Christus. Die woorde van God oor die troon wat vir altyd sal wees, het betrekking op die Een uit die nageslag van die vrou (Gen.3), die Een uit Juda (Gen.49), die Seun wat lig vir die verbondsvolk sou bring (Jes.9). Hierdie Een, hierdie Seun, is God se Seun wat deur ‘n almagtige wonder mens geword het.

Daar was baie sterk teenkanting teen Christus. Hy was nog ‘n baba toe sy ouers met Hom na Egipte moes vlug, omdat koning Herodus die nuwe Koning wat gebore is, dood wou maak.

Johannes skryf so oor die teenkanting teen Christus: “Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het gekom na wat syne was, en tog het sy eie mense Hom nie aanvaar nie” (Joh.1:11,12).

Uiteindelik het Christus se eie mense, die priesterhoofde, die Fariseërs en skrifgeleerdes met die heidense Pontius Pilatus saamgespan om Christus om die lewe te bring.

Tot vandag span volke en nasies, konings en heersers teen Christus saam. Elke volk en nasie en regeerder wat nie openlik vir Christus is in woorde en werke nie, is ‘n teenstander van Christus.

Teenkanting teen ons wat in Christus glo. Die sondige wêreld is ook vyandiggesind teen almal wat in Christus glo. Ek gee twee voorbeelde in ons land, daar is baie meer:

  • Die Potchefstroomse universiteit vir Christelike hoër onderwys is deur die regering van die land gedwing om die woord Christelik uit die universiteit se naam te haal. Eers was dit net die naam. Die afgelope jare is die karakter van die universiteit ook verander na ‘n gewone wêreldse universiteit.
  • Dan is die regering besig met ‘n wet om ouers se seggenskap heeltemal uit skole weg te neem, sodat Christenouers niks meer te sê sal hê oor die onderrig van hulle kinders in openbare skole nie.

Hierdie is openlike teenkanting teen ons wat in Christus glo.

2. God is hoog verhewe bo alle teenstand (vs 4-6)

Die Here is in die hemel. Wanneer die Here hierdie dinge sien en hoor, doen Hy die volgende:

  • Hy lag en dryf die spot (vs 4).
  • Hy spreek sy teenstanders in sy toorn aan en verskrik hulle met sy woede (vs 5).
  • Hy self salf sy Koning op Sion, sy heilige berg (vs 6).

Wanneer ons hierdie woorde lees, is dit belangrik om te onthou dat ons met ‘n lied, ‘n gedig te doen het. In ‘n lied of gedig is daar beelde en getalle en vergelykings met ‘n dieper betekenis. Ons kry dit ook in Ps.2.

Dat die Here lag en spot beteken al sy teenstanders se pogings en planne is nutteloos en eintlik pateties en lagwekkend voor Hom, die Allerhoogste in die hemel.

Dat die Here sy teenstanders in sy toorn aanspreek en met sy woede verskrik, beteken dat elke enkele persoon wat teen God en sy Gesalfde, dit is Christus, is, staan onder God se ewige oordeel.

Hy praat en waarsku reeds in toorn en woede in sy Woord. Hier is twee verse:
Hebr.10:31 – “Verskriklik is dit om te val in die hande van die lewende God”.
Hebr.12:29“Want ons God is ‘n verterende vuur”.

Ons sien die Here se toorn en woede ook in die skepping in wat God laat gebeur. Niks gebeur vanself nie. Niks gebeur per toeval nie. Niks is maar net een van daardie dinge nie. Al die swaar soos baie ernstige beproewings met ernstige siekte of ernstige droogte kom van God af.

Die werklike toorn en woede van God sal ons almal, die hele mensdom van die begin van die skepping af sien, wanneer Christus die mense aan sy linkerhand in die hel gooi waar daar ‘n geween en gekners van tande sal wees tot in alle ewigheid.

In die woorde “vandag het Ek jou gegenereer” of “vandag het Ek jou verwek” het ons weer die taal van ‘n lied, ‘n gedig. Die woorde wys in die eerste plek op die dag dat die Here Dawid koning gemaak het. Daardie dag was toe Samuel hom gesalf het en ook die dag toe Dawid die troon bestyg het en die dag toe die Here aan hom die belofte van ‘n ewige konigshuis gemaak het. Elkeen van daardie dae was die dag toe God Dawid openlik aangewys het as sy seun, kan ons sê.

God die Vader het Christus ook openlik as sy Seun aangewys. Die dag met Christus se doop het die Gees in die vorm van ‘n duif op Christus neergedaal. Die Vader het uit die hemel gesê dat Christus sy geliefde Seun is (Mt.3:16,17).

Met sy opstanding uit die dood, het die Heilige Gees Christus op ‘n kragtige en duidelike manier aangewys as die Seun van God (Rom.1:4).

In sy almag het die allerhoogste God, sy Gesalfde na die aard gestuur, om ten spyte van die ergste teenkanting, sy ewige verlossingsplan enduit volmaak deur te voer.

Dit bring ons by die derde kerngedagte in vanoggend se preek.

3. Die Verbondsgod se gestuurde is die Oorwinnaar (vs 7-9)

Saul het probeer. Goliat die reus van ‘n soldaat het met swaar wapenrusting gekom. Al die vyandige volke het oorlog probeer. Absalom en Adonia het slinkse planne gemaak. Dawid was die Verbondsgod se gesalfde. Ten spyte van al die baie pogings en aanvalle en planne, het Dawid koning van die verbondsvolk geword. Hy was die koning wat aan die Here behoort het. Hy het die verbondsvolk regeer op ‘n manier wat reg in die oë van die Here was. Omrede van sy verhouding met God, was Dawid ‘n koning wat oorwin het.

Die belangrikste in Dawid se lewe as koning van die verbondsvolk, was die belofte van ‘n ewige Koning. Van daardie ewige Koning lees ons in die Nuwe Testament. Een plek is in Paulus se brief aan die Romeine. Die woorde klink so: “Paulus, ‘n dienskneg van Christus Jesus, ‘n geroepe apostel, afgesonder vir die evangelie van God, wat Hy reeds tevore deur sy profete in die helige Skrifte beloof het aangaande sy Seun – wat na die liggaam uit die nageslag van Dawid gebore is, wat na die Gees van heiligheid op grond van sy opstanding uit die dood kragtig aangedui is as die Seun van God – Jesus Christus, ons Here…” (Rom.1:1-4).

Hierdie verse in Romeine vertel en leer ons dat Christus die eintlike Gesalfde van die Here is, waaroor die psalmdigter in Pslam 2 geskryf het.

Daar was soveel teenstand teen Christus. Ten spyte van al die teenkanting, Herodus se wrede plan, die Duiwel se slinkse versoeking in die woestyn, soveel Jode se ongeloof, die Fariseërs se haat en leuens teen Christus en die heidense regter se onreg, het Christus elke tree onwrikbaar na die kruis op Golgota gestap.

Hy het die bitterste lyding verduur. Hy het die wreedste dood aan die kruis gesterf. Juis daar aan die kruis op die heuwel net buite Jerusalem, met sy liggaam stukkend van al die wonde en sy bloed wat uit sy gebreekte liggaam gevloei het, was Christus, God se Gesalfde die Oorwinnaar! Deur sy dood het Hy die Duiwel en die sonde en die dood oorwin.

In die tuin van Josef van Arimatea was Christus se graf daardie Sondag leeg. Hy het uit die dood opgestaan. Met sy opstanding getuig Christus nog duideliker dat Hy die Oorwinnaar oor die dood is.

Ten spyte van die lagwekkende plan van die Jode se priesterhoofde en familiehoofde en die soldate wat die graf moes oppas, dat die dissipels Christus se liggaam gesteel het toe die soldate aan die slaap geraak het, het die lewende Christus aan baie na sy opstanding verskyn. Die evangelie van Christus wat gekruisig is en opgestaan het, die evangelie van ewige oorwinning oor die bose het na die uitstorting van die Heilige Gees soos ‘n veldbrand versprei. Die evanglie het die uithoeke van die aarde bereik en tot hier aan die suidpunt van Afrika gekom.

Ons herdenk vandag op Goeie Vrydag juis Christus se oorwinning oor die Duiwel, die sonde en die dood. Ons het wondergenade dat ons deur ons geloof in Christus  in sy oorwinning deel. Sy oorwinning is ook ons oorwinning!

4. Almal moet voor Christus buig (vs 10-12)

Die Heilige Gees het die skrywer van Psalm 2 laat eindig met ‘n ernstige waarskuwing aan die eenkant en woorde wat geloofsekerheid gee aan die anderkant.

Eers die waarskuwing :
Vs 10“Daarom, konings, wees verstandig, wes gewaarsku regters van die aarde”.
Vs 11 – “Dien die Here met ontsag en juig Hom toe met bewing”.
Vs 12“Soen die Seun, sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie, want sy toorn vlam maklik op.”

Hierdie waarskuwing is vir almal wat nie in Christus glo nie en hulle nie aan Hom onderwerp nie. Ons lees van hulle aan die begin van die psalm. Hulle is ontevrede, want om in Christus te glo is vir hulle soos boeie en bande wat hulle vasbind en keer om te lewe.

Elke volk en nasie en land en regering, elke geloof, ja elke enkele mens wat nie in Christus glo nie en nie sy of haar geloof in Hom uitleef nie, elkeen wat Hom nie met liefde en gehoorsaamheid dien nie, sal met sy toorn te doen kry, wanneer Hy weer as Regter kom.

Aan die anderkant: “Gelukkig is almal wat by Hom skuil” (vs 12). Ek skuil by Christus wanneer ek met die Heilige Gees in my in Christus as my enigste Verlosser glo en as gelowige naby Hom leef. Ek skuil by Hom teen sonde, teen die duiwel en teen die wêreld. Ek skuil by Hom teen die dood. Ek skuil by Hom teen alles en almal wat my leed wil aandoen.

Ek leef as gelowige naby Christus. Dit is nie vir my moeilik om Hom lief te hê en te gehoorsaam nie. Ek weet vas en seker dat Hy vir my die ewige lewe, die ware lewe gegee het. Daarom is ek diep in my hart ‘n gelukkige mens. Ek is gelukkig op Goeie Vrydag en ek leef gelukkig elke dag. Christus in my, maak dat ek gelukkig is en regtig kan leef!

ANTWOORD
Sing: Skb.2-2/34:1,3
Gebed
Sing: Ps.68:1,2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen