Home Preke Die gekruisigde Christus se oordeel oor die antichristelike magte is vernietigend

Die gekruisigde Christus se oordeel oor die antichristelike magte is vernietigend

Datum: 2022-07-31
|
Kernverse: Op.19:11

ONTMOETING

Votum: Ps.124:8

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.

Lof aan God: Sb.4-6/68

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Sb.12-3/72:1,2

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 44

Antwoord op die Wet: Ps.38:1,17

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.99:1,2,3

Lees: Openbaring 19:11-21

Kernverse: Op.19:11

Tema: Die gekruisigde Christus se oordeel oor die antichristelike magte is vernietigend

Sang: Sb.4-6/68; Sb.12-3/72:1,2; Ps.38:1,17; Ps.99:1,2,3; Sb.7-1/31:1,3; Ps.118:8,10,14

Inleiding:

Na die wonderlike gesig van die bruilofsmaal van die Lam, het Johannes weer ‘n gesig gesien. Hier is ons weer by die baie belangrike waarheid dat die volgende deel van Openbaring nie net op die vorige deel volg nie. In die vorige deel van hfst.19 het ons die hemelse bruilofsfees van die gelwoiges saam met Jesus Christus gehad, na sy wederkoms. Na Jesus se wederkoms met die gelowiges by Hom in die hemel, is daar niks meer wat moet gebeur nie. Tog is ons nou weer by die laaste deel van Op.19 waar die Ruiter op die wit perd verskyn om te oordeel. Ons het ook al na die eindoordeel in vorige hoofstukke van Openbaring gekyk. Dat dieselfde gebeurtenis herhaal word, leer ons die volgende:

  • Ons sien wat God laat gebeur dikwels vanuit ‘n ander hoek. Voorheen was dit die parskuip wat getrap is (Op.14), daarna Babel wat geval het met al die getreur en geween (Op.18) en hier in 19 het ons die Ruiter op die wit perd wat sy engel opdrag gee om die roofvoëls te roep om die dier en die vals profeet te verslind. Met hierdie verskillende hoeke maak God aan ons die volheid van sy oordeel bekend.

  • Dat die oordeel herhaal word, is verder ‘n boodskap met ‘n waarskuwing dat God se oordeel deur Christus regtig gebeur en dat die eindoordeel regtig verskriklik gaan wees.

Tema: Die gekruisigde Christus se oordeel oor die antichristelike magte is vernietigend

  1. Die Ruiter op die wit perd is die gekruisigde Christus

Johannes het gesien dat die hemel oop is. Dit beteken God is op die punt om ‘n belangrike gebeurtenis in die wêreldgeskiedenis bekend te maak. Die volle werklikheid word bekend gemaak. In hierdie gesig sien ons die volle werklikheid van God se oordeel.

Johannes het ‘n wit perd gesien. Op die perd was ‘n Ruiter. en sigbaar. Wit is die kleur van algehele reinheid van sonde, dit is van heiligheid. Wit is daarby die kleur van oorwinning oor sonde en al die magte van die duisternis.

Wanneer ons as Christengelowiges hierdie vers oor die wit perd met sy Ruiter lees, ontstel dit ons nie en maak ons ook nie bang en onseker nie. Die wit perd met sy Ruiter behoort ons as Christene eerder baie bly en diep dankbaar te maak. Waarom so?  Die Ruiter se naam is bekend. Trouens, Hy het verskillende Name gehad:

 Vs 11 – Getroue en Betroubare. Hy is ons Verlosser van ewigheid tot ewigheid. In Hom is ons Verlossing vas en seker en vir ewig.

 Vs 12 – ‘n Naam wat geskryf is wat niemand ken nie net Hy self. Daar is geestelike waarhede wat God nie aan ons bekend maak nie en wat ons nie weet nie. Hier is een.

 Vs 13 – Die Woord van God. Hy maak God se verlossingsplan bekend deur wat Hy gesê het en wat Hy gedoen het.

 Vs 16 – Die Koning van die konings en die Here van die here. Die Naam beteken Jesus Christus is die almagtige Oorwinnaar oor alles en almal – die duiwel, die antichristelike wêreld, sonde en die dood.

Wanneer ons hierdie Name lees weet ons presies wie hierdie Ruiter is. Hy is Jesus Christus, ons Verlosser wat vir ons gekruisig is en vir ons opgestaan het! Christengelowiges glo in Jesus Christus, ken Hom, het ‘n verhouding met Hom, daarom is ons harte vol blydskap en dankbaarheid.

Die Ruiter op sy wit perd wat uit die oop hemel kom, is ons Verlosser wat weer kom. Hy het beloof dat Hy weer sal kom om ongelowiges te oordeel en ons wat in Hom glo, te kom haal.

  1. Christus kom om vernietigend te oordeel

 Johannes het ook die volgende gesien:

Vs 11 – Die Ruiter voer oorlog met sy regverdige oordeel. Die Here Jesus se regverdige oordeel is al vir eeue vas en duidelik. Ons kry die regverdige oordeel reeds in die Ou Testament: “…Die dag as jy daarvan eet, sterf jy” (Gen.2:17) en in die Nuwe Testament: “Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word” (Mk.16:16). Jesus Christus kom weer om elkeen wat aanhou sondig het en nie in Hom geglo het nie, vernietigend te oordeel met die ewige oordeel wat ongelowige sondaars verdien.

Vs 12 – Die Ruiter se oë het soos vuur gevlam. Vuur is in die Bybel teken van reiniging van sonde soos met die roeping van Jesaja (Jes 6) en heiligheid soos met die uitstorting van die Heilige Gees (Ha 2). Dan is vuur ook teken van die oordeel van die heilige God soos in 2 Pet.3:10. Wanneer Jesus Christus weer kom, kom Hy om finaal te oordeel. Sy oë wat soos vuur gevlam het, wys dat Hy elke sonde raaksien en dat Hy sal kom om elkeen wat nie Hom geglo het nie, te oordeel.

Vs 13 – Hy het klere aangehad wat met bloed deurvlek was. Jes.63:1-4 maak hierdie vers duidelik. Dit is die bloed van die Here Jesus se vyande wat sy kleure deurvlek het. Hierdie beeld wys hoe vernietigend Christus se eindoordeel sal wees.

Vs 14 – Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Jesus Christus is die Here van ‘n hemelse leërmag. Hy is die almagtige Oorwinnaar. Sy hemelse leërmag volg Hom om Hom te dien.

Vs 15 – Hierdie vers beskryf Jesus Christus se oordeel in drie beelde –

  • Uit sy mond kom ‘n skerp swaard om nasies mee te tref. Hierdie swaard is God se Woord. Soveel het God se Woord nie gelees nie, nie geken nie en nie geglo nie. Die einste Woord sal die ongelowige nasies tref en ewig oordeel.

  • Hy sal die nasies met ‘n ystersepter regeer. Hierdie beeld kom uit 2:9 en beteken dat Jesus Christus al die nasies wat nie in Hom geglo het nie en eerder die antichris gevolg het, met sy eindoordeel sal verpletter.

  • Hy sal self die parskuip trap vir die wyn van God se oordeel en toorn. Hierdie beeld vertel en leer ons van God se toorn, sy woede waarmee Jesus Christus al sy vyande vernietigend sal oordeel.

Vs 17 – ‘n Engel roep met ‘n harde stem dat die roofvoëls moet kom en die vleis van die konings, die opperbevelhebbers, die magtiges, hulle perde en ruiters en alle mense eet. Hier het ons die skerpste kontras met die hemelse feesmaal waar die gelowiges ewig saam met die gekruisigde Jesus sal wees. Die goddelose mensdom se liggame sal op die slagveld lê om deur roofvoëls verslind te word. Christus se oordeel sal verskriklik wees.

Vs 19 – Die dier en die konings van die aarde met hulle leërs kom bymekaar om oorlog te maak teen die Ruiter op die wit perd en teen sy leër. Tot die einde sal die antichris en almal wat hom gevolg het aanhou met hulle goddeloosheid en sonde. Self aan die heel einde sal hulle nog teen die Here Jesus Christus wil veg.

Vir die Christengelowiges bring die gesig van die Ruiter op die wit perd blydskap en vreugde. Vir die goddelose ongelowige mensdom beteken die Ruiter op sy wit perd net vrees en verskrikking, want sy oordeel oor hulle is vernietigend en verskriklik en ewig en finaal!

  1. Die ewige uitkoms van sy oordeel

Op.19 sluit af met die gevolge van Christus se oordeel. Johannes het die ewige uitkoms van die Here Jesus se oordeel gesien. Wat Johannes gesien het, het hy deur die Heilige Gees neergeskryf vir ons om te lees.

Wat sal die uitkoms wees van Christus se eindoordeel?

Vs 20 – Die dier en die vals profeet word gevange geneem. Hulle is lewend in die vuurpoel wat met swael brand gegooi.Hierdie woorde sê vir ons dat die hel ‘n werklikheid is. Ons leef in ‘n land waar kerke, leraars en lidmate nie meer van oordeel en die hel wil hoor nie. Wel, met Op.19:20 leer die Heilige Gees, want Hy het die woorde laat skryf, dat Jesus Christus se oordeel en die hel ‘n werklikheid is. Al die antichristelike magte en die vals kerk wat ‘n vals evangelie gepreek het, sal met Jesus se wederkoms in die hel gegooi word.

Vs 21 – Die ander mense is doodgemaak met die swaard wat uit die mond van die Ruiter

uitgegaan het. Saam met die antichristelike leiers, sal almal wat na hulle geluister het, hulle geglo het en hulle gevolg het, doodgemaak word. Die Woord van God was die sleutel wat die hemel vir hierdie ongelowiges toegesluit het. Met die hemel toegesluit, sal daar vir hulle net die ewige dood in die hel oorbly.

Die roofvoëls het hulle versadig geëet aan die vleis. Hierdie beeld vertel en leer ons hoe verskriklik en finaal die eindoordeel van Jesus Christus, die Seun van die lewende God sal wees.

  1. ‘n Slotwoord

Die woorde in Op.19:11-21 is nie onduidelik nie. Die hemel sal oop wees. Die Ruiter op die wit perd sal kom om te oordeel. Die antichris en die vals profeet en saam met hulle almal wat hulle geglo en gevolg het en nie Christus nie, sal in die hel beland.

Daarom:

Maak die Bybel oop.

Lees en luister van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het.

Kom gereeld erediens toe om van die gekruisigde Jesus wat opgestaan het, te hoor.

Glo deur die Heilige Gees in Hom as ons enigste Verlosser.

Leef deur die Heilige Gees in ‘n lewende verhouding met Hom.

So iemand, se hart sal met Jesus se wederkoms vol blydskap en dankbaarheid wees en niks hoef te vrees vir die Ruiter op die wit perd nie.

ANTWOORD

Sang: Sb.7-1/31:1,3

Gebed

Sang: Ps.118:8,10,14

Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Jesus Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig sterk en standvastig maak

Klankbaan

Luister na die preek.