ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Sb.1-2/60:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.119:6,7
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Sb.1-1/24:1,3
Lees: Openbaring 19:5-10
Kernvers: Op.19:9
Tema: Die gekruisigde Jesus en sy gelowiges in ‘n hemelse bruilofsfees bymekaar
Sang: Sb.1-2/60:1,2,3; Ps.9:1,7,10; Ps.119:6,7; Sb.1-1/24:1,3; Sb.5-3/8:4,5; Sb.2-4/33:1,2,3
Inleiding:
Baie min mense, selfs gelowiges in Christus se kerk, sal sê dat die afgelope twee jaar ‘n tyd was om bly te wees. Met die nuus wat ons steeds elke dag lees en hoor, kan dit gebeur dat die vreemdheid en die swaarkry van die laaste twee jaar nie net Christengelowiges se blydskap wegneem nie, maar ons moedeloos en uitsigloos maak.
God wat alles na ‘n finale einde toe stuur, het dit goedgedink om Johannes die wêreldgeskiedenis van die verlede, die hede en die toekoms te laat sien. Deur die Heilige Gees het Johannes alles neergeskryf vir ons om te lees. God se bedoeling met die laaste boek in sy Woord is om sy kerk, sy gelowiges wat swaarkry, moed in te praat.
Vanoggend se deel in Openbaring is juis woorde om my baie bly en dankbaar te maak en my nuwe moed te laat skep.
Tema: Die gekruisigde Jesus en sy gelowiges in ‘n hemelse bruilofsfees bymekaar
Die bruilofsfees van die Lam
Die bruilof met die bruidegom en bruid is ‘n baie sterk beeld in die Nuwe Testament van Jesus Christus en sy kerk –
Joh.3:29 – Johannes die Doper het na Jesus en sy gelowiges verwys as die bruidegom aan wie die bruid behoort.
Mt.22:1-14 – Jesus vertel die gelykenis van die koning wat vir sy seun ‘n bruilofsfees voorberei het, met die genooide gaste wat nie wou kom nie. Die gelykenis wys op God die Vader wat sy Seun gestuur het met die Jode wat nie in Jesus geglo het nie.
Mt.25:1-13 – Die gelykenis van die vyf verstandige en vyf onverstandige meisies wat vir die bruidegom gewag het, wys op Jesus wat weer kom.
Dan is daar in ons nagmaalformulier die volgende woorde:”En elke keer as ons nagmaal vier, verkondig ons sy dood totdat Hy kom. Daarom laat die fees van die nagmaal ons ook met groot verlange uitsien na die bruilofsmaal van die Lam”.
Twee vrae is hier nodig:
Die eerste: Waarom die vergelyking van ‘n bruilof? Die verhouding bruid en bruidegom op ‘n bruilof is die beeld van die verhouding tussen Jesus Christus en sy gelowiges, sy kerk.
Op ‘n bruilof is daar net een bruidegom – Daar is net een Jesus Christus. Hy en Hy alleen is ons enigste Verlosser.
Daar is net een bruid op ‘n bruilof – Daar is net een ware kerk van Christus, dit is die gelowiges met ‘n ware geloof in Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het.
Die verhouding tussen die bruidegom en bruid is ‘n innige verhouding – Die verhouding tussen Christus en sy kerk is so innig dat Hy in sy kerk is en sy kerk in Hom. Hierdie innige verhouding tussen Christus en sy kerk is moontlik deur die Heilige Gees.
Die verhouding tussen ‘n bruidegom en bruid word gekenmerk deur liefde en getrouheid – Christus het sy gelowiges so liefgehad dat Hy sy lewe aan die kruis gegee het. Hy is van ewigheid tot ewigheid volmaak getrou aan sy gelowiges, sy kerk. Deur die Heilige Gees het gelowiges, Jesus Christus se kerk nodig om Hom lief te hê met ons lewe en aan Hom alleen getrou te wees.
Die tweede vraag: Waarom ‘n bruilofsmaal of dan ‘n bruilofsfees? Die bruilofsmaal wys op die feestelikheid en die blydskap van ‘n bruilof. Die bruilofsmaal is beeld van die gelowiges wat na Jesus se wederkoms saam met Hom, ons Verlosser in die hemel is.
Die feestelikheid en die vreugde wanneer Christus se kerk na sy wederkoms saam met Hom in die hemel sal wees, het Paulus in die volgende woorde beskryf:”Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie, en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet” (1 Kor.2:9).
Johannes het die gelowiges in die hemel hoor uitroep dat die bruilof van die Lam aangebreek het. Die engel in die hemel het vir Johannes gesê om te skryf oor die bruilofsmaal van die Lam en almal wat genooi is.
Johannes het gesien en gehoor en geskryf dat die tyd vir die ewige hemelse fees gekom het!
Die uitnodiging
Die engel het met Johannes oor hulle wat na die bruilofsmaal uitgenooi is, gepraat. Wanneer ons van genooides in Op.19:9 lees en hoor, is daar weer vrae wat ons nodig het om te vra en antwoorde op te kry –
Wie is die genooides?
Hoe kom die uitnodiging by die genooides uit?
Wat sê die uitnodiging?
Hoe moet die uitnodiging geantwoord word?
Wie is die genooides? Jesus Christus self antwoord hierdie vraag in sy gelykenis wat ons in Mt.22 kry. Die eerste genooides was die verbondsvolk van die Ou Testament, Israel. Ons kry van hulle name in Hebr.11. Tydens Jesus se lewe op aarde was die genooides Juda, die Jode. Reeds in die Ou Testament het God dit duidelik gemaak dat ook mense buite Israel genooides was – Rut en Ragab is twee goeie voorbeelde hiervan. Veral na die uitstorting van die Heilige Gees het God dit duidelik gemaak dat die genooides die sondaarmense oor die hele aarde en van alle tye is wat die Evangelie van Jesus Christus hoor. Elkeen van ons is daarom ‘n genooide van God!
Hoe kom die uitnodiging by die genooides uit? Die antwoord op die vraag kry ons op baie plekke in die Bybel. Hier is twee –
Ha.1:8 – Deur die apostels wat van Jesus Christus getuig tot by die uithoeke van die aarde.
Ef.1:13 – Deur die Evangelie van verlossing deur Jesus Christus te hoor.
Vanoggend met die Bybel oop voor ons het ons God se uitnodiging aan ons.
Wat sê die uitnodiging? Hierdie is geen gewone uitnodiging nie. Hierdie uitnodiging is die evangelie van Jesus Christus wat so klink –
Joh.6:40 – “Dit is die wil van my Vader: Dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”
Ha.16:31 – “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word…”. Dit was Paulus en Silas se woorde aan die tronkbewaarder in Filippi.
Hoe moet die uitnodiging geantwoord word? Wie die evangelie van die gekruisigde Jesus Christus wat ook opgestaan het, hoor, moet ‘n antwoord gee. Daar is net een antwoord wat ‘n genooide by die bruilofsfees sal bring –
Mk.16:16 – “Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word.”
2 Tim.3:16 – “En jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Jesus Christus.”
Elkeen wat deur die Heilige Gees ‘n ware geloof het in Jesus Christus wat gesterf en opgestaan het, is ‘n genooide na die bruilofsmaal van die Lam.
Die saliges
Oor die saliges (53 vert) of geseëndes (83 vert) moes Johannes ook geskryf het. Kom ons luister na engel se woorde wat Johannes geskryf het:”Salig is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam genooi is” (Op.19:9).
Die mense wat die evangelie van Jesus Christus hoor en met ware geloof in Hom antwoord, is die mense wat saam met die Here Jesus by die hemelse bruilofsfees sal wees. Hierdie gelowiges is salig. Ons het nodig om agter te kom dat die engel nie gesê het dat die genooides sal salig wees nie, maar “salig is die genooides”. Die engel se woorde beteken dat elkeen wat in hierdie lewe die evangelie van Jesus Christus hoor en in Hom glo, nou reeds salig is!
Hierdie woorde van die engel bevat ‘n geweldige waarheid. Die waarheid is: Elkeen wat in Jesus Christus glo, is nou reeds salig. Die volmaakte saligheid waar ek in die hemel op ‘n verheerlikte manier, saam met al die ware gelowiges vir ewig sal wees, kom nog, ja. Maar dit is glad nie so dat ek eers eendag met Jesus se wederkoms sal uitvind of ek salig is of nie. Die enigel in die hemel het vir Johannes gesê om te skryf dat die genooides wat uitgenooi is en geantwoord het, salig is. Dit is so belangrik dat ek die woorde gaan herhaal: Elkeen wat die evangelie van Jesus Christus hoor en glo, IS NOU REEDS SALIG!
In hierdie onseker wêreld het elke Christengelowige die wonderlike sekerheid dat ek wat in Jesus Christus, as ons enigste Verlosser glo, nou reeds salig is. Hierdie sekerheid kry ek by die Heilige Gees. Elke keer dat ek hoor dat Jesus Christus vir my gekruisig is en opgestaan het, maak die Heilige Gees my geloof vaster en dieper en my sekerheid van my saligheid meer.
Hierdie woorde van God is waar
Die engel het sy woorde aan Johannes in hierdie gesig met hierdie woorde afgesluit:”Dit is die woorde van God, en hulle is waar.”.
Die engel het nie uit homself gepraat nie. Hy is ‘n engel in diens van die allerhoogste lewende God. Hy het net gedoen wat God hom gesê het om te doen. Hy het net gesê wat God hom opdrag gegee het om te sê.
“Salig is die genooides” – is God se Woorde. Die woorde is daarom volmaak en ewig waar en vas en seker en kan nie verander nie. Ek leef dus in 2022 en elke jaar wat God my op aarde laat leef, met hierdie wonderlike sekerheid dat ek nou reeds salig is en eendag by die hemelse fees saam met Jesus Christus sal wees.
Elkeen van ons het hierdie woorde nodig. Ons leef in ‘n sondige en stukkende land en wêreld. Dit raak die hele lewe –
Ons is nog besig om emosioneel en geestelik van Covid te herstel. Die land se ekonomie sukkel. Inflasie is die hoogste in jare. As gevolg van Rusland se oorlog teen Oekraïene het die pryse van baie goed die hoogte ingeskiet.
Die ware kerk van Jesus Christus sukkel om genoeg gelowige lidmate te hê en genoeg geld te hê.
Dan is daar persoonlike emosionele en geestelike probleme wat my baie swaar laat kry. Soms lyk en voel dit asof niks in my lewe goed en reg is nie en of niks wil uitwerk nie.
Soos mens ouer word, word gesondheidsprobleme al hoe meer en al hoe ernstiger. Om gesond te word van siekte word al moeiliker. Soms word ek nie gesond nie.
Die Here ken ons. Hy weet wat elkeen van ons in ons omstandighede nodig het. Hy wil dat ek sal weet, die swaarkry in hierdie lewe sal my nie oorweldig en onderkry nie. Ek is een van die mense wat salig is, nou reeds. Daar wag vir my ‘n hemelse fees saam met my Verlosser. Die Heilige Gees maak my met hierdie waarheid en sekerheid in my lewe sterk genoeg om deur die moeilike omstandighede te kom.
Wanneer dit swaar gaan, dink aan die hemelse bruilofsfees saam met Jesus Christus wat op jou wag. Sê vir God dankie vir die sekerheid van jou saligheid, nou elke dag en in ewigheid. Die Heilige Gees sal jou help dat in die plek van die donkerte van swaarkry, die lig van ewige saligheid in jou gedagtes en jou hart sal kom.
ANTWOORD
Sang: Sb.5-3/8:4,5
Gebed
Sang: Sb.2-4/33:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen