Home Preke Die gekruisigde Jesus laat die wêreldgeskiedenis gebeur volgens God die Vader se ewige besluit

Die gekruisigde Jesus laat die wêreldgeskiedenis gebeur volgens God die Vader se ewige besluit

Datum: 2022-02-27
|
Kernverse: Op.6:1

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.

Lof aan God: Hoe groot is U(Lied 464):1,2,3

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 37

Antwoord op die Wet: Ps.23:3,5

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.48:1,2

Lees: Openbaring 6:1-8

Kernvers: Op.6:1

Tema: Die gekruisigde Jesus laat die wêreldgeskiedenis gebeur volgens God die Vader se ewige besluit

Sang: Hoe groot is U (Lied 464:1,2,3); Ps.71:9; Ps.25:3,5; Ps.48:1,2; Ps.48:3,4; Ps.2:1,6

Inleiding:

Ons kom nou in die boek Openbaring by God se besluite in sy ewige raad oor die wêreldgeskiedenis. Ons sal hierna luister in die lees van Op.6:1 – 8:1 en die preke uit die dele van God se Woord. Dit is belangrik dat elkeen van ons nou dat ons met Openbaring besig sal wees, die hele tyd sal onthou waarmee ons besig is. Wanneer ek as gelowige weet waaroor die deel van Openbaring gaan, word dit regtig baie interessant. Die belangrike wat nog hierby kom is: God se almag en genade en sy beheer oor die wêreldgeskiedenis gee sy kerk en elke Christengelowige moed vir die lewe op aarde.

Vanoggend se tema vertel ons wat God vir ons in die deel van Openbaring sê:

Tema: Die gekruisigde Jesus laat die wêreldgeskiedenis gebeur volgens God die   Vader se ewige besluit

  1. Die gekruisigde Jesus laat die wêreldgeskiedenis gebeur.

Die hoofstukke in Openbaring is nie los van mekaar nie. Nadat ek met een hoofstuk klaar is, kan ek nie dink die hoofstuk is agter die rug en nou lees en luister ek verder nie.

In Op.6 is dit juis belangrik om te onthou wat ons in Op.5 gelees en na geluister het.

Hy wat op die troon sit, het ‘n boekrol in sy hand gehad wat voor en agter vol geskryf was en met sewe seëls toegemaak was. Hierdie boekrol het ons uitgevind, is die wêreldgeskiedenis.

‘n Engel het gevra wie die seëls kon breek en die boek kon oopmaak. Niemand kon nie, behalwe die Lam wat by die hemeltroon gestaan het. Hy het nader gegaan en die boek van Hom ontvang wat op die troon sit.

Die oomblik toe dit gebeur het, het die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die troon ‘n nuwe lied gesing dat die Lam waardig is om die boek oop te maak, omdat Hy sy lewe gegee het en sondaar uit elke volk en taal losgekoop het om ewig aan God te behoort.

Daardie geweldige hemelse toneel wat die Heilige Gees Johannes laat sien het, beteken dat God die wêrelgeskiedenis deur die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het, regeer.

Wat dit beteken dat God die geskiedenis deur die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het, regeer, kry ons nou in hoofstuk 6. Die Lam maak elke seël oop. Elke keer wanneer Hy ‘n seël oopmaak gebeur ‘n deel van die wêreldgeskiedenis.

Hier is dit baie belangrik dat elkeen wat lees en luister, met volle aandag sal lees en luister. Wanneer die Lam ‘n seël oopmaak, lees Hy nie vir Johannes wat sal gebeur nie. Johannes sien die deel van die wêreldgeskiedenis gebeur! Dat die geskiedenis gebeur, wanneer die gekruisigde Jesus ‘n seël oopbreek, beteken Jesus Christus laat die wêreldgeskiedenis gebeur!

Hier kom ‘n groot geestelike toets vir Christus se kerk, dit is vir elke Christengelowige. In die afgelope twee jaar van die Corona-virus was die belangrikste vraag, vir die ware kerk: Wat sê God vir ons hieroor in sy Woord? Tans is die wêreld ontwrig deur wat in die Oekraïne gebeur. Die belangrikste vraag wat die kerk moet kan antwoord, is: Wat sê God vir ons hieroor in sy Woord? In werklikheid moet elke wêreldleier hierdie vraag vra en antwoord. Of enige van die wêreldleiers en -regerings na God se wil gaan vra in hierdie tyd, is te betwyfel. Hierdie gebrek aan soeke na God, wys maar net hoe sondig die wêreld is.

Waarom is dit so belangrik om na God se wil in sy Woord te vra?

Die deel van die wêreldgeskiedenis na die gekruisigde Jesus die eerste seël oopgebreek het, sal vir ons verduidelik hoekom die vra na God se Woord altyd so belangrik is.

  1. God se Woord het ‘n baie belangrike plek in die geskiedenis.

Johannes het gesien en vir ons neergeskryf: Toe die Lam die eerste seël oopgemaak het, het een van die vier lewende wesens om die troon hard geroep: “Gaan uit!” (Op.6:1). Johannes het die volgende gesien:

  • Daar was ‘n wit perd met ‘n ruiter.

  • Die ruiter het ‘n pyl en boog gehad.

  • ‘n Oorwinnaarskroon is aan hom gegee.

  • Hy het as oorwinnaar uitgegaan om nog verder te oorwin.

Ons almal weet seker ons het in hierdie woorde die beelde en kleure en simbole wat so kenmerkend van Openbaring is. God praat met ons op hierdie manier, daarom het elkeen van ons nodig om te verstaan en te glo wat God vir ons sê.

Kom ons begin by die ruiter op die wit perd. Ek vermoed seker die meeste sal dink en sê dat dit Jesus Christus is. In Op.19:11-13 kry ons ook ‘n Ruiter op ‘n wit perd. Die Ruiter se Name wys duidelik dat daardie Ruiter Jesus Christus is. Wie enige van die 53- of 83-vertaling met volle aandag en ‘n gebed in die hart lees, sal een verskil tussen Op.6 en Op.19 dadelik agterkom. Wanneer Johannes oor die ruiter in Op.6 skryf, gebruik hy klein letters. Wanneer hy oor die Ruiter in Op.19 skryf, gebruik hy hoofletters. Reeds dit wys vir elkeen wat lees dat die ruiter op die wit perd in Op.6 nie Jesus Christus is nie, maar in Op.19 wel.

Daar is heelwat redes waarom die ruiter in Op.6 nie die gekruisigde Jesus is nie. Ek deel vir vanoggend net een van die redes. Onthou: Die gekruisigde Jesus maak die seëls van die boek oop. Hy laat die wêreldgeskiedenis gebeur. Hy is nie die wêreldgeskiedenis nie.

Die ruiter op die wit perd stel daarom soos al drie die ander ruiters op die perde iets voor, ‘n deel van die wêreldgeskiedenis. Wat stel die ruiter op die wit perd voor?

  • Die perd is die beeld van oorlog en oorwinning.

  • Wit is die kleur van oorwinning.

  • Die pyl en boog wys op die pyl wat geskiet wod en die teiken tref.

  • Hierdie ruiter moet uitgaan.

Die ruiter op die wit perd met die pyl en boog wat eerste moet uitgaan, om mense in hulle harte te tref, is:

DIE WOORD VAN GOD, DIE EVANGELIE VAN JESUS CHRISTUS!

Die verklaring van hierdie beeld kry ons in die Bybel self –

  • 24:14“En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.”

  • 1:8“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in Judea en in Samaria tot aan die uithoeke van die aarde.”

Die wit perd is eerste. Dit beteken die belangrikste. Die Evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, God se Woord, kom eerste. Die Evangelie is die boodskap van verlossing en oorwinning oor die sonde, die wêreld, die duiwel en die dood.

Hierdie Evangelie van die gekruisigde Jesus wat opgestaan het, God se Woord is die belangrikste in die wêreldgeskiedenis!

Is daar iemand in 2022 wat dit glo?

  1. In diens van God se Woord volg die veelbewoë wêreldgeskiedenis.

Met die oopmaak van die tweede seël het Johannes weer een van die lewende wesens hoor sê: “Gaan uit!” (Op.6:3). Johannes het ‘n ander perd gesien, ‘n vuurrooi perd.

  • Die perd is ‘n dier van oorlog en oorwin. Dit is wat die beeld beteken.

  • Rooi is ‘n kleur van geveg en bloedvergieting.

  • Die ruiter het opdrag om die vrede van die aarde af weg te neem, sodat mense mekaar sal uitmoor.

  • ‘n Groot swaard is aan die ruiter gegee. ‘n Swaard is ‘n wapen om aan te val en dood te maak.

Die aarde se mense is sondig en by verre die meeste is vyande van God.  Jesus Christus is in beheer van die vernietiging van al God se vyande. Hy gebruik nasies teen mekaar. Regerings en leiers ken God se Woord nie en veg teen mekaar, maak oorlog. Hiermee tug Hy die wêreldmens in hierdie lewe. Hierdie tug is net die voorloper van die ewige tug wat wag op elke enkele mens wat nie  in alles in God geglo het nie en nie na sy wil gevra het nie.

Die wêreld is onrustig oor wat tans in Oekraïne gebeur. Die geskiedenis met Rusland in die ooste, Oekraïne in die middel en die Europese Unie en die ander westerse lande in die Weste kom al geruime tyd.

Die belangrike vraag is:

  • Het enige van hierdie regerings en hulle leiers na God se wil in sy Woord gevra? Indien hulle die Bybel oopgemaak het om te hoor wat God oor die hele situasie sê, wat het hulle daarmee gemaak?

Solank wêreldregerings en -leiers net op politiek, diplomasie, ekonomie en militêre vermoëns staatmaak, en nie op God nie, sal wat nou in Oekraïne gebeur, aanhou gebeur en erger word.

Die derde seël is oopgemaak. Die derde lewende wese het gesê: “Gaan uit” (Op.6:5). Die deel van die wêreldgeskiedenis wat Johannes gesien het, het so gelyk:

  • Daar was ‘n swart perd.

  • Sy ruiter het ‘n skaal in sy hand gehad.

  • ‘n Stem het gesê dat net ‘n skeppie koring en drie skeppies gars vir ‘n dag se werk gegee moes word.

  • Die stem het ook gesê dat die olyfolie en die wyn nie bederf moes word nie.

Die ruiter op die swart perd wys op die ellende van honger. Tydens oorlog word die mense wat kos produseer, doodgemaak. Plase, fabrieke en ander besighede wat kos produseer en verwerk word vernietig. Honger tree in. Die skaal waarop die kos geweeg word en die skeppies koring en gars wys dat daar te min kos is.

Die woorde “Maar moenie die olyfolie en die wyn bederf nie” (vs 6), het ‘n bepaalde betekenis wat ons in ons land so goed verstaan. Te midde van die ergste ermoede en honger is daar dié wat in oorvloed leef, omdat hulle op ‘n onregmatige wyse, soos diefstal, bedrog en korrupsie die oorvloed bekom het. Hoe het Asaf nie met hierdie werklikheid gesukkel nie! Hy het ‘n hele psalm, Ps.73 hieroor geskryf. Luister hoe skryf hy:”…ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien. Hulle het geen kwellings nie, hulle is sterk en gesond, hulle het nie sorge soos ander mense nie, hulle het nie teëspoed soos ander nie. Dit is hoe die goddelose mense is! So gaan hulle ongehinderd voort om rykdom op te hoop” (Ps.73:3-5,12).

Dan is daar die vierde seël. Met die oopmaak van dié seël het Johannes die vierde lewende wese hoor sê:”Gaan uit!” (Op.6:7). Die deel van die wêreldgeskiedenis wat Johannes gesien het, het hy so beskryf:

  • Daar was ‘n vaal perd.

  • Sy ruiter se naam was Die Dood.

  • Die doderyk het agter hom aangegaan.

  • Die Dood en die doderyk het mag gehad om ‘n kwart van die aarde se ense dood te maak.

  • Die mense is op vier maniere doodgemaak: Die swaard, honger, pes en wilde diere.

Die dood is deel van die wêreldgeskiedenis. Oorlog en honger laat mense doodgaan. Die dood het nie onberkte mag oor die mense op aarde nie. Luister goed na die volgende woorde: “Aan hulle is mag oor ‘n kwart van die aarde gegee…” (Op.6:8). Die dood het nie uit sy eie deel van lewe op aarde geword nie. God het vir Adam gesê” “Die dag as jy daarvan eet, sterf jy” (Gen.2:17). God beheer ook die dood deur die gekruisigde Jesus wat opgestaan het uit die graf en die dood oorwin het. Elkeen wat nie in Hom glo nie, sterf hier op aarde en gaan die ewige dood in die hel binne. Elkeen wat in God glo, sterf hier op aarde en gaan deur na die ewige lewe in die hemel. Jesus Christus, en net Hy alleen, bepaal die dood en wat met ‘n mens gebeur by jou dood.

Die Heilige Gees het Johannes die wêreldgeskiedenis sien gebeur vanuit die hemel. Wie sou kon dink dat vier van die ses dele van die wêreldgeskiedenis gesien kan word, eintlik gesien moet word as ‘n  geskiedenis van God se Woord met die boodskap van verlossing deur Jesus Christus die belangrikste wat in die wêreld moet uitgaan, maar omdat die mensdom nie God se Woord soek en doen nie, volg daar oorlog en bloedvergieting, die ellende van armoede en honger en uiteindelik die dood.

Ons kan sê dat die Die wêreldgeskiedenis ‘n veelbewoë geskiedenis is. Daar is soveel ellende en nood.

Hierdie tragiese geskiedenis staan in werklikheid in diens van God se Woord. God se Woord met die boodskap van die gekruisigde Jesus wat opgestaan het, deel die hele mensdom in twee groepe –

  • Die mense wat sy Woord nie soek en doen nie – hulle leef van oorlog en bloedvergieting. Hulle veroorsaak die ellende van honger. Omdat hierdie mense in sonde volhard, gebruik God die dood deur oorlog, honger, siekte en wilde diere om teen hulle op te tree en hulle dood te maak. Hierdie mense se einde is God se ewige oordeel in die hel.

  • Die mense wat sy Woord soek en doen – hulle vra na God se Woord om oorlog en bloedvergieting te vermy. In tye van honger bid en smeek so ‘n gelowige vir uitkoms en help ander in nood. Christengelowige sterf ook, maar elke Christen se dood is deur Jesus Christus die deur na lewe in die hemel.

Daar is nog twee seëls wat oopgemaak moet word en waarby ons, as die Here wil, volgende Sondag sal kom. Met die deel van die wêreldgeskiedenis wat ons gesien het met die eerste vier seëls kom ons dan by die volgende:

  1. Ware geloof wat die Heilige Gees gee is ons enigste behoud.

Waarskynlik besef die minimum van mense dat vier van die belangrikste dele van die wêreldgeskiedenis die uitgaan van die boodskap van verlossing deur Jesus Christus, oorloë en bloedvergieting, die ellende van honger en die dood is.

Die kerk van Jesus Christus wat die Bybel het, die Bybel self kan lees of in ‘n erediens is waar uit Openbaring gepreek word, het die genade dat ons kan weet wat God vir ons sê en kan glo en die volgende vraag kan vra:

Wat moet ons met Op.6:1-8 doen?

Die antwoord is nie moeilik nie. Ons hoef ook nie ver vir ‘n antwoord te soek nie. Een van die baie plekke in die Bybel waar ons die antwoord op hierdie vraag kry, is Paulus en Silas se antwoord aan die tronkbewaarder in Filippi: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin” (Ha.16:31).

Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, is ons enigste redding. ‘n Nietige sondaarmens bly net behoue indien ek met ‘n ware geloof aan die gekruisigde Jesus vas is. Leef dan in hierdie wêreld, luister na alles wat gebeur met ‘n ware geloof in Jesus Christus, ons Verlosser, ‘n ware geloof wat vas en diep en seker in jou hart is.

ANTWOORD

Sang: Ps.48:3,4

Gebed

Sang: Ps.2:1,6

Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.