ONTMOETING
Votum: Ps.125:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.145:1,2,4
Geloofsbelydenis: Nicea
Sang: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Deuteronomium 5
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Sb.3-2/63:1,2,3,4
Lees: Openbaring 1:9-20
Kernverse: Op.1:12-16
Tema: Die gekruisigde Jesus leef in sy kerk en Hy het ‘n boodskap vir sy kerk
Inleiding:
Ons is by die derde en laaste preek oor die inleiding van Openbaring. Reeds in die inleiding het God ons dinge laat hoor wat vir ons regtig baie belangrik is. Vanoggend se deel is net so belangrik. Luister saam na wat die allerhoogste God vir ons in Openbaring sê.
Tema: Die gekruisigde Jesus leef in sy kerk en Hy het ‘n boodskap vir sy kerk
Jesus is die gekruisigde Verlosser tot in ewigheid
Dat ons die boek Openbaring het, is deur God se almag en sy genade. Die heidense Romeinse keiser, Domitianus, wat homself as ‘n god gesien het, het Johannes na Patmos, ‘n klein eilandjie verban, omdat hy Jesus Christus verkondig het. Die wêreldse goddelose regeerder wou die Woord van God stuit en die verkondiger stilmaak. Maar…God se almag en sy genade is groter as enige wêreldregeerder se planne. Hier lê Opanbaring oop voor ons.
Op die dag van die Here, dit was die Sondag, het die Heilige Gees Johannes ‘n harde stem agter hom laat hoor. Johannes het twee opdragte gehoor: Hy moes wat hy sien, neerskryf en hy moes wat hy neergeskryf het aan die sewe gemeentes stuur. Die stem het die gemeentes by die naam genoem: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.
Johannes het omgedraai om te sien wie met hom praat. Hy het “Iemand soos die Seun van die mens” gesien (vs 12). Eintlik staan daar dat Johannes Iemand gesien het, wat dieselfde as die Seun van die mens is. Die Persoon wat Johannes gesien het was dus die Seun van die mens.
Hierdie woorde “die Seun van die mens” is in werklikheid een van Jesus Christus, ons Verlosser se Name. Elke Naam het ‘n spesiale betekenis wat ons help om ons Verlosser goed te ken. “Seun van die mens” vertel en leer ons dat Jesus regtig ‘n ware mens geword het en in ons, mense, se plek die straf en oordeel vir ons sondes gedra het.
Johannes is deur die Heilige Gees meegevoer om te sien wat God wou gehad het hy moes sien. Hy het Jesus Christus, die gekruisigde deur die Heilige Gees gesien. Jesus was in ewige hemelse heerlikheid. Met die Heilige Gees in hom, het Johannes die Here Jesus herken. Johannes het Jesus daardie Sondag gesien, soos niemand Hom nog gesien het nie: In hemelse heerlikheid na sy opstanding en hemelvaart.
Met hierdie verskyning van die Here Jesus vertel en leer Hy ons dat Hy ewig ons gekruisigde Verlosser is. Hy het mens geword en uit liefde sy lewe vir ons gegee. Hy is na sy hemelvaart nog dieselfde Verlosser. Dit beteken: Sy liefde vir ons bly ewig vas en onveranderlik. Hierdie verskyning is bedoel om ons geloof vaster en sekerder te maak, om ons te troos en ons geloofsmoed te gee vir die lewe op aarde.
‘n Mens kan hierdie verskyning van Jesus Christus in een kort sin sê: Jesus Christus, ons Verlosser wat gekruisig is, leef! As daar een waarheid is waaraan ons in 2022 kan en moet vashou en waarmee ons mekaar moed kan en moet inpraat, is dit hierdie waarheid: Ons gekruisigde Verlosser leef!
Hy leef in sy kerk
Johannes het met die Heilige Gees in hom, sewe goue staanlampe gesien. Jesus Christus ons Verlosser was tussen die staanlampe.
Drie dinge is hier belangrik:
Die Heilige Gees het Johannes laat sien
Sonder die Heilige Gees sou Johannes niks gesien het nie en niks verstaan het nie. Sonder die Heilige Gees sou hy niks kon neerskryf nie. Sonder die Heilige Gees was daar nie so ‘n boek soos Openbaring nie. Sonder die Heilige Gees sou ons nie vandag die Bybel voor ons oop gehad het nie.
Dieselfde waarheid net andersom gesê. Dit is deur die Heilige Gees dat Johannes alles kon sien. Die Heilige Gees het elke skrywer van die Bybel gelei en gehelp. Hy het die woorde wat van God af gekom het in elke skrywer ingegee. Hy het elke skrywer geïnspireer om God se Woord neer te skryf. Die Heilige Gees het die boeke bewaar laat bly en die kerk van Jesus Christus gelei dat hierdie boek in die Bybel opgeneem moes word. Die Heilige Gees het ons op hierdie Rusdag bymekaar gebring om Openbaring te lees en te hoor.
As daar ooit ‘n jaar was dat kerke, ons twee gemeentes, maar ook die kerkverband en elke gelowige deur die Heilige Gees moet leef en oor alles dink en praat met die hulp en die leiding van die Heilige Gees, is dit hierdie jaar.
Die sewe goue staanlampe
Johannes het sewe goue staanlampe gesien. Wat is die betekenis hiervan? Om die Bybel reg te lees en reg te verstaan wat God sê, is dit nodig om in die Bybel self ‘n verduideliking te soek vir ‘n deel wat ‘n mens nie dadelik goed verstaan nie.
Met die lampe is dit maklik. In vs 20 het ons die verduideliking. Die sewe lampe is die sewe gemeentes. Die Heilige Gees het Johannes in werklikheid teruggeneem na die Ou Testament. In die tabernakel se heilige deel was die goue kandelaar of staanlamp met sewe arms met elkeen ‘n pit wat altyd gebrand het. Die een lamp was die beeld van die een verbondsvolk wat deur die Heilige Gees lig ontvang het van God in hulle lewe en lig moes uitstraal.
In Op.1:12 het ons sewe lampe en in Op.1:20 leer ons dat die sewe lampe die beeld is vir die sewe gemeentes. Die beeld van die lamp het twee betekenisse:
Die eerste – die kerk leef deur die Heilige Gees wat die lig van Jesus Christus in die kerk, dit is in die harte van die gelowiges inplant.
Die tweede – die kerk het nodig om die lig van Jesus Christus in elkeen se hart uit te straal, dat die wêreld kan sien, die Here Jesus leef in sy kerk.
Dat daar sewe lampe is wys in die eerste plek op die sewe gemeentes aan wie Johannes moes skryf (Op.1:11). Maar sewe is een van die getalle in Openbaring wat volheid beteken. Hierdie boek is daarom vir die kerk van Jesus Christus deur die geskiedenis en oor die hele aarde bedoel. Ons twee gemeentes het dus hier voor ons ‘n brief en ‘n profesie wat God vir ons bedoel het en wat Hy wil hê ons moet lees en hoor.
Die Seun van die mens tussen die lampe
Dan kom ons by ‘n wonderlike hoogtepunt van wat die Heilige Gees Johannes laat sien het en laat neerskryf het. Johannes het die Seun van die mens tussen die lampe gesien.
Dit beteken: Die gekruisigde Jesus leef in sy kerk!
Ons weet almal dat die ware kerk van Jesus Christus in Suid-Afrika sukkel. Ons twee gemeentes, maar ook die hele Gereformeerde kerkverband sukkel. Die lidmate word al minder en minder. Kyk maar in die nuutste Almanak met hoeveel lidmate ons kerkverband minder geword het. Gemeentes sukkel om finansieel te oorleef. Baie gemeentes het te min geld om ‘n predikant te bekostig en te min geld om ‘n kerkgebou in stand te hou.
Getalle en geld is die maklike dinge!
Ons kerke sukkeld om die wonderlike Evangelie van Jesus Christus in die wêreld uit te dra. Ons praat te min met mekaar oor God en ons praat nog minder met die wêreld oor God. Dit is asof ons nie weet wat om te sê nie en nie met oortuiging kan vertel dat Jesus Christus ons enigste Verlosser is en dat Hy leef nie.
Die kerk sukkel. Ons twee gemeentes sukkel. Hierdie gesukkel wat selfs na agteruitgang lyk, maak baie lidmate moedeloos en onrustig. Hoeveel van ons leef nie met swaar harte nie, want ons weet nie of ons kerk nog oor 5 of 10 jaar sal bestaan nie? Elkeen van ons hier weet baie goed wat ek dink en hoe ek voel oor my gemeente en die toekoms.
Wel, God praat met ons juis hieroor. Vanoggend sê Johannes deur die Heilige Gees vir ons: Jesus Christus ons Verlosser is hier by ons! ‘n Kort sin in vs 13 vertel ons hierdie geweldige waarheid. Hierdie woorde in vs 13 “en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens” is nie woorde wat ‘n mens net kan lees en verder aangaan met die res van die hoofstuk nie. Kom ons dink net eers goed oor die volgende:
Ons wat Openbaring lees en hoor het nodig om te besef: Die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het en leef, is hier by ons!
Op ‘n Sondag tydens ‘n erediens, is die lewende Jesus hier by ons, in ons midde! Besef elkeen van ons dat ons Verlosser elke erediens hier in ons midde is?
Wanneer ons in ons gemeente ‘n vergadering, of byeenkoms of Bybelstudie het, besef elkeen van ons elke keer dat ons die Seun van die mens, ons Verlosser by ons het?
Die kerk is nie net waar gelowiges saam is nie, die kerk is ook daar waar elke Christengelowige gedurende die week besig is. Besef en weet en onthou elkeen van ons elke dag dat Jesus Christus by my is en ek in sy teenwoordigheid is oral waar ek gaan?
Nou die vraag: As Jesus by ons is, waarom die moedeloosheid, waarom die swaar gemoed oor die kerk? Is Jesus ‘n Verlosser wat sy kerk in die steek sal laat? Of…is dit eerder sy kerk wat Hom in die steek laat en nie meer so vas en seker in Hom glo nie en veels te min oor Hom onder mekaar en met die wêreld praat nie?
Dat Jesus wat uit liefde vir ons gekruisig is en opgestaan het by ons is, hou vir ons elkeen wat opreg in Hom glo wonderlike troos en vaste sekerheid in, aan die eenkant. Aan die anderkant moet sy teenwoordigheid ons aanvuur om nie net te maak of ons kerk is en die minimum te wil doen nie. Die besef van ons Verlosser in ons midde moet ons aanvuur om met mekaar oor Jesus te praat en waar ek ook in die gemeenskap beweeg oor Jesus te praat en vir ander te met ons lewe te wys ons leef vir ons Verlosser!
Hy besit heerlikheid en mag
Minder as ‘n maand gelede het ons Kersfees gevier. Liedere is gesing en preke is gehoor oor die Kind wat gebore is en in die krip gelê het. Die heidene uit die Ooste het daardie nag al geweet die Kind is in werklikheid die Verlosserkoning en het Hom aanbid. Die geestelike leiers van Juda het geweet van die Verlosserkoning. Hulle het selfs geweet waar Hy gebore is, maar hulle harte het toegesluit gebly.
Ons het vanoggend een van die dele in die Bybel voor ons oop waarin die Heilige Gees vir ons vertel en leer dat die Verlosserkoning nie meer die Kind in die krip is nie, maar Iemand heel anders.
Hy het klere soos die hoëpriester van die Ou Testament aangehad. Hierdie beeld beteken Jesus Christus is ons enigste Hoëpriester wat die volmaakte offer vir ons sondes gebring het, toe Hy vir ons aan die kruis gesterf het. Hy is steeds ons enigste Hoëpriester wat in die hemel by sy Vader vir ons bid.
Dan – Hy het ‘n goue band om sy bors gedra. Die hoëpriester van die Ou Tetament het ‘n linnegordel om sy heupe gedra. Die beeld van die goue band om die bors beteken ons Verlosser is ook ‘n Koning wat regeer. Hy is ons ewige Koning wat ons nou en in ewigheid regeer en beskerm en lei. Hy is die Een wat my lewe so regeer dat ek saam met Hom die dood oorwin en in die hemel ewig by hom sal leef.
Verder – Sy stem was soos ‘n gedruis van baie water en ‘n skerp swaard het uit sy mond gekom. Ons Verlosserkoning is ook ons hoogste Profeet en Leraar wat ons alles van God vertel wat ons nodig het om in Hom te kan glo, deur ons geloof gered te kan word en ewig salig te kan leef.
Dit is goed en reg en nodig om aan ons Verlosser se geboorte op Kersdag te dink en te sing en te preek oor die Kind in die krip in Betlehem met die skaapwagters en die wyse manne daar om Hom. By Kersdag en die kersboodskap kan en mag dit nie bly nie.
Elke Sondag en elke ander dag van die week is daar nog ‘n boodskap om te vertel. Hierdie boodskap is net so belangrik en net so sterk soos die Kersboodskap:
Jesus Christus ons Verlosser leef!
Hy is hier by ons!
Ons het nodig om elke dag deur die Heilige Gees te leef!
Lewe deur die Heilige Gees is lewe deur geloof naby Jesus Christus en vir Hom met my hele lewe!
Hy het ‘n boodskap vir sy kerk
Jesus Christus het vir Johannes daardie Sondag gesê om wat hy gesien het op te skryf en aan die sewe gemeentes in Asië te stuur. Hy het ‘n tweede keer vir Johannes gesê: “Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is en wat gaan gebeur” (Op.1:19).
Hierdie woorde beteken dat Jesus Christus ‘n boodskap vir sy kerk het. Ons het in Openbaring, hierdie brief en profesie ‘n boodskap van ons Verlosser waarna Hy wil hê ons moet luister. Hierdie boodskap gaan oor die dinge wat was, dit wat steeds is en die dinge wat nog gaan gebeur. In die loop van die reeks preke uit Openbaring sal ons nog sien wat hierdie dinge van die verlede , die hede en die toekoms is.
Vir nou kan ons alles saamvat en sê: God regeer die wêreldgeskiedenis deur sy Seun, Jesus Christus, ons Verlosser. Hierdie waarheid moet gelees en gehoor word. Elkeen wat lees en hoor en die brief of profesie glo en in die hart bewaar, sal gered word en ewig salig wees.
Hiermee is ons klaar met die inleiding van Openbaring. In die loop van die volgende weke sal ons, as die Here wil, lees en hoor en leer hoe die wêreldgeskiedenis verloop het en waarop die geskiedenis afstuur. In die middelpunt van alles en almal staan Jesus Christus.
Kom ons lees en hoor en ontdek wat God vir ons in Openbaring sê, sodat ons moed kan kry en geestelik versterk kan word.
ANTWOORD
Sang: Sb.3-1/51:1,2,3
Gebed
Sang: Sb.4-6/68
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen