Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde
Lees: 1 Johannes 5:6-12
Inleiding:
Johannes se eerste brief gaan oor die sekerheid van die ewige lewe. Met hierdie brief oop voor ons is daar twee lewensvrae aan elkeen van ons. Die eerste vraag: Is ek seker dat ek die ewige lewe het? Die tweede vraag: Hoe kry ek hierdie sekerheid? Die preek uit hierdie deel van Johannes se brief gaan meer oor die tweede vraag: Hoe kry en hierdie sekerheid dat ek die ewige lewe het?
Oor die eerste vraag vir vanoggend die volgende: Oor die ewige lewe kan daar nie by ‘n Christen onsekerheid wees nie. God laat die gelowige wat aan Hom behoort ook nie in onsekerheid oor hierdie lewensvraag nie. Die vraag is ook nie bedoel vir eendag na my lewe op aarde nie. Johannes het hierdie brief geskryf dat elke Christengelowige wat in hierdie bedeling op aarde leef, nou reeds seker kan wees dat ek die ewige lewe het.
Hoe kry ek hierdie sekerheid? God laat my nie in die duister of ek die ewige lewe het of nie. Hy laat my ook nie in die duister oor hoe ek sekerheid van die ewige lewe kan kry nie.
Tema: Die getuienis waarop my geloofsekerheid berus
1. Die Heilige Gees is die Getuie
Johannes het baie oor Jesus Christus geskryf. Hy het ‘n Evangelie oor Jesus Christus geskryf. Hy het drie briewe oor die Here Jesus geskryf. Hy het die openbaring Wat God aan sy Seun gegee het, neergeskryf.
Ons is met Johannes se eerste brief besig. Luister weer oor hoe Johannes sy brief begin het: “Van die begin af was Hy daar. Ons het Homself gehoor; ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is” (1 Joh.1:1,2).
Hierdie brief is bedoel om vir elke leser te vertel, eintlik moet mens sê om aan elke leser te openbaar dat Jesus Christus die Lewe is en die lewe gee.
Oor die ewige lewe is daar veral vandag baie groot misverstande. Die probleem met hierdie hierdie misverstande is, dat so ‘n misverstand kan veroorsaak dat iemand nie die ewige lewe het nie. Al wat dan oorbly, is die ewige dood. Ek noem van die misverstande:
Elke mens het die reg om te glo soos hy of sy wil. Solank ‘n mens net glo, sal jou lewe gelukkig eindig.
Ek behoort aan ‘n kerk, daarom het ek die ewige lewe.
Ek kom uit ‘n Christelike huis, daarom is sal ek ewig salig word.
Die groot misverstand hier, is dat dit van my afhang en wat ek doen, of ek die ewige lewe het. Die werklikheid is heeltemal anders. Luister weer na wat Johannes geskryf het: ”Hy is die Woord, die Lewe….die Lewe het gekom….en ons verkondig aan julle die Lewe wat….aan ons geopenbaar is” (1 Joh.1:1,2). Johannes het van Jesus Christus, God se Seun geskryf.
Jesus Christus is die ENIGSTE EEN wat vir my die ewige lewe kan gee!
Hy is die ENIGSTE EEN wat deur sy KRUISIGING en OPSTANDING my van die sonde en die dood verlos en aan my die nuwe lewe, die ewige lewe gee!
Die wonder is nou: Ek het ‘n GETUIE dat ek die ewige lewe deur Jesus Christus het. Trouens, ek het DRIE GETUIES!
Die eerste Getuie is DIE HEILIGE GEES.
Die Heilige Gees kom in my binneste in. Hy begin nuwe lewe in my hart. Hy laat my hart weergebore word. In my weergebore hart gee die Gees geloof in Jesus Christus wat vir my gesterf en opgestaan het. Die Gees getuig dat ek deur Jesus Christus se kruisiging en opstanding die ewige lewe nou reeds het.
Elke keer wanneer ek die Bybel lees oor die ewige lewe deur Jesus Christus, getuig die Heilige Gees in my. Elke keer wanneer ek ‘n preek oor die ewige lewe deur Jesus Christus hoor, soos vanoggend, getuig die Heilige Gees in my.
Die Heilige Gees is die Gees van die waarheid. Hy lei my in die hele waarheid.
Ek kan die Heilige Gees se getuienis aanvaar en glo en daarmee leef!
2. Die water van Jesus se doop getuig ook
Die ewige lewe deur Jesus Christus is lewensbelangrik vir elke Christengelowige. Daarom is die getuies hieroor ook lewensbelangrik. Hoe belangrik die ewige lewe is, wys daarin dat God drie getuies gegee het hieroor.
Die tweede getuie is DIE WATER.
Elke keer wanneer ek die Bybel lees, is dit nodig dat ek sal besef ek lees God se Woord. Eintlik is die werklikheid dat God met my praat en ek is besig om te luister. Wanneer ek dan by verse soos 1 Joh.5:7,8 kom, het ek nodig om seker te maak ek hoor en ek verstaan en ek glo wat God vir my sê.
Die vraag is daarom: Wat bedoel die Heilige Gees met die water wat getuig?
Die water wat getuig, is die water van Jesus se doop.
My doop wys dat ek sonde het en nie salig sal word tensy ek van my sonde skoon gewas is nie. Maar….Jesus is God se Seun! Hy is volmaak heilig! Hy is heeltemal sonder sonde! Hy het glad nie nodig gehad om gedoop te word nie!
Waarom het Jesus Hom laat doop?
Jesus Christus, die Seun van die lewende God, ons Verlosser het Hom laat doop, omdat Hy ons liefgehad het. Jesus se liefde was nooit net woorde nie. Hy het sy liefde vir ons met sy lewe gewys. Hy het Hom uit liefde laat doop, sodat ek nog ‘n getuie kan hê om vir my sekerheid oor die ewige lewe te gee.
Die WATER van die Here Jesus se DOOP is die GETUIE dat die volmaak heilige Seun van God al my sonde op Hom geneem het!
Omdat Jesus uit Maria gebore is en daarom ‘n ware mens was, kon Hy en het Hy my sonde op Hom geneem.
Omdat Jesus van die Heilige Gees ontvang is, was Hy die Seun van die Allerhoogste. Hy was tegelyk ook ware God wat die straf op al my sonde enduit volmaak kon dra.
Elke keer wanneer ek die Bybel by Mt.3:13-17 of Mk.1:9-11 of Lukas of Johannes oopmaak en lees dat Jesus Hom laat doop het, het ek nodig om met ‘n gelowige hart te besef ek luister na een van die getuies dat God se Seun al my sonde op Hom geneem het, sodat Hy my kon verlos dat ek die ewige lewe kan hê.
3. Jesus Christus se bloed aan die kruis getuig van my volmaakte verlossing
Johannes het geskryf: “Daar is dus drie wat getuig” (vs 6). Ons kom nou by die derde getuie.
Die derde getuie is DIE BLOED.
Hoe moet ek hierdie derde getuie verstaan?
Ons kry Jesus se bloed op die heuwel net buite Jerusalem waar Hy aan die kruis gehang en gesterf het. Die bloed het uit sy kop gevloei waar die Joodse geestelike leiers spottend ‘n doringkroon gedruk het. Die bloed het uit sy hande gevloei waardeur die Romeinse soldate die spykers geslaan het om Hom aan die kruis te hang. Die bloed het uit Jesus se sy gevloei waar die Romeinse soldaat die spies ingedruk het om seker te maak dat Hy dood was.
Die bloed is die getuie dat Jesus vir my aan die kruis gesterf het. Deur sy dood aan die kruis het Jesus Christus, God se Seun my volmaak van die mag van die sonde verlos. Ek is nou nie meer in die mag van sonde soos ‘n gevangene of slaaf nie. Christus het sonde se mag oor my gebreek. Deur sy dood aan die kruis het Jesus my sondeskuld voor God volmaak betaal. Ek is die een wat sonde het. Ek is die een wat moes sterf. Maar….Jesus Christus het in my plek gesterf en my skuld voor God vir my betaal.
Jesus het deur sy bloed, dit is sy lewe te gee, die sonde se mag oor my gebreek het en my sondeskuld betaal. Hy het my vrygemaak van enige straf en enige oordeel. Hy het my weggeruk uit die dood na die lewe, die ewige lewe.
Na sy dood aan die kruis, het Hy uit die graf opgestaan en daardeur duidelik gewys dat Hy die dood oorwin het en aan my die nuwe lewe, die ewige lewe gegee het.
Wanneer ek die Bybel oopmaak en lees van Jesus se verskriklike dood aan die kruis, het ek nodig om te besef en dat ek na een van die getuies dat ek die ewige lewe het, luister. Ek het nodig om hierdie getuie met my hele hart te glo.
4. Met hierdie getuienis is ek seker ek het die ewige lewe
Die GEES….die WATER….die BLOED….drie GETUIES.
Daar is nie oor enigiets in die hele geskiedenis van die mensdom beter en duideliker en kragtiger en belangriker en meer volmaakte GETUIES as hierdie DRIE nie! Die sekerheid wat hierdie GETUIES gee, oorweldig en oorheers al die onsekerheid in hierdie sondige en stukkende land en wêreld.
Hierby kom nog dat al drie Getuies se getuienis een en dieselfde is. Die getuienis klink so:
God het ons DIE EWIGE LEWE gegee, en die lewe IS DEUR SY SEUN!
Hierdie is ‘n wonderlike getuienis!
Hierdie getuienis is ewig vas en seker!
God het hierdie getuienis vir my bedoel!
Die lewende God het my die genade gegee dat ek hierdie drie getuies kan glo!
Wanneer ek hierdie getuies glo, het ek die wondergenade en die vreugde wat ‘n mens nie in woorde kan beskryf nie, dat ek SEKERHEID VAN DIE EWIGE LEWE het!
‘n Leeftyd is nie genoeg om vir God hiervoor dankie te sê nie!
Gebed
Seën: Die genade van ons Here, Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees