Home Preke Die geweldige aanvalle op elkeen van Jesus Christus se gelowiges en hoe om te oorleef

Die geweldige aanvalle op elkeen van Jesus Christus se gelowiges en hoe om te oorleef

Datum: 2022-05-29
|
Kernverse: Op.13:10b en 18a

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.68:1,2

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 41

Antwoord op die Wet: Ps.130:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.118:4,8

Lees: Openbaring 13

Kernvers: Op.13:10b en 18a
Tema: Die geweldige aanvalle op elkeen van Jesus Christus se gelowiges en hoe om te oorleef

Sang: Ps.68:1,2; Ps.71:9; Ps.130:1,2; Ps.118:4,8; Ps.46:1,6; Ps.68:9,15

Inleiding:

In Op.12-14 wys Jesus Christus vir Johannes ‘n geweldige geestelike oorlog. In Op.12 was ons by die oorlog waar die draak, die duiwel teen Jesus Christus en teen sy kerk veg. Die duiwel het die oorlog teen Jesus Christus verloor. Die duiwel kon ook nie die kerk van Jesus Christus oorwin en vernietig nie. Die kerk van die Nuwe Testament het begin by 12 gelowiges en uitgebrei na die uithoeke van die aarde. Ten spyte van al die duiwel se planne, kon hy die kerk nie vernietig nie.

Aan die einde van Op.12 kry ons ‘n verandering in die duiwel se oorlogsplan. Hy het begin oorlog maak teen Christus se kerk “se ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het” (Op.12:17). Die woorde beteken die duiwel kom nou na elke enkele gelowige toe in jou huis, waar jy buite my huis besig is, in jou kar, by jou werk, oral waar jy is.

Is jy ernstig daaroor om God se gebooie te gehoorsaam? Glo jy alles wat Jesus Christus gesê het? Is jou antwoord “Ja”, moet jy weet die duiwel het vir jou as sy teiken. Hy is woedend, omdat hy teen die hemel en teen die kerk van Christus nie kon wen nie. In sy woede maak hy nou oorlog teen elke Christengelowige, teen jou.

Tema: Die geweldige aanvalle op elkeen van Jesus Christus se gelowiges en hoe om te oorleef

  1. Die dier uit die see – die wêreldmag

Nadat die draak teen Christus se kerk misluk het, het hy op die strand by die see gaan staan. Die see is in Openbaring die beeld vir al die volke van die wêreld. Die duiwel se plan was om die volke van die wêreld in sy oorlog te gebruik.

Johannes het toe ‘n dier uit die see sien opkom. Hierdie dier kan ons maar by voorbaat weet, is nie vriendelik teenoor die kerk van Christus nie. Die duiwel gaan hierdie dier in die oorlog teen die Christengelowiges gebruik. Die dier kom uit die see. Hierdie vyand van Christus se kerk kom uit die volke op die aarde.

Johannes het ‘n lelike en skrikwekkende dier gesien opkom uit die see. Eers het hy die tien horings en sewe koppe gesien. Op die tien horings was daar krone. Op die sewe koppe name wat God laster.

Daniël het ook so ‘n gesig gesien. Uit die see het hy het vier diere gesien opkom. Die vierde dier was vreesaanjaend met ystertande en tien horings. Die dier het die Romeinse regering voorgestel. Die tien horings is wêreldregerings en leiers wat na die Romeinse ryk na vore gekom het.

Die koppe en horings is wêreldregerings en leiers van die volke en lande. Sewe en tien is volheidsgetalle. Johannes sien al die wêreldregerings en -leiers en mense in posisies van mag, wat die duiwel teen Christus se gelowiges gebruik. Hierdie vyande van die Christengelowiges kom vanoor die hele wêreld.

Op die dier se koppe was daar name wat God gelaster het. In Eks.5:2 het ons Die Farao van Egipte wat die Here se Naam gelaster het. Luister na sy woorde: “En wie is die Here nogal dat ek na Hom sal luister om Israel te laat gaan?” Wat van die hede? Wat is om die ware God se Naam konstant in politieke toesprake te verswyg en te maak asof Hy nie leef en regeer nie, anders as laster? Die skrywers van filmdraaiboeke en die akteurs het ook mag op hulle gebied. Indien hierdie mense met die mag besluit om die Here se Naam te laster, dan is hierdie vorm van ontspanning vol laster.

Daarna het Johannes die dier se lyf gesien. Hy het soos ‘n luiperd gelyk. In Daniël kry ons vier diere: ‘n leeu, beer, luiperd en dan die vreesaanjaende een. Hier in Op. 13 sien Johannes al daardie diere in een. Hierdie beeld van die dier vertel en leer dat die wêreldmag goed toegerus is, oor die beste metodes en middele beskik om gelowiges aan te val en leed aan te doen.

Een van die dier se koppe het gelyk of daar ‘n dodelike wond is, maar die wond het gesond geword. Een voorbeeld hiervan in die verlede is die toring van Babel. Die mense se poging is teen God se wil is gestuit. Maar volke het ontstaan wat weer teen God se wil begin optree het.

‘n Tweede voorbeeld is: Twee magtige Islamleiers is vroeg in hierdie eeu doodgemaak, omdat hulle ‘n gevaar vir die wêreld ingehou het. Hierdie wonde, om dit so uit te druk, het die Islam nie gekeer om hulle stryd en oorlog vandag steeds teen Christene voort te sit nie. Daardie wond is herstel. Christengelowiges word doodgemaak en dit lyk of die duiwel en sy magte die oorlog wen (vs 7).

Johannes het verder gesien “die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangeloop” (vs.3). Al die bewoners van die aarde wat nie in Jesus Christus glo en aan Hom behoort nie, word deur hierdie magte aangetrek om agter hulle aan te gaan. Kyk maar hoe word politieke leiers, sporthelde en filmakteurs deur mense vereer. Wanneer hierdie mense so op ‘n troon geplaas word, is dit asof die woorde van Ps.146:3 “Moenie op magtiges vertrou nie, nie op ‘n mens nie” nie bestaan nie.

Niks hiervan gebeur net nie. In sy almag en sy alwetendheid laat hy die duiwel toe om hierdie magte in die wêreld in sy oorlog teen die Christene te gebruik. Die Here sê so in sy Woord: “Die dag van die Here sal nie aanbreek voordar die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie” (2 Tes.2:3).

Wat leer God ons hieruit? Ek as Christengelowige mag nooit dink dat ek ‘n rustige en gerieflike lewe op aarde het nie. Ek mag nie doof en blind wees vir die woede van die duiwel en sy oorlog teen my nie! Die korrupte politieke leier of die akteur of sanger wat laster of watter persoon wat mag misbruik, is deel van die draak se oorlog teen Christengelowiges. Niks hiervan gebeur sonder God nie.

  1. Die dier uit die aarde – die vals profeet

Johannes het ‘n tweede dier gesien wat uit die aarde uit kom. Hy is deel van die aarde. Hy kom uit die mense.

Die dier het twee horings soos ‘n lam, maar hy het soos ‘n draak gepraat. Twee horings beteken hy het die vermoë om te doen wat hy moet. Hy het gelyk soos ‘n lam, maar gepraat soos ‘n draak beteken hierdie dier is ‘n wolf in skaapsklere. Hy bedrieg Christengelowiges. Hierdie dier uit die aarde is die beeld van die vals profeet.

Jesus het hierteen gewaarsku (Mt.7:15“Pasop vir die vals profete..”). Paulus het hierteen gewaarsku (Ha.20:29,30). Vandag kan omtrent enigeen ‘n sogenaamde profeet word. Elke nou en dan hoor ons van ‘n selfverklaarde profeet. Ons kan nie meer vandag sê ‘n kerk is ‘n kerk en dis goed nie. Dit help ook nie vir ons in die hoofstroomkerke soos ons genoem word, om te dink, die vals profeet is merendeels in die swart kerke inons land nie. ‘n Afrikaanse leraar het homself Christus en die mense wat ons as ouderlinge en diakens ken, “seuns van God” genoem. Dit was ’n sogenaamde kerk met ‘n paar duisend lidmate waarvan baie Afrikaanssprekend was. Nadat die sogenaamde kerk miljoene rand verloor het, sê van die “seuns van God” dat hulle van die Here en die kerk niks meer wil weet nie.

Met wondertekens mislei die vals profeet die bewoners van die aarde. Hoeveel mense uit ons land en oor die wêreld het nie ‘n klompie jare gelede Nigerië toe gegaan om gesond gebid te word nie. Hier uit Pretoria het mense ook gegaan, wat toe nie gesond geword het nie, en reeds oorlede is.

Die vals profeet lyk soos ‘n predikant, maar wanneer hy praat hoor jy niks van die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het nie. Sy woorde is woorde oor geld en gesondheid en ander aardse tydelike voorspoed. Teen die leraar wat baie geld en goeie gesondheid in die Naam van Jesus beloof, met ander woorde ‘n lewe van voorspoed hier en nou, klink en lyk die leraar wat oor die kruis en die oop graf preek in die oë en ore van die mense maar vaal en vervelig.

Die vals profeet het ‘n sterk invloed. Hy verplig alle soorte mense, klein en groot, ryk en arm om ‘n merk op hulle regterhand of merk op hulle voorkop te dra.

Onthou, Jesus wys vir Johannes ‘n beeld. Die merk op die regterhand en die voorkop is ‘n beeld van iets anders. Iets oor die inenting teen Covid. Die inspuiting is in ‘n mens se bo-arm gegee. Daar is ‘n baie groot verskil tussen voorkop en regterhand en bo-arm. Hierdie inspuiting is nie die merk nie!

Nog ‘n voorbeeld dat die merk ‘n beeld is. Die kultusgroep in Krugersdorp wat afsprake met eiendomsagente en ander mense gemaak het en hulle wreed vermoor het, het gesê God het hulle vir Hom gekies. Dit kan glad nie wees nie, want hulle het sy sesde gebod om nie ‘n ander dood te maak nie, oor en oor op die ergste manier oortree. Videos van hulle in die hof is vrylik beskikbaar. Niemand van hulle het enige merk op hulle voorkop nie.

Ons mag nie dink dit is ‘n werklike merk nie. Hierdie is baie ernstiger as ‘n uiterlike merk.

Die regterhand is die hand wat werk, wat ondersteun. Iemand wat hard werk, iemand wat ander ondersteun, iemand wat ‘n vriend of kollega by die werk is, kan vir die duiwel werk en leef. Judas Iskariot was een van die dissipels en hy het vir die duiwel gewerk.

Die merk op die voorkop beteken iemand is duidelik of vir Jesus Christus of vir die vals profeet. Daar is nie neutrale grond nie!

Hoe weet ons wie het die merk van die dier? Teenoor die merk van die dier is die seël op die voorkoppe van die gelowiges Op.7. Die Heilige Gees is die seël, die sekerheid. Deur Hom praat Christene oor Jesus Christus en leef Christengelowiges duidelik vir Jesus Christus, sodat hulle uitgeken kan word.

Dit help nie om te dink, bloot omdat iemand gereeld in die erediens is, leef so iemand naby Jesus Christus nie. As dit by kerk toe gaan kom, het die Fariseërs en Skrifgeleerdes en Jesus se dissipels dieselfde gelyk. Die verskil het gekom wanneer die twee groepe mense hulle verhouding met Jesus gewys het en oor Hom gepraat het. Dan het die Fariseërs Jesus gehaat en gesê Hy is van die duiwel en die dissipels het Jesus liefgehad en gesê Hy is die Verlosser wat God gestuur het.

Om die dier uit die aarde, die wolf in skaapsklere, die vals profeet te kan sien, is baie harder werk as om net te kyk wie is in die kerk en te dink so iemand leef naby Jesus Christus. Ons doen dit hier in ons gemeente, maar dis verkeerd en dis gevaarlik! Die belangrike is: Hoe leef jy met opregte geloof in Jesus Christus? Hoe klink jou woorde wanneer jy oor Hom praat?

Dan: Om nie te koop of verkoop nie (vs 17), is ook ‘n beeld uit die ekonomiese wêreld wat beteken die dier maak dit in elke opsig baie moeilik vir opregte Christene in die wêreld.

Dan het die Heilige Gees Johannes die merk van die dier ook die getal van die dier laat noem. Hoe moet ons die getal verstaan? Die getal van die dier  is ‘n mens se getal. Die getal is 666. Hierdie is seker die bekendste getal onder mense. Daar is soveel al oor geraai en soveel uitsprake al gemaak. Raai bring mens nêrens.

Die getal 666 is ‘n mens se getal. Die mens is op die sesde dag geskep. Die drie sesse is ‘n volheid. Die getal beteken die mens is in die middelpunt. Dit is die vals profeet se sterk punt. Elke vals profeet plaas die mens in die middelpunt. Die mens dink hy is die belangrikste en het Jesus Christus nie regtig nodig nie. Met hierdie gesindheid is die bewoners van die aarde saam met die duiwel en al die magte en vals profete gedoem tot God se ewige oordeel.

  1. Die Heilige Gees gee volharding, wysheid en geloof

Die wêreldmagte en die vals profete is baie en sterk en slim. Hoe oorleef ek as Christen-gelowige hierdie oorlog waar ek elke dag van my lewe ‘n teiken is?

Die Heilige Gees help elke Christengelowige om te oorleef. Hy leer ons in Op.13:10,18 hoe om te oorleef. Ek het volharding, geloof en wysheid nodig.

Volharding beteken aanhou. Elke Christengelowige het nodig om nie toe te gee aan vrees of moedeloosheid nie, maar aan te hou met die vaste sekerheid dat Jesus Christus vir my gekruisig is en opgestaan het. Deur Hom is ek nou kind en erfgenaam in die ewige genadeverbond, die ewige testament van God. Die Heilige Gees gee my die geestelike krag om in hierdie vyandige wêreld te kan aanhou met die sekerheid van Jesus Christus in my lewe.

Geloof beteken ek ken God as my God en Jesus Christus as my Verlosser. Ek het ook die vaste vertroue, die sekerheid dat niks en niemand my uit my Verlosser se hand kan ruk en my sal kan skei van God se liefde vir my nie. Die Heilige Gees gee my hierdie kennis en hierdie sekerheid.

Wysheid is om in die lewe van elke dag te weet wat God se wil is en sy wil te doen. Hierdie wysheid kre ‘n Christengelowige net in die Bybel en net deur die Heilige Gees. Wanneer ek God se Woord in my gedagtes en my hart het en deur die Heilige Gees leef soos God my in sy Woord leer, sal ek die wysheid hê om in hierdie geweldige geestelike oorlog te kan oorleef.

Elke Christengelowige is in ‘n geweldige oorlog. Die duiwel gebruik sy magte en die vals profete om my te teiken. Hy is woedend, hy soek my, hy val my aan, hy wil my van Jesus Christus wegtrek.

Die Heilige Gees wat my ewig aan Jesus Christus bind, help my en gee my die geestelike krag om hierdie oorlog te oorleef.

ANTWOORD

Sang: Ps.46:1,6

Gebed

Sang: Ps.68:9,15

Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.