Home Preke Die graf was leeg, die kopdoek opgerol, want Jesus het opgestaan en Hy leef!

Die graf was leeg, die kopdoek opgerol, want Jesus het opgestaan en Hy leef!

Datum: 2021-04-04
|
Kernverse: Johannes 20:1-10

Lees: Johannes 20:1-10

Inleiding:

Hierdie naweek is elke jaar ‘n besonder belangrike naweek in die kerklike jaar. Dit is die naweek wanneer ons veral dink aan Jesus Christus se kruisiging en opstanding. Ons herdenk die twee geweldige gebeurtenisse hierdie tyd van die jaar, omdat dit min of meer ooreenstem met die tyd toe die regtig gebeur het soveel eeue gelede.

Vrydag se preek het hoofsaaklik gegaan oor Jesus Christus se donkerste Vrydag, sodat ons elke jaar Goeie Vrydag kan beleef.

Vandag se preek gaan oor die almagtige wonder van ons Verlosser se opstanding uit die dood.

Tema: Die graf was leeg, die kopdoek opgerol, want Jesus het opgestaan en Hy leef!

  1. Die boodskappers dat Jesus opgestaan het

Mense reageer baie verskillend wanneer dit by Jesus se opstanding uit die dood kom. Hier is voorbeelde van hoe mense reageer:

  • Ten tye van Jesus se lewe op aarde was daar onder die Jode ‘n geloofsgroep die Sadduseërs wat glad nie in die opstanding uit die dood geglo het nie (Mt.22).

  • Toe die mense in Athene Paulus oor die opstanding uit die dood hoor praat, het party hom uitgelag en ander wou nog meer hoor (Ha.17).

  • Toe Paulus homself voor koning Agrippa verdedig en van Jesus se opstanding uit die dood vertel het, het goewerneur Festus wat teenwoordig was, op Paulus geskreeu:”Jy is mal Paulus! Jou groot geleerdheid maak jou mal! (Ha.26).

Ons het ook nodig om te reageer op die boodskap dat Jesus Christus, ons Verlosser uit die dood opgestaan het.

Kom ons kyk na die boodskappers waarvan Johannes geskryf het.

Die leë graf

Die Sondagmôre vroeg is Maria Magdalena na Jesus se graf toe. Die ander drie skrywers van die Evangelie van Jesus Christus is elkeen deur die Heilige Gees gelei om sy weergawe van wat met Jesus se opstanding gebeur het, neer te skryf. Die vier skrywers vul mekaar aan. So kry ons die volledige openbaringgeskiedenis van Jesus se opstanding.

Ons weet Maria Magdalena was by toe Josef van Arimatea Jesus se liggaam in die graf neergelê het. Sy het geweet waat sy graf was. Sy het daardie Sondagoggend vroeg graf toe gegaan om Jesus se liggaam te balsem. Daar was ook ander vroue saam met haar. Uit Markus en Lukas weet ons dit was Maria, Salomé en Johanna.

By die graf gekom, was die eerste boodskapper die klip wat weggerol was. Dit was ‘n swaar klip wat voor die ingang van die graf was. Die klip was weggerol en die graf oop.

Ons weet verder uit die ander Evangelies dat die vroue ingegaan het en die graf leeg gekry het. Die tweede boodskapper was die leë graf self. Jesus was nie meer daar nie.

Binne-in die graf, aan die regterkant was daar volgens Markus, ‘n jongman met lang wit klere wat met die vroue gepraat het. Hy was ‘n engel uit die hemel met die boodskap dat Jesus nie daar was nie, omdat Hy uit die dood opgewek is. Die engel was die derde boodskapper.

Die vroue het teruggehardloop en die dissipels vertel wat by die graf gebeur het.  Die dissipels het hulle eers nie geglo nie, Maar Petrus en Johannes het wel na die graf toe gehardloop.

In die graf het die dissipels die doeke wat Josef van Arimatea gaan koop het en Jesus se liggaam in toegedraai het, gesien lê. Dit bring ons vir vanoggend se preek by die vierde boodskapper, die doeke en dan veral die kopdoek.

Petrus het in die graf ingegaan. Hy het die doeke waarin Jesus se liggaam toegedraai was daar sien lê. Hy het ook die doek wat om Jesus se kop was, gesien lê. Die doek was eenkant opgerol.

Het die doeke ‘n boodskap?

Ek staan vanoggend by die doeke en veral die kopdoek stil, omdat daar ‘n verklaring is wat taamlik algemeen gegee word. Dit is die volgende: ‘n Destydse Joodse man het wanneer hy klaar geëet het, sy servet onopgerol neergesit en opgestaan. Die slawe het dan geweet hy het klaar geëet. Wanneer die man vir een of ander rede tydens die ete dringend moes opstaan, het hy sy servet opgevou as teken vir sy slawe dat hy weer sou kom, om dan verder te eet. Na aanleiding daarrvan word die opgerolde kopdoek verklaar as dat Jesus daarmee gesê het dat Hy weer sal kom.

Dit klink baie mooi, maar daar is een groot probleem met so ‘n verklaring in ‘n preek: Daar is nie een Bybelse grond hiervoor nie – nie in die Ou Testament nie en ook nie in die Nuwe Testament nie.

Die heel beste is om te bly by wat in die Bybel staan. Dit is wat die Heilige Gees laat skryf het. Daarom is dit belangrik om vs 8 saam met vs 6 en 7 te lees. Johannes het geskryf toe die ander dissipel, dit is hyself, in die graf ingegaan het en die doeke so gesien lê het met die kopdoek eenkant opgerol, het hy geglo.

Wat het hy geglo?

Hy het geglo dat Jesus regtig opgestaan het!

Die doeke se boodskap is wel dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie. Indien die liggaam gesteel was, sou die doeke nie agtergebly het nie. Die opgerolde kopdoek se boodskap is dan dat Jesus Christus, wat self God was en in ewigheid is, in beheer van sy opstanding uit die dood was en regtig uit die dood opgestaan het soos Hy voorheen vertel en geleer het. Dit is wat Johannes geglo het.

Die weggerolde klip, die oop graf en die doeke, veral die opgerolde kopdoek, is volgens die Evangelie van Christus wat Johannes geskryf het, die boodskappers dat Jesus regtig opgestaan het en leef!

Hierdie is ‘n geweldige en uitsonderlike waarheid wat ons in die Bybel kry!

Hoe reageer ons hierop?

  1. My geloof in Jesus wat opgestaan het

Die eerste om te besef, is dat elkeen van ons se reaksie, se antwoord op die openbaring dat Jesus uit die dood opgestaan het, nie uit onsself sal kan kom nie. Ons het die Heilige Gees nodig om op die regte manier te reageer.

Sonder die Gees glo mens nie soos die Sadduseërs, lag jy soos die Atheners en dink jy iemand is mal wat van opstanding uit die dood praat. Met die Heilige Gees in my, is ek ‘n ander mens.

Ek het die Heilige Gees in my

Ons antwoord op Jesus se opstanding begin by die Heilige Gees – Ek het die Heilige Gees in my.

‘n Gemeente van Jesus Christus is gelowiges wat die Heilige Gees het. Elkeen van ons wat Johannes 20 lees of wat vanoggend hier in die erediens is, is ‘n gelowige wat die Heilige Gees het.

Ek leef met geloofsekerheid op aarde

Deur die Heilige Gees leef ek met geloofsekerheid hier op aarde. Watter geloofsekerheid? Ek glo vas en seker Jesus Christus het vir my aan die kruis gesterf en vir my uit die dood opgestaan!

Deur sy kruisiging en opstanding het Jesus Christus my heel grootste en ernstige probleem, naamlik my sonde en God se straf en oordeel volmaak opgelos. Hy het my sonde en die straf en oordeel heeltemal weggeneem. Hy het my ‘n verloste nuwe mens gemaak, ‘n gelowige wat die ewige lewe het.

Ek het geloofsekerheid dat ek anderkant die graf ewig in die hemel sal leef

Met die Heilige Gees in my glo ek ook vas en seker aan baie meer as net die lewe op hierdie aarde. Hierdie lewe is eenvoudig net te stukkend, net te kort en bo alles net te sondig om al lewe te kan wees, lewe wat in die dood eindig.

Daarom is dit wonderlike genade om te kan hoor en te kan glo dat Jesus Christus vir my uit die dood opgestaan het. Sy opstanding beteken dat Hy vir my die mag van die dood gebreek het en aan my die ewige lewe gegee het.

Dit is verder wonderlike genade om te kan hoor en glo dat  die Heilige Gees my deur my geloof een met Jesus Christus gemaak het. Omdat ek een met Jesus Christus is, sal ek saam met Hom en by Hom ewig in die hemel leef.

Ek leef daarom deur die Heilige Gees met die geloofsekerheid dat ek anderkant die graf, ewig in die hemel by my Verlosser sal leef!

Hierdie geweldige en wonderlike waarhede in die Bybel, is vir my bedoel, omdat Jesus Christus, God se Seun my Verlosser, vir my uit die dood opgestaan het.

Dit maak dat ek op die Sondag na Goeie Vrydag, Opstandingsondag met ‘n hart vol verwondering en dankbaarheid luister na die Evangelie van Jesus Christus wat uit die dood opgestaan het!

Gebed

Klankbaan

Luister na die preek.