Home Preke Die Heilige Gees help ons om tussen waarheid en dwaling te onderskei

Die Heilige Gees help ons om tussen waarheid en dwaling te onderskei

Datum: 2021-09-19
|
Kernverse: 1 Johannes 4:1-6

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde

Lees: 1 Johannes 4:1-6

Inleiding:

Ons kom vanoggend by ‘n deel in Johannes se eerste brief wat vir elke ware en opregte Christen baie belangrik is. Dit is ‘n deel waarin God ons leer dat elkeen van ons moet onderskei tussen geestelike waarheid en geestelike dwaling.

Tema: Die Heilige Gees help ons om tussen waarheid en dwaling te onderskei

  1. Daar is baie vals profete

Ons kom nou by ‘n deel van Johannes se eerste brief waarin hy ons teen vals profete waarsku. Ek kan nie van vals profete lees, en nie duidelikheid kry oor die volgende belangrike vrae nie:

  • Hoe ernstig is die waarskuwings teen vals profete in die Bybel?

  • Sal daar vandag in 2021 nog steeds vals profete wees?

  • Het ek die waarskuwing teen vals profete nodig?

  • Hoe weet ek wie is ‘n vals profeet?

Die eerste vraag: Hoe ernstig is die waarskuwings teen vals profete in die Bybel?

  • Vanoggend is ons by Johannes, Jesus se een dissipel se brief. Die waarskuwing kry ons in die vierde hoofstuk se eerste vers (1 Joh.4:1).

  • Petrus, saam met Johannes ‘n dissipel van Jesus het ook oor vals profete geskryf: “Maar daar was ook vals profete onder die volk, en so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën…” (2 Pet.2:1).

  • Dan, die belangrikste waarskuwing wat van Jesus, die Seun van die lewende God, ons Verlosser af kom. Luister wat sê Jesus self:”Pas op vir vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe” (Mt.7:15).

Hierdie verse is meer as genoeg om elke Christen te laat besef hoe ernstig die probleem van vals profete is.

Die tweede vraag: Sal daar vandag in 2021 nog steeds vals profete wees?

Die vraag kan ‘n kort antwoord kry. Toe Jesus met sy dissipels oor die tekens van sy wederkoms en die einde van die wêreld gepraat het, het Hy hulle ook teen vals christusse en vals profete gewaarsku (Mt.24:24). Ons is op pad na Jesus se wederkoms. Dit is juis die tyd waarin vals profete optree.

Hierby kan ek net sê die persoon wat in 2016 gemeentelede in Limpopo met insekgif gespuit het vir genesing en verlossing noem homself ‘n profeet. Daar is baie mense in ons land en ons omgewing wat hulleself profete noem en baie aanhangers het.

Die derde vraag: Het ek die waarskuwing teen vals profete nodig?

Mens kan dink: Ek behoort aan ‘n kerk. Ek het nie die waarskuwing nodig nie. Dit is juis Christengelowiges in die kerk van Christus se kerk wat hierdie waarskuwing nodig het. Luister hoe waarsku Paulus die ouderlinge van Efese: “Ek weet dat daar na my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere  sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei” (Ha.20: 29,30). ‘n Vals profeet kom juis na gelowiges in ‘n gemeente. Elkeen van ons het hierdie waarskuwing nodig.

Die vierde vraag: Hoe weet ek wie is ‘n vals profeet?

Vir vanoggend is hierdie die laaste vraag oor die vals profete. Dit sal moeilik wees om te weet wie die vals profete is, want –

Hulle kom in skaapklere, maar hulle is wolwe (Mt.7:15).

Vals profete kom uit die kerk van Christus (Ha.20:30).

Wat nie sal help om vals profete uit te ken nie:

  • Dit sal niks help om te dink ‘n leraar van ‘n gemeente sal tog nie ‘n vals profeet wees nie. Die vals profeet is juis die een wat in die gemeente sê: “So sê die Here”. Hy praat net vals woorde. ‘n Leraar is die eerste persoon wat ‘n vals profeet kan wees.

  • Dit sal ook nie help om te dink, maar die persoon het dan teologie gestudeer en ken en gebruik die Bybel nie. Teoloë het in die verlede uit die Bybel probeer bewys dat Jesus Christus nie God is nie.

Die Here wys elke Christengelowige die weg om agter te kom wie vals profete is. Ons kry die hulp in die tweede deel van 1 Joh.4:1“…maar ondersoek elkeen, ondersoek of sy gees van God afkomstig is.”

Ons kyk nou dieper na hierdie woorde.

  • Geliefdes – Johannes skryf deur die Heilige Gees aan elke Christengelowige, elke lidmaat in die gemeente.

  • Ondersoek – Ons kan ook sê “toets”. Hierdie is ‘n opdrag wat voortdurend moet gebeur. Dit staan so in die Grieks. Die vertaling is eintlik: “Ondersoek voortdurend”.

  • Of sy gees van God afkomstig is – Toets elke leraar gedurig of hy deur die Heilige Gees gelei, preek en leer.

Wat is die toets?

  1. Die belangrikheid om Jesus as die Christus te bely

Daar is een toets wat wys of ‘n leraar die Gees van God in hom het en deur die Heilige Gees preek en leer: “Hieraan ken julle die Gees van God: Elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is” (1 Joh.4:2).

Wanneer ‘n leraar oor Jesus praat, het hy een waarheid om te sê: Jesus is die Christus wat mens geword het. Johannes, Jesus se dissipel en Paulus, Jesus se apostel praat presies dieselfde taal. Luister na Paulus oor sy werk in die gemeente in Korinte: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die geskruisigde” (1 Kor.2:2).

Destyds het leraars oor Jesus gepraat. Maar hulle het Jesus wat mens geword het en dat Hy die Christus, dit is die Verlosser is wat vir sondaars gesterf het, losgemaak van mekaar. Ons kan sê hulle het hulle eie verlosser gemaak.

Daar is vandag baie leraars ons land en in ons stad wat oor Jesus praat. Ons leef in ‘n tyd waarin mense baie oor Jesus praat, maar dat Hy ook Christus is, hoor mens maar min in ons tyd. Die Here leer ons in 1 Johannes hoe belangrik dit is om juis oor Jesus en Hom as Christus wat mens geword het, te praat en te preek.

Wat sê ‘n leraar wat deur die Heilige Gees preek en leer dat Jesus die Christus is wat mens geword het? Die volgende:

Jesus is die Christus, want sy Vader het Hom gesalf om Koning te wees (Hebr.1:9) om sondaars die boodskap van verlossing te vertel en te leer (Jes.61:1) en om Homself aan die kruis te offer (Hebr.10:14). Salf kom uit die Ou Testament en beteken  Jesus se Vader het Hom vooraf bestem, Hom aangewys en gestuur om sondaars verlos.

Jesus, die Christus het hierdie verlossingswerk aan die kruis gedoen, daarom het Hy net voor Hy gesterf het, gesê: “Dit is volbring” (Joh.19:30). Die woord wat Jesus gesê het kom uit die ekonomiese deel van die lewe en beteken “vereffen” of “alles betaal”. Jesus het met hierdie woorde na ons straf en oordeel wat Hy volmaak verduur het, gewys.

Die leraar wat hierdie dinge preek en leer, bely dat Jesus wat mens geword het, die Christus is wat sy liggaam en bloed, dit is sy lewe, vir sondaars gegee het.

Dan is daar leraars wat van Jesus praat en veral van sy bloed. Hierdie leraars spreek of pleit die bloed van Jesus byvoorbeeld oor ‘n siek persoon, dat die persoon gesond sal word of oor ‘n besigheid of saketransaksie vir finansiële voorspoed. Maak so ‘n leraar Jesus nie los van sy verlossingswerk as Christus nie?

Kom ons vra onsself af: Waar kry ‘n mens die bloed van Jesus? Daar is net een antwoord: Aan die kruis! Waarom het Jesus sy bloed aan die kruis gegee? Daar is net een antwoord: Om ons van ons sonde te verlos. Dit is waaroor die bloed van Jesus gaan: Sonde, en nie gesondheid of beter finansies of watter ander rede ookal nie.

Iemand kan sê: Ja, maar Jesus het mense gesond gemaak. Dit is so. Jesus het mense gesond gemaak. Kom ons gebruik die Evangelie wat Johannes geskryf het. Die man by die bad van Betesda kon na agt-en-dertig jaar weer loop (Joh.5). Die groot skare van duisende het uit vyf brode en twee visse genoeg gekry om te eet en daar het twaalf mandjies kos oorgebly (Joh.6). Die man wat van sy geboorte af blind was, kon weer sien (Joh.9).

Al hierdie was wondertekens. Nie een het gegaan oor gesond word of genoeg kos om te eet nie! Al die wondertekens het daaroor gegaan dat elkeen kan glo dat Jesus die Christus is, en dat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê (Joh.20:31)!

Daar was nog nie ‘n Nuwe Testament nie. Jesus het nog nie aan die kruis gesterf en opgestaan nie. God het daarom besluit dat sy Seun deur sy woorde en sy wonders, mense sal leer en sal wys dat Hy die Christus, dit is, die Verlosser wat God gestuur het, is.

Ons wat nou leef, het die Nuwe Testament, die evangelie van Jesus die Christus. Met die evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, vertel en leer God ons van die grootste wonder wat sy Seun gedoen het. Hy is gekruisig en het opgestaan uit die dood! Die evangelie van Christus is nou die krag van God waardeur elkeen wat in Jesus as die Christus glo, die ewige lewe sal hê (Rom.1:16,17).

Iemand kan vra: Maar hoe bid ek dan oor my gesondheid? Jesus Christus, ons Verlosser wat gekom het om ons van God se wonderverlossingsplan te leer, het ons juis geleer hoe om te bid. In sy gebed leer Hy ons om so te bid “Ons Vader wat in die hemel is…gee ons vandag ons daaglikse brood” (Mt.6:9,11). Wanneer ek oor my gesondheid of oor enige ander behoefte vir my lewe op aarde wil bid, leer Jesus Christus ons om na ons Vader in die hemel te gaan. Hy sorg vir ons (1 Pet.5:7).

  1. Die “christen” met die gees van die antichris

Johannes skryf deur die Heilige Gees in sy brief sulke diep en sulke belangrike woorde. Luister na hierdie vers: “En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is” (1 Joh.4:3).

Die leraar wat oor Jesus praat, maar nie preek en leer dat Hy die Christus is nie, die Verlosser wat sy liggaam en bloed vir ons sonde gegee het nie, preek en leer nie deur die Heilige Gees nie. So ‘n mens die gees van die antichris.

Hierdie is nie woorde wat mens sommer net lees nie. Die woorde behoort elkeen wat lees of luister tot stilstand te bring.

Die antichris is nie net een persoon  op een tydstip in die geskiedenis nie. Johannes het reeds vroeër in sy brief geskryf dat daar baie antichriste is (1 Joh.2:18). Elke mens wat oor Jesus preek of praat of Hom bely, maar nie openlik bely dat Hy die Christus is, dit is dat Hy deur sy Vader gestuur is om ons van sonde te verlos nie, dat Hy mens geword het en vir ons gesterf en opgestaan het nie, preek en praat en bely deur die gees van die antichris.

Hierdie is geweldige woorde!

Elke leraar het daarom nodig om baie seker te maak wat hy oor Jesus bely, preek en leer.

Elke Christengelowige moet baie seker maak dat jy Jesus as die Christus, die Verlosser wat gesterf en opgestaan het, met ‘n gelowige hart bely.

Wie anders doen, het die gees van die antichris en is teen Jesus Christus en sy vyand, al praat en preek en leer so iemand oor Hom.

  1. Die sekerheid wat ware Christene het

Na die onstellende woorde in die vorige vers, het die Heilige Gees Johannes woorde wat ‘n gelowige gerusstel en troos, laat skryf.

Die vals profete wat oor Jesus praat, maar nie oor Hom wat mens geword het om ons van ons sonde te verlos nie, behoort aan die wêreld. Dit is eintlik baie erg: Iemand praat oor Jesus, maar behoort aan die wêreld. Die wêreld luister na die vals profete. Die vals profete sê waarvan die wêreld hou.

Aan die anderkant is daar die Christengelowiges wat in Jesus Christus, wat vir ons sondes gesterf en opgestaan het, glo. Hierdie Christene behoort aan God. God is deur sy Heilige Gees in elkeen wat aan Hom behoort. Hy is sterker as die vals profete en groter as die duiwel wat die vals profete aanhits.

Omdat Christengelowiges hierdie innige verhouding met God het, hoef ons nie bang te wees of te twyfel oor die vals profete nie. Elkeen wat deur Jesus Christus verlos is en aan God behoort, het reeds die sekerheid dat ons die vals profete oorwin het en nie deur hulle van God af weggelei sal word nie.

  1. Die Gees van die waarheid en die gees van die dwaalleer

Daar is ‘n duidelike onderskeid tssen mense in die wêreld. So leer Johannes ons in hierdie deel van sy brief. Daar is die mense wat aan God behoort en die Gees van die waarheid het. Dan is daar die mense wat aan die wêreld behoort en die gees van die dwaalleer het.

God maak hierdie onderskeid, daarom is dit belangrik dat ons ook hierdie onderkseid tussen mense sal maak.

Die Christengelowiges met die Gees van die waarheid glo in Jesus Christus, wat mens geword het en vir ons sondes aan die kruis gesterf het en vir ons uit die dood opgestaan het. Hierdie geloof bely ons met die oortuiging wat die Heilige Gees ons gee, elke Sondag tydens die erediens. Deur hierdie geloof wat ons by die Heilige Gees, die Gees van die waarheid gekry het, het ons die ewige lewe.

Die mens wat oor Jesus praat, maar nie oor Hom as die gekruisigde en opgestane Christus nie, het die gees van die dwaalleer. Hulle praat oor Jesus ja, maar hulle praat nie oor die ware Jesus nie. Hulle praat oor hulle eie verlosser wat hulleself geskep het. Hierdie verlosser help met gesondheid, finansiële voorspoed, veiligheid in die huis en op die pad en baie ander aardse behoeftes.

Hierdie deel van Johannes se brief is baie belangrik vir elke Christen, veral in hierdie tyd waarin ons leef. Lees hierdie deel weer en weer. Bid die Heilige Gees om jou te help om in Jesus Christus wat vir jou mens geword het en vir jou sonde gesterf en opgestaan het, te glo en in Hom alleen. Leef dan so met die Gees van waarheid in jou. Sê vir God elke dag dankie vir die genade dat die vals profete en die gees van die dwaalleer in die wêreld jou nie sal beïnvloed nie.

Gebed

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Klankbaan

Luister na die preek.