ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.105:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12=3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.8-1/14:1,2
Lees: Johannes 14 en Sondag 20
Belydenis en doop
Sing: Ps.105:5
Kernverse: Joh.14:1,7,10,16,17,25,26
Tema: Die Heilige Gees is die Gawe in die eindtyd
Sang: Ps.105:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.86:6; Skb.8-1/14:1,2; Ps.105:5; Skb.12/27-2:4,5; Skb.14-2
Inleiding:
Ware geloof waardeur ons gered word, is geloof ook in die Heilige Gees. Dit is baie belangrik om reg in die Heilige Gees te glo. Vanoggend is ons in Johannes 14 en die Heidelbergse Kategismus by ons geloof in die Heeilige Gees wat om te glo.
Tema: Die Heilige Gees is die Gawe in die eindtyd.
1. Die Heilige Gees is self God.
‘n Baie belangrike deel van die geloof waardeur ons gered word, is geloof in die enigste ware God. Van die eerste boek in die Bybel tot die laaste, kry ons hierdie baie belangrike waarheid keer op keer op keer: Daar is net een ware God.
Dit is daarom baie belangrik dat ons, wanneer ons die Bybel lees, hierdie waarheid van die enigste, ware God, raak sal sien en met opregte harte sal glo en in ons geloof sal groei. Wanneer ons Johannes 14 lees, is dit belangrik en nodig dat ons die verse oor die enigste ware God sal raaksien, daaroor sal nadink en sal glo en meer en dieper in God sal glo.
Kyk en luister saam na die volgende verse:
Vs 1 – “Glo in God; glo ook in My” – Die hele Bybel is daarvan vol dat daar net een God is. Hierdie woorde sê dat Jesus Christus God is.
Vs 7 – “As julle My ken, sal julle my Vader ook ken” – Jesus Christus en sy Vader is een. Dit is weer ‘n vers met die waarheid dat Jesus God is.
Vs 10,11 – Jesus herhaal in die verse dat Hy in die Vader is en die Vader in Hom.
Die belangrike in hierdie verse vir vanoggend se preek is dat Jesus self God is.
In vs 16 lees ons die volgende woorde: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees”. In hierdie woorde van Jesus kry ons twee belangrike waar dinge oor die Heilige Gees.
Die Heilige Gees is ewig. Net God is ewig. Die Heilige Gees het ‘n eienskap wat net God het, want Hy is God.
Die Heilige Gees is “’n ander Voorspraak”. Voorspraak is iemand wat help. Die Heilige Gees help ons om in God te glo en gelowig te leef. Net God kan aan ons geloof gee en ons help om as gelowiges te leef. Dit is die Heilige Gees.
Verder nog die volgende: In Afrikaans is dit nie so duidelik nie, maar in Grieks beteken “ander” dieselfde soort. Jesus se woorde beteken die Heilige Gees is een soos Hy. Hy leer ons in hierdie woorde dat die Heilige Gees God is.
Vs 17 – Jesus het vroeër in sy gesprek met sy dissipels gesê dat Hy die “waarheid” is (vs 6). Dat die Heilige Gees die Gees van die waarheid is, beteken Hy is die waarheid, Hy het die waarheid en Hy lei ons in die waarheid. Al hierdie wys dat die Heilige Gees God is.
Daar is selfs nog meer, maar in al hierdie verse het ons baie duidelike getuienis dat die Heilige Gees God is. Dit is baie belangrik om so in die Heilige Gees te glo, want dit is ‘n baie belangrike deel van die enigste geloof waardeur ons gered word.
2. God die Vader en God die Seun het die Heilige Gees aan ons gegee.
Die tweede belangrike waarheid oor die Heilige Gees kry ons in hierdie woorde van die Heidelbergse Kategismus: “Ten tweede is Hy ook aan my gegee”. Hierdie woorde in ons geloofsbelydenis kom uit Joh.14:16 – “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur…”.
Die Heilige Gees kom van God die Vader en God die Seun af. Hy is een met die Vader en die Seun.
Die Vader en die seun het die Heilige Gees aan ons gegee. Elke gelowige kan weet: Die Heilige Gees is aan my gegee. Die Heilige Gees is op Pinkster in Jerusalem uitgestort. Die Gees het nie net na die mense in Jerusalem toe gekom nie. Hy het na die kerk van Jesus Christus toe gekom. Hy het na die gelowiges toe gekom.
Die wonderlike genade is dat die Heilige Gees aan ons gegee is om by ons te bly en in ons te wees. Hy het gekom om nie net vir ‘n rukkie nie, maar vir ewig by ons en in ons te wees.
Die Heilige Gees is die Gawe van die eindtyd. Hy is aan ons gegee nadat Jesus Christus sy verlossingswerk op aarde afgehandel het. Christus het sy verlossingswerk in die hemel gaan voort sit, maar ons Verlosser het ons nie alleen agtergelaat nie. Hy en sy Vader het die Heilige Gees aan ons gegee.
Die tyd waarin ons nou leef, is die tyd van die oorwinning oor die duiwel en die sonde en die dood deur Jesus Christus. Dit is die tyd van nuwe lewe deur die Heilige Gees, waarin ons kan deel in die oorwinning wat Jesus Christus vir ons bereik het. Die Heilige Gees is by ons om ons in die eindtyd te lei na die wederkoms van Jesus Christus.
3. By die Gees kry ons geloof, troos en sy nabyheid.
Die Heilige Gees is die Gawe wat gekom het om groot dinge in ons lewe te doen.
Die eerste wat die Gees doen, is Hy gee geloof in Jesus Christus aan ons. Sonder die Heilige Gees het niemand geloof in Jesus Christus nie. Niemand is dan gered nie. Almal is nog in die mag van die die duiwel en sonde . Almal se lewe eindig onder God se verskriklike oordeel in die hel.
Daarom is geloof ‘n wonderlike geskenk van die Heilige Gees!
Die geloof wat die Heilige Gees gee, maak dat ons anders en nuut leef. Die getuienis hiervan het ons vanoggend gesien en gehoor. Deur die Heilige Gees bely ons ons geloof in God voor sy gemeente. Dit het vanoggend gebeur. Deur die Heilige Gees laat ouers hulle kinders doop, sodat die kinders die wonderlikste beloftes van God kry en ook die teken wat hulle oral met hulle saam dra. Dit het ook vanoggend gebeur.
Ons almal kan vanoggend aan ons belydenis van geloof en ons eie doop dink. Ons almal vanoggend hier kan met warm harte dink dat ons die Heilige Gees as Gawe van God die Vader en Jesus Christus, sy Seun gekry het.
Die tweede wat die Heilige Gees doen, is om ons te troos.
Die Heilige Gees troos ons met die sekerheid dat ek nie meer in die mag van die sonde is nie, maar dat Christus vir my die sonde oorwin het. Ek kan nou veg teen sonde en dit oorwin.
Die Gees troos ons wanneer die verdrukking en die verleidelikheid van die wêreld na ons aangestroom kom. Hy troos ons dat Christus die wêreld oorwin het en elkeen wat in Hom glo ook teen die wêreld weerstand kan bied en die wêreld oorwin.
Die Heilige Gees troos ons teen die swaar en die seer van hierdie stukkende wêreld. In die moeikste omstandihede troos die Gees ons dat God ons nie sal begewe of verlaat nie. Wanneer siekte of swakheid of dood in ons lewe kom, is ons nooit alleen nie.
Wanneer alles onseker en donker lyk, troos die Gees ons met die sekerheid dat ons lewe nou op aarde en ons toekoms vas en seker is, want ons toekoms is vir ewig veilig in Jesus Christus, die Hoof van die heelal en die Hoof van die kerk.
Die derde wat die Heilige Gees doen, is: Hy is by ons. Hy bly ewig by ons almal en by elkeen van ons. Hy gee ons sy nabyheid.
Niks wat ek doen, nêrens waar ek gaan en in niks wat met my gebeur, is ek op my eie nie. Die Heilige Gees is by my, in my. Ek leef daarom deur die Heilige Gees.
Lewe deur die Gees is lewe met ‘n wedergebore hart, lewe met geloof in Jesus Christus, lewe waar ek “nee” sê vir wat verkeerd voor die Here is en “ja” sê vir wat goed en reg vir God is. Lewe deur die Gees is lewe met sekerheid dat ek God in my lewe het en niks sonder Hom hoef te doen of deur te gaan nie. Dit is lewe wat vir my saam met al die gelowiges sal uitloop op die ewige lewe in die hemel by God ons Vader en Jesus Christus ons Verlosser.
Die wondergenade van God, die Heilige Gees wat na ons toe, na my toe gekom het, maak dat ek my lewe deur met ‘n hart warm van dankbaarheid en liefde vir die Here leef.
ANTWOORD
Sing: Skb.12-2/27:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.14-2
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen