Home Preke Die Heilige Gees maak my nuwer na God se beeld, daarom doen ek goeie werke -Ef.4:20,21,24

Die Heilige Gees maak my nuwer na God se beeld, daarom doen ek goeie werke -Ef.4:20,21,24

Datum: 2018-06-24

Die volgende aantal preke gaan oor twee baie belangrike geestelike waarhede in elke ware gelowige se lewe. Die twee waarhede kry ons in die vraag in Sondag 32: “Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?” Die twee waarhede is verlossing deur Christus net uit genade en goeie werke en waarom ons steeds goeie werke moet doen.

 

Tema: Die Heilige Gees maak my nuwer na God se beeld, daarom doen ek goeie werke

  1. Ek is ‘n nuwe mens uit genade deur Christus

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood..”

(1 Pet.1:3). So begin Petrus sy eerste brief.

Paulus, deur die Heilige Gees, skryf oor die nuwe lewe net in ander woorde. Paulus het die brief aan die gemeente in Efese geskryf. Die brief was bedoel vir ander gemeentes destyds in Klein-Asië. Die brief is dus ‘n brief aan Christus se kerk, daarom is die brief ook vir ons bedoel.

“Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is” (Ef.4:24) is Paulus se woorde oor die nuwe lewe.

Hoe word jy ‘n nuwe mens?

Jy word ‘n nuwe mens deur Christus. Die gelowiges in Efese het nuut geword toe hulle Christus leer ken. Hulle het van Christus gehoor. Hulle is onderrig in die waarheid wat in Jesus is. Hierdie waarheid is dat die mensdom in sonde verlore was. God het sy Seun gegee. Jesus het mens geword. Hy het swaar gely. Uiteindelik het Hy aan die kruis gesterf. Deur sy dood het Jesus ons van sonde verlos. As ou mens was elkeen van ons in die mag van die sonde. Jesus het ons uit die mag van sonde verlos. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy vir ons die dood oorwin en vir ons die ewige lewe verwerf. Die gelowiges in Efese het hierdie waarheid gehoor. Hulle het in Jesus geglo en Hom gevolg.

Soos dit met die gelowiges in Efese gebeur het, so gebeur dit met elke gelowige op elke plek op die aarde. Jy hoor die Evangelie dat Jesus Christus jou Verlosser is. Deur die Heilige Gees glo jy in Christus. Wie in Hom glo, het deur Hom die ewige lewe, is deur Christus ‘n nuwe mens.

Christus maak jou deur sy sterwe en opstanding ‘n nuwe mens.

Om ‘n nuwe mens te wees, ‘n mens wat verlos is van sonde, wat die ewige lewe het, is ‘n wondergenade. Christus het vir jou gesterf en opgestaan uit genade. Hy het jou van sonde verlos en aan jou die nuwe lewe gegee, uit genade. Jy is ‘n nuwe mens uit genade.

Hoe sien jy jouself?

Dit is baie belangrik: Jy wat in Christus glo, mag jouself, eintlik moet jy jouself sien as ‘n nuwe mens.

  1. Christus vernuwe my deur sy Heilige Gees meer en meer na God se beeld

Die vraag in Sondag 32 is: “Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus van ons ellende verlos word?”

 

Die eerste deel van die antwoord op die vraag is: “Omdat Christus ons , nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy beeld vernuwe…”

Die ou mens is die mens in die mag van sonde. In Ef.4:17-19 leer ons die ou mens ken as iemand wie se gedagtenis tot niks lei, iemand wie se verstand verduister is. Die ou mens het geen deel aan die lewe wat God gee nie, omdat so iemand hardnekkig in sondige onkunde oor God volhard. ‘n Ou mens is afgestomp en leef met ‘n onversadigbare drang om losbandig te leef en al wat vuil is te doen.

Die nuwe mens is heeltemal anders en leef ook heeltemal anders.Christus het my deur sy dood en opstanding ‘n nuwe mens gemaak. Hy gaan verder en doen nog meer aan my. Hy maak my deur sy Heilige Gees al nuwer en nuwer na God se beeld. Nadat Christus opgestaan het uit die dood, het Hy na die hemel opgevaar een an die regterhand van sy Vader gaan sit. Hy en sy Vader het die Heilige Gees in die kerk uitgestort. Die Heilige Gees leef en werk in Christus se kerk. Dit beteken Hy leef en werk in elke gelowige. Deel van sy werk in my as gelowige is om my meer en meer na die beeld van God te vernuwe.

Dit is eweneens ‘n wondergenade in elke gelowige se lewe, dat ek die Heilige Gees in my het. Hy is die Gees van Christus. Christus vernuwe my deur sy Heilige Gees meer en meer na God se beeld.

Besef ek die genade in my lewe dat ek die Gees in my het?

Dank ek God elke dag vir die Heilige Gees in my?

Leef ek as die beeld van God?

  1. As nuwe mens doen ek deur die Gees goeie werke

Hoe leef ‘n nuwe mens?

Hoe leef ek as beeld van God?

In Sondag 32 gaan ons belydenis oor goeie werke. In Ef.4 gaan dit oor lewe volgens die wil van God en afgesonder vir Hom.

Ek leef as nuwe mens deur goeie werke te doen. Om die vraag in Sondag 32 te antwoord: Ek doen goeie werke, omdat ek deur die Heilige Gees my hele lewe deur na die beeld van God vernuwe word. Al is ek uit louter genade, sonder enige verdienste verlos, doen ek steeds goeie werke. Ek doen goeie werke, want ek is ‘n nuwe mens en die Heilige Gees maak my nuwer en nuwer na God se beeld.

God se genade in Christus maak my nie passief nie. Genade laat my nie op my louere rus, asof ek geestelik niks hoef te doen nadat ek uit genade verlos is nie. Allesbehalwe! God se genade vuur my juis aan om as nuwe mens goeie werke te doen.

Dit is maklik om tussen nuut en oud te onderskei. Daar is ‘n groot verskil tussen iets wat oud is en iets wat nuut is. Die Here leer ons ook in Ef.4 dat daar ‘n groot verskil bestaan, tussen ‘n ou mens in die mag van sonde en ‘n nuwe mens wat verlos is van sonde. Hierdie verskil behoort duidelik in my lewe gesien kan word.

  1. Die goeie werke wat ek doen, wys in my lewe

Hoe moet die goeie werke wat ek as nuwe mens doen, in my lewe duidelik wys? Die Here leer ons in sy Woord.

Ef.4:25 – Ek lê valsheid af en praat die waarheid. Leer in Sondag 43 hoe om valsheid af te

lê en die waarheid te praat.

Ef.4:26 – As ek kwaad word, bly ek nie kwaad en sluit die dag kwaad af om die duiwel

vatkans te gee nie.

Ef. 4:28 – Iemand wat ‘n dief is hou op steel, werk hard en voorsien op ‘n eerbare manier

aan eie lewensonderhoud. Jy hou ook oor vir iemand wat arm is.

Ef.4:29 – Ek gebruik nie vuil taal nie. Ek praat net wat goed en opbouend is vir ander.

Ef.4:30 – Ek bedroef nie die Heilige Gees nie, maar ek onderwerp my aan Hom en luister na

Hom.

Ef.4:31 – Ek is nie verbitterd of opvlieënd nie. Ek vloek nie en ek skel nie. As nuwe mens is

ek goedgesind en hartlik teenoor ander en vergewe ek ander soos God my

vergewe het.

Die Here leer ons in Ef.4 baie belangrike geestelike waarhede en dit op ‘n baie duidelike manier:

  • Christus maak ons deur sy dood en opstanding nuut en dit net uit genade.
  • Die Heilige Gees maak ons nuwer en nuwer na God se beeld.
  • Omdat ek ‘n nuwe mens is, doen ek, aangevuur deur God se genade, goeie werke.
  • Die goeie werke wat ek doen, moet duidelik in my lewe wys.

Jy is ‘n nuwe mens deur Christus. Beveg dan in die krag van die Heilige Gees, die sondige ou mens wat nog wil deurbreek in jou lewe. Lewe in die krag van die Heilige Gees ‘n nuwe lewe en wys goeie werke in jou lewe!