ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmharigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.68:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Sb.12-3/72:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,3,17
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.99:1,2,3
Lees: Openbaring 8
Kernvers: Op.8:1,2
Tema: Die heilige God se oordele oor die aarde en sy mense
Sang: Ps.68:1,2; Sb.12-3/72:1,2; Ps.38:1,3,17; Ps.99:1,2,3; Ps.130:2,3; Ps.68:13,15
Inleiding:
In Openbaring 5 het ons die boek wat met sewe seëls verseël is met net die Lam wat die seëls kan oop maak. Die boek met die sewe seëls is die wêreldgeskiedenis. Die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het en lewe, is die middelpunt van die wêreldgeskiedenis. In Op.6 het ons na die eerste tot die sesde seël en wat elke seël beteken, gekyk. Met die sesde seël in Op.6 het Johannes die wêreldgeskiedenis tot by Jesus se wederkoms gesien.
Daar bly nog een seël oor. Met die sewende seël wys Jesus Christus vir Johannes die wëreldgeskiedenis vanuit ‘n heeltemal ander hoek. Ons kyk na dieselfde wêreldgeskiedenis, maar op ‘n ander manier.
Tema: Die heilige God se oordele oor die aarde en sy mense
Die stilte voor die storm uit die hemel
Dit is belangrik om elke keer te sien dat die gekruisigde Jesus die seël oopmaak. Die geskiedenis gebeur nie net nie. Dit is ook nie wêreldregerings en -leiers wat in vergaderings in sale besluite neem en dan gebeur alles nie. Onthou, die Here Jesus wys vir Johannes die geskiedenis vanuit die hemel. Johanes sien wat regtig gebeur en ons lees dit.
Verder is dit belangrik dat ons nie ons eie verstaan van wat in die wêreld gebeur uitdink en opmaak en praat asof dit die werklikheid is nie. Wanneer dit goed gaan en regerings neem besluite waarvan ons hou en dinge wat ons graag wil hê, gebeur, sê ons dit is die Here se genade en Hy is goed vir ons. Wanneer besluite waarvan ons nie hou nie, geneem word en dinge wat vir ons sleg is, gebeur, dan sê ons dit is die Satan. Ons dink en praat dan asof God nie bestaan nie. Dit is asof ons dink God staan terug en die duiwel doen wat hy wil. Dit, terwyl daar baie plekke in die Bybel is waar die Here vir ons sê en leer waarom Hy swaarkry in ons lewe bring. Net een voorbeeld: Na Job se verskriklike beproewing was sy woorde: ”Die Here het gegee, die Here het geneem. Prys die Naam van die Here” (Job 1:21). Dit is hoe ‘n gelowige glo en dink en voel en praat. In een van ons belydenisskrifte bely ons ons geloof dat God ook swaarkry oor ons bring (HK, Sondag 10).
Lees en luister goed, sien raak en hoor, verstaan, besef en glo: Die gekruisigde Jesus maak die seëls oop. God die Vader laat die wêreldgeskiedenis deur sy Seun gebeur. Die duiwel is nie die een wat die geskiedenis laat gebeur nie. Glad nie die goeie dinge nie en ook nie die swaar dinge soos Covid-19 en die oorlog in Oekraïne nie.
Hierdie belangrike waarheid dat die heilige God sy oordele oor die aarde en sy mense laat kom, sal ons as Hy wil, in die sewe trompette of basuine wat uit die sewende seël kom, duidelik kan raaksien.
God is dan liefde, sal iemand sê. Dit staan in die Bybel. Ja, dit is reg. Ons lees dit in 1 Joh.4:8. Maar, ek mag nie net die verse lees en onthou waarvan ek hou en wat my goed laat voel nie.
Daar is ook die volgende twee verse in die Bybel, in die Nuwe Testament:
Hebr.10:31 – Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.
Hebr.12:29 – Ons God is ‘n verterende vuur.
Toe Jesus die sewende seël oopmaak, het daar ‘n stilte in die hemel gekom, omtrent ‘n halfuur lank. Die sewe engele is reeds gereed met die sewe trompette van God se oordeel oor die aarde en sy mense. Hulle moet eers wag, in algehele stilte wag. Die oordele wat met elke trompet sal gebeur, gaan erg wees. Die hemel word daarom stil voor die heilige God.
Ons kan so baie leer in Openbaring. Wanneer Hy sy oordele oor die aarde en sy mense laat kom, is diepe verootmoediging, die hoogste ontsag en heilige eerbied nodig.
Gebed is noodsaaklik wanneer God se oordele kom
Johannes het die volgende gesien: Die sewe engele het voor God gestaan. Die engele is in God se diens. Omdat engele nie sondig is soos ons mense nie, gehoorsaam hulle God altyd volmaak en doen presies wat Hy verwag.
Daar is aan die engele sewe trompette gegee. Die engele tree nie uit hulleself op nie. Ons moet raaksien. Die trompette word aan hulle gegee. Hulle kry die trompette met di eopdrag om daarop te blaas, die een na die ander, sal ons in Op.8 en 9 en 11 sien.
Ons sal met die blaas van elke trompet ook sien dat God sy oordele oor die aarde en sy mense laat kom. Ons kan sê ons gaan sien hoe die heilige God se hand swaar op die aarde en sy mense druk.
Johannes het hierna ‘n ander engel gesien. Hy het by die altaar gaan staan. Hy het ‘n goue wierookbak in sy hande gehad. Daar is baie wierook aan hom gegee. Hierdie engel offer die wierook saam met die gebede van al die gelowiges op die goue altaar. Johannes sien die altaar en die offer van die Ou Testament. Die Here wys dit nie sonder rede nie. In die laaste boek van die Nuwe Testament, sien ons hoe belangrik die Ou Testament steeds is. Die stemme in die kerk wat beweer die tyd van die Ou Testament is verby, is so verkeerd. Trouens daardie stemme verskil van Jesus Christus wat Johannes die altaar en die offer laat sien het en van die Heilige Gees wat Johannes hierdie vers laat neerskryf het.
Met hierdie twee verse leer die Heilige Gees ons soveel baie belangrike dinge.
Wanneer die oordele van God oor die aarde en sy mense kom, is gebed regtig noodsaaklik, lewensnoodsaaklik. Gebed is innige kontak, innige soeke, innige uitroep na God wat uit die hart van ‘n gelowige kom. Gebed is elke keer uitsonderlik, spesiaal en kosbaar. Daar is in hierdie lewe nie nog iets soos gebed nie.
Bloot omdat ek bid, beteken dit nie, my gebed is vir God aanvaarbaar nie. Hy is die Allerhoogste, die Heilige en ek is sondige mens op aarde. My gebed het wierook nodig. Wierook is ‘n geurmiddel kan mens sê, wat ‘n aangename geur by die altaar in die tempel veroorsaak het. Wat maak my swak en nietige gebed aangenaam voor God? Die bloed van die gekruisigde Jesus! So, ek kan eintlik net bid, indien ek met ‘n opregte hart in Jesus Christus glo en Hom met my lewe liefhet en in ‘n innige verhouding met Hom leef, met Hy as “my Here en my God”!
Die gebed van ‘n gelowige kom tot by God waar Hy, die Allerhoogste op sy hemeltroon sit. Daarom: Bid sonder ophou. Wanneer God se oordele kom, bid. Ons het met Covid gebid. Ons bid nou met die oorlog in Oekraïne. Ons bid vir die vervolgde kerk van Christus oor die aarde. Ons bid tydens droogte en ander rampe. Ons bid vir mense waarvan ons weet wat beproef word. Ons bid vir ons land wat agteruitgaan. Dit is reg. Ons kan nog meer bid. Ons gebed kan nog dieper wees. Ons kan nog meer smeek en pleit. Ons kan nog meer dankiesê.
Toe het die engel die wierookbak gevat met vuur van die altaar af volmaak en dit op die aarde uitgegooi. Die uitgooi van die vuur het verskriklike dinge veroorsaak: Donderslae, dreunings, weerligstrale en ‘n aardbewing. In hierdie vers sien ons die uitwerking van die gelowiges se gebede. Onthou die gebede van die martelare waarvan ons in Op.6:10 gelees en gehoor het:”Hoe lank nog , heilige en getroue Heerser? Wanneer voltrek U die oordeel en wreek U ons dood op die bewoners van die aarde?”
Met hierdie vers wys God ons dat Hy daardie gebede verhoor. Ons leer hier dat daar ook plek is vir ‘n gebed dat God sy vyande en die vyande van sy kerk sal oordeel. God hoor ook daardie gebede.
God se hand rus swaar op die aarde
Die eerste engel blaas die eerste trompet. Hael en vuur met bloed gemeng. Hierdie is ‘n vernietigende haelbui as een van die oordele van God oor die aarde en sy mense. Die vuur in die geweldige haelstorm is weerlig. Die hael en vuur met bloed vermeng wys op lewensverlies wanneer hierdie oordeel van God oor die aarde en sy mense kom. Die hael en vuur met die bloed vermeng is op die aarde gegooi. Hierdie storm rig vernietigende skade aan. ‘n Derde van die aarde, ‘n derde van die bome en al die groen gras saam met die deel van die aarde en die bome het verbrand.
Die tweede engel blaas sy trompet. Iets soos ‘n vuurspuwende berg is in die see gegooi. Johannes sien ‘n geweldige gebeurtenis. ‘n Vuurspuwende berg word in die see gegooi. Die gevolge is baie erg. ‘n Derde van die see het bloed geword. ‘n Derde van alles wat in die see lewe, het doodgegaan. ‘n Derde van die skepe het vergaan.
Die derde engel blaas op sy trompet. ‘n Groot ster wat soos ‘n fakkel brand het van die hemel af op ‘n derde van die riviere en waterbronne geval. Die ster het ‘n naam gehad. Die Griekse naam is Apsinthos wat ‘n bitter kruie was. Ons vertaal die naam met Alsem (53 vert) of Bitterals (83 vert). Hierdie buitengewone verskynsel se nagevolge was ook weer baie erg. ‘n Derde van die water het bitter geword. Baie mense het van die water doodgegaan, omdat dit besmet was.
Die vierde engel blaas sy trompet. ‘n Derde van die son, die maan en die sterre is getref. Die derde wat getref is, het donker geword. ‘n Derde van die dag het saam donker geword en ‘n derde van die nag.
Wat sien ons in hierdie vier engele wat hulle trompette geblaas het, met elke keer iets heeltemal buitengewoon en verskriklik wat gebeur?
Die rampe tref die skepping.
Met elke trompet wat ‘n engel blaas word ‘n derde, ‘n deel van die skepping getref – Aarde, bome en gras, die see, die riviere en waterbronne, die son maan en sterre.
Die verskynsels gebeur nie net nie. Elke ramp word op die aarde gegooi. Die rampe kom uit die hemel uit. God laat dit gebeur.
Net ‘n deel van die skepping, ‘n derde, word telkens getref. Dit wys op God se oordele, maar nog nie die finale oordeel nie.
Die vraag is hoe ons hierdie rampe moet verstaan. Daar is verklaarders van hierdie deel wat alles geestelik wil verstaan asof elke trompet wat geblaas word en wat daarna gebeur ‘n geestelike betekenis het. Maar dit is nie die regte verstaan van hierdie verse nie.
Die Here het in die verlede rampe in die skepping laat plaasvind om die mense op die aarde te oordeel. Onthou die volgende:
Gen 7:17-20 – die sondvloed.
Eks 7-12 – die tien plae in Egipte.
Die beste is om hierdie eerste vier trompette met die oordele as werklike rampe te sien wat God oor die aarde en sy mense laat kom. Van hierdie rampe het reeds gebeur. Van hulle lê nog in die toekoms. In die Bybel lees ons van die sondvloed en die tien plae in Egipte. Die volgende kan ‘n mens in die geskiedenis noem:
1918 – Tot 50 milj mense sterf in die Spaanse griep. Dit mag selfs meer wees.
2020-2022 – Tot dusver sterf meer as 6 milj mense wêreldwyd a.g.v. Covid-19.
Wanneer God die mense op die aarde met hulle baie sonde oordeel, rus sy hand swaar op die aarde en sy mense. Met die eerste vier trompette het God die land, die see, die waterbronne en die hemel getref. Tydens God se oordele is daar lewensverlies. Mense sterf en dele van die skepping word vernietig.
Hieruit het ons elkeen nodig om soveel te leer en in ons lewens te gebruik. Wanneer ‘n ramp in die skepping gebeur, is dit nie genoeg om die verskriklike gevolge na te kyk en oor te praat nie. Ons as Christengelowiges het die Heilige Gees in ons. Ek het nodig om dieper te kyk en God se oordele raak te sien.
Daar is genadetyd vir geloof en bekering
Wat nog belangrik is om raak te lees, is dat telkens net ‘n derde deel getref word en nie die hele aarde of al die oseane en seë nie. Dit beteken die oordele is nog nie finaal nie. Daar is nog genadetyd vir geloof en bekering. Hierdie genadetyd moet benut word met smeekgebede van verootmoediging en skuldbelydenis en vergifnis. Verder ‘n verandering in elkeen van ons se lewe – nader na God toe, meer gehoorsaam aan sy wil.
Die trompette word onderbreek. ‘n Arend vlieg in die middel van hemel. Hy het met ‘n harde stem geskree: “Wee, wee, wee die bewoners van die aarde wanneer die ander drie engele op hulle trompette blaas”. Hierdie onderbreking beteken die volgende oordele van die Here sal erger wees. Ons hoor dit ook in die arend se roep. Die arend is ‘n roofvoël. Die drie keer “wee” beteken volle verskrikking. Die oordele sal erg wees. Die woorde wat die arend skree wys ook op die verskrikking van die oordeel.
Die oordeel is veral bedoel vir die bewoners van die aarde. Dit is die mense wat nie in Jesus Christus ons Verlosser geglo het nie.
Hoor die Here se Woord – gedurende sy oordele rus sy hand swaar op die aarde en sy mense.
Luister na wat Hy sê.
Sien en aanvaar die oordele uit sy hand.
Leef naby God deur gedurig te bid.
ANTWOORD
Antwoord op God se Woord: Ps.130:2,3
Gebed
Antwoord op God se Woord: Ps.68:13,15
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen