Home Preke Die Here gee eers sy genade, dan sy gebod

Die Here gee eers sy genade, dan sy gebod

Datum: 2020-09-27
|
Kernverse: Eksodus 19:1-6; 20:1,2

Lees: Eksodus 19:1-6; 20:1,2

Inleiding:

Om God te ken is die ewige lewe. Hoe kan ek Hom ken, sodat ek die ewige lewe kan hê?

Prakties: in ‘n tyd soos hierdie waar ‘n nuwe Koronavirus die hele wêreld omgekeer het, miljoene mense siek gemaak het en meer as 16 000 mense in ons land laat sterf het, behoort ‘n mens te besef: God alleen is my lewe, my behoud. Hy alleen kan help in ‘n baie vreemde tyd soos hierdie. Ek het so nodig om die ware God reg te ken.

Ons het hierdie Sondag en elke ander Sondag gekry.

Ons kan in ‘n erediens wees.

Ons het die Bybel, God se Woord, wat ons kan oopmaak om te luister na wat ons God vir ons sê, hier in die erediens en ook by die huis.

Ons kan God leer ken – Wie Hy is, wat Hy doen en wat Hy wil.

Ons kan in ons verhouding met God groei en ons geloof kan dieper en vaster word.

Tema: Die Here gee eers sy genade, dan sy gebod

  1. Die Here is die genadige Verbondsgod

Die Here maak Homself in Genesis 19 en 20 aan ons bekend, sodat ons Hom kan ken.

Ons kyk na belangrike waarhede wat die Here aan ons bekendmaak van Homself:

Soveel keer in die Bybel, maak een enkele woord al die verskil. Lees jy verby die woord, verstaan jy nie wat die Here vir jou sê nie. Sien jy die een woord raak, dink daaroor en maak die woord jou eie kom jy by die lig uit wat God vir jou bedoel het, leer jy Hom ken, groei jy in jou verhouding met Hom. Jou liefde vir Hom sal dieper word en daaruit volg dat jy Hom beter en meer sal gehoorsaam. Lees daarom die Bybel met die gebed in jou hart dat die Heilige Gees jou sal lei en leer om wat God vir jou sê te hoor en te glo.

Die eerste belangrike waarheid kry ons in die woord “Toe” (Eks.20:1).

Wat beteken die woord in die begin van die Wet? Mens kan nie die Tien Gebooie lees, en hierdie eerste woord en die volgende woorde in Eks.20:1,2 nie raak lees en dan regtig besef wat die Here daardeur sê nie.

Wat lê alles in hierdie woord opgesluit? Hierdie woord vertel baie van Wie God is. Die Here het vir Moses vooraf gesê dat Hy met hulle gaan praat oor sy verbond en hulle gehoorsaamheid aan sy verbond. Israel moes hulle ook gereed maak om na die Here te luister.

Die Heilige Gees het die skrywer van Eksodus so gelei om God se gesprek met Israel so te begin “Toe het God al hierdie woorde gesê”. Later het die Here sy gebooie gegee. Die Here praat eers oor wat alles vooraf gebeur het, voor Hy sy verbondsgebooie gee. Wat het alles vooraf gebeur?

Kom ons kyk eers net na Eks.19 – Die hoofstuk begin met “Presies drie maande na hulle uittog uit Egipte het die Israeliete in die Sinaiwoestyn aangekom” (Eks.19:1). Die Here het Israel uit Egipte laat trek. Hy het Israel van onmenslike slawerny verlos. Ten diepste het Hy Israel van die dood verlos. Die seuntjies van Israel moes almal summier doodgemaak word. Met Israel se laaste nag in Egipte is al die oudstes in Egipte onder die heilige God se oordeel oorlede. Niemand in Israel het gesterf nie.

Israel het baie genade van die Here gekry. Hulle het nie genade by die Here gekry, omdat hulle so ‘n uitstaande groep mense was nie. Uit al die volke het die Here hulle gekies om syne te wees. Daar was baie groter en sterker volke destyds. Die Egiptenare was een so ‘n volk. Die Here het Israle gekies om aan Hom te behoort. Dit is net genade.

Waaroor gaan dit in Eks.19 en 20? Dit is te eenvoudig en sonder genoeg diepte om te sê dit gaan oor die Wet. Die Here sê self dat die gebeure oor sy verbond gaan.  Israel was reeds die verbondsvolk. By Sinai het die Here sy verbond duideliker gemaak en ook duideliker gewys dat Hy Israel vir Hom afgesonder het as sy verbondsvolk, sy eiendomsvolk.

Nadat die Here sy genade van verlossing gegee het, het Hy met Israel oor sy verbond gepraat.

Hoe raak die verbond ons vandag?

God se verbondsgenade is baie duidelik in Jesus Christus. Niemand van ons was in die genadeverbond nie. Almal was ver van Hom af en het nie deel aan sy genade en heerlikheid gehad nie. God se genade het alles verander. Hy het uit genade ‘n verbond met Abraham en sy nageslag gesluit. Abraham en sy nageslag het die genade nie verdien nie. Tog is hulle in die genadeverbond as kinders en erfgename opgeneem.

God se genade deur Jesus Christus het alles vir ons verander. Wie aan Christus behoort is deel van die nageslag van Abraham en ook kinders en erfgename in die genadeverbond (Gal.3:29). Christus het deur vir my aan die kruis te sterf en vir my op te staan, my uit die mag van die sonde en die ewige dood geruk. Hy het my syne gemaak. Ek behoort aan Hom, deur die geloof in my wat ek van die Heilige Gees gekry het. Omdat ek aan Christus behoort, is ek in die genadeverbond.

God is eers die God wat goed is, wat genade gee, wat liefde gee.

Tweedens is die volgende woorde belangrik:

“Ek is die Here jou God” – Met hierdie woorde maak die Here duidelik dat Hy Hom in sy Persoon aan Israel, sy verbondsvolk gebind het.

Die Here is nie ‘n Godheid ver van ons af op ‘n afstand nie. Van die begin af wil Hy ‘n persoonlike verhouding met ons as mense gehad het. Hy het met Adam en Eva gepraat. Hy het in die aand na hulle toe gekom en saam met hulle geloop. Hy het vir Abraham gesê: Ek sal jou God wees en die God van jou nageslag (Gen.17:7).

By Sinai het die Here Homsellf bekend gemaak met hierdie woorde: Ek is die Here jou God.

Hierdie woorde vertel vir ons wat die kern van die verhouding tussen God en mens is. Die lewende Here is in sy Persoon my Here en my God. Op hierdie openbaring het ek net een antwoord en dit is om met ‘n hart vol geloof te sê: My Here en my God.

Dit is wat dit beteken om die Here te ken. Ek moet Hom ken as “my Here en my God”.

Hierdie woorde vertel van onbeskryflike en oneindige genade. Wie is ek, nietige en sondige mens dat die Here my God is? Dawid vra die vraag in Ps.8: “Wat is die mens dat U aan hom dink”.

Tog staan hierdie waarheid vas en seker vir ewig: Die Here is in sy Persoon die genadige Verbondsgod. Hy is my Here en my God. Hy maak Homself so bekend. Ek glo Hom met my hele hart. Die band tussen my en God is ‘n ewige geloofsband in die genadeverbond.

  • Hierdie band verander nooit.
  • Dit is ‘n sekerheid wat ons deur die Woord en die Heilige Gees het.
  • Dit is ‘n sekerheid waaraan ek my hele lewe deur kan vashou.
  • Wanneer dit baie swaar gaan, is ons dikwels geneig om te begin twyfel. Ons wonder hoekom die Here my so swaar laat kry. Hier diep binne my raak ek dalk selfs ongeduldig en opstandig as dit nie gou genoeg beter gaan nie.
  • Die Here is alwetend en alles wat Hy in die genadeverbond doen, doen Hy altyd volmaak.

Hou daarom deur die Heilige Gees oral en altyd aan hierdie lewenswaarheid was: Die Here het gesê: “Ek is die Here jou God” (Eks.20:1). Wanneer die Here sê, dan is dit so: Hy is my Here en my God.

Hierdie genade het ek in my lewe om dit nooit te verloor nie.

  1. Hy onderrig ons in sy genadeverbond

“As julle my gehoorsaam en julle aan my verbond hou” (Eks.19:5).

Nadat die Here Israel van sy genade verseker het en van sy band met sy verbondsvolk, het Hy sy verbondsonderrig gegee. Dit is wat die Tien Gebooie in werklikheid is: Verbondsonderrig, onderrig in hoe lewe in die genadeverbond lyk. In Hebreeus is die naam vir die Here se Wet: Torah. Die woord beteken onderrig.

Dit gaan in die Tien Gebooie nie in die eerste plek oor reëls wat mens moet nakom nie. Die tyd toe Jesus op die aarde was, het die geestelike leiers van Israel, die Fariseërs en die skrifgeleerdes vas geglo die Here se Wet is reëls en opdragte wat ‘n mens stiptelik moet nakom. Daarom het die Fariseërs vir Jesus gevra watter gebod die belangrikste in die Wet was.

Jesus het hulle destyds geleer en Hy leer ons vandag steeds dat die Here se Wet, sy Tien Gebooie in die eerste plek oor ‘n verhouding gaan.

Die eerste vier gebooie gaan oor die verhouding wat God wil hê ons met Hom sal hê. Hierdie verhouding het Jesus beskryf as liefde vir God met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en al jou krag (Mt.22, Mk.12).

God het my so liefgehad dat Hy sy Seun vir my gegee het. Jesus het my so liefgehad dat Hy sy lewe vir my gegee het. God vra nou liefde van my af. Hierdie liefde wat God vra, is liefde wat bereid is om myself as lewende offer vir Hom te gee en met volle oorgawe vir Hom te leef.

Die volgende ses gebooie gaan oor liefde vir my naaste. Jesus het hierdie verhouding so verduidelik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Ons kan sê die kern van die Here se Wet is: Liefde met alles wat ek het, vir God in die genadeverbond en liefde vir my naaste soos vir myself in die genadeverbond. So het Jesus Christus, ons Hoogste profeet en Leraar ons onderrig.

  1. Hy vra verbondsgemeenskap met Hom

My hele lewe kan ek in die volgende woorde saamvat: Die Here se genade!

Hierdie wonderlike genade mag ek nie net gelowig aanvaar en vir die Here nie ‘n antwoord gee nie. Die Here verwag dat ek Hom sal antwoord elke dag van my lewe.

Wat verwag die Here van my?

Die Here vra verbondsgemeenskap met Hom.

Hoe lyk hierdie verbondsgemeenskap?

Jesus het die antwoord gegee: Liefde vir God met my hele hart, my hele siel, my hele verstand en al my krag. Liefde vir God is nie net ‘n gevoel hier binne my nie. Liefde vir God is ook om my naaste lief te hê soos myself.

Die Here verduidelik in sy Woord wat liefde wat Hy verwag presies is. Liefde vir God bestaan daarin dat ek God se gebooie gehoorsaam (1 Joh.5:3).

Ek leef deur die Heilige Gees gehoorsaam aan God.

Om saam te vat:

God het my eerste liefgehad.

Ek antwoord Hom vir sy liefde deur Hom te gehoorsaam.

Ek gehoorsaam Hom deur al sy gebooie reg te ken en na te kom.

Deur my gehoorsaamheid uit liefde, leef ek in verbondsgemeenskap met God.

Dit is dan hoe lewe in die genadeverbond lyk: Die Here gee eers sy genade, dan sy gebod.