Home Preke Die Here haal sy kerk op sy manier uit moeilike omstandighede uit

Die Here haal sy kerk op sy manier uit moeilike omstandighede uit

Datum: 2021-11-14
|
Kernverse: Rigters 6:11-21

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lees: Rigters 6:11-21

Inleiding:

Die kerk van Christus leef in vreemde en moeilike omstandighede. Die omstandighede waarin die kerk in Suid-Afrika, ons kerkverband en ons gemeente ons tans bevind, kan mens moedeloos en bang en onseker laat voel, kan jou met twyfel oor die kerk laat leef. Dit is nie nodig nie! Waarom nie? Die kerk, ons gemeente is nie bloot ‘n menslike organisasie nie. Die kerk, ons gemeente, is die Here se kerk en Hy het die mag om ons uit elke moeilike omstandigheid te haal.

Tema: Die Here haal sy kerk op sy manier uit moeilike omstandighede uit

  1. Baie moeilike omstandighede

In Rigters 6 kry ons vir Israel onder baie moeilike omstandighede. Hulle was in Kanaän, die land wat die Here aan hulle beloof het, maar dit het met hulle nie goed gegaan nie. Die Midianiete wat van die suide af gekom het, het saam met ander heidense nasies het die land letterlik kaal gestroop. Israel was magteloos teen hulle. Hierdie invalle en stropery het sewe jaar lank geduur. Israel het baie arm geword. Van die land van melk en heuning was daar niks oor nie.

Die vraag wat elkeen van ons voor staan, is: Hoe raak die moeilike omstandighede my vandag? God het hierdie geskiedenis laat neerskryf en in sy Woord laat opneem, sodat ek dit kan lees en daarna kan luister. God praat dus met my deur hierdie geskiedenis. Wat sê Hy vir my en hoe raak wat Hy in Rigters 6 sê, my wat vandag in 2021 leef?

Ons het in Rigters 6 nie net die geskiedenis van Israel wat moeilike omstandighede beleef het nie. Israel was die verbondsvolk wat God syne gemaak het. Dit was die verbondsvolk van die Ou Testament wat onder daardie moeilike omstandighede geleef het.

Vir vanoggend bly ons by die moeilike omstandighede waaronder Israel, die verbondsvolk van die Here in die Ou Testament geleef het. Ons weet dat elkeen wat aan Jesus Christus behoort ook in die genadeverbond is (Gal.3:29). Ons kan daarom sê dat die verbondsvolk van die Ou Testament nie kerk van Jesus Christus in die Nuwe Testament is.

Die vraag is dan: Hoe gaan dit met die kerk van Jesus Christus vandag? Hoe gaan dit met ons gemeente?

  • Is ons hele gemeente geestelik naby God? Ons behoort, maar ons kan nie maklik “ja, ons is ‘n gemeente wat naby God leef” antwoord nie.

  • Emosioneel is daar lidmate in die gemeente wat swaar kry weens verskillende redes.

  • Covid-19 en alles wat daarmee saamgaan, druk geestelik en emosioneel swaar op baie van ons.

  • Wat gesondheid betref, is daar baie lidmate wat een of meer gesondheidsomstandighede het, sommige is minder ernstig, ander is baie ernstig.

  • Finansieel gaan dit ook swaar. Soms is werksomstandighede die rede hiervoor. Ander kere is onverskilligheid met geld die rede dat lidmate finansieel swaar kry. Ons gemeente het heeltemal te min geld om byvoorbeeld ons geboue heel te maak en in stand te hou. Die ernstige probleme by Eskom wys vir ons wat gebeur wanneer instandhouding nie gedoen word nie.

  • Ons kerkverband en ons gemeente se lidmaatgetalle groei nie, maar word al minder en minder.

Al hierdie dinge wys dat die kerk van Christus in ons land, dat ons gemeente onder moeilike omstandighede leef. Niks van hierdie omstandighede gaan vanself beter word en weg gaan nie.

  1. Die Here weet wat om te doen

Toe Israel nie meer geweet het waarheen nie, het hulle na God toe gegaan. Israel, was die verbondsvolk wat nie meer geweet het wat om te doen en waarheen om te gaan nie.

Dit bring ons by ‘n vraag aan die kerk van die Nuwe Testament. Elkeen van ons en almal saam as gemeente staan voor die vraag: Weet ons wat om te doen onder hierdie moeilike omstandighede?

Die Here is die alwetende God. Hy weet van ewigheid tot ewigheid alles. In antwoord op Israel se gebede in hulle benoudheid, het die Here sy profeet na hulle toe gestuur.

Vandag is daar nie meer profete nie. Die profete het ophou bestaan. Hebr.1:1,2 is maar een plek in die Bybel waar ons lees dat profete nie meer in die Nuwe Testamentiese kerk optree nie. Al die persone wat vandag maak asof hulle profete is en al die kerke wat so maklik van hulle profete praat, is heeltemal verkeerd en op ‘n dwaalweg. Elkeen wat die Bybel ken, kan duidelik sien in wat die sogenaamde profete doen en hoor in wat hulle sê, dat hulle ver van God se Woord weggedwaal het.

Hoe moet ons dan die profeet wat die Here gestuur het, vir vandag verstaan? Die profeet se groot opdrag was om te sê: “So sê die Here”. Ons kan vandag lees wat die Here sê en hoor wat Hy sê deur sy Woord, die Bybel. God gee vir die kerk van die Nuwe Testament, vir ons gemeente sy Woord.

Hy weet wat om te doen aan die moeilike omstandighede van sy kerk. Hy wys vir ons in sy Woord wat Hy wil doen, wat Hy in en deur ons wil doen en wat Hy wil hê ons moet doen wanneer dit moeilik gaan soos nou.

  1. Hy roep sy gelowige verbondskind om in sy koninkryk te werk

In Rigt.6:11 maak ons met Gideon kennis. Gideon was die jongste van die kinders in sy gesin en destyds die een met die minste aansien. Sy werk was om koring wat hulle vir die Midianiete weggesteek het, uit te slaan, sodat hulle kos gehad het om te eet. Gideon het hierdie werk op ‘n wegkruipplek gedoen, sodat die Midianiete nie sy gesin se kos kon wegvat nie.

God sien oral. Hy het geweet waar Gideon weggekruip het. Die Engel van die Here, dit is God se Seun in die Ou Testament, het onder die boom gaan sit waar Gideon besig was.

Die Engel het vir Gideon gesê:”Die Here is by jou, dapper man” (Rigt.6:12). Die Engel van die Here het met ‘n baie bepaalde doel na Gideon toe gekom. Hy het vir Gideon gesê:”Gaan met die krag wat jy het en gaan red die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Toe, Ek stuur jou!” (Rigt.6:14).

In die verlede het God soms vir sy verbondsvolk in die Ou Testament uitkoms deur wonders gegee. Dink maar aan Hoe Israel droogvoets deur die Rooisee is en aan die mure van Jerigo wat ingeval het. Die Here gee nie altyd deur wonders uitkoms nie. Onder die moeilike omstandighede met die Midianiete het Hy besluit om Gideon te stuur om Israel te gaan red uit die mag van die Midianiete.

Die Here het Gideon daar waar hy weggekruip het en besig was met lewensnoodsaaklike werk, eintlik gaan haal en hom gestuur om vir die Hom in sy koninkryk te gaan werk.

Vir ons vandag beteken wat daar by die groot boom waar Gideon besig was, dat God in hierdie moeilike omstandighede waarin sy kerk is, mense wil gebruik om die omstandighede te verander.

Dit gaan ons kerkverband, ons gemeente niks help om te wag dat omstandighede op ‘n manier vanself beter sal word nie.

God se manier van uitkoms gee, in die tyd toe Israel so swaar gekry het, was om ‘n gewone, nietige mens te stuur om iets te gaan doen. Gideon was nie ‘n sterk leier of belangrike lid van sy familie of iemand met aansien onder die mense nie. Hy was ‘n gewone jong man wat weggekruip het, om koring uit te slaan dat sy gesin kon eet.

Die Here leer ons hieruit dat Hy gewone mense gebruik om in sy koninkryk te gaan werk. Hier kom ons by die Here se manier van werk in sy kerk van die Nuwe Testament. Dit sal sy manier ook met ons gemeente wees. Eintlik kry ons dit deur die hele Bybel dat God nie belangrike mense gebruik nie. Dawid was die geringste. Gideon was die geringste. God het besluit om hulle te stuur om vir Hom in sy koninkryk te gaan werk.

Vir ons gemeente vandag beteken dit dat God elke gewone lidmaat stuur om onder hierdie moeilike omstandighede geestelike werk te doen.

Watter koninkrykswerk is daar om te doen? Daar is baie wat die Here ons in sy Woord wys. Daar is baie wat in ons gemeente gedoen kan en moet word. Vir vanoggend wys ek drie belangrike dinge:

  • Begin by gebed. Bid dat die Here vir jou en al die ander gelowiges in ons gemeente sal wys wat en waarheen en wanneer in hierdie moeilike omstandighede. Maar ons mag nie net by gebed bly nie. Die Here leer ons dit hier in Rigters 6 en ook in 4:6-9.

  • Dink ook aan wat ons kan doen om die omstandighede geestelik, emosioneel, finansieel en wat meer lidmate betref, beter te kan maak. Dink goed en diep hieroor en praat hieroor in jou gesin. Praat ook met ander in die gemeente.

  • Na bid en dink kom doen. So leer die Here ons in 4. Enigiemand wat deur die kerkgebou, die saal en die kombuis loop, sal duidelik kan sien dat daar iets aan ons gebou gedoen moet word. En die geboue is eintlik die maklike deel. As ons as gemeente niks doen nie, sal niks goed met ons gebeur nie. Die Here stuur elke gelowige om in sy koninkryk werk te doen.

  1. Tipies mens, laat omstandighede jou huiwer

Wat was Gideon se reaksie?

Nadat die Engel van die Here, dit is Jesus Christus in die Ou Testament vir Gideon gesê het dat die Here by hom is, het Gideon nie terug gehou nie. Al die swaar en al die emosie het uitgekom. Luister na wat hy gesê het:

  • “Ekskuus meneer, maar as die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor ons?

  • Waar is al sy magtige dade waarvan ons voorvaders ons vertel het toe hulle gesê het: Het die Here ons nie uit Egipte bevry nie?

  • Nou het die Here ons in die steek gelaat.

  • Hy het ons oorgegee in die mag van die Midianiete.”

Die moeilike omstandighede het Gideon diep geraak. In sy gemoed het die gedagte en gevoel geleef dat die Here Israel in die steek gelaat het.

Hierna het die Here vir Gideon gesê dat Hy Israel moes help en hulle red uit die Midianiete se mag. Gideon het toe weer emosioneel ontlaai:

  • Ekskuus meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red?

  • My familie is die armste in die hele Manasse.

  • Van al die kinders in hulle gesin het ek die minste aansien.

Eers het Gideon oor Israel se moeilike omstandighede gepraat. Die tweede keer het hy oor sy eie persoonlike omstandighede gepraat. Hy het in werklikheid sewe redes gegee waarom hy nie kon gaan doen waarvoor die Here hom gestuur het nie.

Ons kan sê dat die moeilike omstandighede Gideon laat huiwer het.

Waarskynlik is daar by baie van ons ook twyfel en huiwering of die Here my wil gebruik om iets te help doen om ons gemeente se omstandighede beter te maak. Van die dinge wat my keer en wat ek kan dink en sê, is:

  • Ek is nie eintlik iemand wat kan voorloop en leiding gee nie.

  • Ek is al te oud.

  • Ek is nog te jonk.

  • Ek is te besig.

  • My gesondheid laat my nie toe nie.

  • My omstandighede is te moeilik.

Al hierdie dinge is so tipies menslik. Moses het gehuiwer, Gideon het en Jeremia het. Ten spyte van wat én Moses én Gideon én Jeremia gesê het, het God hulle uiteindelik oorgehaal om al die menslike redes te los en in sy koninkryk te gaan werk.

Die Here is God wat nie verander nie. Hy stuur elkeen van ons om daaraan te werk dat dit met ons gemeente op elke terrein beter sal gaan. Al dink ek my redes om nie vir die Here te werk nie, is goeie redes, is dit nie vir Hom goed genoeg nie. Uiteindelik sal Hy my gebruik om saam met al die ander gelowiges vir Hom te werk.

  1. God se nabyheid verander alles

Die Here het gehoor wat Gideon gesê het. Hy het hierdie gelowige met soveel twyfel in hom geantwoord: “Ek is by jou, en jy sal die Midianiete verslaan asof hulle nie meer as een is nie” (Rigt.6:16). Op ‘n Almagtige manier het die Here sy nabyheid vir Gideon gewys deur die veis en brood wat Gideon as offer op ‘n groot klip gesit het, met vuur te verteer.

Die Here se nabyheid het alles verander. Daarna het Gideon begin doen wat die Here vir hom gesê het om te doen.

Kom ons vra ‘n vraag: Is die Here ook naby ons?

Daar was ‘n engel uit die hemel waarvan ons in die Nuwe Testament lees. Hy het ‘n boodskap gehad dat God se Seun gebore sal word. Die Seun sal Immanuel genoem word. Die Naam beteken: God is by ons (Mt.1:22,23).

Die antwoord op die vraag is: Ja, God is by ons. Hy het sy Seun gestuur. Jesus Chrisus het vir ons sondes gesterf en opgestaan. Deur sy dood en opstanding het Hy ons en God in ‘n innige verhouding bymekaar gebring. Hy het ook die belofte gemaak dat Hy by ons sal wees, tot aan die voleinding. In hierdie moeilike omstandighede het ons Jesus Christus, die Seun van God by ons. Hy is by ons deur sy Heilige Gees. Hy is so naby, Hy is binne-in elkeen van ons.

Daar is ‘n volgende vraag: Hoe help dit ons dat Christus deur sy Gees naby ons is? Hier kom ons by ‘n baie belangrike en eintlik ‘n verstommende waarheid. Met die Heilige Gees in my, gee God vir my dieselfde krag en werk Hy in my dieselfde krag as wat Hy gegee en gewerk het toe Hy Jesus Christus uit die dood laat opstaan het (Ef.1:19,20).

God werk hierdie krag in elkeen wat in Jesus Christus as Verlosser glo. Dit is nodig dat ek sal besef en met die besef sal leef dat –

  • Hierdie krag in my sterk genoeg is vir enige omstandigheid.

  • Met hierdie krag in my ek nie net kan staan en kyk dat die duiwel en die wêreld en ons eie sondigheid die kerk in Suid-Afrika en ons gemeente terughou en laat agteruitgaan nie.

  • Ek saam met ander gelowiges in ons gemeente sal begin bid, en dink en doen, sodat hierdie gemeente in elke opsig ‘n beter gemeente, ‘n groeiende gemeente, ‘n ware lewende gemeente van Jesus Christus sal wees, wat saam die moeilikste omstandighede te bowe kom, omdat God by ons is.

Gebed

Seën: God wat alle genade gee en julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.