ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.33:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3/72:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.3-1/51:1,3
Lees: Lukas 24:1-35.
Kernverse: Luk.24:2,3.
Tema: Die Here Jesus Christus het uit die dood opgestaan!
Sang: Ps.33:1,2; Skb.12-3/72:1,2; Ps.86:6; Skb.3-1/51:1,3; Skb.12-2/27:1,2,3; Skb.10-2/59.
Inleiding:
Die Sondag tydens Paasfees elke jaar is ‘n spesiale Sondag. Ons herdenk die wonder van die Here Jesus Christus se opstanding uit die dood. Die wonder van die Here Jesus se opstanding behoort elkeen van ons in ons harte aan te gryp.
Tema: Die Here Jesus Christus het uit die dood opgestaan!
Die boodskap van Jesus se opstandig was ‘n bekende boodskap. Die engele het die Sondagoggend by Jesus se leë graf die vroue daar herinner dat Jesus vir hulle in Galilea gesê het dat Hy sal sterf en drie dae daarna uit die dood sal opstaan.(vs 5-7).
Jesus Christus, ons hoogste Profeet en Leraar het gekom om ons te vertel en te leer hoe ons verlos word. Hy sal sterf en weer opstaan.
Niemand het geweet hoe God ons gaan verlos nie. Al die beloftes en profesieë en seremonies en offers in die Ou Testament het vertel dat God ons sal verlos, maar wie die Verlosser sou wees en wat en hoe Hy ons sou verlos, het onbekend gebly. Ons bely in die Kategismus die verborge raad en wil van God oor ons verlossing. Christus moes ons hierdie verborge raad en wil van God kom vertel en leer. Dit het Hy volmaak gehoorsaam aan sy Vader gedoen.
Tydens ‘n reis deur Galilea het Jesus sy dissipels vertel en geleer dat Hy doodgemaak sou word en dat Hy drie dae na sy dood sou opstaan (Matt.17, Mark.9 en Luk.9). Dit was die tweede keer dat Jesus oor sy dood en opstanding gepraat en sy dissipels geleer het. Die engele het die vroue aan die keer in Galilea herinner. Daar was nog kere dat Jesus oor sy opstanding gepraat het.
Die boodskap dat Christus uit die dood sal opstaan, was dus ‘n bekende boodskap vir almal wat destyds in die Here Jesus geglo het. Die boodskap van Christus se opstanding is vir ons ook ‘n bekende boodskap.
2. Die boodskap was regtig waar (vs 2,3).
Die vroue het die dag na die sabbat, dit was die Sondag, vroeg die oggend graf toe gegaan om Jesus se liggaam te balsem, soos die gewoonte was. Die volgende het by die graf gebeur:
Vs 2 – Hulle het die klip weggerol gekry.
Vs 3 – Hulle het in die graf ingegaan, maar Jesus se liggaam nie gekry nie.
Vs 4 – Hulle het eers nie geweet wat om van die leë graf te dink nie.
Vs 6 – Twee engele het hulle vertel dat Jesus nie in die graf was nie. Hy is uit die dood opgewek. Die engele het die vroue toe herinner dat Jesus hulle die tyd in Galilea geleer het dat Hy gekruisig moes word en op die derde dag sal opstaan.
Die vroue het by Jesus self gehoor dat Hy die derde dag na Hy gesterf het, uit die dood sal opstaan. Tog het hulle die derde dag na sy sterwe graf toe gegaan met die idee dat Hy dood was. Hulle wou sy liggaam met reukolie gaan balsem. Toe hulle by die leë graf kom, het hulle nie geweet wat om te dink nie.
Dit was asof die boodskap van sy opstanding net nie regtig ingesink het nie. Selfs toe hulle gesien het dat die graf leeg was en Jesus nie meer daar nie, het hulle nie besef dat sy woorde oor sy opstanding regtig waar was nie.
Wat van ons? Ons het baie sterk getuienis in die Bybel dat die Here Jesus regtig uit die dood opgestaan het. Het hierdie boodskap regtig by ons ingesink dat sy opstanding in ons gedagtes en harte leef?
Jesus het regtig opgestaan!
Dit is die waarheid!
Elkeen wat glo dat Jesus regtig uit die dood opgestaan het, het ware lewe!
3. Ongeloof en twyfel oor Jesus se opstanding (vs 4,11,22,23,25).
Ons elkeen moet onsself gereeld ondersoek of ons met ons hele hart vas en seker glo dat Jesus regtig uit die dood opgestaan het.
Dit gebeur nie sommer net dat elkeen wat die boodskap van Christus se opstanding hoor, glo dat Hy werklik opgestaan het nie. Kyk wat het met die dissipels gebeur.
Die vroue het kom vertel dat Jesus se graf leeg was en dat die engele gesê het dat Hy uit die dood opgewek is. Ons lees in vs 11: “Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie”.
Later die dag was twee mans van die dorpie Emmaus wat in die Here Jesus geglo het, op pad terug na hulle tuisdorp. Jesus het saam begin loop en hulle gevra waaroor hulle gepraat het. In die gesprek het hulle vertel hulle hoop op weg is, want Jesus is al drie dae dood. Hulle was ook ontsteld, want vroue en van die disippels het kom vertel dat hulle Jesus se liggaam nie kon kry nie en dat engele vir hulle gesê het dat Jesus lewe.
Jesus het hulle geantwoord: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees!” (vs 25).
Die boodskap van Jesus se opstanding was bekend, die graf was leeg en die engele het vertel dat Jesus uit die dood opgewek is. Tog het nie een van die gelowiges dit regtig geglo nie. Ons kan sê by Jesus se gelowiges was daar twyfel en ongeloof oor sy opstanding uit die dood.
Kan ons tydens die paasfees van 2025 sê ons geloof is anders as die gelowiges se geloof tydens die paasfees toe Jesus gesterf en opgestaan het?
Ons kan ook al die dele in die Bybel oor Christus se opstanding lees en ons kan elke Sondag tydens ‘n erediens ons geloof in sy opstanding bely. Maar…in ons harte moet daar ware geloof wees dat Jesus regtig uit die dood opgestaan het.
Dit is NIE GENOEG om net te weet, al is dit vas en seker te weet, dat die Here Jesus die Sondag uit die dood opgestaan het nie. Sy opstanding sal in ons gedagtes en ons harte moet leef!
Dit sal nie vanself gebeur nie. Ons almal het die Heilige Gees se hulp nodig. Wanneer ons ons deur die Heilige Gees laat beheers, sal die opstanding van die Here Jesus vas en seker en waar in ons wees.
Dit is so belangrik, want indien ons nie vas en seker glo dat Christus regtig uit die dood opgestaan het nie, is ons geloof tevergeefs (1 Kor.15:15-17).
4. Verwondering oor die opstanding (vs 12).
Daar was volgens Lukas wel een dissipel wat anders opgetree het. In Joh.20 lees ons dat twee dissipels anders opgetree het. Petrus het gehoor wat die vroue vertel het. Hy het opgespring en na die graf toe gehardloop. Hy en Johannes het graf toe gehardloop, lees ons in Joh.20.
Petrus het in die graf ingegaan. Hy het die doeke netjies opgerol gesien. Iemand wat Jesus se liggaam weggedra het, sou sy liggaam met die doeke gevat het of die doeke sou deurmekaar in die graf gelê het. Die getuienis van die doeke is dat Jesus self dit opgevou en daar in die graf so gelos het.
Maar daar is ‘n dieper betekenis. Toe Hy gesterf het, en begrawe moes word, was die linnedoeke nodig. Ons lees in Mark.15:46 dat Josef van Arimatea linne gaan koop het om Jesus se liggaam in toe te draai. Toe Hy uit die dood opgestaan het, het Jesus die linne nie meer nodig gehad nie. Hy was nie meer dood nie. Hy het opgestaan en Hy was lewend. Die getuienis, die boodskap van die doeke in sy graf, is: Jesus Christus, die Seun van God, ons Verlosser LEEF!
Petrus het nadat hy alles by die graf gesien het, huis toe gegaan, vol verwondering oor wat gebeur het. Johannes het geskryf dat Petrus en Johannes, nadat hulle gesien het dat die graf leeg was, geglo het.
Vandag is Opstandingsondag. Ons is in die erediens op hierdie spesiale Sondag, om die Here Jesus Christus se opstanding te herdenk. Dit was die eerste dag van die week, die Sondag van daardie paasfees dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het.
Is daar op hierdie Sondag ook verwondering in ons harte? Petrus en Johannes het gehoor wat die vroue vertel het. Hulle het self gesien dat Jesus se graf leeg was, omdat Hy opgestaan het. Ons het die getuienis van die Here Jesus se gelowiges wat self gesien en gehoor het. Ons het die evangelie wat Lukas deur die Heilige Gees geskryf het –
DIE HERE JESUS CHRISTUS HET UIT DIE DOOD OPGESTAAN!
Ons behoort met verwondering in hierdie erediens te wees. Ons behoort elke Sondag met verwondering in ‘n erediens te wees, want dit was daardie Sondag dat die Here Jesus opgestaan het, en die dood vir ons oorwin het, dat ons kan lewe!
5. Warm harte deur Jesus wat opgestaan het (32).
In die tweede deel van Lukas 24 ontmoet ons twee gelowiges van Christus op pad na hulle tuisdorp, Emmaus, met die paasfees wat verby was. Hulle het ernstig loop en gesels oor alles wat die afgelope dae in Jerusalem gebeur het. Jesus het saam met hulle begin loop.
Hulle was teleurgesteld dat die hoop op hulle Verlosser weg was, want Hy was reeds drie dae dood. Hulle was ook ontsteld oor die vroue en die dissipels wat kom vertel het dat hulle by graf was, maar Jesus nie daar gekry het nie.
Hulle het Jesus nie herken nie. Hulle oë is verhinder om Hom te herken (vs 16). Eers nadat Jesus vir hulle al die Skrifuitsprake in die Ou Testament wat op Hom betrekking het, verduidelik het en by hulle aan huis aan tafel die seën gevra het, die brood gebreek en vir hulle gegee het, is hulle oë geopen.
Hulle onsekerheid en onsteltenis en verwardheid en kleingeloof was die een rede dat hulle Jesus eers later herken het. Die ander rede was dat God self hulle verhinder het om Jesus wat opgestaan het dadelik te herken. Hulle moes weer uit die Heilige Skrif, uit Moses en die profete, dit is die Ou Testament, alles oor die Verlosser hoor, om Hom te herken.
Nadat Jesus uit hulle gesig verdwyn het, het hulle vir mekaar gesê: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat het en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” (vs 32). Jesus Christus wat gesterf en opgestaan het, verander ontstelde en teleurgestelde harte, verwarde harte sonder hoop in warm harte, harte van geloof.
Die Heilige Skrif, die Bybel se kern is God verlos sondaars uit genade deur Jesus Christus wat gesterf en opgestaan het. In werklikheid is die boodskap van die Bybel: Christus! Hierdie boodskap, hierdie evangelie is ons lewe! Die Bybel, die evangelie wat van Christus vertel en leer, behoort elkeen wat hoor of lees se hart warm te maak.
Ons hart behoort warm te word wanneer ons by die huis die Bybel lees. Ons behoort met warm harte Sondag in die erediens te wees, want die erediens gaan oor Christus wat gesterf en opgestaan het. En CHRISTUS wat gesterf en opgestaan het, is IS ONS LEWE!
6. Wie glo Jesus het regtig opgestaan, vertel daarvan (8,9,33,34,35).
Kleopas en sy vriend, pas terug van Jerusalem af, het dadelik weer opgestaan en teruggegaan Jerusalem toe. Met warm harte oor Jesus wat opgestaan het,kon hulle nie anders nie.
Hulle het die elf dissipels en ander gelowiges bymekaar gekry. Die gelowiges in Jerusalem het vir die twee van Emmaus vertel dat die Here Jesus regtig opgestaan het. Die twee gelowiges van Emmaus het op hulle beurt vertel wat met hulle gebeur het. Hulle het Jesus by hulle gehad en Hom later eers herken.
Die opstanding van ons Here Jesus Christus is ‘n wonder waaraan ons nie gewoond mag raak nie. Ons mag ook nie net daarvan weet en dink dit is genoeg nie. Die Here Jesus het opgestaan, dat ons kan lewe!
In ‘n verwarde en sondige land en wêreld sonder rigting en sekerheid kan ons oral en altyd weet: Jesus Christus leef!
Wanneer ons as gelowiges deur baie moeilike omstandighede gaan ek ontsteld en teleurgestel en sonder hoop is, Jesus Christus leef! Ons leef onder sy liefde en genade en onder sy sorg en beskerming.
Hieroor moet ons en kan ons onsself altyd weer herinner.
Hieroor kan en moet ons altyd weer met mekaar praat en geloofsmoed skep.
ANTWOORD
Sing: Skb.12-2/27:1,2,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.10/59
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen