ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Hoe groot is U (Lied 464):1,2,3 (staande)
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.86:6 (staande)
Gebed (broeders staande)
VERKONDIGING
Sang: Ps.25:2,4 (sittend)
Lees: Efesiërs 1:15-23
Belydenisaflegging
Sang: Ps.105:5 (staande)
Kernverse: Ef.1:16b-20
Tema: Die Here Jesus Christus se kerk het gebed baie nodig
Sang: Hoe groot is U (Lied 464):1,2,3: Skb.12-3:1,2; Ps.86:6; Ps.25:2,4 ; Ps.105:5; Skb.15-1:1,2,3,4; Skb.10-2
Inleiding:
Dit is opmerklik hoeveel keer Paulus in sy briewe aan gemeentes oor gebed skryf: Aan die gemeente in Rome (Rom.1:8,9), in Korinte (1 Kor.1:4), Kolosse (Kol.1:3) en Efese, die brief waarmee ons vanoggend besig is. Die Heilige Gees het Paulus gelei om voortdurend oor gebed aan die gemeentes te skryf. Een belangrike betekenis hiervan is dat gebed baie nodig is in Jesus Christus se kerk. Die kerk destyds, die gemeente in Efese waarby ons vanoggend is het gebed baie nodig gehad. Die kerk vandag, ons gemeente, elkeen van ons, het gebed baie nodig!
Daar is soveel om voor te bid. Die Here leer ons in Ef.1:15-23 deur Paulus se gebed waarvoor ons kan bid.
Tema: Die Here Jesus Christus se kerk het gebed baie nodig
Ef.1:16,17 – “Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie al die eer toekom, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.”
Dit is baie belangrik om God te ken. Hoe belangrik? Luister na Jesus se woorde in sy gebed die aand voor sy kruisiging: “En dit is die ewige lewe: Dat hulle U ken, die enigste ware God en Jesus Christus wat deur U gestuur is” (Joh.17:3).
Wie God nie ken nie, het nie lewe nie. So iemand bestaan wel op aarde, maar elke oomblik van so iemand op aarde is ‘n oomblik nader aan die ewige dood. Iemand wat God nie ken nie, is reeds so goed soos dood. Om God te ken, is daarom lewensbelangrik.
Daar is nie ‘n mens wat God vanself ken nie. Twee voorbeelde hiervan is:
Die Ou Testament – Samuel het as jong seun onder Eli, die hoëpriester van destyds in die tempel, ons kan sê die kerk vandag, gebly en gewerk, maar hy het die Here nie geken nie (1 Sam.3:7).
Die Nuwe Testament – Paulus was ‘n kerkmens, kan ons sê. Hy het die verbondsteken ontvang. Hy het die wette in die Ou Testament baie goed geken en gehoorsaam. Hy het in die Filippensebrief geskryf dat hy die wet onberispelik gehoorsaam het. Toe Jesus Christus Paulus op pad na Damaskus ontmoet, was Paulus se vraag: “Wie is U, Here?” (Ha.9:5).
Wanneer ken ‘n mens God? Wanneer God in jou lewe is, in jou gedagtes, in jou hart en in wat jy elke dag sê en doen, dan ken jy Hom. Om God te ken, is om ‘n verhouding met Hom te hê.
Hoe kry ek ‘n verhouding met God?
Die Heilige Gees kom met God se Woord in ‘n mens se gedagtes en jou hart. Hy help jou deur God se Woord om in God te glo, Hom lief te hê, in alles na sy wil te vra, Hom te gehoorsaam en met jou lewe vir Hom dankie te sê vir alles wat Hy vir jou doen. Wanneer God die Middelpunt van my geloof, my liefde, my gehoorsaamheid en my dankbaarheid is, het ek ‘n verhouding met Hom, ken ek Hom.
Hierdie gebed het Hannes wat vanoggend sy geloof voor God en ons almal bely het, baie nodig. Hierdie gebed het elkeen van ons baie nodig. Daarom moet ons vir mekaar bid, dat elkeen van ons God regtig sal ken.
2. Ook gebede oor die hoop wat God se roeping inhou
Die volgende gebede wat ons baie nodig het, is die gebed dat elken van ons deur die Heilige Gees sal besef watter hoop God se roeping vir ons inhou. Hierdie is ‘n gebed dat die Heilige Gees ons sal help verstaan en glo wat God se roeping vir ons is en dat ons dan hoop sal hê.
Hierdie gebed gaan oor roeping en hoop.
Roeping is ‘n baie skaars woord in ons tyd. Dit is jammer en nie reg nie.
Watter roeping het God vir ons?
God roep ons nader. Hy roep ons om in Jesus Christus sy Seun te glo as ons enigste Verlosser. Hy roep ons deur sy Woord. Hy gee ons sy Gees, sodat elkeen van ons met die Heilige Gees in ons openlik kan sê: Ek glo Jesus Christus is my enigste Verlosser! Ons het Hannes dit vanoggend hoor sê, toe hy “ja” geantwoord het op die tweede vraag. Elke belydende lidmaat vanoggend hier het ook daardie antwoord gegee en elke kind sal nog deur die Heilige Gees gelei word om openlik te sê: Ja, ek glo in Jesus Christus, my enigste Verlosser!
Watter hoop gee hierdie roeping? Hoop in die Bybel beteken: Ek verwag van God iets en ek is seker dat God vir my sal gee wat ek verwag. Elkeen wat in Jesus Christus glo, kan van God die ware lewe, die ewige lewe verwag. Elkeen wat deur die Heilige Gees in Jesus glo, kan die sekerheid hê van vergifnis van sonde en vryspraak van straf en oordeel. Om hiervan seker te wees, is om seker te wees van die ewige lewe.
In hierdie onseker wêreld het ons nodig om vir mekaar te bid dat ons nie soos die wêreld deurmekaar en verward sal wees nie. Ons het nodig om te bid dat die Gees ons sal help om te antwoord wanneer God roep en met geloof naby Hom te leef. Ons het nodig om vir mekaar te bid dat ons nie ons sekerheid in hierdie lewe soek nie, maar sekerheid wat ons net by God kry, sal soek. Dit is die sekerheid dat ons deur Jesus die ewige lewe het.
Maak tyd om vir mekaar te bid oor roeping en hoop. Elkeen van ons het hierdie gebede nodig!
3. Verder, gebede oor die heerlike erfenis wat op ons wag
Sekerheid van verlossing deur Jesus Christus wat vir ons gekruisig is en opgestaan het, bring ons by die derde gebed wat ons nodig het – Hannes het hierdie gebed nodig, sy ouers het, elke ander een van ons vanoggend hier.
Hierdie derde gebed is dat die Heilige Gees dit vir ons geestelik so helder en duidelik sal maak watter rykdom daar vir ons in ons ewige erfenis is wat God vir al sy gelowiges bestem het.
Die hier en die nou kan ‘n mens se gedagtes en selfs jou hart en ook jou doen en late so vasvang dat die lewe op aarde alles oorheers. ‘n Ruk terug was Rusland se oorlog teen die Oekraïne elke dag op die voorgrond, intussen het Israel en Hamas in die Midde-ooste bygekom, dan is daar die wêreldbekers in rugby en krieket wat tans aan die gang is, ook nog die voëlgriep wat hoendervleis en eiers so duur gemaak het. Die eksamen vir skole en ander inrigtings is ook nou baie naby. Sovel weerk moet nog voor die einde vam die jaargedoen word. Voor jy jou kom kry, is drie maande verby en al waarmee jy besig was, was die hier en die nou. ‘n Kwart van die jaar het verby gegaan en jy het baie min of selfs nooit aan die rykdom van jou ewige erfenis gedink nie.
Jesus het hieroor gepraat toe Hy gesê het dat ons as gelowiges nie skatte op aarde nie, maar skatte in die hemel bymekaar moet maak (Mt.6:19-21).
Elkeen van ons het hierdie gebede nodig. In ‘n besige lewe vergeet ‘n mens of verwaarloos jy die rykdom van jou ewige erfenis. Dit kan nie en dit mag nie! Jesus gaan skielik kom en die mens wat skatte op aarde bymekaar gemaak het en die ware rykdom vergeet en verwaarloos het, sal huil en kerm wanneer alles wat so belangrik en kosbaar gelyk het in duie stort. Lees gerus Op.18 hoe die wêreldleiers en sakemanne sal huil en kerm wanneer al die aardse skatte en rykdom vernietig word, wanneer die Here Jesus weer kom.
Bid dan vir mekaar dat ons in hierdie gejaagde lewe nie ons hemelse erfenis sal vergeet of verwaarloos nie.
4. Dan gebede oor die krag wat God in gelowiges werk
Die laaste gebede wat die Here ons in Ef.1:15-23 leer, is die gebede vir krag. Met gemeentes wat al kleiner word, ouer lidmate al meer en jonger lidmate al minder, voel dit nie of die kerk, of ons gemeente baie krag het nie.
Met gesondheid wat verswak, pyn waarmee ‘n mens elke dag saamleef, ouderdom en al sy komplikasies, finansiële druk wat baie erg is sonder die vooruitsig dat dit beter sal word, terugslae met ernstige gevolge, te veel wat gedoen moet word met te min tyd, kan dit vir my as gelowige voel of ek nie die krag het wat ek as Christen behoort te hê nie. Ek gaan maar net aan en doen my bes om elke dag kop bo water te hou.
Ons gemeente, ook elkeen van ons het hierdie gebed, hierdie gebede, oor geestelike krag baie nodig. Die Here vra van almal van ons om te bid dat elkeen van ons sal besef watter geweldige groot krag God in elkeen wat in Hom glo, uitoefen.
Luister hoe geweldig groot is hierdie krag: “Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het” (Ef.1:20).
Onsekerheid, twyfel, bekommernis en moedeloosheid laat ‘n Christengelowige swak en sonder krag voel. Nie een van hierdie help nie. Trouens, al hierdie gevoelens neem my krag weg. Ekself moet met die krag wat God in my deur sy Gees uitoefen, teen onsekerheid, twyfel, bekommernis en moedeloosheid veg. Ek het veral nodig om met geestelike krag ook teen my eie sondigheid en die duiwel te veg.
Niemand het vanself hierdie krag nie. Maar, niemand hoef ver te gaan soek vir hierdie krag nie. God die almagtige Heilige Gees is by ons en in ons. Hy werk hierdie geweldige groot krag in elke gelowige.
Hannes en elkeen van ons vanoggend hier het hierdie gebed dat ons sal besef watter geweldige krag God in elkeen wat in Hom glo, werk, baie nodig. Daarom is dit so belangrik dat ons sal bid hiervoor en aanhou sal bid hiervoor.
Die Here Jesus Christus se kerk, sy gelowiges, elkeen van ons vanoggend hier, het gebed baie nodig. Ons het die Here se Woord. Ons het die Heilige Gees. Ons weet uit Ef.1:15-23 dat ons moet bid en waarvoor ons moet bid.
God het met ons gepraat.
Hy weet wie ons almal is en Hy weet hoeveel ons is.
Hy wil baie gebede van hierdie groep gelowiges vir sy kerk en vir mekaar hoor!
ANTWOORD
Sang: Skb.15-1:1,2,3,4 (sittend)
Gebed (sittend)
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Skb.10-2 (staande)
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen