Home Preke Die Here sorg vir ons huis - Deut.8

Die Here sorg vir ons huis - Deut.8

Datum: 2009-08-31

Tema: Die Here sorg vir ons huis

Inleiding:

Praat die Here met ons ook oor geld en ander besittings? Elke Christen behoort met liggaam en siel nie aan jouself nie, maar aan Jesus Christus. God praat daarom in sy Woord ook met jou oor jou aardse geld en goed. Die kern van wat die Here vir ons wil sê is dat Hy ons versorg vir ons lewe op aarde. Hy sorg geestelik en Hy sorg liggaamlik. Kom ons kyk dan na die Here se sorg.

Tema: Die Here sorg vir ons huis

  1. Alles behoort aan die Here

Geld en besittings is die afgelope tyd druk bespreek seker in elke huis. Elke koerant het een of ander berig oor geld en pryse van goed en ander finansiële sake in. Elke nuusberig oor die radio of televisie het iets te sê oor geld en goed. Deesdae gaan dit meesal oor hoë pryse (petrol en diesel en paraffien se prys styg hierdie Woensdag met meer as 30 sent per liter) en skuld en rentekoerse en werkgeleenthede en afdankings.

Hoe moet gelowiges oor alles dink?

Praat die Here met ons oor geld en besittings en wat sê Hy?

Die Here praat in sy Woord oor alles in die lewe. In hierdie reeks preke het ons reeds gesien dat die Here met ons praat oor trou of saambly, oor die verhouding tussen man en vrou, oor ouers en kinders en oor hoe ons met mekaar behoort te praat as Christene. Vanoggend praat die Here met ons oor die geld en goed in elke huis.

Die Here gee die krag om rykdom te verwerf, het ons gelees. Die Here gee, sodat jy kan kry. Hieruit leer die Here ons dat alles aan Hom behoort. Hierdie is ‘n baie belangrike waarheid wat ‘n mens by herhaling in die Bybel kan lees.

Ps.24:1 “Die aarde behoort aan die Here, die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon.”

2 Kron.29:13 “..Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het.”

1 Kor.4:7 “En wat besit jy wat jy nie ontvang het nie?”

Alles in die hemel en op die aarde behoort aan die Here. Dit beteken alle geld en alle goed wat daar is, is die Here s’n. Ook die mag en die heerskappy oor alles en almal behoort aan die Here. Met hierdie mag en heerskappy het die Here belangrike riglyne en opdragte in sy Woord aan ons gegee oor hoe ons oor geld en goed moet dink en hoe ons met geld en goed moet maak.

As alles dan die Here s’n is, hoe gebeur dit dat ek geld en goed het? Die Here antwoord hierdie vraag in Deut.8:18, die kernvers vir vanoggend se preek: “Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om rykdom te verwerf.”

Alles is die Here s’n en Hy gee aan ons geld en goed, sodat ons kan leef.

2. Hy sorg dat ons kan leef

Die Here gee van sy geld en goed aan ‘n mens. Die Here het die mens in die begin geskep om die aarde te bewerk en te beheers. Om te werk, is daarom ‘n opdrag van die Here. Die skepping is so gemaak dat mens kan werk en deur te werk, vergoeding te ontvang. Dit is selfs na die sondeval so. “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien” – 33/53 vert. (Gen.3:17).  “Met swaarkry sal jy daaruit ‘n bestaan kan maak” – 83 vert. (Gen.3:17) en “..net deur harde werk sal jy kan eet” (Gen.3:19).

Die Here gee sy skepping en Hy gee jou die krag om ‘n bestaan te maak. Elke Christen met ‘n werk en met geld en besittings moet hiervan oortuig wees: Wat jy het, behoort aan die Here en Hy het alles aan jou gegee. Verbondsouers, julle moet julle verbondskinders ook so leer. Van kleins af moet ‘n verbondskind hoor: Alles is die Here s’n, ons geld en ons kar en ons huis en alles daarin, is die Here s’n.

Verder moet elke Christen die volgende waarheid glo en leer: Die Here stel jou as rentmeester (die ouer woord), of dan as bestuurder (die nuwer woord), oor sy geld en goed aan. Dit beteken: Die Here vertrou sy geld en goed aan jou toe. Hy vra van jou om sy geld en goed reg te bestuur, soos Hy wil.

Wat wil die Here?

Ef.4:28 – Voorsien op ‘n eerbare manier in jou eie lewensonderhoud en gee ook aan die mense wat geld en goed nodig het.

Maar, wat nou wanneer jy jou werk verloor het, deur aflegging en jy nie meer eerbaar in jou eie lewensonderhoud kan voorsien nie? Wanneer dit gebeur is dit ‘n groot skok vir enigeen en bring dit ernstige vrae na vore. Wat gemaak, indien jy jou gekwalifiseer het, maar nie ‘n werk kan kry om in jou lewensonderhoud te voorsien nie? Wanneer dit gebeur, veroorsaak dit baie spanning in ‘n mens se lewe. Hierdie skok en spanning kan maak dat mens jou wil onttrek van alles en almal.

Onthou dan dat alles aan die Here behoort en dat Hy die krag gee om te kan werk en lewensonderhoud te kan verdien. Die Here gee jou die krag om te bid. Gaan na die Here toe met hierdie probleem. Maar doen meer en volg jou gebed op. Onthou, die Here gee jou die krag om te dink en te beplan oor ander maniere om in jou lewensonderhoud te voorsien. Die Here gee jou ook die krag om met gelowige vriende en familie te praat om te help om nuwe planne te maak. Die belofte aan Josua dat die Here hom nie in die steek sal laat en hom nie sal verlaat nie, word in die Bybel herhaal en is ‘n belofte aan elke gelowige kind van God.

Maar dan leer die Here ons dat daar baie ander dinge in die lewe hier op aarde is, wat belangriker as geld en goed is:

Mat.16:26 “Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry, maar sy lewe verloor, of wat sal ’n mens gee in ruil vir sy lewe?” God sorg ook vir ons geestelik. Hy gee aan ons geloof in Christus. Deur aan jou geloof in Christus wat vir jou gekruisig is en opgestaan het, te glo, sorg God dat jy die ewige lewe het.

Hierdie waarheid moet verbondsouers hulle verbondskinders met groot sorg leer. Kinders mag nie net aangemoedig word om hard te werk, sodat hulle eendag baie kan verdien en gemaklik kan lewe nie. Nee, kinders moet aangemoedig word om die koninkryk van God eerste te soek (Mat.6:33), dit is om eers te werk aan die verhouding met God en gehoorsaamheid aan Hom.

Verbondsouers moet so leef en hulle verbondskinders so leer dat ‘n mens die regte balans het tussen jou geestelike besittings en jou stoflike besittings, jou geld en goed.

Elkeen van ons leef geestelik en liggaamlik, omdat God vir ons sorg. Daarom lees ons die opdrag in Deut.8:18 “Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie…”

3. Leef dankbaar onder sy sorg

Wanneer ‘n gelowige besef dat dit God is wat vir alles sorg, weet jy jou geloof in Christus kom van God af. Hy het aan jou die gawe om te kan glo as geskenk gegee. Dit was God die Heilige Gees wat jou geloof aan jou gegee het. Hierdie geloof bind jou vas aan Christus, so vas dat jy een met Hom word.

As gelowige in Christus, leef jy in die genadeverbond deur die Heilige Gees.

Hoe leef ‘n gelowige in die genadeverbond?

Jy besef dat alles van God af kom. Jy leef naby God ook met jou geld en goed.

Dit beteken jy werk versigtig met jou geld en jou besittings deur te beplan en te begroot.

Jy werk versigtig deur nie die eerste en die beste te koop nie, maar byvoorbeeld pryse te vergelyk.

Jy werk versigtig deur nie net iets te koop, omdat dit beskikbaar is nie, maar omdat jy dit werklik nodig het.

Jy werk versigtig deur die geld en goed wat jy het, te beheer op ‘n eerbare manier.

Jy werk versigtig wanneer jy ‘n deel van wat die Here aan jou gee, aan Hom teruggee vir die onderhou van sy Woord en vir die mense wat hulp nodig het.

Sonder die Here lyk die finansiële situasie in die wêreld en in elke huis baie donker. Geen mens kan sonder God se genade nie, ook nie wanneer dit by geld en goed kom nie.

Soek dan lig by God in sy Woord, ook oor die probleme en vrae rondom jou aardse besittings. Leef in die lig en getuig so van God se sorg.