Home Preke Die Here wil dat ons in die genadeverbond aan Hom gehoorsaam sal leef

Die Here wil dat ons in die genadeverbond aan Hom gehoorsaam sal leef

Datum: 2021-11-07
|
Kernverse: Rigters 6:7-10, Hebreërs 4:12,13

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lees: Rigters 6:7-10, Hebreërs 4:12,13

Inleiding:

Sonde, verdukking, bekering, verlossing is hoe Israel se lewe gelyk het wanneer ons die boek Rigters oopmaak. Dit is ongelukkig dat die verbondsvolk se lewe so was. Ons het die genade om by die Here te leer, sodat ons lewe anders kan lyk. Ons luister vanoggend na wat die Here vir ons in Rigt.6:7-10 sê.

Tema: Die Here wil dat ons in die genadeverbond aan Hom gehoorsaam sal leef

  1. Naby die Here hoor ons sy wil

Israel het in Kanaän, die land wat die Here aan hulle beloof het en waar hulle hulle uiteindelik kon vestig, nie meer naby die Here aan Hom gehoorsaam geleef nie. Dit was vreemd, want hulle het ‘n geskiedenis en ‘n lewe gehad wat hulle vas aan God gebind het. Die volgende het hulle aan God gebind:

  • Die ewige genadeverbond met Abraham en sy nageslag.

  • Die wonderverlossing uit Egipte.

  • Die Here se wet wat Hy vir hulle gegee het.

  • Die bewaring, verlossing en voorsiening deur God op pad na Kanaän.

  • Die wonder met die intog in Kanaän toe die water van die Jordaan opgehoop het, sodat priesters die ark droogvoets deur die rivier kon dra.

  • Die wonder toe Israel Jerigo ingeneem het.

  • Die belofte voor Josua die dag by Sigem om die Here te dien.

  • Alles wat die Here vir hulle deur sy Woord gesê het.

Maar Israel het telkens van die Here gesondig en van Hom af weggedwaal. In Rigters 6 kry ons Israel wat al vir sewe jaar baie swaargekry het onder die Midianiete wat die land gestroop het. Dit het nie net gebeur nie. Die Here het Israel in die mag van die Midianiete oorgegee.

Na sewe jaar het Israel besef dat hulle nie so kon voortgaan nie. Ons lees die volgende in Rigt.6:7,8:”Toe hulle tot die Here roep om hulp teen die Midianiete, het Hy ‘n man gestuur om onder die Israeliete as profeet op te tree, en hy het vir hulle gesê:’So sê die Here….’”

Hier kry ons ‘n baie belangrike waarheid op ‘n baie duidelike manier –

  • Weg van die Here gaan dit baie sleg met ‘n mens, ‘n gesin, ‘n gemeente, ‘n land.

  • Weg van die Here ken mens Hom nie meer nie,

  • Weg van Hom hoor mens nie meer sy wil nie,

  • Weg van die Here doen ‘n mens nie meer wat die Here vra nie, omdat ‘n mens se liefde vir God flou geword het.

  • Dit alles is sleg en bring net ellende.

Hierdie waarheid dat dit weg van die Here net sleg gaan, het ons by Israel gesien in die eerste deel van Rigters 6. Daar is ook ‘n ander waarheid. Toe Israel na die Here toe gegaan het en Hom vir hulp gebid het, het God sy profeet gestuur, sodat Israel die Here se Woord weer kon hoor, Hom weer kon leer ken, sy wil weer kon leer ken om Hom weer te kan gehoorsaam.

Naby die Here is dit die heel beste, want

  • ‘n Mens ken die Here al beter en beter wanneer jy naby Hom leef.

  • Jy weet al meer en al duideliker wat die Here se wil vir jou lewe is.

  • By die Here alleen is daar ware lewe.

  1. God maak Homself as ons Verbondsgod aan ons bekend

Wat gebeur wanneer ‘n mens naby God leef?

Naby God het Israel weer die profeet van die Here gehoor. In werklikheid het hulle God se Woord gehoor. Die Here het met hulle gepraat.

Wat het die profeet gesê?

Hy het begin:”So sê die Here, die God van Israel…” (Rigt.6:8). Met hierdie woorde het die Here Homself as Israel se Verbondsgod bekend gemaak. Die Here is die ewige Verbondsgod van Israel. Deur Jesus Christus is ook elkeen van ons wat in Hom glo, in die genadeverbond. Die Here is ook ewig ons Verbondsgod. Hy het Hom aan ons gebind met die genadeverbond. Die geloof wat Hy ons deur sy Heilige Gees gegee het, bind ons ook aan Hom. Die band in die genadeverbond werk na twee kante toe. God is aan ons gebind en ons aan Hom.

Om in die genadeverbond te wees, is ‘n wonder in elkeen wat in die verbond is, se lewe. Die verbond is die enigste ooreenkoms wat God met die mensdom het. Daar is nie ‘n ander ooreenkoms nie. Hierdie is ‘n baie spesiale ooreenkoms. In die Nuwe Testament is die woord wat die skrywers vir verbond gebruik “testament”. Dit beteken God se ooreenkoms met ons is dat Hy ons sy kinders en erfgename maak in sy TESTAMENT VAN DIE EWIGE LEWE!

Hierdie wonder gebeur net deur Jesus Christus wat gesterf het en opgestaan het uit die dood en my syne gemaak het.

God wil dat elkeen van ons Hom sal ken as ons Verbondsgod. Hy sê dit vir my en herinner my deur sy Woord dat Hy my Verbondsgod is. Hy herinner my ook deur die teken van my doop dat Hy my Verbondsgod is en ek sy kind en erfgenaam.

  1. Hy verwag dat ons in sy verbond naby Hom sal leef

Lewe in die genadeverbond is nie gewone natuurlike lewe nie. Lewe in die genadeverbond is ‘n baie spesiale lewe, wat baie mense nie beskore is nie. Kom ons kyk na lewe in die genadeverbond. Dit is lewe –

  • Wat ek nie verdien nie, maar tog uit genade kry.

  • As verloste nuwe mens deur Jesus Christus.

  • As kind en erfgenaam van die allerhoogste God.

  • Met ewige sekerheid.

  • Onder God se sorg en liefde.

  • Waar God van my liefde vir Hom verwag met my hele hart, my hele siel, my hele verstand en al my krag.

  • Van gehoorsaamheid aan God omdat ek Hom liefhet.

Ons kan lewe in die genadeverbond in een kort sin saamvat: Dit is lewe naby God.

Hierdie lewe naby Hom, is wat God van my verwag. Hy het so ‘n lewe destyds van Israel verwag. Hy verander nie. Hy verwag so ‘n lewe vandag steeds van elkeen in die genadeverbond.

  1. Die Here wys ons op ons ongehoorsaamheid

Nadat die Here Homself as Israel se Verbondsgod bekend gemaak het, het Hy ernstig met hulle gepraat. Die Here het deur sy profeet gesê: “Ek het vir julle gesê:’Ek is die Here julle God. Julle mag nie die gode dien van die Amoriete in wie se land julle woon nie.’ Maar julle het nie na my geluister nie” (Rigt.6:10).

Hierdie was nie bloot woorde van die profeet nie. Die God van Israel, die Heilige van Israel het dit vir die Verbondsvolk gesê.

Wanneer dit by mense kom wat nie na die Here lusiter nie, is Israel nie die uitsondering nie. Gelowiges is vandag steeds ongehoorsaam aan die Here. Elkeen van ons staan voor die baie belangrike en ernstige vraag: Is ek in alles altyd aan God gehoorsaam soos Hy van my wil hê? Elkeen van ons salmoet bely dat ek nie oral en altyd in wat ek dink en sê en doen, aan God gehoorsaam is soos Hy van my verwag nie.

Die Here wys ons op ons ongehoorsaamheid deur sy Woord. Sy Woord is lewend en kragtig. Sy Woord kom deur sy Heilige Gees in my diepste binneste in. Sy Woord kom tot in my hart en my gedagtes. Niemand kan vir die Here wegkruip nie. Niks is vir Hom onsigbaar nie. Alles van my is oop en bloot voor die allerhoogste en heilige God. Hy weet van elke gebod wat ek in my gedagtes, met my woorde en deur wat ek doen of nalaat om te doen, oortree.

  1. God se genade, maak terugkeer moontlik

Israel se sonde was ernstig. Elkeen van ons se sonde, ons gemeente se sonde, ons land se sonde is ernstig. Sonde neem ‘n mens weg van die Here af. Wie aanhou sondig beweeg al verder van die Here af weg, daarom lees ons in Rom.6:23 dat sonde uiteindelik in die dood eindig.

Bekering is daarom dringend nodig in ons lewe. Sonder bekering is niemand naby God en word niemand salig nie. So bely ons in Sondag 32 van die Heidelbergse Kategismus.

Bekering is om te verander. Hierdie verandering begin innerlik in ‘n mens se hart en gedagtes. Hierdie innerlike verandering wys in ‘n mens se lewe. Bekering kan net gebeur, indien die Heilige Gees my help.

Een vraag is baie belangrik: Sal God my weer naby Hom wil hê nadat ek gesondig het?

Juis hiervoor het Jesus Christus gekom. Juis vir mense wat gesondig het, het Hy die swaarste lyding verduur en die wreedste dood aan die kruis gesterf. Juis vir mens wat gesondig het, het Hy uit die dood opgestaan. Deur Jesus Christus se kruisiging en opstanding is daar vir ons genade by God en is terugkeer na Hom toe moontlik.

So het Israel dit beleef.

So sal dit ook met ons wees.

Wees dan saam met ander in die gemeente ‘n gelowige wat ‘n lewe van bekering leef.

Alleen deur bekering kan ‘n gelowige naby God in sy genadeverbond aan Hom gehoorsaam leef en dit is wat ons God van ons verwag.

Gebed

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.