ONTMOETIING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: L464:1,2,3,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19
Antwoord op die Wet: Ps.130:2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.8-1:1,2
Lees: Joël 2
Kernverse: Joël 2:28,29
Tema: Die koms van die Heilige Gees op Pinkster.
Sang: L 464:1,2,3,4; Skb.12-3:1,2; Ps.130:2; Skb.8-1:1,2; Skb.12-2:4; Skb.15-1:1,2,3,4
Inleiding:
Vir Christene is vandag Pinkstersondag. Ons herdenk op hierdie dag die uitstorting van die Heilige Gees. Ons luister vanoggend na die koms van die Heilige Gees waarvan ons reeds in die Ou Testament in die profesie van Joël lees.
Tema: Die koms van die Heilige Gees op Pinkster.
Joël was ‘n profeet van die Here toe dit sleg in Juda gegaan het. Reeds vir eeue het Juda nie naby die Here geleef nie en was hulle nie getrou aan Hom in die genadeverbond nie. Jesaja en Jeremia het Juda ernstig gewaarsku dat die Here moeg was vir hulle uiterlike godsdiens terwyl hulle harte ver van Hom af was en hulle hulle moes bekeer. Juda, die verbondsvolk wou nie.
Joël was een van die later profete wat ernstig met Juda gepraat het oor die dag van die Here. Assiriërs, Edomiete en Filistyne het die land reeds geplunder onder die Here se tugtiging. Ten spyte daarvan het Juda steeds op hulle dwaalweg weg van die Here af geleef.
Joël was ‘n profeet, daarom het hy profetiese taal gebruik. Hy het as profeet die Here se wil vir die hede en die toekoms bekend gemaak. Hy het die verbondsvolk aangespreek oor hulle wegdwaal van die Here af en hulle sondige lewe ver van Hom af.
Hy het Juda ook gewaarsku dat die Here teen hulle sal optree. Hy laat sonde nie net begaan nie. Hy tree teen sonde op. Hy straf. Hy tugtig.
Omdat die profete ook die Here se wil vir die toekoms bekend gemaak het, moet ons ook na die lewe van die verbondsvolk in die Nuwe Testament kyk. Juda was steeds onder moeilike omstandighede.
Die heidense Romeinse ryk het hulle regeer. Hulle was in hulle eie land, maar steeds verdruk. Geestelik het dit ook moeilik gegaan. Die geestelike sorg wat hulle gekry het, was die wettiese preke en onderrig deur die Fariseërs en skrifgeleerdes. Die godsdienstige leiers het die grootste deel van die mense gesien as sondaars wat verlore gaan. Vir vierhonderd jaar was daar nie meer ‘n profeet met ‘n boodskap van die Here nie. Juda, die verbondsvolk het geestelike rondgedwaal.
Dit is ook nodig dat ons na ons omstandighede vandag kyk.
Die wêreld is vol oorloë. Lande veg jare en selfs dekades teen mekaar. Duisende mense word gedood. Die wêreldlande en -organisasies wat veronderstel is om te help, kyk net toe en praat net. So leef die wêreld ongehoorsaam aan die Here se sesde gebod.
Binnelands word ons land nie opgebou nie. Daar is meer wat afgebreek word. Geestelik is ons ook besig om rond te dwaal. Die groot meerderheid van die land is deel van die Afrika-godsdienste met voorvaders en allerhande bygelowe wat geen geloofsekerheid bied nie. Nog ‘n deel van die bevolking is in kerke en geloofsgroepe, maar bly soekend na allerhande bykomende dinge by Jesus Christus om gered te word. Vir die minderheid is God, sy Woord en sy kerk nog belangrik. Politiek en finansies en ander dinge het vir baie, vir die meeste belangriker geword.
Die grootste deel van die mense in die wêreld en in ons land is ook maar verlore.
2. God gee ‘n Verlosser.
Mense bied nie uitkoms vir ‘n verlore mensdom nie. Net God kan help. Hy is getrou. Hy het die verbond met Abraham en sy nageslag gesluit. Hy hou die verbond met Abraham en sy nageslag. Hy gee uitkoms.
Hy tree vernietigend op teen sonde en mense wat aanhou om te sondig. Hierin is Hy regverdig. Hy het heel in die begin gesê dat Hy sonde met die dood straf (Gen.2:17). Hy is onveranderlik. Hy sal so streng teen sonde bly optree.
Maar, Hy is ook barmhartig. Hy veroordeel nie sy sondige verbondsvolk nie. Hy roep hulle op om hulle te bekeer en na Hom toe terug te keer. Joël het dit vir die verbondsvolk gesê: “Maar nou sê die Here: Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! Skeur julle harte, nie julle klere nie. Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig; Hy is lankmoedig en vol liefde. Hy is bereid om straf te herroep” (Joël 2:13,14).
Om na God te kan terugkeer, het vir Juda vergifnis van hulle sonde beteken. ‘n Hart vol berou oor sonde, is ‘n hart vir wie die pad na God oop is, want God is genadig. Ons kry dit in die Ou en die Nuwe Testament.
Johannes die Doper het juis ook gepreek: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Matt.3:2). Hy is deur God gestuur om die verbondsvolk vir die koms van die Verlosser voor te berei. Jesus self het gepreek: “Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom” (Matt.4:17).
Vir sondaars om na God te kan terugkeer, beteken dat die pad terug na God toe oop sal wees. Die gelowiges in die Ou Testament se offers, veral die offer op die Groot Versoendag het gewys dat die pad na God oop is. Die offers het almal gewys na die een Offer, die beloofde Verlosser wat sou kom. Hy het gekom. Hy is God se Seun, Jesus Christus.
Die pad vir sondaars terug na God toe, is net moontlik deur ‘n offer, deur te sterf. Jesus Christus het vir ons sondes gesterf, die sonde van God se gelowiges in die Ou Testament en die Nuwe Testament. Hy het ook vir ons opgestaan. Deur te sterf en op te staan, het Hy die pad oopgemaak om na God toe terug te draai.
3. Die Gees kom dat gelowiges kan glo en kan getuig.
Joël het verder geprofeteer dat die Here goed sal weer vir sy verbondsvolk wat hulle bekeer het om in Hom alleen te glo en aan Hom alleen gehoorsaam te wees.
Nadat Hy sy volk se sondes vergewe het en hulle in Hom alleen geglo het en hulle bekeer het, sal die Here sy Gees op alle mense laat kom. Seuns en dogters met die Heilige Gees sal profeteer. Ou mense met die Heilige Gees sal drome droom. Jongmense met die Heilige Gees sal visioene sien.
Hierdie is alles profetiese taal. Dit beteken glad nie dat wanneer die Gees kom, seuns en dogters sal profeteer of wanneer die Heilige Gees kom, ou mense sal droom of wanneer die Gees kom, jongmense visoene sal sien nie.
Wat hierdie woorde wel beteken is dat wanneer die Heilige Gees kom, die nuwe bedeling anders sal wees as die ou bedeling. Hoe sal die verskil wees?
In die Ou Testament het net die priesters voor God verskyn om te offer. In die Nuwe Testament het Jesus as ons enigste Hoëpriester Homself gegee as offer vir ons sondes. Omdat Jesus gesterf het, kan almal wat in Hom glo, voor die lewende en heilige God verskyn en gebede vir vergifnis bid, of dan gebede offer. Almal wat in Jesus Christus glo, kan nou ons lewe aan God offer in geloof en gehoorsaamheid en liefde vir Hom.
In die Ou Testament het net die profete die Gees van die Here ontvang om te sê: So sê die Here. Hulle het in die Ou Testament deur drome, visioene (Jes.6) en verskynings (Eks.3) die boodskap van die Here ontvang om vir sy gelowiges te gaan sê. In die Nuwe Testament is die Heilige Gees op Pinkster op die disippels en die ander gelowiges wat in die Here Jesus geglo het. Die Gees het daardie dag nie net op individuele mense gekom nie. Die Gees is in die kerk van Christus, dit is al sy gelowiges, uitgestort vir alle tye oral op die aarde.
Die Gees het gekom dat gelowiges in Christus wat gesterf en opgestaan het kan glo en van Christus kan getuig. Die belangrikste werk van die Heilige Gees is om sondaars se harte wedergebore te laat word en in elke wedergebore hart geloof in Christus te gee.
Die Gees se groot werk is nie op mense gesigte te laat sien, drome te laat droom en om een of ander betekenis aan ‘n gesig of droom te heg nie. Die Gees het gekom dat Christus se gelowiges sy getuies kan wees. Ons getuig van die Here Jesus Christus deur oor Hom te praat en so te leef dat ons lewe van geloof in Christus getuig.
Dit is wonderlike genade om in Jesus Christus te kan glo en van Hom te kan getuig. Kyk net hoe ver pad elke gelowige gekom het –
Die Heilige Gees se koms op Pinkster het hierdie alles moontlik gemaak. Daarom behoort die uitstorting van die Heilige Gees vir ons baie belangrik te wees. Christus se gelowiges kan hierdie Sondag herdenk en ook so getuies vir Christus wees.
4. Die oordeel sal kom op wie nie glo nie.
Joël het hierdie deel van sy profesie met die koms van die vreeslike dag van die Here geëindig. Die dag van die Here is ‘n term in die Ou Testament vir ‘n bepaalde dag waarop bepaalde dinge gaan gebeur. Dit is die dag wanneer God vernietigend teen sondaars en hulle sonde sal optree.
Die dag van die Here kom in hierdie bedeling. Die dag van die Here, die dag van sy toorn het vir sy verbondvolk aangebreek met die vernietiging van die land (Kl.2:1). In Klaagliedere kry ons die gevolge vir die Here se gelowiges wanneer Hy sy dag laat aanbreek oor sy verbondsvolk wat van Hom weggedwaal het, omdat hulle nie opregte geloof in hulle harte gehad het nie.
Die dag van die Here sal uiteindelik aanbreek wanneer die Here Jesus Christus weer kom. Die tekens waarvan Joël gepraat het, is weereens profetiese taal. Die bloed, vuur en rookwolke, die son wat donker word en die maan bloedrooi is nie gewone verskynsels nie. Dit wys in werklikheid na die finale vreeslike dag van die Here wanneer Christus weer as regter kom. Daardie dag sal “die hemel met ‘n groot gedruis verdwyn, die hemelligame verbrand en tot niet gaan, en die aarde met alles daarop vergaan” (2 Pet.3:10).
Wanneer die Here Jesus weer kom, kom Hy as Regter om finaal te oordeel en almal wat nie deur die Heilige Gees opreg in Hom geglo het nie, van Hom af weg te stuur om die ewigheid onder God se vreeslike oordeel deur te bring.
Om hierdie rede is gelowiges wat aan die Here Jesus Christus behoort en na wie toe die Heilige Gees op Pinkster gekom het, so dankbaar teenoor God ons Vader en so vol liefde vir Jesus Christus. Ons leef deur die Gees met die sekerheid dat daar vir ons geen veroordeling is nie, want Jesus Christus het ons vir ewig volmaak vrygemaak.
ANTWOORD
Sing: Skb.12-2:4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.15-1:1,2,3,4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen