Tema: Die lig van verlossing
Inleiding:
Na die eerste deel oor die mens se ellende, volg die tweede deel van die Kategismus, die deel oor die verlossing van die mens. Sondag 5 is die eerste Sondag in hierdie tweede deel waarin die lig van verlossing deurbreek. Die tema van vanaand se preek is dan ook: Die lig van verlossing.
Tema: Die lig van verlossing
Die eerste deel van die Kategismus eindig in die duisternis van God se straf op sonde. Omdat God God is, en by Hom alles moontlik is, lui die eerste vraag van die deel oor verlossing so: “Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien het, hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word?”
Ons kan die vraag anders stel: Hoe kan die lig van verlossing weer deurbreek in die donker lewe van sondaars wat God se straf verdien?
Die antwoord is klinkklaar: “God wil dat daar aan sy geregtigheid voldoen word. Daarom moet ons of deur onsself of deur ‘n ander ten volle betaal”.
Ons het reeds in die vorige Sondag gesien dat God getrou is aan sy geregtigheid en dat Hy sonde straf. Die enigste manier hoe ons van hierdie straf bevry kan word, is dat daar betaal moet word. Ons skuld voor God moet betaal word, of deur onsself of deur ‘n ander.
Wat is ons skuld voor God? Gen.2:17 gee die antwoord op hierdie vraag: “..want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” . Ons skuld voor God oor ons sonde is ons moet sterf.
Daar is maar een manier om verlos te word en dit is deur te sterf. Deur te sterf, voldoen ons aan God se geregtigheid. Deur te sterf betaal ons ons skuld voor Hom. Ja, elke mens is die dood skuldig aan God. God gaan hieraan nie verander nie.
Ons kan nie anders as om te bely soos in die eerste vraag en antwoord van hierdie Sondag nie, dat dit noodsaaklik is om aan God se geregtigheid te voldoen. Ja, dit is noodsaaklik dat ons moet sterf vir ons sonde. So, en so alleen word die skuld voor God betaal.
Die lig van verlossing begin deurbreek, maar dit sal nie verlossing wees wat op ‘n ander manier kom as deur te sterf nie!
2. Die onmoontlikheid van voldoening deur onsself of deur ‘n ander
Watter moontlikhede is daar vir verlossing? Die eerste moontlikheid is dat ons deur onsself betaal. Kan dit?
In Jesaja 9 lees ons van die volk wat in duisternis wandel. Israel was vasgevang in die duisternis van hulle sondigheid en die gevolge daarvan. Maar hulle was dan die verbondsvolk van die genadige en getroue Verbondsgod. Was daar vir hulle dan geen lig van verlossing nie?
Ja, daar was vir die verbondsvolk lig. Ons lees dat die volk ‘n lig gesien het en ons lees dat daar oor hulle ‘n lig geskyn het. Dit is nou belangrik dat ons hierdie verse in Jesaja 9 goed lees. Wanneer ons noukeurig lees, sien ons dat die lig nie uit Israel self gekom het nie.
Israel die sondige verbondsvolk kon nie self hulle verlossing bewerk het nie. Die sondige mens kan homself nie red nie. Op grond van hierdie waarheid in Jesaja 9 en in sovele ander dele van God se Woord bely ons in Sondag 5 dat ons nie vir onsself kan betaal nie. Ons is nie in staat om ons sondeskuld voor God te betaal nie. Waarom nie? Ons maak juis ons skuld elke dag meer.
Ja, dit is die tragiese van die mens in die duisternis van sonde. Jy is hoegenaamd nie in staat om jou skuld minder te maak nie, om nie eers te praat van jouself te verlos nie. Jy maak in wat jy dink en wat jy sê en wat jy doen jou skuld elke dag meer en meer en meer voor die heilige God.
Met elke ondeurdagte opmerking van oordeel oor jou naaste, oortree jy die negende gebod en maak jy jou skuld meer. Elke keer dat jy nie die sabbatdag gedenk dat jy dit heilig nie, oortree jy die vierde gebod en maak jy jou skuld meer, elke keer dat jy stilbly en toelaat dat God se heilige Naam gelaster word by jou werk of in jou skool, oortree jy die derde gebod en maak jy jou skuld meer. So kan elkeen van ons se sondes waarmee ons ons skuld voor God nie verminder nie, maar vermeerder, opgenoem word.
Ons kan hoegenaamd nie ons skuld voor God betaal nie. Eweneens kan geen ander mens ons skuld betaal nie, want elke mens maak sy of haar skuld voor God elke dag meer. Dit is ook nie moontlik dat enige ander skepsel, soos ‘n engel of ‘n dier of ‘n plant ons skuld kan betaal nie, want God het bepaal dat die mens wat sondig, die mens is wat die skuld moet betaal (Eseg.18:4).
Elkeen van ons staan voor die heilige God met die belydenis dat dit vir ons onmoontlik is om te voldoen aan God se geregtigheid, sodat ons van straf bevry kan word.
3. Die moontlikheid van voldoening deur ‘n middelaar
Die feit dat nie onsself nie en ook nie enigiemand of enigiets anders ons skuld voor God kan betaal nie, bring ons by die vraag: Watter moontlikheid bly dan nog oor? Is daar nog enige hoop?
Ja, daar is hoop. Hierdie tweede deel van die Kategismus gaan oor die verlossing van die mens. Daar is hoop vir die mens.
Daar is nog een moontlikheid van verlossing. Hierdie moontlikheid kom soos reeds gesien, nie uit Israel of uit enige mens nie. Nêrens in die skepping by enige mens is daar die moontlikheid van verlossing te vind nie. Die mensdom is mos heeltemal verdorwe, soos ons in Sondag 4 bely. Die moontlikheid van verlossing kom nie vanuit die mens nie.
Nee, hierdie moontlikheid kom van God. Dit is die moontlikheid van ‘n middelaar.
Luister na Jes. 9:5: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee…”
Daarom lui die laaste vraag in hierdie eerste Sondag oor ons verlossing so: “Hoe ‘n middelaar en verlosser moet ons dan soek?”
Hier is die moontlikheid van verlossing! Daar moet ‘n middelaar wees!
‘n Middelaar sal ons kan verlos, maar dan moet dit ‘n baie besondere middelaar wees. Hierdie middelaar moet eerstens ware en regverdige mens wees, maar nogtans ook sterker as alle skepsels, dit wil sê wat terselfdertyd ware God is.
Die lig wat in die duisternis vir Israel geskyn het, was ‘n Kind wat gebore is, ‘n Seun wat gegee is (Jes.9:5). Hierdie Kind wat uit die mens gebore is, was ‘n ware mens. Terselfdertyd was die Kind ook heeltemal anders as enige ander mens. Hy is genoem Wonderbaar, Raadsman, Sterke God. Hy was mens ja, maar terselfdertyd ook God.
Wat ‘n verstommende wonderverlossingsplan! Mens kan verstaan dat die middelaar en verlosser nooit vanuit die verdorwe mensdom sou kon kom nie. Alleen God kon so ‘n middelaar gee.
Aanvaar dan deur die Heilige Gees in ootmoed voor God jou magteloosheid om jouself te verlos. Aanvaar gelowig, glo deur die Heilige Gees in die Middelaar wat die genadige God ook vir jou voorsien het en leef in die lig van die verlossing wat God gee.
Amen