Tema: Die Here gee aan die man en die vrou ‘n roeping in die huwelik
Inleiding:
Suid-Afrika beleef al vir baie jare ernstige huwelikskrisisse. Een groot rede hiervoor is dat vrouens en mans in hulle huwelike dikwels nie leef volgens die duidelike bepalings in die Woord van die Here nie. Ons kan nie in Suid-Afrika, in Pretoria en hier by aanhou om so te leef nie. Huwelikskrisisse as gevolg van die sondigheid van man en vrou is sonde en nie tot eer van God nie. Ons kan tog nie aanhou om die Here nie te eer met ons lewe nie. Ons lewe sal moet verander. Die verandering sal alleen kom wanneer elke Christenman en Christenvrou hulle roeping voor die Here volgens sy Woord uitleef.
Tema: Die Here gee aan die man en die vrou ‘n roeping in die huwelik
Waar kom dit vandaan dat ‘n man en ‘n vrou trou? Dit is ‘n belangrike vraag met ‘n baie belangrike antwoord. Die antwoord op hierdie vraag sal bepaal hoe jy ‘n huwelik sien.
Waar kom dit vandaan dat ‘n man en ‘n vrou trou? Dit kom van God af. Hy het in die begin die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou ingestel. God weet volmaak hoe ‘n huwelik moet wees. Hy het duidelike bepalings oor die huwelik gegee om ons te leer en te lei hoe ‘n huwelik moet wees. Hierdie bepalings van God is vaste bepalings oor die huwelik waaraan elke man en vrou, veral gelowiges gehoorsaam moet wees.
In die sentrum van elke man en vrou se lewe saam, moet Christus wees. Daarom lees ons hierdie bepaling in Ef.5:21 “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.
Onderdanig aan mekaar. Wat beteken hierdie opdrag? Om onderdanig te wees beteken om nie:
Selfgesentreerd te wees nie. ‘n Gelowige dink nie voortdurend eerste aan jouself asof jou wil en jou belange altyd voorkeur moet kry nie.
Heerssugtig te wees nie. ‘n Mens is heerssugtig wanneer jy jou wil op die ander persoon wil afdwing.
Om onderdanig te wees beteken die volgende:
Jy besef dat jy sondig en nietig is voor God en nie enige rede het om jouself hoër te ag as jou huweliksmaat nie.
Jy besef dat jy die ander persoon in jou lewe nodig het en leef daarom naby jou huweliksmaat.
Jy besef dat die Here die ander persoon in jou lewe gebring het om jou lewe mee te deel.
Jy hou in alles die ander persoon in gedagte.
Vanself sal niemand so wil leef nie. Daarom het die Here gesê dat ‘n man en vrou aan mekaar onderdanig moet wees uit eerbied vir Christus. Eerbied vir Christus. Wat beteken hierdie woorde?
Jy het eerbied vir Christus deur:
In Christus te glo as jou Here. Dit beteken jy glo vas in Jesus Christus wat deur sy kruisiging en opstanding jou syne gemaak het. Jy erken en bely Christus as jou Hoof wat jou lewe regeer.
Jy onderwerp jou aan Christus om volgens sy wil vir jou te leef.
Deur in alles wat jy dink en sê en doen, Christus en sy woorde te onthou en Hom te volg.
Die meeste mense in die wêreld leef nie so nie. Geen ongelowige man of vrou kan en wil so leef nie. Dit is alleen ‘n gelowige man en vrou wat deur die Heilige Gees eerbied vir Christus het, wat aan die mekaar onderdanig sal kan wees.
Met Christus in die sentrum van die huwelik gee die Here aan elke vrou en elke man ‘n duidelike opdrag om na te kom.
2. Die vrou se eerbied vir Christus
Die vrou se opdrag, haar roeping om uit te leef in haar huwelik, is die volgende: “Vrouens, wees aan julle mans onderdanig net soos julle aan die Here onderdanig is” (Ef.5:22). Oor hierdie woorde was daar die afgelope tyd baie bespreking. Mans en vroue het hierdie woorde afgewys en gesê dit kan nie, want dit is nie reg teenoor vroue nie. ‘n Kerk het selfs gesê dat die kerk se standpunt nie is dat ‘n vrou onderdanig hoef te wees nie.
Hoe moet ons hierdie woorde verstaan?
Die eerste wat ons moet raaksien, is dat dit die Here se woorde is. God, wat die huwelik tussen man en vrou ingestel het, het die woorde deur sy Heilige Gees aan Paulus gegee om neer te skryf. Dit is nie Paulus wat self nie getroud was nie, se eie woorde nie. Die woorde is die Here se woorde.
Die tweede belangrike waarheid is dat die woorde oor die onderdanigheid en dat die man die hoof van die vrou is, juis aan die vrou gesê is. Hier sien ons die alwetendheid en alwysheid van die Heilige Gees. Die man kan nie sy hoofskap op die vrou afdwing nie. Hy kan nie sy vrou onderdruk met die beroep op Ef.5:22 en 23 nie. Die man het sy eie roeping om uit te leef voor die Here.
Om onderdanig te wees aan haar man, is die vrou se roepinging in haar huwelik. Uit eerbied vir Christus, is die vrou se roeping wat sy moet uitleef deur onderdanigheid aan haar man.
Onderdanigwees beteken nie:
Die vrou het nie ‘n standpunt wat sy mag stel nie en dat sy gedweë maar net moet doen wat haar man wil nie.
Die vrou is minderwaardig teenoor die man nie.
Onderdanigwees beteken wel:
Die vrou is die man se hulp, sy helper wat by hom pas. Die man het sy vrou nodig. Die vrou help die man in sy geloofslewe, om sy plek in die gesin vol te staan en om sy werk so te doen dat die man sy gesin eerbaar kan versorg.
Die vrou help haar man om die regte besluite in hulle lewe te neem op elke terrein van die lewe. Sy gee raad oor ‘n nuwe werk of bevordering, verhuising, opvoeding van die kinders, kerklike sake en alles wat hulle lewe raak.
Die vrou is haar man se hulp ook wanneer hy onseker is, twyfel of foute maak. ‘n Vrou help haar man om weer op die regte pad te kom.
Die Heilige Gees herinner elke Christenvrou om uit eerbied vir Christus haar man onderdanig te wees en vir hom ‘n hulp te wees.
Hierdie roeping van ‘n vrou het niks met minderwaardigheid of onderdrukking te doen nie. Die roeping het alles te doen met eerbied vir Christus.
3. Die man se eerbied vir Christus
Die man se roeping in sy huwelik is: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê, soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het” (Ef.5:25). Oor hierdie opdrag tas die wêreld ook heeltemal mis. Ek het ‘n idee dat selfs gelowige mans hierdie opdrag nie goed genoeg verstaan nie. Ons dink die vrou is in die huwelik en die gesin die een wat verantwoordelik is vir liefde. Ons het nodig om die Here se Woord baie beter te ken en om die Bybel te gehoorsaam as God se Woord.
Wat beteken die opdrag aan die man?
Die man moet Christus ken en volg, want sy roeping is om sy vrou so lief te hê soos Christus sy gemeente liefgehad het en sy lewe afgelê het. Hierdie liefde is opofferende liefde.
Die man het die roeping om sy lewe met sy vrou te deel. Die man deel sy lewe op die volgende manier: Sy geloof om sy vrou te lei en te versterk, sy manlikheid om sy vrou te beskerm, sy hardwerkendheid om sy vrou te versorg, sy besorgdheid om vir sy vrou om te gee en sy nabyheid om ‘n geestelike en liggaamlike verhouding met sy vrou te hê.
Hierdie opdrag is duidelik: Die man se roeping is liefde in sy huwelik. Hier sal mans tot bekering moet kom. Uit eerbied vir Christus, is elke man se roeping, veral ‘n Christenman, om jou vrou lief te hê. Jy moet leiding neem in die liefde in jou huwelik en jou gesin. Jy moet Christus se voorbeeld volg.
Hieruit word die volgende baie duidelik:
dat die man glad nie sy vrou mag oorheers en haar wil onderdruk nie,
dat die man sy wil nie op sy vrou mag afdwing nie, maar sy vrou altyd in ag moet neem,
dat die man homself nie meerderwaardig mag ag teenoor sy vrou nie.
Nog minder mag die man sy vrou met woorde afbreek met woorde of dade. Hierdie dinge doen mens wanneer jy iemand haat en nie wanneer jy iemand liefhet nie. Sulke optrede is sonde teen die lewende God.
Hoe sal ‘n man dit regkry om sy roeping uit te leef? Dit sal nie help om na ander mans te kyk en veral nie na hulle te luister wanneer hulle oor vroue praat nie, want die gewone man weet nie wat liefde is nie.
Die gelowige man sal sy vrou kan liefhê soos die Here wil, wanneer hy deur die Heilige Gees uit eerbied vir Christus sy vrou liefhet.
Vandag het elke Christenvrou en elke Christenman in Suid-Afrika, in Pretoria en in Akasia ‘n groot verantwoordelikheid voor die Here in hulle huwelik. Suid-Afrika het reeds van die hoogste egskeidingsyfers in die wêreld. Noord van die berg is gesinsgeweld of deur woorde of deur dade die grootste probleem. Hierdie dinge gebeur wanneer man en vrou nie aan mekaar onderdanig is, soos die Here in sy Woord wil nie.
Deur die Heilige Gees moet ons afsien van ons eie idee oor ‘n huwelik en die rol van die man en vrou in die huwelik. Deur die Heilige Gees sal elke vrou en man hulle roeping volgens die Bybel moet uitleef. Wanneer man en vrou die Here se wil soos in Efesiërs 5 in hulle huwelik uitleef, sal die baie huwelikskrisisse aangespreek en opgelos kan word tot eer van die Here God.
Indien jy nie so leef nie, moenie aanhou sondig nie of moedeloos raak oor jou eie sonde nie. In Christus is daar vir jou vergifnis en ‘n nuwe lewe. Breek dan met sonde en doen leef in die Heilige Gees se krag op die volgende manier:
Getroudes, leef julle roeping voor die Here in julle huwelik uit.
Ouers, leer julle kinders wat die Here se roeping vir ‘n man en ‘n vrou in die huwelik is.
Vriende en familielede, gee ag op julle vriende en families en help hulle reg wanneer dit nodig is.
Ouderlinge dit is ook julle taak om oor hierdie belangrike saak met die lidmate te praat.
Die eerbied wat ons vir Christus het, sal op hierdie manier in ons lewens wys.