ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.33:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Sb.12-3/72:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Deuteronomium 5
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Sb.1-1/24:1,3
Lees: Openbaring 7
Kernvers: Op.7:9
Tema: Die ontelbaar groot skare voor die hemeltroon met die wit klere aan
Sang: Ps.33:1,2; Sb.12-3/72:1,2; Ps.86:6; Sb.1-1/24:1,3; Ps.89:1,3; Sb.1-1/24:6,7
Inleiding:
Die dag van my doop met die water wat op my voorkop gedrup het, is ek gedoop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Vir vanoggend se preek, is my doop in die Naam van die Heilige Gees belangrik. Een deel van gedoop in die Naam van die Heilige Gees beteken beteken die volgende: Die Heilige Gees wil my elke dag nuut laat leef, tot ek uiteindelik saam met die res van Christus se ware kerk in die ewigheid rein gewas, voor God sal wees.
Wat Jesus Christus Johannes laat sien het en wat hy deur die Heilige Gees in Openbaring 7 neergeskryf het, is presies hierdie woorde van gedoop te wees in die Naam van die Heilige Gees.
Tema: Die ontelbaar groot skare voor die hemeltroon met die wit klere aan
Die vrug van die Evangelie van Jesus Christus
Dit is so belangrik om in Openbaring te weet waarmee ons besig is. Hou ‘n mens nie by nie, sal jy in hierdie belangrike boek verdwaal. So baie sal verlore gaan en die laaste boek sal ‘n moeilike en geslote boek bly. Dit moet ‘n mens regtig vermy, want God het Openbaring vir sy kerk gegee om sy kerk in ‘n sondige, stukkende en vyandige wêreld moed in te praat vir die lewe vandag en vir die toekoms.
Kom ons maak seker waar ons vanoggend is. Openbaring kan ons nie lees asof die een hoofstuk op die ander volg nie. Dit beteken Openbaring 7 is nie bloot die opvolg van Openbaring 6 nie.
In hoofstuk 6 het ons by Jesus Christus se wederkoms uitgekom. Dit het die einde van die huidige wêreld beteken.
Waar pas hoofstuk 7 dan in ?
Die vraag is nodig, want in hoofstuk 8 is ons terug by die seëls van Openbaring 6 . In Openbaring 8 word die sewende en laaste seël van die boek met die wêreldgeskiedenis in oopgemaak.
So, waar pas hoofstuk 7 in?
In hoofstuk 7 sien Johannes die vrug van dit wat die ruiter op die wit perd gedoen het. Daardie ruiter met die wit perd het die Evangelie van Jesus Christus voorgestel wat oor die hele wêreld uitgegaan het. Die Evangelie van Jesus wat gekruisig en opgestaan het uit die dood het uitegegaan tot aan die uithoeke van die aarde. Die Evangelie, die boodskap van verlossing, het baie mense in hulle harte geraak. Baie het gehoor en geglo.
Dit is belangrik om die gesig van die ruiter op die wit perd te onthou. (Op.6:2).
Die ontelbaar groot menigte voor God se hemeltroon van wie ons in Openbaring 7 lees, is almal wat deur die pyle van die ruiter op die wit perd in die hart getref is. Hulle is die wat die Evangelie van die gekruisigde Jesus wat opgestaan het uit die dood, gehoor het en deur die Heilige Gees geglo het.
Openbaring 7 kan ons dus aan Op.6:2 bind. Ons sien daarom in Openbaring 7 die vrug van die Evangelie van Jesus Christus.
Die verseëldes deur die Heilige Gees
Ons kom nou by wat Johannes gesien het en vir ons in Openbaring 7 neergeskryf het.
Johannes het in werklikheid twee gesigte gesien. Let op na die woorde: Ek het gesien. Ons kry hierdie woorde twee keer in hoofstuk 7.
Johannes het die verseëldes gesien en hy het die ontelbare menigte voor Good se troon gesien.
Beide die verseëldes en die menigte is die ware gelowiges en dit is die kerk van Jesus Christus.
Ons kyk nou na die eerste gesig in Op.7:1-8.
Onthou maar deur die hele boek dat ons met baie beelde te doen het. ‘n Beeld het ‘n dieper betekenis.
Vier engele het by die uithoeke van die aarde gestaan. Die engele is in God se diens. Hulle doen wat Hy hulle sê om te doen.
Hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat daar geen wind sou waai nie Wind is die beeld van krag en geweld. God keer nog dat die geweld van ellende en die verdrukking op die aarde losgelaat word.
‘n Ander engel het van die ooste af gekom met die seël van die lewende God. Die seël is hier die belangrike. ‘n Seël is ‘n teken van egtheid en sekerheid. Van die seël of verseël lees ons op verskeie plekke in die Bybel. In 1:13 lees ons dat die wat die Evangelie van Christus gehoor het en in Hom geglo het, deel van die verbondsvolk geword het. Die Heilige Gees het hierdie mense as die eiendom van God verseël. Hoe? Hy het wedergeboorte en geloof in hulle harte gewerk. Elkeen wat in Christus glo, is ‘n egte gelowige wat die sekerheid het dat ek aan God behoort. So ‘n wedergebore gelowige is verseël.
Hierdie engel het hard na die ander vier geroep: Moenie die land, en die see en die bome tref nie. Die dienaars van God moet eers op hulle voorkoppe met ‘n seël gemerk word. Die merk op die voorkop beteken die seël is duidelik sigbaar. Wie in Jesus Christus glo en sy eiendom is, het die seël op sy voorkop. Dit beteken: Elke ware Christen kan en moet deur die Heilige Gees openlik vir Christus leef. My geloof in Jesus Christus mag nie net in my hart bly nie. Ek het die opdrag om openlik vir my Verlosser te leef, sodat ander kan sien ek het Christus in my lewe. Wie aan Christus Jesus behoort, het die geestelike krag om die geweld te midde van die vyandigheid en ellende van hierdie lewe, steeds gelowig te bly.
Johannes het nie die verseëling gesien nie. Hy het die getal van hulle wat met die seël gemerk is, gehoor: Honderd-vier-en-veertig duisend, uit elke stam van Israel twaalfduisend.
Dit is heeltemal verkeerd om te dink die 144 000 is die twaalf stamme van Israel en die getal is regtig net soveel. Redes hiervoor is:
Onthou Israel het onder God se oordeel tussen ander nasies in verdwyn, omdat hulle nie aan Hom getrou gebly het nie. Hy het hulle oorgee het om opgeneem te word onder ander nasies.
Die getal twaalf is simbolies. Twaalf is die getal van die 12 stamme van die oorspronklike verbondsvolk. Wanneer 12 met 12 vermenigvuldig word en dan met duisend het ons ‘n volheidsgetal. Hier is in werklikheid ‘n dubbele versekering dat die hele verbondsvolk uiteindelik voor die hemeltroon sal wees.
Wat die verseëldes betref, die volgende:
Ons het nodig om op te let dat nie Ruben die oudste eerste geplaas word nie, maar Juda. Die verseëldes is nie voor die hemeltroon volgens natuurlike geboorte van oud tot jonk nie. Christus, die Verlosser kom uit die stam Juda, daarom het Juda die voorkeur.
Dat Dan en Efraim nie onder die stamme is nie, is nie nodig om oor te spekuleer nie. Reeds in ander dele in die Ou Testament is van die stamme se name uitgelaat, wanneer Israel genoem word. Lees maar 33 en 1 Kron.4-8. Die belangrike om te weet en te glo, is dat niemand op grond van natuurlike geboorte en gewone menswees voor die hemeltroon sal wees nie. Hierdie waarheid is vas en seker, want ons kry dit op baie plekke in die Bybel. Een so ‘n plek is Joh.1:12,13.
Voor die hemeltroon met die getuienis dat Jesus Christus die Redder is
In Vs 9-17 kry ons Johannes se tweede gesig. Johannes het ‘n skare wat niemand kan tel nie voor die troon gesien.
Die Here laat Johannes God se kinders en erfgename in sy ewige genadeverbond sien. Die Here Jesus wys hierdie menigte gelowiges aan sy kerk wat op die punt is om ‘n baie donker tyd binne te gaan.
‘n Baie moeilike tyd het vir Christus se kerk voorgelê. ‘n Geweldige stryd teen die duiwel, die wêreld en elke Christengelowige se eie sondigheid het nog voorgelê. Dink ook net terug aan die ruiters op die rooi, die vaal en die swart perd en wat hulle alles in die wêrelde veroorsaak het. Ons het van hulle in Openbaring 5 gelees en gehoor. Hierde ontelbare menigte is om Christus se kerk te bemoedig vir die swaar tyd wat voorlê.
Oor die menigte voor God se hemeltroon kry ons die volgende in Openbaring 7 –
Saam met die skare is die 24 ouderlinge en engele. God het aan Abraham ‘n nageslag soos die sterre aan die hemel beloof (Gen.15:5) en soos die sand van die see (Gen.32:12). Johannes sien hierdie menigte verbondskinders. Ons kan ook van die uitverkorenes praat.
Die menigte voor die hemeltroon kom uit alle nasies, stamme, volke en tale Dié wat aan God behoort, kom uit alle dele van die wêreld.
Die wit klere wat hulle aan het, het ‘n baie spesiale betekenis. Die betekenis kry ons later in die hoofstuk.
Die menigte het palmtakke in die hand. Dit getuig van feestelikheid. Die palmtakke wat tydens Jesus se intog in Jerusalem voor Hom gelê is, was deur Jode wat ‘n aardse koning verwag het. Hulle het toe nie besef wie Jesus regtig was nie. Hierdie skare weet Jesus is die hemelse Verlosserkoning.
Johannes sien die skare roep hard uit: Redding kom deur God en deur die Lam! Een van die belangrikste eeue oue waarhede in die Bybel word gehoor. Geen mens verlos homself nie! Verlossing kom net uit genade. God alleen verlos ons en dan net deur Jesus Christus wat gesterf en opgestaan het.
Al die engele reageer en val voor die troon neer. Hulle het God aanbid en die volgende gesê:
Amen! Die lof en die heerlikheid, die wysheid, dank en die eer , die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid. Amen!.
Hierdie was ‘n geweldige gesig wat die Here Jesus Johannes laat sien het – ‘n gesig van hemelse vreugde en aanbidding daar voor God se troon en voor die gekruisigde Jesus.
Skoongewas deur Jesus Christus om ewig salig te wees
Een van die ouderlinge, nie omdat hy nie weet nie, want hy is reeds om die troon van die Allerhoogste het ‘n vraag vir Johannes gevra. Hy het geweet Johannes het hierdie vraag in sy hart, daarom vra hy: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?” (Vs 13).
Johannes kon maar net antwoord, dat hy nie weet nie. Hy wel het geweet die ouderling weet wie hierdie ontelbaar groot skare is. Die ouderling het geantwoord:
Dit is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hierdie woorde gaan oor die groot verdrukking net voor die wederkoms van Jesus Christus. Ons moet weet die groot verdrukking kom nog oor die hele wêreld. Ons kry hierdie woorde reeds in die brief aan Filadelfia: “…die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die die aarde op die proef te stel” (Op.3:10). Die groot beproewing kom, want “…die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus” (1 Pet.1:7).
Die menigte het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam, die gekruisigde Jesus. Die Grieks is so geskryf dat gewas en wit gemaak, beteken dit het eens en vir altyd in die verlede gebeur. Die gekruisigde Jesus Christus se bloed was elkeen skoon van sonde en maak my heeltemal nuut, sodat ek ‘n nuwe mens is en vir ewig sal bly. Baie belangrik: Daar is voor die troon van God net plek vir elkeen wat deur die bloed van Jesus Christus van sonde skoongemaak is en deur geloof in Jesus in die regte verhouding met God geleef het.Tydens die lewe op aarde lei die Herder sy kudde in die spore van geregtigheid. Ek, is die een wat in daardie spore moet loop.
Hierdie skare dien God dag en nag. Dien beteken om by Hom te wees, Hom te aanbid en alles saam met Hom en vir Hom te doen soos Hy vra. Dag en nag beteken sonder ophou. Hierdie ewige lewe is ‘n lewe altyd by God.
Hulle sal nie meer honger en dors kry nie. Hier gebruik Johannes ‘n beeld. Die beeld beteken al die behoeftes van ‘n gelowige se siel na God, sal volmaak vervul wees. Dit kan hier nie anders as om Jesus se woorde daar in Kapernaum te onthou nie:”Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh.6:35).
Die son en maan wat nie pla nie, wys dat niks wat so dikwels hier op aarde gehinder en seer gemaak het, meer deel sal wees van die Chirstengelowiges se lewe daar by God voor sy troon nie. 23 – “Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie” word volmaak waar.
Die REDE vir hierdie volmaakte lewe voor God se hemeltroon is die GEKRUISIGDE JESUS wat ook by sy gelowiges is. Niks wat op die aarde so gepla het, so teleurgestel het en so seer gemaak het, sal deel van die die skare voor God se troon wees nie. Hulle volmaakte Verlosser wat alles volbring het, hulle Herder wat uit liefde aan die kruis gesterf het en uit die dood opgestaan het, is daar by hulle. Hy gee hemelse oorvloed aan elkeen daar by Hom. Hy is alles, besit alles en Hy voorsien alles. Die trane wat so deel van die aardse lewe was, sal heeltemal afgevee word, sodat geen gelowige ooit weer ‘n traan sal stort nie.
Om af te sluit: ‘n Vraag: Dink ek genoeg aan my plek daar voor die hemeltroon en verlang ek met ‘n hart wat brand om daar te wees?
ANTWOORD
Sang: Ps.89:1,3
Gebed
Sang: Sb.1-1/24:6,7
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen