Home Preke Die oordeel van die Allerhoogste God word net verlig deur met sonde te breek

Die oordeel van die Allerhoogste God word net verlig deur met sonde te breek

Datum: 2021-02-07
|
Kernverse: Daniël 4

Lees: Daniël 4

Inleiding:

Die wêreld kry swaar onder regerings,  ons land en sy mense kry swaar onder ‘n regering wat sondig is en nie na God se wil vra nie. Waar laat dit veral gelowige inwoners van ‘n land? Die Here praat met ons hieroor in Daniël 4.

Tema: Die oordeel van die Allerhoogste God word net verlig deur met sonde te breek

  1. Wêreldleiers en -regerings lyk magtig en in beheer

In die eerste vier hoofstukke van Daniël ontmoet ons koning Nebukadnesar van Babel. Hy was ‘n wêreldleier. Eintlik kan ons hom ‘n wêreldheerser noem. Nebukadnesar het die wêreld oorheers en vir niemand gestuit nie.

Hy het Juda binnegeval, die land geplunder, Jerusalem die hoofstad, verwoes, die tempel gestroop met niemand wat enige weerstand kon bied nie.

Nebukadnesar was in sy tyd, die kop van goud wat hy in sy droom gesien het.

In sy eie land was hy net so ‘n magtige heerser teen wie niemand kon opstaan nie. Hy het sy raadgewers met die dood gedreig indien hulle nie sy droom en die uitleg kon vertel nie. Was dit nie dat Daniël die droom kon vertel en uitlê nie, sou Nebukadnesar al sy raadgewers laat doodmaak het met niemand wat hom kon teegaan nie. Verder het hy ‘n beeld laat oprig en beveel dat elke amptenaar in die provinsie Babel voor die beeld moes buig en die beeld aanbid. Wie die beeld nie wou aanbid nie, sou in ‘n vuuroond gegooi word. Die koning het dit met Sadrag, Mesag en Abednego laat doen.

Ons sien in Daniël hoofstukke 1 tot 3 Nebukadnesar die sondige en magbehepte wêreldleier wat al die besluite neem en die gang van die geskiedenis bepaal.

Daar is nie vandag so ‘n oorheersende wêreldleier en wêreldregering nie, maar lyk dit nie steeds of die grootste en ekonomies sterkste wêreldregerings en hulle leiers tog maar die besluite neem soos wie kry die entstof teen Covid-19 teen watter prys nie, of die leiers en regerings in die Midde-ooste tog maar die besluite neem hoe om die ru-olie se prys te manipuleer nie?

Kom ons nog nader na ons toe en kyk wat in ons land gebeur, sien ons ook die mag van die land se leiers en regering om die besluite te neem, terwyl die onderdane moet toekyk. Hoe die mense in leiersposisie hulle mag misbruik het, het duidelik geword in die getuienis voor die Zondo-kommissie en die ondersoeke na die onwettige manier hoe beskermende kleredrag en toerusting teen Covid-19 met bedrog en korrupsie bekom en vermors is.

Dit lyk asof die wêreldleiers en -regerings en ook die leiers en die regering in ons land magtig en in beheer is. Hierdie mag en beheer is dikwels nie tot voordeel van gewone mense nie.

  1. In werklikheid is dit die Allerhoogste God wat regeer

Dit het gelyk asof Nebukadnesar alles en almal regeer het en in volle beheer was. Die werklikheid was heeltemal anders.

Dan.1:2 – Dit was die Here wat Juda in Nebukadnesar se mag oorgegee het.

Dan. 2:28 – Dit was die almagtige en alwetende God in die hemel wat Nebukadnesar se droom en die uitleg vir Daniël gegee het om vir Nebukadnesar te kon vertel

Dan.2:37 – Nebukadnesar het alleen die mag gehad om ‘n wêreldleier te wees, omdat God hom die mag gegee het.

Dan.2:45 – Die toekoms van die ganse wêreld met al die leiers en regerings is in God se hand en Hy bepaal waar en hoe lank hulle sal regeer.

Dan.2:44 – God self rig sy koninkryk op. Hy regeer sy koninkryk. Uiteindelik sal sy koninkryk al die ander leiers en regerings vernietig. God se koninkryk sal vir altyd bestaan.

Die van ons wat ouer is, onthou seker nog die Unie van die Sosialistiese Sowjet Republieke –  eens ‘n magtige wêreldregering met sy magtige leiers. Van daardie wêreldregering is niks meer oor nie, sodat die jongmense in ons land vandag nie eers meer weet van so ‘n land nie. Dis maar een voorbeeld van wêreldregerings en -leiers wat tot ‘n einde gekom het.

Elke wêreldleier en wêreldregering wat vandag bestaan, sal net vir ‘n tyd bestaan. God se koninkryk sal vir ewig bestaan.

Daar is ‘n God in die hemel. Hy maak hierdie waarheid aan ons in Daniël 4 bekend. Luister na Hom. Glo in Hom.

  1. God oordeel die sondige lewe van hulle wat regeer

Nebukadnesar was ‘n heidense koning met ‘n sondige lewe.

God is genadig. Hy waarsku Nebukadnesar deur die jong Jode tydens hulle opleiding in sy paleis, die vertel van sy droom en die uitleg, die getuienis van Daniël se drie vriende en  hulle redding uit die dood voor sy oë. Dan het Daniël weer ‘n droom uitgelê en Nebukadnesar opgeroep om hom te bekeer.

Nebukadnesar het by twee geleenthede gesien en beleef dat daar niemand is soos God nie en dat sy eie afgodsdiens nutteloos en mensgemaak is. Hy het in soveel woorde erken nadat net Daniël sy droom en die uitleg daarvan kon vertel (Dan.2:47) en weer toe Sadrag, Mesag en Abednego in die brandende oond bly leef het omdat God hulle gered het (Dan.3:29).

Tenspyte hiervan, het Nebukadnesar hom nie bekeer van sy heidense lewe sonder God nie.

God het in sy almag besluit om teen Nebukadnesar op te tree. Hy het in ‘n droom aan Nebukadnesar bekend gemaak wat met hom sou gebeur. God sou hom uit die samelewing verwyder en hom in die veld soos ‘n dier wat gras vreet laat leef. Die sewe tydperke wat Nebukadnesar so sou moes leef, was ‘n tyd deur God bepaal, tot Nebukadnesar sal erken dat God die Een is wat regeer.

Dit moet ons weet: God is heilig. Hy verdra sonde nie – nie Nebukadnesar van Babel se sonde nie, ook nie die sonde van China se leier en regering, die VSA se leier en regering, Suid-Afrika se leier en regering nie, nie enige leier en regering van enige land in die wêreld nie.

Leiers en wêreldregerings vra omtrent nooit na God se wil nie. Ons sien in die VSA hoe die een leier en die volgende se besluite en beleide totaal van mekaar verskil, terwyl dit dieselfde land, dieselfde inwoners en dieselfde wêreldomstandighede is. Ons sien hoe ons land se leiers die een gebod na die ander oortree en aanhou oortree.

Die wêreld en ons land is in groot moeilikheid, want die getuienis van die leiers en regerings is dat hulle in die regering van die land nie na God se wil vra nie.

  1. Bekering is die uitweg

God het in sy genade vir koning Nebukadnesar gewaarsku dat hy hom moes bekeer. Hy moes met sy sonde en ongeregtigheid teen sy land se inwoners breek, dink maar aan die dreigement met sy eerste droom. Daniël het die koning verder daarop gewys dat hy reg moes doen en barmhartigheid moes bewys aan die mense wat in nood was.

Sonder bekering het enige wêreldleier en -regering ‘n baie ernstige probleem met God.

  • Sonder bekering is enigiemand ver van God af.

  • Sonder bekering sal niemand in die koninkryk van die hemel kom nie.

  • Sonder bekering gaan elke mens verlore, selfs die bekwaamste leier en regeerder sal verlore gaan.

  • Sonder bekering bly ‘n wêreldleier en -regering, bly elke mens onder God se ewige oordeel.

Bekering begin in ‘n mens se binnekant en wys uiteindelik na buite in hoe ‘n mens optree. Bekering bestaan uit twee dele, die afsterf van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. In ander woorde gesê: Breek met die sondige manier van lewe en lewe volgens God se wil.

Nebukadnesar moes met sy afgodsdiens breek en na God se wil gevra en daarvolgens geleef het. Hy moes van sy mag afgesien het en aan sy onderdane goed gedoen het. Nebukadnesar het hom nie bekeer nie en met sy sondige lewe aangehou.

Wêreldleiers en -regerings wat sonder Jesus Christus leef en regeer, het baie ernstige probleme met God. Sonder bekering is hulle almal verlore. Dan gaan dit nie oor bekering tot enige god nie. Bekering is terugkeer tot die enige ware God op grond van wat Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser se kruisiging en opstanding.

Wêreldleiers en -regerings het bekering dringend nodig. Ons land se regering het bekering dringend nodig.

  1. God se genade maak terugkeer moontlik

Bekering kom nie vanself nie. God vergewe sonde ook nie sommer net so nie. Dit is alleen God se genade, wat terugkeer na Hom toe moontlik maak. Dit is alleen sy genade wat maak dat sondes vergewe word.

Hoe moet ons hierdie genade van God verstaan? Die genade wat terugkeer na Hom toe en vergifnis by Hom moontlik maak?

Die antwoord op die vrae kry ons in die Nuwe Testament. God wys sy genade in Jesus Christus sy Seun. Jesus word mens. Hy neem ons sonde op Hom. Hy ly verskriklik en sterf ‘n wrede dood aan die kruis. Hy dra aan die kruis God se straf en oordeel in ons plek. Deur sy dood aan die kruis, verlos Jesus Christus ons van die mag van sonde, neem Hy al ons sonde wat tussen ons en God opgehoop het weg en betaal Hy ons sondeskuld volmaak. Hy staan op die derde dag uit die dood op. Deur sy opstanding gee Hy aan ons die nuwe, ewige lewe by God.

Jesus Christus maak deur sy sterwe en opstanding die pad na God oop, sodat ‘n sondige wêreldleier en -regering hulle kan bekeer, sodat enige mens tot bekering kan kom. God vergewe sonde, op grond daarvan dat Jesus Christus met sy dood al die straf en oordeel volmaak gedra het.

Met Christus is daar genade by God. Sonder Christus is die pad na God gesluit met bekering en vergifnis onmoontlik. Is dit nie juis hierdie waarheid wat ons in die lewe van soveel leiers en regerings sien nie?

  1. Leef met vertroue in God wat regeer

Waar laat die waarheid dat die oordeel van die Allerhoogste oor wêreldleiers en -regerings net deur hulle bekering verlig sal word?

  • In die eerste plek, is dit baie belangrik en baie nodig dat ons self ook sal leer uit wat God vir die wêreldleiers en -regerings sê.

  • Geen wêreldleier of -regering het vanself die mag en vermoë om te regeer nie. God stel wêreldregerings en -leiers aan. Elke leier en elke regering is veronderstel om diensbaar en gehoorsaam aan God besluite te neem en te regeer.

  • Dit lyk en klink maar net asof wêreldleiers en -regerings al die mag het om al die besluite te neem en dat gelowiges uitgelewer is aan sondige mense. Die werklikheid is anders. Die werklikheid is dat daar ‘n God in die hemel is en dat Hy alles en almal regeer.

  • Dit is nodig dat elke gelowige sal bid dat God ‘n owerheid sal gee wat ‘n lewe van bekering leef en na sy wil vra in die regering van ‘n land en sy mense.

  • Die Heilige Gees leef in my. Hy help my om vas en seker te glo dat God alles en almal regeer. Deur die Heilige Gees leef ek dan met vertroue, want God wat alles en almal regeer, is deur Jesus Christus my Vader in die hemel.

Gebed

Klankbaan

Luister na die preek.