Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lees: 1 Johannes 5:14-21
Inleiding:
Johannes se eerste brief is die brief van die lewe, die ewige lewe en sekerheid van die ewige lewe vir elkeen wat in Jesus Christus, die Seun van die lewende God glo. Hierdie baie belangrike waarheid was die hele rede vir hierdie brief.
‘n Mens sou dink dat Johannes reeds genoeg geskryf het. Wat kan daar nog wees, nadat hy in hfst.5:13 oor die sekerheid van die ewige lewe geskryf het?
Die Heilige Gees het Johannes gelei om aan te hou skryf. Aan die einde van sy brief het Johannes geskryf om ons te vertel en te leer wat die sekerheid van die ewige lewe aan elke Christengelowige doen.
Tema: Die sekerheid van die ewige lewe by God laat my bid
My geloofsekerheid gee my vrymoedigheid om te bid
Ons staan net weer stil by sekerheid van die ewige lewe.
Elke Christengelowige, elke enkele een het nodig om sekerheid oor die ewige lewe te hê. Die wondergenade is dat ek hierdie sekerheid kan hê.
Ek kan SEKER WEES van die ewige lewe NOU REEDS op Sondag 17 Oktober 2021 en nie eers eendag na my lewe op aarde nie!
Oor hierdie lewensbelangrike sekerheid het Johannes nie in hoë woorde wat ‘n mens moeilik verstaan, geskryf nie. In hierdie brief en in sy Evangelie van Jesus Christus, het Johannes in woorde geskryf wat mens maklik kan verstaan. Luister:
“Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet, dat jullle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo” (1 Joh.5:13).
Die ewige lewe gaan net oor hierdie een vraag: Glo jy in die Seun van God, Jesus Christus is sy Naam, as jou ENIGSTE VERLOSSER?
Hierdie vraag het net twee moontlike antwoorde: Ja, ek glo of nee, ek glo nie. Al die ander wat na moontlikhede lyk, is in werklikheid nie “ja” nie, maar “nee”. Ek praat van “ek weet nie, ek dink so, miskien, maar ek is nie seker nie” en hoeveel moontlike antwoorde daar ook mag wees. Oor die ewige lewe moet elke Christen sekerheid hê.
Net ‘n Christen kan hierdie sekerheid hê. ‘n Mens kry hierdie sekerheid net by die Heilige Gees. Die Gees kom met die Woord van God dat Jesus vir jou gesterf en opgestaan het om jou van al jou sonde te verlos, in jou hart. Hy help jou om vas en seker te aanvaar dat Jesus gesterf en opgestaan het en dat Hy dit ook vir jou gedoen het.
Op hierdie manier gee die Heilige Gees vir jou geloof in Jesus Christus.
Elkeen wat in Hom glo, HET DIE EWIGE LEWE!
Hierdie sekerheid raak my lewe baie diep. Johannes het geskryf dat sekerheid van die ewige lewe van my ‘n GEBEDSMENS maak! Oor gebed, leer Johannes ons baie in hierdie deel van sy brief.
Ek en al die Christene wat seker is van die ewige lewe kan nou met VRYMOEDIGHEID na God gaan. Ek het vrymoedigheid, want God self het my sy kind en erfgenaam gemaak. Hy het sy enigste Seun opgeoffer, om my aan te neem.
God wil my naby Hom hê!
Ek, die mens wat ek is, ek wat niks voor God verdien nie, ek kan maar na Hom toe gaan.
Jesus Christus het alles wat tussen my en God was weggeneem.
Die pad na God toe, is vir my altyd oop.
God wil my hoor bid!
My binnekant is reeds oop en bloot vir Hom, maar Hy wil by my hoor dat ek Hom met my binnekant vertrou!
Ek kan maar Hom toe gaan, ek kan maar bid!
Wanneer ek dan bid, mag ek nie die middelpunt van my gebed wees nie. Jakobus het in sy brief geskryf dat die vroegste Christene nie gekry het waarvoor hulle gebid het nie, omdat hulle gebede selfsugtig was en hulle net oor hulleself gebid het. In elke gebed, moet GOD DIE BELANGRIKSTE wees.
God wil gebede van my hê wat volgens sy wil is. Ek kan by Jesus leer hoe ‘n gebed volgens God se wil is. Leer die Onse Vader goed ken. Kyk na die verduideliking van hierdie kosbare gebed in Sondag 45 tot 52 van die Heidelbergse Kategfismus. Luister weer na Jesus se gebed daardie aand in Getsémané (Lk.22:42).
Dan is VERTROUE dat ons gebede verhoor sal word, baie, baie belangrik. Ek mag nooit bid en dan maar hoop vir die beste nie! Elke gebed, en dit is sonder uitsondering, moet so wees, dat ‘n rustigheid in my gedagtes en hart is, omdat waaroor ek gebid het nou by God in sy liefdevolle Vaderhand is.
Wanneer ek hierdie gebedsmens is, dan is my gebed nie ‘n desperate daad in nood nie!
My gebede is baie meer, my gebede is MY LEWE MET GOD!
My geloofsekerheid laat my vir medegelowiges bid
Ek is nie die enigste wat sekerheid van die ewige lewe het nie. Saam met my in my gesin, my familie, die gemeente waaraan ek behoort, is ook Christene wat in Jesus Christus glo en sekerheid van die ewige lewe het.
Hierdie Christene wat saam met my in die Here Jesus glo, het ook my gebede nodig. Daaroor het Johannes ook hier aan die einde van sy brief geskryf. Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser, bring mense bymekaar, bind mense aan mekaar. God wil dat ek vir ander Christene in my lewe sal bid.
Christene doen steeds sonde. Ek het veral nodig om hiervoor te bid. Ons is dikwels begaan oor medegelowiges se liggaamlike aardse lewe. Baie projekte word aangepak om kos en klere en komberse vir die winter bymekaar te maak vir ander Christene se nood. Dit is heeltemal goed en reg. Die Here verwag hierdie hulp van ons.
Maar….DIE HERE VERWAG MEER!
Hy verwag van my om veral ook vir ander Christene se geestelike lewe en stryd teen sonde te bid. Hier het ons nodig om met volle aandag te luister en met gebed in die hart dat die Heilige Gees ons sal help om te verstaan wat God hier vir ons sê.
Wanneer ek vir ‘n medegelowige bid wat sondig, leer die Here my dat dit ‘n sonde moet wees wat nie tot die dood lei nie. Vir die sonde wat tot die dood lei, sê Johannes dat ons as Christengelowiges nie moet bid nie.
Wat is die sonde wat tot die dood lei?
Eers die volgende: Alle sonde lei tot die dood, tensy daar die genade van geloof en bekering by die mens wat gesondig het, is en God so iemand vergewe. Wanneer hierdie gebeur, lei die sonde nie tot die dood nie. Dat is daarom so belangrik om vir die geloof en bekering van ander Christene te bid.
Oor die sonde wat tot die dood lei, die volgende:
Vir hierdie sonde is daar nie vergifnis nie.
Gebede vir vergifnis van hierdie sonde, word nie verhoor nie.
Hierdie sonde is deur Christene wat hulle doelbewus losmaak van Jesus Christus. Sulke gelowiges was daar onder die vroegste Christene. Hulle was onder die Christene, maar nooit werklik deel van die Christene nie (1 Joh.2:19). Trouens, hierdie gelowiges het glad nie opreg in Jesus Christus geglo nie. Hulle was in werklikheid antichriste, het Johannes geskryf. Wat doen so iemand, wat maak dat sy of haar sonde tot die dood lei?
Die Heilige Gees lei ‘n mens om in Jesus Christus, God se Seun te glo. Die antichriste sê hulle glo deur die Heilige Gees, maar hulle doen nie. Hulle is van die duiwel en teen Jesus Christus en almal wat aan Hom behoort. Wie sê dat hy of sy deur die Heilige Gees glo, maar in werklikheid glo wat die duiwel sê, laster teen die Heilige Gees. Hierdie laster teen die Heilige Gees, word nie vergewe nie en is sonde wat tot die dood lei. Gebede vir hierdie sonde verhoor God nie. Jesus het hierdie waarheid geleer. Die skrywer van die Hebreërbrief het hiervan geskryf. Hier het ons dieselfde waarheid ook in Johannes se eerste brief. Die waarskuwing oor sonde wat nie vergewe word nie en tot die dood lei, is regtig baie ernstig, want die antichriste kom nie uit die heidendom of van sataniste af, dat mens hulle maklik kan uitken nie. Die antichriste is in die kerk tussen Christene.
Hierdie ongemaklike en geestelik gevaarlike toedrag van sake dat die antichriste uit die kerk kom, hoef elke Christen met opregte geloof in Jesus Christus nie onseker of onrustig te maak nie.Waarom nie? Luister na die antwoord wat Johannes aan di einde van sy brief gee:
Vs 18 – Ons weet dat die duiwel nie meer ‘n houvas op opregte Christene het nie, daarom leef ons nie meer in die mag van sonde nie.
Vs 19 – Ons weet dat opregte Christene aan God behoort en heeltemal afgesonder is van die sondige wêreld wat nog in die mag van die duiwel is.
Vs 20 – Ons weet dat ons deur Jesus Christus die ware God ken in ‘n innige verhouding met Hom en sy Seun ons Verlosser leef.
Met die laaste woorde van Johannes se eerste brief leer God elkeen van ons om Christene in ons lewe ook geestelik te ken as ‘n opregte Christengelowiges, sodat ek vir hierdie medegelowiges kan bid.
‘n Slotwoord:
Met die Heilige Gees in my, glo ek vas en seker Jesus Christus het vir my gesterf en opgestaan.
Omdat ek so in die Here Jesus glo, is ek seker dat ek die ewige lewe het.
Hierdie sekerheid maak van my ‘n Christengelowige wat bid.
Ek leef met my gebede in ‘n innige verhouding met God.
In my gebede dra ek ook ander Christene in my lewe aan God op.
In ‘n sondige en onseker land en wêreld sien ek baie uit daarna om saam met al die ander opregte Christengelowiges eendag vir ewig by God en by Jesus Christus te wees. Ek bid ook dat God my en almal wat aan Hom behoort, veilig sal bewaar tot op daardie dag.
Gebed
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om deur Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak
Amen