Home Preke Die soet en die bitter van God se Woord

Die soet en die bitter van God se Woord

Datum: 2022-04-24
|
Kernverse: Op.10:10

ONTMOETING

Votum: Ps.121;1,2

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Sb.4-6

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34 en Sondag 40

Sang: Ps.25:2,3

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.33:5,6

Lees: Openbaring 10:1-11:14

Kernvers: Op.10:10

Tema: Die soet en die bitter van God se Woord

Sang: Sb.4-6; Ps.71:9; Ps.25:2,3; Ps.33:5,6; Ps.40:3,4; Ps.119:1,7,39

Inleiding:

Ek wil seker maak ons almal weet waar ons vanoggend in Openbaring is met hoofstukke 10 en 11.

Ons is besig met die sewe engele wat op elkeen se trompet blaas. Hierdie engele en hulle trompette is die gesig wat Johannes gesien het, wat oor God se oordele oor die bewoners van die aarde kom in die wêreldgeskiedenis. In Op.8 en 9 het ons die eerste ses trompette gekry.

Die sewende engel moet nog op die sewende trompet blaas. Voor die sewende trompet sien Johannes die gesig wat hy in Op.10:1-11:13 neergeskryf het.

In Op.10 en 11 leer ons dat God se Woord ‘n beslissende en deurslaggewende plek in die wêreldgeskiedenis het. Glo en besef ons hoe belangrike plek die Bybel in die wêreldgeskiedenis het? Hier op aarde lyk dit nie asof God se Woord so belangrik is nie. Al hoe minder mense lees God se Woord, ken sy Woord en leef volgens God se Woord.

Vanuit die hemel lyk dit heeltemal anders. In Op.6:2 het ons van die ruiter op die wit perd gelees en gehoor. Dit was die Evangelie van Jesus Christus wat uitgegaan het die wêreld.

Vanoggend in Op.10 en 11 is ons weer by God se Woord, die Evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het en belangrike plek wat die Evangelie, God se Woord in die wêreldgeskiedenis het.

Tema: Die soet en die bitter van God se Woord

  1. God gee sy Woord aan die wêreld

Johannes, steeds in sy gees in die hemel, het ‘n sterk engel uit die hemel sien. Hy was ‘n engel met baie mag (sy gesig soos son, sy bene soos vuurpilare). Die oop boekie of boekrol wys op die boodskap wat bekend moes word. Sy regtervoet op die see en sy linkervoet op die land wys sy boodskap is vir die hele wêreld. Die harde stem soos ‘n leeu wys op die kragtige boodskap wat aandag vra.

Hierdie gesig beteken: Die Here gee sy Woord vir die hele wêreld.

Nadat die leeu so hard geroep het, het Johannes sewe donderslae hoor antwoord op die harde stem. Johannes wou neerskryf, maar ‘n stem uit die hemel het hom gekeer. Daar is dinge wat God nie bekendmaak nie. Daarby moet ons berus. Ons mag nie nuuskierig wonder of raai wat dit kan wees nie.

Die engel met sy een voet op die see en die ander op die land het sy regterhand na die hemel opgelig en ‘n eed afgelê.

Die eed beteken : Die engel roep God as Getuie dat hierdie die waarheid is. Hy is besig met ‘n geweldige ernstige saak. Ons weet ook wat die inhoud van die eed is: “Daar is geen tyd meer oor nie”. Vroeër in Op.6:11 moes die gelowiges en Op.8:1 die engele  gewag het  vir die oordele van God. Met hierdie eed is die wagtyd verby.

Wanneer die sewende engel die trompet blaas, breek die einde aan. Alles wat God deur sy dienaars, die profete bekendgemaak het, sal dan ten volle openbaar word. Terwyl ons in hierdie tyd voor Jesus se wederkoms leef, ken ons net ten dele, het Paulus geskryf (1 Kor.13:12). Met Jesus se wederkoms maak God alles bekend.

Die stem wat Johannes aangesê het om die woorde van die donderslae geheim te hou, praat weer. Hierdie keer moet Johannes die oop boekrol by die engel wat daarmee in sy hand gestaan het, gaan kry. Johannes het gehoorsaam.

Die engel het vir Johannes die boekie gegee met ‘n opdrag: Neem die oop boekie en eet dit op. Hierdie boekrol moes deel van Johannes se lewe word. Wat hier baie belangrik is, is wat gebeur wanneer Johannes die boekie eet.

Die boekrol is soet in Johannes se mond – die Woord van God is soeter as heuning (Ps.19:11, Eseg.3:1-3). Die boodskap is wonderlik en gee ewige lewe uit genade. Daar is nie soeter, mooier en belangriker woorde nie as: Glo in Jesus Christus en jy het die ewige lewe as kind en erfgenaam van God. Hierdie is die wonderlike genadeboodskap wat God vir die hele wêreld gee en wat sy dienaars preek.

Die boekrol word bitter in Johannes se maag. Om God se Woord te preek, is bitter, vir Johannes, maar vir elkeen wat sy Woord verkondig en leer. Die gevolge van die preek van God se Woord is bitter –

  • Die boodskap sluit sommige mense se ore en harte en sluit daardeur die hemel vir hulle.

  • God se Woord kry weerstand in die wêreld, soms selfs in die gemeente.

  1. Sy Woord is kragtig en ewig

Die wêreld aan wie God sy Woord gee, bestaan uit twee groepe mense, net twee.

Johannes moes die tempel, die altaar en die mense wat God in die tempel aanbid met ‘n meetstok meet. Ons kry hier die taal van die Ou Testament. Die bedoeling is nie die fisiese tempel soos in die Ou Testament nie. Die tempel is beeld van die gelowiges in wie die Heilige Gees woon. Hierdie mense het die Woord gehoor en deur die Heilige Gees geglo. Hierdie gelowiges is die ware kerk van Jesus Christus. Meet beteken die Here maak mense wat sy Woord hoor en glo, sy gelowiges, sy eiendom.

Die tempel, en die altaar en die mense wat daar aanbid wys hoe die kerk van Christus in die wêreld behoort te lyk: Die Here woon deur sy Gees in die hart van elke gelowige. Die gelowiges gee hulleself aan die Here. Hulle aanbid, dit is eer Hom en dien Hom.

Dan die tweede groep mense. Hier is die bitter van die Woord.

Die voorhof word nie gemeet nie. Dit is die mense wat net lyk of hulle deel van Christus se kerk is. Hulle hoor God se Woord, maar Hy leef nie in hulle harte nie, hulle gee nie hulle lewens aan Hom nie en aanbid Hom nie met opreg gelowige harte nie. Johannes moet hierdie mense uitlaat. Uitlaat beteken verwerp. Die Here verwerp dié wat nie regtig aan Hom behoort nie.

In hierdie beeld van Johannes wat die tempel meet en die voorhof nie, sien ons die krag van God se Woord wat mense se harte oopmaak vir God of toesluit vir Hom.

Daar is ‘n tweede beeld van God se Woord in die wêreld.

In Op.11:3 is die gekruisigde Jesus aan die woord. Hy gee sy getuies, sy kerk opdrag om die boodskap van sy kruisiging en opstanding te verkondig. Daar is twee getuies. Twee getuienis bevestig die waarheid. Twee getuies het ook ‘n verskeidenheid gawes.

Hulle het rouklere aan, want alhoewel die kerk die boodskap van verlossing en lewe uitdra, glo baie nie, verwerp baie die boodskap en is vyandig teenoor die kerk. Vanaf Jesus se koms tot sy wederkoms getuig die kerk, maar die getuienis word verwerp. Dit gebeur in ons land. Daarom leef die kerk in pyn en hartseer.

Die getuies is twee olyfbome en twee lampe. Die beeld kom uit Sag.4:2,3,14. Olyfbome is die bron van olie waardeur die lamp brand. Die kerk het ook ‘n Bron wat die krag gee om getuie vir Christus te wees. Die Heilige Gees gee die kerk die geestelike krag Christus se getuie om in die wêreld te wees.

Die twee getuies staan voor die Here van die aarde. Dit beteken die kerk is die eiendom van die Here Jesus en in sy diens.

Op.11:5,6 wys in die taal van die Ou Testament hoeveel krag die Woord het. Die Here Jesus gebruik die voorbeelde van droogte op die woord van die profeet Elia (1 Kon.17) en die water wat in bloed verander op Moses se Woord (Eks.7). Moses en Elia se woord was in werklikheid elke keer die Here se Woord.

Die Here bepaal ook die tyd dat die getuies hulle opdrag op aarde klaar sal maak. Ons weet dit is wanneer die laaste mens wat aan God behoort, sy Woord gehoor het, geglo het en tot bekering gekom het.

Wanneer die kerk klaar getuig het, sal dit vir ‘n tyd lyk of die kerk se getuienis oor Jesus Christus opgehou het. Dit gebeur deur gelowige getuies van Jesus Christus fisies dood te maak of hulle deur onderdrukking te dwing om stil te bly.

Die wêreld besef dit nie, maar God bepaal die tyd dat die kerk se tyd vir getuie-wees op aarde tot ‘n einde kom.

Vir ‘n tyd sal dit lyk of die sondige wêreld die uiteindelike oorwinning behaal het. Maar….wanneer Jesus Christus weer kom, sal Christus sy kerk, dit is sy gelowiges met harte vol van die Heilige Gees, opneem in die hemel by Hom om in ewigheid te getuig oor God die Vader en Jesus Christus sy Seun.

  1. Daar is sterk weerstand teen God se Woord

In Op.11 sien ons die sterk weerstand teen God se Woord en sy gelowiges wat van Hom getuig.

  • Die voorhof van die tempel Hierdie mense wat net lyk na lidmate doen die kerk van Christus baie leed aan. Hoe? Hulle kom met ‘n wêreldse manier, eintlik ‘n heidense manier van lewe, van dink en doen in die kerk. Die twee en veertig maande wys op die tyd van Christus se geboorte tot sy wederkoms. In daardie tyd vertrap hierdie mense die kerk. Dit is: Hulle doen Christus se kerk leed aan. Lidmate wat byvoorbeeld nie met hart en siel in ‘n gemeente is nie, lê in werklikheid die kerk lam en keer dat die kerk ‘n openlike en kragtige getuie vir Jesus Christus kan wees.

  • Die tweede teenstander is die dier uit die onderaardse diepte (Op.11:7,8). Hierdie dier is die Antichris. Hy tree teen Jesus Christus se kerk op in die tyd wat God hom dit gun. Die Antichris sal dit regkry om die kerk in te dring met sondige wêreldse manier van dink en praat en leef. Die kerk sal dan nie meer openlik vir Christus getuig nie. Die lyke in die hoofstraat van die groot stad is die beeld van die kerk wat ophou getuig het. Dit sal openlik en algemeen bekend wees dat die kerk nie langer van Jesus Christus getuig nie. Jerusalem is die stad waar Jesus gekruisig is. Dat Jerusalem met Sodom en Egipte vergelyk word, wys op die kerk se wêreldse manier van lewe in die eindtyd.

  • Die derde teenstanders is die bewoners van die aarde. Hulle is die mense wat nie in die geheim soos die voorhoflidmate (vs 2) God se Woord nie geglo het nie, maar openlik teen God se Woord en teen sy kerk was. Die sondige bewoners van die aarde uit die volke, stamme, tale en nasies sal baie bly wees omdat die kerk van Christus uit die pad is en stil geword het. Die aarde sal fees vier oor die kerk van Christus se ondergang. Die lastige kerk wat so oor sonde en verlorenheid getuig het en die heeltyd van verlossing deur Jesus Christus alleen gepraat het, is uiteindelik weg. In die tyd sal die mensdom nog verder van God leef.

Terwyl die sondige bewoners van die aarde fees vier oor die kerk se ondergang, sal Jesus Christus weer kom. Die drie en ‘n halwe dag wys op ‘n kort tyd wat God bepaal het. Die asem van lewe wat in die kerk gekom het, wys op die opstanding van almal wat gesterf het, wanneer Jesus Christus weer kom.

Die sondige wêreldmense sal baie bang word. Hulle sal besef dat dit God is wat optree. Saam met Jesus se wederkoms het Johannes ‘n groot aardbewing gesien. ‘n Tiende van die stad het inmekaargestort. Die stad is Babel, wat op die sondige wêreld wys. Seweduisend name, dit is belangrike mense in die wêreld se oë, het in die aardbewing gesterf. Seweduisend is ‘n volheidsgetal. Dit beteken, almal wat posisie en status en eer in die wêreld se oë gesoek het en daarvolgens geleef het, sal onder God se oordeel sterf.

Die mense wat nie gesterf het nie, sal in vrees aan God die eer gee. Wanneer Jesus Christus in mag en heerlikheid kom, sal elkeen gedwing word om voor Hom te buig.

Hiermee het die tweede “wee” wat die arend van geskree het, verbygegaan.

  1. En ek, wat maak ek met God se Woord?

Ons kan hierdie baie inligting en onderrig wat die Heilige Gees ons in Op.10:1-11:14 gee, so saamvat:

  • God se Woord, die Bybel het ‘n baie belangrike, ‘n deurslaggewende plek in die wêreldgeskiedenis.

  • God se Woord deel die mensdom in twee groepe. Die wat sy Woord hoor en glo, is die een groep. Die tweede groep mense is dié wat maak of hulle glo en dié wat nie glo nie en openlik weerstand teen sy Woord bied.

  • Die mense wat God se Woord hoor en glo, sal met Jesus se wederkoms in die hemel by Hom opgeneem word. Die mens wat hoor en nie glo nie, sal onder God se oordeel die ewige dood ingaan.

  • Die voorhofgelowiges of dan die wat net maak of hulle glo, die Antichris en die sondige wêreldmense bied sterk weerstand teen God se Woord en sy kerk wat van Hom getuig.

  • Christus se kerk het nodig om die tyd wat nog oor is, op die beste manier te gebruik om openlik van Hom te getuig.

Hierdie bring elkeen van ons voor die vraag: En ek, wat maak ek met God se Woord?

My manier van dink in ons gemeente, dit wat ek sê as gelowige in hierdie gemeente van Jesus Christus en wat ek alles in die gemeente doen, sal vir God en vir medegelowiges wys wat ek met sy Woord doen.

Hoor die Here se Woord in Op 10 en 11. Neem deur die Heilige Gees sy Woord ter harte. Glo met jou hele hart in God jou Vader en Jesus Christus jou Verlosser. Wees ‘n getuie vir Jesus Christus in die gemeente en in die wêreld.

ANTWOORD

Sang: Ps.40:3,4

Gebed

Sang: Ps.119:1,7,39

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen

Klankbaan

Luister na die preek.